Читать книгу Tikkun Ha'olam - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 4
ОглавлениеHoofstuk 2
Jerusalem
Desember 2013
Die Woensdagoggend bel Mara uit Stellenbosch om Marc te vertel sy stiefpa, Hannes, het die vorige dag op ’n staptog saam met twee vriende in die Banhoekberge geval en sy heup en ’n arm gebreek. Aangesien sy self meestal weens ’n skietery tydens ’n aanval by hul huis ’n paar jaar gelede van ’n rolstoel afhanklik is, is daar vir hulle geen ander keuse as om hul vakansie in Israel voorlopig te kanselleer nie. Dit is onvermydelik, hoe geweldig teleurgesteld hulle ook al daaroor is.
“Met Rivkah daarby,” sê sy ma gemaak ligtelik, “glo ek nie jy sal drie invalides kan hanteer nie, Marc.”
Om mekaar te troos oor die ongelukkige situasie, besluit hulle twee sommer daar en dan dat Maart of April ’n beter tyd vir ’n kuiertjie sal wees.
“Die voorjaar in Israel is baie mooi,” sê Marc optimisties.
Mara klink effens nugterder oor die planne. “Ons sal maar sien hoe dit gaan. Onthou, Stellenbosch se herfs is ook nie te versmaai nie.”
Die kinders is uiteraard bekaf. “En Imma kom ook nie huis toe nie,” kla Natan huilerig.
Marc kyk deur die venster na buite. “Kom, die son skyn en daar’s baie kinders op die plein. Ons gaan lekker buitentoe.”
“Maar dis k-o-u-d,” bibber Natan, steeds verdrietig.
“Ons trek jou jekker aan en sit jou mus op. Kom, jou verkoue is beter, en dink net daaraan – volgende week is dit weer skool.”
Op die plein skyn die son weliswaar koesterend. Daar is ook geen wind nie. Die seuns se maats is almal daar en Natan se verdriet wyk spoedig soos mis voor die son.
Marc het sy skildertas saamgebring en soek sy geliefde sitplek op. Moshe kom by sy winkel uit en kom staan by hom met ’n beker koffie in die hand.
“Jy’s vroeg hier vanmôre. Ek is nog nie eens oop nie. Maar toe sien ek jou met die kinders buite.”
“Ag, die son skyn so lekker hier buite en hulle raak verveeld in die woonstel ná die baie dae van reën.”
Moshe knik. “Dis nou heerlik hier, maar ek sien hulle voorspel ’n moontlikheid van sneeu so teen die einde van volgende week.”
“Dis koud genoeg as die sonnetjie sy kop intrek.”
“Hoe gaan dit met Rivkah? Wanneer kom sy huis toe?”
“Dis ’n goeie vraag. Jy weet dat hulle weer moes opereer en dat sy toe van Bikur Cholim na Hadassah oorgeplaas is?”
Moshe knik. “Ja, dit weet ek.”
“Nu, die ontsteking waarteen hulle so veg, het nog nie heeltemal opgeklaar nie. Sy het ook baie pyn. Dr. Goldberg het egter gisteraand gesê as dinge verbeter, is daar ’n klein moontlikheid dat sy miskién einde volgende week kan huis toe kom. Maar dit sal natuurlik met daardie geweldige staalspalk aan haar been en in ’n rolstoel wees. En Goldberg het nie juis baie optimisties gelyk nie.”
Moshe skud sy kop meelewend. “Oy vey! Dit moet nogal moeilik wees vir so ’n energieke persoon soos sy.”
“Dit is, hoor!”
“Die been moes darem baie sleg seergekry het.”
“Mosh, die been is so te sê verbrysel. Dat sy dit nie verloor het nie, is net HaShem se genade en die dokters se vermoëns. Ons is natuurlik ook dankbaar dat daar so ’n goed ingerigte veldhospitaal naby haar was en dat hulle haar so gou kon uitvlieg hiernatoe.”
“Dit was ’n muur in een van die verwoeste huise wat op haar geval het, nè?”
“Dis reg. Hulle was besig om ’n vrou en ’n kind te probeer bevry nadat hulle daar vasgeval het. Hulle het daarin geslaag om die ma uit te bring, maar dit was net nie moontlik om by die kind uit te kom nie. Hy was so verskriklik toegeval. Hulle het die vrou tot by die ambulans gebring, maar toe het Rivkah teruggehardloop, want sy het geglo sy hoor weer die kind.”
“Tipies, hè? En toe stort die muur ineen?”
Marc knik. Hy voel nie lus om verder daaroor te praat nie.
Maar Moshe is geïnteresseerd. “Hoe het hulle haar toe ook daar uitgekry?”
Marc trek sy asem diep in. “Een van haar medewerkers het teruggehardloop en haar op die een of ander manier betyds uitgetrek …”
“Ken, nou onthou ek die koerantberigte. Hy het self in die proses seergekry. Dit was tog een van dieselfde MADA-span wat saam met haar Haïti toe was. Ek weet nou – so ’n lang, aantreklike ou. Wat is sy naam nou weer?”
“Aviel,” sê Marc hees. Hy veg verbete teen die bekende gevoel van wanhoop wat oor hom kom.
“Nachon. ’n Man het eenkeer hier op die plein voor my deur ’n beroerte gekry. Onthou jy nog? Dié Aviel was in beheer van die MADA-ambulans wat hom kom haal het. Bekwame man.”
“Hy het haar lewe gered …”
Moshe kyk besorg na Marc se vaal gesig. “Alles sal regkom. Jy sal sien. Ek glo nie Rivkah sal haar ooit laat onderkry nie.”
Hulle praat nog ’n rukkie oor die lande wat aan Israel se grens in ligte laaie staan – die sowat 160 000 dooies tot dusver in Sirië en geen enkele teken van ’n naderende einde aan die burgeroorlog nie. Ontploffings en sluipmoorde in Libanon. Chaos in Egipte …
Maar toe roep Dov uit die winkel dat daar vir Moshe telefoon is en hy moet hom terug haas. Marc haal sy sketsboek en houtskoolstafies uit. Hy sit die dosie met pastelle versigtig op die bank langs hom neer. Ten spyte van Shmu’el wat daar rondsnuffel, kom sit een van die pleinkatte by sy voete in die son. Sy skuur haar gestreepte lyf teen Marc se broek en spin met oorgawe.
Hy tel haar op en hou die vibrerende diertjie styf teen hom vas. “Ek sal nie hierdie spook weer deel van my lewe laat word nie!” fluister hy vir die kat wat gelukkig in sy woltrui knie.
Sy byt saggies aan sy hand en hy laat haar gaan. Sy gaan lê op die bankie langs hom en strek haar behaaglik uit in die son. Hy moet sy pakkie pastelle onder haar uit red.
Marc kyk na waar die kinders speel. Yhoshi en sy beste maat, Avraham, sit op ’n muurtjie. Albei het ’n selfoon in die hand en hulle is druk in gesprek. Natan en twee ander seuntjies hurk gefassineerd by ’n swart vrou, wat klaarblyklik iewers uit Afrika kom en wonderbaarlike dinge met fyn kraletjies maak. Hy sien hoe sy vir hulle elkeen ook ’n toutjie en ’n hand vol krale gee. Hulle gaan sit plat soos sy en begin die krale onhandig inryg. Dit laat haar so hard lag dat twee duiwe wat daar naby sit, fladderend opvlieg.
Toe sug Marc en voel hoe die donkerte hom verlaat. Hy maak sy sketsboek oop en weldra kras die houtskool oor die bladsy. Hy skets die drie seuntjies toegewoel in helderkleurige windjekkers, musse en serpe daar by die mooi swart vrou in haar eie kleurryke gewaad; die winterkaal iepe se dun takke wat ragfyn skadu’s oor die plein se klipvloer gooi; die geboue se Jerusalemsteen wat goudkleurig glim in die vroeë son; twee Chassidim wat haastig van die Hurvah-sinagoge se kant af aangestap kom, druk in gesprek terwyl hul hande met groot gebare saampraat. Hul peyot swaai ritmies onder hul swart breërandhoede uit. Toe die sketse klaar is nadat hy dit so rasend snel oor die blad lewe gegee het, begin hy met die pastelle werskaf en spoedig tower hy kwistige kleure in die sketse op.
“Jy het ’n heel besondere tegniek,” klink ’n stem meteens agter hom op.
Marc word weer van sy omgewing bewus en kyk om. Daar staan ’n bejaarde man in ’n lang, donker jas. Sy mus is diep oor sy ore getrek en sy dik brillense blink in die son. Hy steun gemaklik op sy driepootwandelstok.
Marc maak sy sketsboek verleë toe. “Ek teken graag,” sê hy byna verskonend en wonder hoe lank die man hom dopgehou het voordat hy dit agtergekom het.
“Mag ek kyk?” vra die man.
“Nu, dis gewoon sketse. Niks besonders nie.”
“Dit is nie waar nie. Ek het gekyk hoe jy werk. Mag ek die ander sien?”
“As u wil. Sekerlik.”
Die man kom met versigtige stappe om die bank en Marc tel die slapende kat op en neem haar op sy skoot sodat daar langs hom vir die vreemdeling plek is.
Voordat dié gaan sit, steek hy sy hand uit. “Siegfried Singer.”
Marc neem die aangebode hand, droog en dun van die ouderdom. “Marc Krige.”
“Krige,” herhaal die ou man. “Jy is ’n Jood?”
Marc knik. “Oorspronklik uit Suid-Afrika.”
Die ou man neem die sketsboek en blaai stadig daardeur. “Wunderbar,” sê hy toe hy eindelik klaar is.
“U is Duits?” vra Marc, want hy tel die half vreemde aksent in sy Hebreeus op.
’n Stram laggie kom om die oue Siegfried se mond. “Ek was Duits. ’n Duitse Jood. Vir 16 jaar. En toe was ek vir meer as 50 jaar ’n Nederlandse Jood. En nou bly ek al byna 26 jaar in Eretz Yisra’el. Ek word vanjaar 92, Marco Krige.”
Marc moet glimlag oor die verandering aan sy naam en ook vir die uitleg. Soos altyd in so ’n geval wil hy vra: Is u ’n oorlewende van die Holocaust? Maar hy bedwing hom.
Tog het die ou man dit agtergekom en hy lag weer sy droë laggie. “Ken. Ek is ’n Shoah-oorlewende. Ek het selfs Auschwitz oorleef, maar dit is ’n boek wat toegemaak is en nooit weer oop kom nie. Daar is al veels te veel boeke oor dit.”
“U het ’n belangstelling in kuns?” vra Marc om maar iets te sê.
Die oue strek sy bene en sit gemakliker. Die kat kom regop op Marc se skoot en ruik versigtig aan die ou man se jas.
Hy streel die dier se kop vir ’n wyle. “Ja, toemaar, dis Cees wat jy ruik,” sê hy vir haar. Sy spring tevrede af en gaan sit ’n entjie verder en was haarself.
“Jy het gevra na my belangstelling in kuns. Ek was ’n kunsonderwyser op my dag. Eers soort van. Later, toe ek ná die oorlog in Nederland afgestudeer het, was ek ’n gekwalifiseerde een. Dít is ’n boek wat oop is.”
Hy haal sy bril af, adem oor die lense en vryf hulle met ’n rooibont sakdoek skoon.
“Boerebont,” sê Marc en wys na die groot sakdoek.
“Hoe weet jy dit?”
“Ek het ’n Nederlandse oma gehad.”
“O ja? En is jy ook ’n kunsonderwyser?”
“Ek is verbonde aan die universiteit se kunsdepartement,” sê Marc en hoop hy kom meelewend genoeg voor sodat ou Siegfried sy storie sal vertel.
“Ek sou so dink,” brom hy en bêre die rooi sakdoek diep in sy jas se sak, “met jou soort gawe.”
Rondom hulle hang die skril kinderstemmetjies in die kaal takke van die iepe. Voor die kafeetjie langs hulle borsel die kelnerin ’n mat met mening uit sodat ’n paar stadsduiwe dadelik nader kom en aan die krummels begin pik. Die Ou Stad is nog bedaard so vroeg in die oggend.
“Ja, jy wil die storie hoor, dan hoor jy hom. My pa was in die klerehandel, soos byna een uit elke tien Jode in Berlyn. In 1938 toe ek 16 jaar oud was, was die skrif egter vir die Jode van Duitsland aan die muur. Die Herrenvolk het algaande die lewe vir ons onmoontlik gemaak. Ná Kristallnacht het my pa gedoen wat ek nooit gedink het hy sou doen nie. Hy het sy wortels opgetrek en sy gesin Nederland toe geneem. Daar sou die stempel op sy papiere wat gewys het dat hy oorspronklik van Portugese afkoms is, tot ons redding kom.” Hy gryns sinies. “Al kon dit ons nie in Berlyn red nie. Dit het my darem die onverwagte kans gegee om vir byna twee jaar lank te kon studeer.”
“Kuns?” vra Marc.
“Hoofsaaklik kunsgeskiedenis, maar ek het al op skool nie te sleg in my kunsklas gevaar nie. Ek kon iets doen. Toe kapituleer Nederland egter in Mei 1940 en die Nazi’s vat oor.”
Hy trek weer die sakdoek ingedagte uit sy jassak, maar hy vryf nie die bril se lense skoon nie. Hy vou dit in netjiese blokkies op. Sy ou vingers kraak daarvan.
“Ons moes ghetto toe. Vati se voorsate in Portugal was toe nie vir hom ’n skans nie, selfs al het sy mense hulle eeue gelede tot Christene laat doop en al was hy self allesbehalwe Tora-getrou. Hy het nie die eerste jaar in die ghetto oorleef nie. Een oggend het ons hom in ’n boom gekry hang. Vati moes gehoor het Kamp Westerbork is sy voorland. Mutti moes maar alleen sien kom klaar …”
“En u?” vra Marc vinniger as wat hy wou.
Siegfried sug. “My kwalik pedagogiese opleiding ten spyt, het ek ’n pos in die Joodse Gimnasium beklee met die woord ‘kuns’ iewers in die benaming. Dit was ’n ghettoskool wat deur die Duitsers toegestaan is. Daar het ek deur die een of ander gelukskoot agtergebly toe Mutti Westerbork toe is …”
Hy bly ’n rukkie stil en kyk na die vrou wat met haar hoogswanger lyf, kind op die heup en ’n ander een in die stootkarretjie, by hulle verbyloop. “Hier word heelwat nuwe Jode gemaak,” sê hy en druk die sakdoek weer in sy jassak terug.
Marc wag. Hy besef hy moenie vra wat toe gebeur het nie.
“Soos ek gesê het, as Jode was my ouers nie frum nie. Ons het onsself as vry genoeg beskou om ham te eet en op Shabbat wasgoed te doen. Ons was net Duitsers, het ons gesê, nie Joodse Duitsers nie. Die Bruinhemde het hulle nie daaraan gesteur nie. Toe ons in Nederland kom, het Mutti selfs by die Remonstrantse Kerk aangesluit om so goed moontlik aan te pas, want wat in Duitsland aan die gebeur was, het ons almal die skrik op die lyf gejaag. Maar nie Vati se stempels, Mutti se Remonstrantsheid of my voorliefde vir ham het ons minder Joods in die Nazi’s se oë gemaak nie. ’n Jood was ’n Jood. ’n Jood moes na Westerbork om uiteindelik weggevoer te word. Waarheen? Dít het niemand gesê of wou niemand sê nie.”
“Westerbork was die deurgangskamp in Nederland.”
“Deurgang na die uitwissingskampe toe. Nachon.”
“Maar u het …” probeer Marc hom op die spoor terugbring.
“Noem my tog jý, Marco.”
“Maar jy kon by die ghettoskool aanbly?”
“Gun my die geleentheid om daarby uit te kom, bitte!”
Marc lag. “Gaan maar voort,” sê hy.
“Waarom vertel ek jou dit alles?” Siegfried Singer kyk deur sy bril se dik lense na Marc. Hy lyk meteens ietwat verdwaas.
Marc lê sy hand gerusstellend op die man se arm. “Omdat ek jou gevra het. Ek is ’n nuwe Jood … Siegfried. Ek het skaars 12 jaar gelede uitgevind dat albei my ouers Jode is. Ek het my wortels hier kom soek en dit kom vind. Vir my is dit noodsaaklik om ál die skakerings daarvan te leer ken om Joods te wees. Verstaan jy dit?”
Ou Siegfried knik swygend.
“Jy het in die ghetto agtergebly toe baie ander mense en selfs jou moeder weggevoer is Westerbork toe?” herinner Marc hom aan die vraag.
“Ek weet nie hoekom ek toe nog nie weggevoer is nie, Marco. Die Nazi-redenering was nie altyd voor die hand liggend nie. Een ding was vir elkeen van ons in die Joodse Gimnasium ’n sekerheid – ons sou weggestuur word. Ons het net nie geweet wanneer nie. Ek het egter selfs gouer in Westerbork gekom as wat ek verwag het. Dit het só gebeur: Op ’n dag nadat die lesse afgehandel was, was ek nog in my klaskamer doenig. Een van my leerlinge kom toe na my toe. Dit het my verbaas dat hy die deur agter hom digtrek, maar ek het gou verstaan waarom. Hy was die seun van Friedrich Cóhn – let wel, Cóhn sonder die ‘e’ van Cohén, want in werklikheid het hy Israel Cohén geheet. Soos elke Duitse Jood tydens Hitler se skrikbewind, kom die Friedrich vóór die Israel. Begryp jy?”
Marc knik.
“Nu, Friedrich Cohn was die Joodse koning van Westerbork. Hy was hoof van die sogenaamde Joodsche Ordedienst, die OD. Dit was Cohn se meesterlike organisasie. In die volksmond het die ongeveer honderd man wat onder Cohn in die OD gedien het, as die Joodse SS bekend gestaan.” Siegfried kyk Marc meteens reguit aan. “Cohn se seun het my kom vra om lid van sy pa se organisasie in Westerbork te word. Hy het gevoel ek is ’n Jood na wie omgesien moes word. Ek het ingestem om met sy vader te gaan praat …”
Hy bly stil en Marc durf nie verder uitvra nie.
Siegfried neem weer die rooi sakdoek uit sy sak en vee sy hande af. Marc sien hy doen dit skaars bewustelik. Ná ’n rukkie praat hy egter verder terwyl hy oor die plein uitkyk.
“Die Joodse SS. Dít was ons dan ook. Ons was Jode én ons was SS’ers. Die vyand het ons aangesteek. Ons het hulle in alles nagedoen. Die manier waarop ons gestap het, ons houding, ons klere, selfs die manier waarop ons gepraat het. Ons het op mense gevloek, hulle weggestamp en opgejaag. Daar was allerhande soorte onder ons. Intellektuele, amptenare, arbeiders, handelsreisigers,” weer die droë laggie, “en een kunsonderwyser. Ons moes ongetwyfeld vir die ander Jode die mees weersinwekkende gewees het van alle mense wat God geskape het …”
Hy kyk meteens weer na Marc. “Waarom vra jy my nie hoekom ek so laag gedaal het nie?”
Die vraag vang Marc onkant en hy moet eers sluk en dink voordat hy kan sê: “Omdat ek nooit in ’n situasie was waar ek voor so ’n keuse te staan gekom het nie.”
Siegfried glimlag stram. “Goed gesê, maar miljoene ander het ook die keuse gehad en anders gekies as ek. Nu, die storie word te lank. Waarom het Cohn sy seun juis na mý gestuur? Omdat hy my manier van les gee bewonder het? Miskien het God daar ’n hand in gehad. Ek sal nie weet nie. Maar ek het gegaan. By die eerste ontmoeting met Cohn was ek oorweldig. Eerstens deur sy imposante figuur, stewels, rybroek, leerbaadjie waarop die geel ster nouliks te onderskei was, en sy bulderende stem. Ek het gedink: Eindelik ’n Jood wat kan kommandeer en nie op die vloer kruip om SS-soldate se stewels te soen nie. Hy het sonder meer aan my uitgelê wat sy werk was en waarvan ek deel sou wees …” Hy swyg weer ’n oomblik.
Die plein raak al hoe voller soos mense uit hul koue woonstelle na die son ontsnap op hierdie voorlaaste dag van die Chanukah-feesdae.
“Hy het aan my uitgelê wat die eerste wet van ons werk in Westerbork is: Die hulle-of-ek-wet. Begryp jy wie húlle was?”
“Die ander Jode.”
“Korrek. Elke Maandagoggend het Cohn van die kampkommandant, Schaufinger, ’n versoek vir ’n sekere getal Jode gekry wat vir die transport gelewer moes word. Dan het hy en ’n Dienstleiter of die drie wat onder hom gedien het, die lyste van die Jode opgemaak wat elke Dinsdagoggend op die trein moes wees vir die Arbeitseinsatz, soos dit amptelik genoem is.”
“Na Auschwitz?” vra Marc sag.
“Inderdaad, na Auschwitz. Toe ek dié dag by Cohn valslik probeer voorgee dat my gewete my nie sou toelaat om so ’n ‘reddingsplan’ te oorweeg nie, het hy dié prentjie vir my geskets: ’n Skip met duisend passasiers is besig om te sink terwyl niemand op die SOS-noodsein reageer nie. In die reddingsbote is daar net plek vir 50 mense. Wat het ek gedink sou met hom gebeur as hy sou weier om die lys op te stel. Hy sou die volgende Dinsdag op die transporttrein sit. En dan sal ’n ander Jood eenvoudig sy plek as Zentraldienstleiter inneem en presies dieselfde as hy moet doen. Schwartz, Rosenfeld en dan Goldstein of Sacher. Noem maar op. Hulle sal altyd ’n Jood vind om die plek in te neem.”
“Dis erg …” Marc fluister byna.
“Erg?” Die ou man gee ’n siniese laggie. “De helft is jouw noch nimmer vertelt, Marco. Cohn het aan my verduidelik dat sy poging om my te red alleen maar spruit uit die goeie verslae wat sy seun altyd oor my gebring het. Hy sou my sy assistent maak. Wat dit beteken het, was nie van belang nie solank ek maar die nodige band om my arm gedra en altyd in sy nabyheid gebly het. Hy het dit egter baie duidelik gestel dat ek hárd gemaak sou moes word, staalhard, want die tweede kampwet was: Wie sag of selfs halfsag is, gaan in die trein …”
Hy sug en vee weer met die rooi sakdoek oor sy voorkop. Die storie word te lank. “Ek het Cohn se adjudant geword. Punt. Hy, die grote koning wat in sy stewels en karwats in die hand deur die kamp marsjeer het, en ek, sy straatbrakkie wat agterna draf …”
Marc wag weer. Hy voel tegelykertyd ellendig en ongeduldig, want hy het tog nodig om die grusame besonderhede wat die ou man nog verswyg, aan te hoor.
“Schaufinger … Cohn het steeds maar herhaal dat hy die menslikste kampkommandant van almal was. Hy was waarskynlik voorheen ’n gewone kantooramptenaartjie wat andersins sy hele lewe iewers uit die oog as boekhouer of kassier sou deurbring. En inderdaad was hy geen onmens nie. Waarom sou hy ook wees? Hy het immers ’n groot en gerieflike huis gehad om in te woon en die hele kamp vol Jode wat vir hom gewerk het. Geen adellike het ooit soveel bekwame kleremakers, haarkappers, tuinboukundiges, chauffeurs, dokters, tandartse – noem maar op – tot sy beskikking gehad nie …”
Iewers begin ’n hond rumoerig blaf en Shmu’el, wat heeltyd by Marc se voete geslaap het, kom onrustig regop en kom met sy voorpootjies teen Marc se knieë staan. Marc tel hom dadelik op sy skoot.
Siegfried, wat hulle dophou, sê: “So menslik soos wat Cohn hom genoem het, so het Schaufinger ook sy donker kant gehad. Een middag het ’n Joodse brakkie sy maîtresse se hondjie, Bubi, oneerbiedig benader. Hy het onmiddellik beveel elke troeteldier in die hele kamp moes binne daardie uur van kant gemaak word.”
Marc trek sy asem rillend in. “Nee!”
“Ja wel, ’n uur later gaan hy en Cohn toe saam inspeksie doen om te sien of die bevel deeglik uitgevoer is. Ek moes agter Cohn aan – die enigste ‘hondjie’ wat in die kamp oorgebly het. Êrens in een van die barakke ontdek Schaufinger toe tog nog ’n katjie wat skynbaar aan niemand behoort het nie. Hy trap toe die diertjie net daar met sy groot soldatestewel dood en plaas die name van ses van die mense in daardie barak op die transportlys. ’n Sogenaamd menslike man!”
Toe hy dié keer stilbly, help Marc hom nie verder nie. Sy weerlose dierehart bibber nog van ellende oor die doodmaak van die troeteldiere van mense wat dit al so haglik gehad het. Die katjie doodgetrap … Hy sien hul gemmerkatjie, Shishi, en magteloos skiet daar trane in sy oë.
Die ou man merk dit op en hy klop Marc gemoedelik op die knie. “Maar só triest was dit nie aldag nie, Marco, helemaal niet! Op die Dinsdagoggend het die transporttrein Auschwitz toe vertrek, maar Dinsdagaand was dit kabaret.”
“Kabaret?”
Siegfried knik. “In Westerbork was daar geensins ’n gebrek aan kunstenaars nie. Die room van Duitsland se kabaretsterre en regisseurs was daar. Almal Jode. Ja, ook Kurt Gerron – sy van was eintlik Gerson, maar ja, die 1930’s was nie die regte tyd om jou Joodse afkoms te adverteer nie. Hy het toe die verhoognaam Gerron gebruik. Dit was nie asof die kunstenaars dit fyn gevind het om die SS-lede met vrolike grappe aan die lag te maak nie. Solank die sterre egter die kampkommandant in die eerste ry kon amuseer, was hulle veilig. Die wagwoord was: Speel vir jou lewe.”
“Verskriklik,” prewel Marc.
“Dink jy so? Jonge, jy sou dit ook gedoen het, veral as jou vrou en kinders se lewe daarvan afgehang het. Elke Dinsdagaand is die toneel opgebou, want daardie saal was dieselfde een waarin die stroom nuwelinge hulle elke dag moes aanmeld. Daar was oorgenoeg rekwisiete. Podium, dekor, beligting. Selfs die gordyn was van egte fluweel. Daar is selfs programboekies gedruk. Die kunstenaars was echt trots op hul teater.” Hy gryns. “Die podium was van hout uit ’n verwoeste sinagoge gemaak. ’n Deel daarvan was die deur van ’n Tora-kas. Die sleutelgat was nog sigbaar.”
Marc trek sy asem hoorbaar in.
Ou Siegfried se grynslag word breër. “Die kampkommandant was ’n ware kabaretverslaafde, my beste Marco. En die mense se aandag moes afgelei word. Daar moes orde in die kamp wees.”
“Maar dit was tog die aand nadat ’n trein vol mense weggeneem is Auschwitz toe. Het daar ooit van die Jode in die kamp by die vertonings opgedaag?”
Die ou man gee weer ’n bitter laggie. “Die mense het mekaar verdring. ’n Uur voor die vertoning het hulle al in die ry gestaan. Binne is daar omtrent geveg vir die goeie plekke, wat eers van die vierde ry af begin het. Die derde ry het altyd leeg gebly, ook as alles barstensvol was. Niemand wou daar sit nie, want in die eerste twee rye het die SS gesit. Die kampkommandant se ereplek was in ’n gemakstoel met ’n tafeltjie vir sy wyn en asbak daarnaas. Wanneer hy die saal binnegekom het, het almal dadelik eerbiedig opgestaan en bly staan totdat hy met ’n minsame gebaar toestemming gegee het dat hulle maar mag sit. Langs hom het sy sekretaresse haar plek ingeneem. Die hele kamp het geweet sy was ook sy minnares,” weer die droë laggie, “maar daaroor sou die kabaretgeselskap beslis nooit ’n grap maak nie.”
Siegfried skud sy kop en haal sy bril af om dit nogmaals op te poets. “Ja,” sê hy, “die Joodse humor is hoog waardeer. Selfs deur die SS’ers.”
“Was daar ook ’n hospitaal in Westerbork?” vra Marc ná ’n wyle toe dit lyk of Siegfried in herinneringe verval het.
“Hulle het dit ’n siekeboeg genoem. Daar was genoeg artsen. Alle dokters uit Amsterdam en Den Haag het in die kamp beland. Almal was vreesbevange dat hulle nie daar kon aanbly nie. Daar was van die beste spesialiste – ’n halwe mediese fakulteit. Daar was so baie dat hulle oormekaar geval het. Die een het probeer om meer onmisbaar as die ander te wees; diegene wat selfs net ’n bietjie meer vervangbaar as ander was, sou vroeër eerder as later op transport gaan. Ek is ’n keer met ernstige disenterie daar opgeneem. Soms het daar tot vier van hulle om my bed gestaan.”
“Watter jaar was dit?”
“Begin ’43. Hoe verskrikliker die grieselverhale was wat uit die doodskampe ingesypel het, hoe minder het ons dit geglo. ’n Volk van denkers en digters … Dié vermoor tog nie mense só nie. Nee, dit was gewoon sensasie. Die oorlog kan nie lank meer aanhou nie, het ons mekaar met die vertrek van elke transporttrein verseker …”
Die ou man staar op na die iep waaronder hulle sit en toe hy weer praat, is sy stem leweloos – asof hy met homself praat en van Marc vergeet het. “Op ’n dag staan Ruti en haar vader voor my. Ek was my sinne byna kwyt. In my onderwyserdae was sy in my klas. Ek het halsoorkop op haar verlief geraak. Ek kon dit uiteraard nooit laat merk nie. Op ’n dag het sy eenvoudig, soos soveel ander leerlinge, net uit die skool verdwyn. Ek het nie eens geweet sy was in Westerbork nie. Daarvoor was die kamp te groot. En daar staan sy meteens voor my met wyd oopgesperde oë in haar spierwit gesiggie. Dit was Dinsdag en hulle het die vorige nag gehoor hul name is op die transportlys. Kon ek dringend nog met Cohn onderhandel? Ek was tog immers sy adjudant. Meneer, alstublieft …”
Weer die stilte. Vir Marc word die spelende kinders se gejil meteens te erg.
Ou Siegfried hoor hulle nie. Hy praat verder sonder om na Marc te kyk. “Daar staan Cohn toe reeds by die transporttrein en twee tree van hom af was Schaufinger met sy Bubi aan die speel. Die hondjie het altyd blaffend teen hom opgespring asof hulle in een of ander park in Amsterdam tussen spelende kinders was. Op my pleitende versoek was Cohn se beslissing ongenadig en onmiddellik: ‘Die trein in met die meisie! Schnell, schnell!’ En vir my: ‘Kom, Siegfried, wees galant, kêrel, help die meisietjie die treintrok in.’ ”
“O, Gott!” fluister die ou man nou en druk sy gebalde hande teen sy oë. “Sy het in die modder neergeval en aan my knieë vasgeklou. Komm, Siegfried! het hy weer ’n keer in Duits geskreeu. Ek het haar met moeite opgetel … Ek kon haar rukkende hart teen my bors voel bons. Ek het haar na die veetrok gedra waarvan die deur nog oop gestaan het. Toe ek omdraai, het ek die deur hoor toeknars …”
Marc druk die hondjie so styf vas dat hy saggies tjank.
“ ’n Volk van digters en denkers …” mymer die ou man. “Maar ék dan? Ek was tog ook geen Siegfried nie. Ek was Ya’akov en ek was ’n OD.”
Marc kan aan geen woorde dink nie. Hy lê sy hand vertroostend op Siegfried se mou. Dié skyn onbewus van die aanraking te wees en bevind hom ver weg in sy eie gedagtes oor daardie verskriklike tyd.
Tog praat hy verder. “Wat nooit weggaan nie, is die herinneringe van daardie nag der nagte. Wanneer ek in die barakke die name afgelees het van diegene wat die volgende oggend op transport sou gaan, was daar altyd so ’n onbeskryflike stilte met die lees van die eerste name. Die lys was alfabeties, maar niemand kon dit heeltemal vertrou nie. Eers wanneer ek klaar was en die lys laat sak het, het die uitbarsting gekom. Ek het die mense wie se name ontbreek het, wild van vreugde sien dans. Ek het gesien hoe hulle mekaar soen of soos mal mense rondhardloop. Hulle het tafels en banke omgestamp en uiteindelik al skoppende op die grond neergeval. Onder dié op die lys het ek ’n man gesien wat sy eie oë uitgesteek het. Ek onthou hoe ’n vrou haar suster in die gesig geslaan het omdat dié se naam nie ook op die lys was nie. Daar was dikwels rou angskrete terwyl iemand ’n halwe meter verder van vreugde gesit en snik het. Ek het dit alles gesien.”
Natan sit nog steeds by die swart vrou en probeer kraletjies inryg. Hy waai vir Marc.
“Die volgende oggend het die veroordeeldes hulle goed gepak. Hulle het dan altyd oor en weer vertel hoe hulle en die agtergeblewenes aan mekaar sal skryf. Hoe hulle vir dié daarginder – nooit is die woord Auschwitz gebruik nie – groete sou oordra. En dan het die veroordeeldes, behang met rugsakke, hulle in ’n stoet voor die trein opgestel. Schaufinger, die menslike Nazi, was altyd op die perron met Bubi. Hy was altyd so wonderlik toeganklik. Op die laaste oomblik het daar nog altyd versoekskrifte uit Amsterdam gekom wat hy noukeurig sou lees. Soms het een of twee van die papiere weggewaai wanneer Bubi sy aandag aftrek. Hy het egter altyd in volle uniform daar gestaan terwyl die stoet verbytrek. Nooit het hy laat geslaap en hulle alleen laat gaan nie. Hy was beter as ons Joodse SS’ers. By ons was daar altyd maar die één wens – laat die trein tog nou asseblief wegtrek. Laat dit tog net verby wees sodat ons na ons verhitte kantore kan teruggaan en weer die sigarette kan opsteek wat ons daar op die perron nie mag rook nie. Daar was selfs ’n mate van wrewel by ons teen die ongeluksvoëls wat in hul veetrokke steeds wanhopig vasklou aan elke minuut wat hulle nog daar kon bly en hoop op die wonder wat nooit geskied het nie. En wanneer die trein dan uiteindelik sou wegrol, het ons net soos ná ’n begrafnis verlig na binne gegaan met die onbedwingbare behoefte aan ’n koppie koffie. En in die barakke het daar altyd weer dieselfde rusies gewoed. In daardie stadium het dit meestal gegaan oor die verdeling van die skamele goedjies wat die vertrekkendes agtergelaat het … Die nobele Jode.”
Toe die stilte dié keer te lank duur en die ou man in die bome bly staar, vra Marc eintlik teen sy beterwete: “Maar daar was tog ook ’n dag waarop u …?”
Siegfried het nie opgemerk Marc het weer na “u” oorgeslaan nie. “Die storie word te lank, Marco.”
“Tog …”
“In die voorjaar van 1944 kom daar toe ’n rebbe, sy vrou en tweeling in Westerbork aan …” Hy bly weer ’n rukkie stil en Marc kan sien die lang gesprek begin hom tot die dood toe vermoei.
“U hoef nie. ’n Ander dag …”
Maar Siegfried hou sy hand op. “Kort,” sê hy. “Rebbe Yoni was die enigste persoon in Westerbork wat ek gesien het wat sy blymoedigheid enduit behou het. Hy was ál een wat tot my, ’n Jood sonder geloof in die Ewige, iets van die Ewige kon tuisbring. Ek het soms bly staan en luister wanneer hy sy gebede saggies siteer. Die eeue oue Hebreeus was vir die eerste keer vir my mooi. Hy het lang strofes uit die profete uit sy hoof geken. Yoni het my nooit veroordeel oor die keuse wat ek gemaak het nie. Hy het ’n vriend geword – hoe vreemd dit ook al vir jou mag klink …”
Die rooi sakdoek kom weer te voorskyn en Siegfried vee oor sy voorkop. Marc sien dat daar, ondanks die koue, druppeltjies sweet begin vorm het.
“Maar ook Yoni en sy gesin se name het gouer as wat ek gevrees het, op die transportlys verskyn. Uiteraard het ek ’n voorspraak vir hom by Cohn probeer maak, maar hy was volkome onvermurfbaar en het niks gedoen nie. Iets in die blymoedige rebbe het hom tot woede gedryf. Ek kon sien dat dit my eie saak by hom glad nie goed gedoen het dat ek vir die rebbe kom pleit het nie. Daardie nag moes ek die lys aflees – die lys waarop sy naam gestaan het. By die sien van die geboortedatum langs sy naam het ek besef hy is ’n skrale 33 jaar oud. Toe ek sy naam lees, kom daar uit die afgrond van stilte één woord terug. Hineni. Ek het toe al geweet dit is die Hebreeus vir: ‘Hier is ek’. Ek het hom sy rugsak help pak en dit was hý wat my getroos het. My vriend Yoni het mý getroos …”
Ou Siegfried haal sidderend asem, maar lig weer sy hand toe Marc hom wil keer. “Die stoet na die stasie en hy daartussen met sy Sarah en sy kinders, ’n seun en dogter van so sewe jaar. Yoni was tengerig en hy het moeilik geloop met sy geweldige rugsak, waarin hy nog heelwat boeke ook moes bygepak het. In sy een hand het hy die klein swart boekie gehad wat ek so dikwels by hom gesien het …”
“Siddur,” sê Marc onwillekeurig.
Siegfried knik. “Op die perron het hy die boekie laat val. Hy kon alleen met die grootste moeite buk – ag, die rugsak! – om dit op te tel. Cohn was hom een voor en het die boekie weggeskop en Yoni trein toe gesleep. Hulle het ’n kort woordewisseling gehad wat vir my onverstaanbaar was. Toe slaan Cohn hom nog bloedneus terwyl Schaufinger, wat gestaan en kyk het, kliphard aan die lag gaan.”
Die ou man haal diep asem en Marc se hart raak by voorbaat koud. “En toe gebeur dit. Ek het Cohn bevlieg en hom vol in die gesig geslaan. Toe tel ek die boekie op en gee dit aan die rebbe terug …”
Hy draai hom vir die eerste keer weer na Marc en kyk hom deur sy bril se dik lense aan. “Ek kan steeds voel hoe hy, toe hy in die opening van die veetrok staan, sy hande vir ’n oomblik op my kop lê en ’n paar woorde prewel. Ek het dit toe nie verstaan nie, maar ek begryp dit wel nóú.”
Trane vorm stadig in sy oë. Hy haal sy bril af en keer hulle voordat hulle val. Marc is te stom om te praat. Hy hou alleen die ou man se arm in die dik jas stywer vas.
“Uiteraard,” gaan ou Siegfried voort toe hy sy asem terugkry, “het ek op die volgende trein na Auschwitz gesit.”
Hulle sit lank net so sonder om ’n woord te sê. Asof hy Marc se onstuimige gemoedstoestand van ver kan aanvoel, laat val Natan sy stringetjie krale in die Afrika-vrou se hand en kom hy na Marc toe. Marc stryk woordeloos oor die donker hare sodat sy kippah op die grond val. Nie een van hulle kom dit eens agter nie.
“Joune?” vra die ou man.
Marc knik, haal diep asem en sê: “Ek het twee seuns, Yhoshi en Natan. Dít is Natan.”
Siegfried neem die handjie in syne. “Ek het geen kinders nie.” Die droë laggie kom weer oor sy nog bleek lippe. “Daarvoor het Auschwitz se mediese eksperimente gesorg.”
Marc maak sy mond oop om iets, enigiets te sê, maar die ou man hou weer sy hand op. “Lehitra’ot,” groet hy en staan moeisaam op terwyl hy op sy kierie leun. En toe loop hy langsaam weg.
Daardie nag nadat hy van die hospitaal teruggekom en die kinders in die bed gesit het, kan Marc nie slaap nie. Hy probeer lees, maar sy gedagtes bly dwaal. Uiteindelik gooi hy die koerant neer en haal hy sy sketsboek uit. In die ure wat verbygaan, verwyt hy hom bitterlik omdat hy die ou man nie verder uitgevra het oor waar hy woon en of hy hom weer sou kon sien nie. Hy sou Moshe vra, want dié weet van bykans elke mens wat die plein van tyd tot tyd besoek. Hy besef ook dat hy die ou man al vantevore op ’n afstand gesien beweeg of sit het.
In sy sketsboek lê hy ou Siegfried se gesigsuitdrukkings oor en oor vas. ’n Jong Siegfried in sy OD-uniform soos hy dit in die rolprent Schindler’s List gesien het. Hy teken kampgesigte. ’n Gek kabaretkunstenaar op die verhoog, wat uit die hout van ’n verwoeste sinagoge gemaak is. Siegfried met Ruti in sy arms op pad na die veetrok. En die struikelende rabbi met sy swaar pak boeke op sy rug.
Dis baie laat toe hy koud en styf uiteindelik die sketsboek toemaak. Hy gaan staan voor die kaggel, waar daar nog net plek-plek ’n kooltjie in die as smeul. “U éie volk … Hoe kon U?” prewel hy soos hy al so dikwels in die verlede moes doen by die aanhoor van sulke grieselverhale.