Читать книгу Heildronk op 'n gypsyromp - Nadia de Kock - Страница 4
Оглавление
My idee van die hemel het verander. Dis toe nié om heeldag op Heathrow te sit en kyk hoe die vliegtuie land nie. Dis ook nie die Frankfurt Book Fair of Gingerbread Lattés op ’n Europese winteroggend of selfs ’n bruisende Margarita-waterval op ’n warm dag nie.
My Afrikaanse dosent, juffrou Van Schoor, se hemel was ’n vervoerband wat 24/7 Bockwurst en Knackwurst beskikbaar hou (hier by my is daar nie ’n wors in sig nie, net grondboontjies en aartappelskyfies). Ziggy se hemel is Murrayfield en Nuweland, Helga s’n ’n raadsaal vol ernstige sakemanne wat aan haar lippe hang en Audrey s’n (hopelik) aandklasse waar sy haar vaardighede as persoonlike assistent opskerp. Ek het gedink my hemel is Vianne Boeke, my uitgewery, wat ek twee jaar gelede begin het. Dalk is boeke steeds deel daarvan.
Maar vir nóú is my hemel ’n Ierse pub langs ’n waterstroom met ’n knetterende vuurtjie in die vuurherd – presies waar ek my op hierdie Oujaarsaand bevind.
Ons is dekades jonger as enige van die ander mense hier, maar ons het dieselfde plan as die locals, wat vanaand in hulle Sunday best uitgevat is: ons gaan die oujaar behoorlik vier. Ons gaan na tradisionele musiek luister, Guinness drink tot dit by ons ore uitkom en na lang stories luister. Dalk vertel ek nog myne ook.
Dit reën al vandat ons in Ierland aangekom het. Ek het op pad hierheen regte Travellers gesien. Ons was by Slea Head en is nie deur die faeries ingedoen nie. En die beste van alles: ek was vanoggend vir die eerste keer in my lewe by ’n vuurtoring – en langs my sit my eie, persoonlike lighthouse keeper in sy splinternuwe Aran-trui.
Die pad hemel toe was hel. Oukei, miskien nie die hele pad nie; eerder die laaste helfte van die jaar. En dalk ook nie heeltemal hel nie, alhoewel dit soms so gevoel het. Dit was beslis mál, en dat ek enigsins hier uitgekom het, en nie in ’n plek vir senuweelyers beland het nie, grens aan ’n wonderwerk. Maar hier is ek nou. In my Ierse hemel.
Die musikante in die hoek begin hul instrumente instel en ’n ou man kom staan naby ons, sy rug na die vuur gekeer. Sy wange is rooi en sy oë blink donker wanneer hy na ons kyk.
“This was a focking no-good year,” sê hy en trek vir hom ’n stoel nader.