Читать книгу Tikkun Ha'olam - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 7

Оглавление

Hoofstuk 5

Jerusalem

14 tot 16 Desember 2013

Teen die einde van Shabbat sneeu dit nog onverpoosd. Dis al die derde dag. In sommige dele van die land begin dit rampafmetings aanneem. Duisende huishoudings is steeds sonder elektrisiteit. Ook in die Ou Stad is die kragtoevoer nog nie herstel nie. Op die landlyne en selfone is daar nog steeds net noodoproepe beskikbaar. Mense sit letterlik in hul huise vasgekeer.

Marc se dennebolkis is so te sê leeg. Hy is bekommerd oor die effek van die bitter koue op Natan, wat ’n hoes ontwikkel het. Hy hou hom so warm moontlik met ’n donsduvet en warmwatersak waarvoor hy op die gasstofie water kook. Hy weet egter ook nie hoe lank die gas nog gaan hou nie. Hy verwyt hom omdat hy die groot gasverwarmer nie aan die begin van die winter weer laat volmaak het nie. Toe het hulle die vuur nog intens geniet en nooit só ’n storm verwag nie.

Hy skakel sy batterygedrewe radio’tjie net af en toe aan om nuus uit die buitewêreld te hoor. Hy verneem die militêre padskrapers het die hoofpaaie na Jerusalem weer oopgestoot. Die volgende generasie bevelvoerders van die Infanteriekorps is steeds in Jerusalem. Hulle is helde van die storm. Oral is hulle hard besig om sneeu met grawe uit die strate weg te ruim en bome te snoei wat onder swaar lae sneeu gebreek het. Hulle deel ook warm kos, asook komberse en gas vir stowe en verwarmers aan bejaardes en kinders uit.

Kort voor dit tyd word vir Havdalah kom twee soldate van die Givati-brigade ook by hul woonstelblok om. Marc-hulle ontvang ’n 9kg-gasbottel, ’n paar batterye en vars brood. Hulle beloof ook om binne die volgende uur hoesmedisyne vir Natan in die hande te kry.

Nog nooit was die geur van warm vars brood vir die seuns so wonderlik soos vanaand nie. Marc kan die leë gasbottel in die verwarmer verruil vir die vol een. Hy steek dit aan net toe hy die laaste paar dennebolle in die kaggel gooi. Hy kan vir hom en die kinders sop uit pakkies op die gasstofie warm maak. Saam met die brood word dit ’n koningsmaal.

Toe is dit tyd vir Havdalah. Nie dat daar teen die wit hemel buite enigsins drie sterre bespeur kan word nie, maar oor die radio is die tyd afgekondig wat die rabbi’s aangedui het. Soos gewoonlik kom die gesinslede, nou net drie, om die eetkamertafel bymekaar. Marc het die gevlegte Havdalah-kers en die dosie met b’samim al reggesit. Hy het die silwerbokaal tot oorlopens toe met wyn gevul. Toe die tyd aanbreek, spreek hy die seëngebed daaroor uit:

“Kyk, Adonai is my redding. Ek sal vertrou en nie vrees nie, want Adonai is my sterkte en my lied, en hy het my verlossing geword! Met vreugde sal ons drink van ons Verlosser se waters van heil. U hand van seën is oor ons, u volk. Adonai Tzva’ot is met ons, die God van Ya’akov is ons veilige vesting. Vir sy volk het Hy lig en vreugde gegee, blydskap en eer; mag dit so vir ons wees. Ek sal die beker van verlossing lig en die Naam van Adonai aanroep.”

Hy lig die beker omhoog en drink daarvan. “Geseënd is U, Adonai Eloheinu, Melech ha’Olam, Skepper van die vrug van die wynstok.”

Hy spreek die seëngebede uit oor die b’samim en oor die Havdalah-kers, wat Yhoshi aangesteek het. Toe sê hulle ál drie saam op:

“Geseënd is U, Adonai Eloheinu, Melech ha’Olam, wat skeiding maak tussen dit wat heilig en wat wêrelds is, tussen lig en duisternis, tussen Israel en die ander nasies, tussen die sewende dag en die ses werksdae. Geseënd is U, Adonai, wat skeiding gemaak het tussen wat heilig is en wat wêrelds is.”

Marc slaan sy arms om sy twee seuns en trek hulle styf teen hom aan. En toe bid hy: “Adonai, Skepper van die hemel en die aarde en van elke lewende wese, ons vra B’Shem Yeshua dat U wat haar liefhet, nou vir Imma sal huis toe bring en dat U haar volkome sal laat gesond word. Want ons het haar ook baie lief en verlang na haar.”

Teen dié tyd is Natan in trane en dit kos sagte woorde om hom weer getroos te kry.

“Gaan dit dan nooit ophou met sneeu nie, Abba?” snik hy. “Dan kan Imma mos nie huis toe kom nie?”

“Dit sal ophou, Natani, jy sal sien. En dan sal ons haar gaan haal.”


Sondagoggend, die vierde dag van die storm, begin dit inderdaad geleidelik opklaar. ’n Flou sonnetjie kom te voorskyn, maar die temperatuur in Jerusalem huiwer steeds behoorlik onder vriespunt. Die Israeliese weerburo kondig aan die uiterste temperature wat deur die sneeustorm veroorsaak is, sal na verwagting tot die Woensdag voortduur. Daar sal dus geen klasse in die skole of ander opvoedkundige instellings op Maandag en tot verdere kennisgewing wees nie. Vir eers word daar hoofsaaklik noodvoertuie op die paaie toegelaat. Ook in die stad is die meeste paaie nog afgesluit weens opgehoopte sneeu. Na die noorde toe is daar groot vloedskade en nóg word verwag wanneer die sneeu begin smelt. Die minister van landbou reken op stormskade van miljoene shekel.

Die goeie nuus is dat Yam Kinneret met meer as 10 sentimeter gestyg het en dat selfoonontvangs in Jerusalem vroeg Sondagoggend herstel is. Marc is selfs in staat om ’n paar woorde met Rivkah te praat. Sy klink taamlik mismoedig en ervaar steeds baie pyn. Ook verduidelik sy dat daar nog geen moontlikheid sal wees om haar al te kom besoek nie. Opgehoopte sneeu maak dit selfs vir die noodvoertuie moeilik om van en na die hospitaal wat so hoog geleë is, te beweeg. Hy laat haar voorlopig nie praat met die kinders, wat gelukkig nog slaap nie, uit vrees dat Natan kan begin huil en haar verder ontstel.

Vir die eerste keer kan hy ook met Chaim en Hadassah kontak maak. Hulle sit net soos hy en die kinders in hul woonstel vasgekeer.

Dit het heeltemal opgehou sneeu en ’n uur later gaan die Ou Stad se krag genadiglik weer aan. Daar word egter onmiddellik gewaarsku dat dit uiters spaarsaam gebruik moet word. ’n Tekort aan gas is ’n groot moontlikheid. Baie mense wat gedurende die storm op paaie reg oor die land vasgekeer was en by wie daar tot dusver nog nie uitgekom kon word nie, word ook gered. Soldate en vrywilligers van jeugorganisasies is die eerste gesigte wat honderde bejaardes – baie van hulle sonder kinders en alleen – vir die eerste keer ná vier dae van ysige afsondering te sien kry.

Toe die televisiekameraspan vir Avishai, ’n student wat aan die Golani-offisierskursus deelgeneem het en besig is om ’n hoogbejaarde dame in ’n ambulans te tel, om kommentaar vra, sê hy: “Wat ons oor die afgelope vier dae hier gedoen het, het meer vir die land beteken as wat ons in drie jaar op patrollie of op grenswag sal kan regkry. Nie een van ons soek vrystelling van dié soort diens nie.”

Die kinders is verheug toe daar gebakte eier en roosterbrood vir ontbyt op die tafel verskyn. Die hoesstroop wat ’n jong soldaat die vorige aand gebring het, het Natan se hoes grootliks verbeter. Marc kan egter nie gehoor gee aan sy pleidooi om al na buite te gaan nie. Yhoshi, aan die ander kant, kan nie langer binne gehou word nie. Marc laat hom maar uitgaan – met soveel warm klere as wat hy moontlik kan aankry. Later kyk hy en Natan toe hoe die groter kinders op die plein ywerig meehelp om opgehoopte sneeu op vragwaens te laai wat dit wegry. Toe hy vir middagete nat en half verkluim binnekom, is Yhoshi danig ingenome met die werk wat hy daardie oggend verrig het. En rasend honger.


Maandagoggend 16 Desember word daar op televisie berig oor ’n verslag wat van Tzahal ontvang is. Een van sy soldate, die 31-jarige stafsersant Shlomi Cohen, is gedurende die nag noodlottig deur geweervuur van oor die Libanese grens getref. Dis waarskynlik afgevuur deur soldate van die Libanese weermag. Die voorval het naby die grensdraad in die Rosh HaNikra-gebied gebeur. Die koeëls wat Cohen se dood veroorsaak het, was van die sarsies skote wat op ’n Tzahal-voertuig afgevuur is. Die voertuig was minstens 50 meter binne Israeliese grondgebied. Vervolgens het Tzahal dit beantwoord met ’n sarsie in die rigting waarvandaan die soldate gereken het die skote gekom het. Hoe effektief dit was, kon nie met sekerheid vasgestel word nie.

’n Weermagwoordvoerder verskyn op die skerm en verklaar: “Ons stuur boodskappe aan die Verenigde Nasies se tussentydse mag in Libanon oor die erns van die voorval. Daar is geen aanduiding van enige insypeling vanaf ons grondgebied nie. Die weermag is op gereedheidsvlak in die noorde. Ons sal nie aggressie teen die Staat Israel duld nie en behou ons die reg op selfverdediging voor teen wie ook al hulle skuldig maak aan aanvalle op Israel en sy burgers.”

Oor die televisie en radio word mense gewaarsku om binnenshuis te bly totdat die son die strate verwarm het en om nie op die seepgladde oppervlakke te probeer loop of bestuur nie. MADA berig hulle moes reeds 21 mense behandel nadat hulle gegly en sleg seergekry het.

Later die oggend bel Re’uven. Te danke aan sy posisie in die weermag is dit vir hom moontlik om aan Marc ’n saamrygeleentheid in een van die militêre voertuie beskikbaar te stel vir ’n kort besoek aan Rivkah in die Hadassah-hospitaal. Dit sal uiteraard nie moontlik wees om die kinders saam te neem nie. Sou Marc kon reël vir iemand om vir die tyd na hulle om te sien? Die enigste persoon wat bereikbaar is, is Ilan van langsaan. Dié is meer as bereid. Hy is maar net te bly om ’n bietjie uit die verveling van sy woonstel te ontkom waar hy al vir die vyfde dag vasgekeer is.

Dis veral vir Natan bitter moeilik om te verstaan waarom hy nie kan saamgaan nie. Marc is egter onvermurfbaar. Hy weet dis ’n guns wat Re’uven hom bewys en hy het geen behoefte om sy swaer in die verleentheid te stel nie.

Toe hy eenmaal buite die mure van die Ou Stad kom, is Marc verstom oor die omvang van die storm en die skade wat dit aangerig het. Jerusalem is eenvoudig een enorme, bevrore stad. ’n Mens kan sommige van die bekende landmerke byna nie onderskei nie. Langs ál die strate in die woonbuurte waardeur hulle ry, is die vorms van toegesneeude motors sigbaar. Op baie plekke is soldate in hul bekende olyfgroen winteruniforms besig met die reuse-opruimingstaak. Die enigste spatsels kleur wat hier en daar uitstaan, is dapper vrywilligers in helder oorjasse wat ’n helpende hand verleen. Daar is selfs kinders wat nuwe sneeumanne bou tussen voriges wat al verweerd begin lyk. Marc is jammer die seuns kan dit nie sien nie, want dit lyk soos ’n prentjie uit ’n sprokie.

Saam met hom en Re’uven is daar nog twee offisiere in die motor met opdragte betreffende die toestande in die hospitaal. Die vordering is pynlik stadig, want gladde ys is ’n werklike gevaar, selfs op paaie waar die sneeu klaarblyklik al weggeruim is.

“Met die lang kragonderbrekings het duisende mense op Shabbat uit die stad probeer wegkom,” vertel Re’uven. “Besef jy die spoorweë het die ongehoorde stap gedoen om op Shabbat treine in en uit Jerusalem beskikbaar te stel? Die sneeu het op baie plekke byna ’n meter hoog gelê. Dit was veel hoër teen die geboue opgestapel.”

“Die Light Rail staan nog.” Marc wys na ’n ry van die binnestedelike treine wat bewegingloos onder ’n laag sneeu staan.

Re’uven knik. “Eers was die sneeu ’n enorme plesierigheid en almal was uit op straat om dit te geniet en sneeumanne te bou. Maar toe daar teen die oggend op Shabbat nog geen teken van ’n einde daaraan was nie, het baie mense paniekerig geraak, veral omdat hulle sonder elektrisiteit was.”

“Toe die gewone noodvoertuie nie meer in staat was om mense te red wat al vir ure in hul motors vasgekeer gesit het nie, het ons die weermagvoertuie ingestuur,” verduidelik een van die ander offisiere.

Dit neem hulle ’n uur om die hospitaal te bereik. Re’uven waarsku Marc dat hulle hoogstens ’n halfuur het voordat hulle die terugtog moet aanpak. Die twee offisiere het gewoon net twee ander kom aflos en hyself moes kortliks met die superintendent iets bespreek.

Marc haas hom na Rivkah se afdeling toe. Sy is in ’n rolstoel naby die venster, van waar sy ’n uitsig oor die uitgestrekte winterlandskap het. Smeltende sneeu het op die yl winterbome gevries en dit lyk of hulle met silwerwit ink teen die flou son geteken staan. Sy het Marc nie gehoor inkom nie en hy staan ’n oomblik in die deur om sy asem terug te kry. In die rolstoel sien sy daar nog meer tingerig as gewoonlik uit. Haar een been wat in die monsteragtige fraktuurfikseerder geklem is, is voor haar uitgestrek. ’n Buis binneaarse vloeistof is steeds aan haar linkerarm gekoppel en haar gebreekte regterarm is nog in gips.

“Chamudah …”

Toe sien sy hom. Daar kom ’n blye gloed in haar oë. “Marc!”

Hy sak op sy hurke langs die rolstoel neer en hy weet nie hoe hy haar kan omhels sonder om in die apparaat verstrengel te raak of haar seer te maak nie. Ten slotte neem hy haar gesig in albei sy hande en soen haar lank.

Haar gesig raak nat van trane. “Hoe het jy hier gekom?” fluister sy.

“Re’uven het my gebring. Ek het letterlik net ’n paar minute.”

Haar dun vingertjies wat uit die gipsverband om haar arm steek, klem syne vas.

“Die kinders … ?”

Hy soen haar weer. “Dit gaan goed met hulle.”

“Maar julle moes ook lank sonder krag gewees het.”

Hy lag flou. “Ons het reggekom. Onthou my kis dennebolle waaroor jy so vies was omdat dit so baie plek opgeneem het?”

Sy lag, maar daar bly trane oor haar wange loop en hy haal ’n sakdoek uit sy baadjiesak en droog dit af.

“Dis môre al ’n maand sedert dit gebeur het en ek is steeds in die hospitaal!”

Hy vryf haar vingers saggies. “Dit sal ook verbygaan, Rivvie …”

“Wat as ek nie weer kan loop nie?” Sy sê dit byna onhoorbaar sag asof dit net vir haarself bedoel is, maar hy is só na aan haar dat hy dit hoor.

“Jy sal loop, chamudah, ek weet dit vir seker.”

Sy skud haar kop. “Met die storm kon dr. Goldberg nie hier uitkom nie. Die ander dokter het na my been kom kyk. Hy het nie veel gesê nie, maar ek kon sy gesig lees. Dit het nie vir hom goed gelyk nie.”

“Lieweling, Goldberg sal beter weet wat aangaan.”

“Dié dokter was duidelik bekommerd oor ek nog steeds so baie pyn het.”

Marc probeer magteloos aan iets dink wat haar sal gerusstel. Hy besef ook dat die meeste van sy kosbare minute byna verstreke is. “Het jy enige idee wanneer Goldberg sal terug wees?”

Sy skud haar kop. “Daar is soveel mense wat nou inkom wat seergekry het of siek geword het en nie vroeër by ’n hospitaal kon uitkom nie. Hier is chaos.”

Hy kyk na die bed langs hare wat duidelik beset is te oordeel aan die goed op die nagkassie.

Sy knik. “Dis ’n Palestynse vrou wat in ’n motorongeluk was. Haar bene is albei byna so erg soos myne. Hulle het haar vanoggend met ’n helikopter uit Khan Yunis ingevlieg. Sy is nou in die teater.”

“Dit het nogal druk by die ingang gelyk toe ons gekom het.”

“Ken, dit gaan rof. Ek weet nie eens of dr. Goldberg vandag by my sal uitkom nie. Ek …” Sy bly stil.

“Wat?”

“Ek is bang dat ek so baie pyn het omdat daar weer iewers ontsteking is.”

“Nee, ek dink hulle sou dit dadelik agtergekom het.”

“Ek weet nie. Marc, ek is bang ek gaan nie weer hier uitkom nie.” Toe ruk daar snikke deur haar hele lyf en sy huil.

Hy buk oor haar. “Chamudah.”

’n Suster het in die deur verskyn en Marc kom orent. Ook sý lyk bleek en vermoeid van lang ure se werk in moeilike omstandighede.

“Kol. Cohen wag vir u in die voorportaal,” sê sy verskonend vir Marc.

“Ek kom dadelik.”

Vir Rivkah sê sy: “Dr. Goldberg is in die hospitaal, Rivkah, hy sal die een of ander tyd vanoggend nog by jou uitkom. Ek bring vir jou solank iets vir die pyn.”

Marc moes al by ’n paar geleenthede moeilik van Rivkah afskeid neem. Hierdie is nie maklik nie. As hy haar maar in sy arms kon neem en teen hom vashou.

Hy buk weer oor haar en soen haar. “Moenie bang wees nie,” fluister hy teen haar wang, “Adonai is by jou.”

Toe moet hy hardloop.


Teen die middag kry Marc ’n oproep van dr. Goldberg. Die nuus is nie baie goed nie. Daar blyk voorlopig geen verdere ontsteking te wees nie, maar met die ondersoek kon hy sien die been het nog nie na wense aangegroei nie. Dat dit beslis vir Rivkah ’n groot skok en teleurstelling is, besef die dokter terdeë, maar hy verduidelik dat dit hom nie noodwendig verontrus nie. Daarvoor strek sy loopbaan as ortopeed al oor te veel jare. Onder geen omstandighede egter sal hy haar laat huis toe gaan voordat die groei bevredigend is en die kans op infeksie uit die weg geruim is nie. Hy sou haar nie graag wil laat gaan net om haar weer te laat opneem nie. Hulle moet maar geduld aan die dag lê. As sy weer heeltemal normaal wil loop, moet sy nou rustig wag en nie moed verloor nie.

Vir die kinders is dit ’n ewe groot teleurstelling, maar die wete dat hulle hul ma die aand tydens besoektyd sal sien, help al. Intussen het die aankondiging gekom dat die meeste skole in Jerusalem sowel as die universiteit die volgende dag weer sal open.

Die aand is Chaim en Hadassah ook by die hospitaal. Ter wille van die kinders en haar ouers het Rivkah ’n moedige glimlag opgesit, maar onder haar oë wys donker skadu’s. Daar word gereël dat Hadassah van die volgende dag af weer smiddae ná skool by die seuns sal kom bly tot Marc van die universiteit af huis toe kom.

Rivkah is vanmiddag weer in die rolstoel by die venster. Dis vir Marc duidelik dat die gesig van die fraktuurfikseerder, wat vroeër toe sy nog in die bed was onsigbaar onder die halfmaanvormige beddegoedstut was, veral vir Natan ’n skrikwekkende gesig is. Dis asof hy bang is om naby haar te kom. As gevolg van ál die apparate is dit ook nie vir haar moontlik om hom vas te hou nie.

Eers is hy heeltemal stil, maar later vra hy in ’n klein stemmetjie: “Gaan jy nou altyd daardie ding moet dra, Imma?”

Voor Rivkah kan antwoord, tel sy oupa hom op sy skoot, miskien omdat hy sien dat Marc self redelik ontredder is. Rustig begin hy met die seuntjie praat. “Lo. Hoor mooi, Natani, jy weet mos daardie muur wat omgeval het, het Imma se been binnekant baie stukkend gebreek.”

Die seuntjie knik en wikkel hom digter teen die bekendheid van sy oupa se bors. “Nu, ál die stukkies moet mos nou weer aan mekaar vasgroei sodat haar been weer net so sterk kan wees soos altyd. Daardie ysterding moet die gebreekte stukkies been almal styf bymekaar vashou sodat hulle weer aanmekaar kan groei. Verstaan jy?”

“Maar hoekom is daai skroewe daar so in haar been in?”

“Om die fikseerder, dis soos ’n mens dit noem, vas te hou, anders sal hy mos afval.”

“Wat laat die bene weer aanmekaar groei?”

“HaShem doen dit, Natani. Onthou HaShem het mos elke been in ons liggaam gemaak. Kan jy nog onthou wat David HaMelech in Tehillim daarvan gesê het?”

Natan skud sy kop.

Moeiteloos haal die rabbi uit Psalm 139 aan: “ ‘U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.’

“Nu, sien jy, Natani,” sê rabbi Chaim. Al kyk hy na sy kleinseun op sy skoot, het hy eintlik met almal daar in die hospitaalkamer gepraat. Dit is ook asof die eeue oue woorde troos gebring het, berusting, want die atmosfeer het beslis ligter geraak.

Die gordyn wat tussen Rivkah se kant en die anderkant van die kamer toegetrek is, word effens oopgestoot. Die man van die Arabiese pasiënt wat daar lê, kyk daardeur.

“Baie dankie, Rabbi,” sê hy in foutlose Hebreeus. “Ons is Christene uit Khan Yunis in Gasa, maar daar is dit gevaarlik om ons kleur te wys. Die Psalm van Dawid wat u gelees het, het ons harte warm gemaak.”

Die Jode sit vir ’n oomblik half spraakloos, maar toe staan Chaim op en gaan na die man toe en skud sy hand. “Jy is ’n broer,” sê hy, “want ons wat hier is, weet dat Yeshua ook ons Messias is.”

“Messiaans?” vra die man

“Ken. Glo my, baie van ons mede-Jode verstaan en verdra ons net so min soos jul mede-Arabiere wat Moslems is.”

Die gordyn word heeltemal oopgestoot en algaande kom ’n nuwe gemeenskaplikheid tot stand sodat – toe die besoektyd verstreke is – die rabbi ’n gebed doen vir albei die erg beseerde vroue wat agterbly.

Natani sien daar droewig uit. Chaim tel hom vinnig op en hou hom só dat hy sy ma kan soen en gaan toe saam met hom in die gang vir die ander wag.

“Sy kom een van die dae huis toe, Natani, jy sal sien. Maar as sy te gou huis toe gaan, sal sy dalk nie weer so lekker kan loop soos voorheen nie,” troos hy.

Toe Marc met die seuns by die huis kom, wag Shmu’eli hulle in. Daar is egter geen teken van Shishi, wat gewoonlik saam met hom verskyn nie. Natani hardloop dadelik kamer toe om haar te gaan soek. Toe sy nie daar is nie, gaan soek hy haar op elke moontlike plek waar sy soms slaap. Hy roep heeltyd na haar, maar die katjie is duidelik nie in die huis nie. Die kind kom ontsteld na Marc toe.

“Shishi is weg, Abba!”

“Ag, sy het by die katflap uitgegaan, Natani, sy sal nou-nou weer kom!” sê Yhoshi.

Maar Natan wil niks weet nie. “Sy sal nie uit bly as sy die motor hoor kom nie. Sy sal ook nie buite wees as dit so koud en nat is nie.”

“Sy sal nou-nou terugkom, Natani, jy sal sien,” troos Marc en bid in sy hart dat dit wel die geval sal wees, want anders sien hy probleme. “Kom bad nou eers. Dit word laat en môre is daar weer skool.”

Toe hy klaar gebad het en Marc sy storie gelees het, het die katjie nog nie haar verskyning gemaak nie. Natani is troosteloos. “Ek kan nie sonder Shishi slaap nie,” huil hy en Marc besef dit gaan nie net oor die kat nie, maar ook oor sy ma.

Dit kos baie troos en ’n belofte dat hy Shishi sal gaan soek voordat Marc die kind min of meer tot bedaring kan bring. Yhoshi het intussen sy kosbare beer, waarsonder hy selfs op agt jaar nie gaan slaap nie, vir sy boetie gebring. Steeds snikkend met die beer in sy arms kry Marc hom uiteindelik aan die slaap. Yhoshi het intussen ook aan die slaap geraak.

Die kind se troosteloosheid en die besef dat die kat nog nie terug is nie, maak dat Marc self ernstige bedenkinge oor die diertjie se veiligheid het. Dit ontstel hom.

Hy staan in die woonkamer waar hy nog nie eens kans gehad het om die gasverwarmer aan te steek nie en hy voel woede in hom roer. “Wat nóg?” roep hy gedemp in die koue vertrek.

Net ’n rukkie huiwer hy, toe neem hy sy nog klam jas van die kapstok af, wikkel sy serp om sy nek, trek ’n mus oor sy ore en gaan uit. Buite is die lug snerpend, maar hy trek die serp om sy gesig op en vat die pad met Rechov Tiferet Yisra’el af na die Kotel toe. Op die trappe af onder toe lê hier en daar nog gladde ys. Op een plek gly sy voete onder hom uit sodat hy wild na die reling moet gryp om nie te val nie. By die ingang na die plein voor die Kotel laat die twee byna verkluimde sekuriteitsmanne hom sonder meer deur.

“Waar’s Shmu’eli dan vanaand?” vra een.

Onstuimig soos sy gemoedstemming is, het Marc die deur in die hondjie se gesig toegemaak toe dié wou saamkom. Hy berou dit nou, want hy mis die warm lyfie teen sy bors.

“Te koud,” sê hy nou vir die vriendelike wag.

Voor teen die Muur lê daar nog plek-plek sneeu. Marc vroetel onhandig in sy jassak na sy leerhandskoene en sukkel om hulle oor sy bevrore vingers aan te trek. Toe staan hy stil voor die Muur. Hy is die enigste mens daar. Die hoë lampe gooi spookagtige skadu’s oor die yskoue plaveisel teen die oeroue stene.

Eers kry hy geen woord uit nie. Hy is kwaad vir Adonai oor hierdie laaste pyn wat ook nog bygekom het. Sy gedagtes bly by sy vrou, wat soveel pyn het en wie se been nie wil aangroei nie. Hy dink ook aan sy seuntjie wat huilend aan die slaap geraak het omdat sy katjie, wat sy troos is terwyl sy imma al vyf weke lank in die hospitaal behandel word, ook weg is.

“Is dit regverdig?” vra hy uiteindelik deur sy verstyfde lippe. “Hoekom het U Shishi nóú ook nog weggeneem? Hoekom nou?”

Daar kom geen antwoord uit die koue nag rondom hom nie. Toe hy uiteindelik, opstandig, tog sy hande teen die stene druk, sprei die koue gou-gou ysig deur die handskoene sodat hy hulle dadelik laat sak.

“Waarom?” roep hy nog ’n maal kwaad.

Uiteindelik gee die woede skiet en huil hy. Hy voel trane op sy wange vries en hy vee dit met sy handskoene weg. Dit het egter verligting gebring.

“Ek is jammer,” fluister hy toe. En toe hy opkyk na die donker hemel, sien hy twee van die bekende duiwe wat in die rotsskeur bo hom opgepof teen die koue styf by mekaar sit.

“Adonai,” bid hy, “bring vir Shishi terug. Bevakasha! Bevakasha!” pleit hy. “Gee haar net terug dat ons weer hoop kan hê. Ek vra U net hierdie klein dingetjie. Ek kan nie Natani môreoggend sonder haar wakker maak nie.”

Trane wel weer in sy oë op. “Bevakasha, Abba! Ek het nie meer krag oor nie.”

Hy bly nog ’n ruk daar staan tot die verligting wat hy tydelik ervaar het, ook verdwyn en hy met geboë skouers die tog teen die baie trappe op terug huis toe aanpak.

Dit is toe hy onder die iepe voor Moshe se winkel deur loop dat hy die flou miaau-geluidjie hoor. Hy gaan doodstil staan om te probeer vasstel of hy hom dit verbeel het. Toe hoor hy dit weer en sy hart begin opgewonde klop. Hy kyk vinnig rond, onseker waar dit vandaan kom.

“Shishi!” roep hy.

Weer die flou geluidjie. Eers toe hy in die boom bo hom opkyk, sien hy die katjie daar op een van die takke sit. ’n Ontsaglike vreugde bars deur hom. Adonai het sy desperate gebed verhoor.

Toe hy teen die stam van die boom staan, besef hy dat hy haar nie sal kan bykom nie.

“Ek kom terug! Ek kom terug!” roep hy koorsagtig asof sy moet verstaan en storm terug huis toe om die trapleertjie uit die kombuis te haal.

Hy wonder of ’n hond of ander gevaar haar daar opgejaag het. Dit moes ure gelede al gebeur het, net nadat hulle weg is hospitaal toe. Sy kon kennelik nie weer self afkom nie. Nadat hy die leer wankelrig op die gladde plaveisel laat staan het, sukkel hy om haar uit die mik te kry, want sy klou beangs vir lewe en dood vas. Eindelik het hy die half bevrore diertjie en hy druk haar voor by sy jas in voordat hy versigtig weer na onder klim. Die hele tyd bly ’n wonderlike vreugde in hom pols.

Binne-in die woonstel vryf hy haar met ’n handdoek droog en gee haar ’n bietjie lou melk wat sy dorstig drink. Hy maak ook vir haar ’n pakkie van haar geliefkoosde nat kos in haar bakkie leeg. Ook dit eet sy hongerig op. Selfs Shmu’eli, wat jaloers by hulle kom staan het, kry ’n porsie van syne. Met die groot skrik van die verdwene Shishi het hy vergeet om die hondjie kos te gee.

Toe steek hy die gasverwarmer aan, en daar gaan sit hy met die katjie in sy arms. En sonder dat hy vooraf so besluit het, begin hy eenvoudig die eerste lied wat by hom opkom, saggies sing: “Roni, roni, bat Tziyon! Hariu Yisra’el, simchi v’altsi b’chol lev, bat Yerushalayim.”

Tikkun Ha'olam

Подняться наверх