Читать книгу Heildronk op 'n gypsyromp - Nadia de Kock - Страница 5
1
Оглавление6 Augustus. Vianne Boeke se kantoor (ook my erfhuis in Auckland Park, ’n katspoegie van die SABC af).
“Waar was jy? Dis al nege-uur!”
Audrey kyk van haar rekenaar af op.
“Die hele wêreld soek jou.”
“Ontbyt by Nuno’s. Ziggy werk oggendskof,” sê ek en sit my seilsak op die tafel langs die perkoleerder neer.
“Het jy tyd vir kuier?” vra Audrey.
“Ek werk al van vanoggend vieruur af, Audrey! En ek was honger. Hier’s al weer niks in hierdie huis nie.”
Ek kry my notaboek van my lessenaar af.
“Wie’t my gesoek?”
“Hester. Daar is ’n probleem met die kos vir vanaand. Sy kry blykbaar nêrens salm nie en wil weet of sy dit met iets anders kan vervang.”
“Ja, bel haar asseblief en sê dis fine. O, en dubbel check ook met Melville Liquor Stores vir die drank. Hulle móét dit voor drie-uur aflaai, sodat ons genoeg tyd het om dit uit te pak. En die witwyn moet yskoud wees; daar’s nie genoeg plek vir al die bottels nie. Laat hulle maar ’n skottel en ys saamstuur. Ons moet die goed net só pak dat die labels nie nat word, aftrek en in die water begin rondswem nie. Wie nog?”
“Daai vrou van Beeld, ek het nou haar naam vergeet –”
“Lelani?”
“Ja, Lelani, het gebel en gesê sy bring vanaand ’n fotograaf saam.”
“Uitstekend!” Ek is verheug dat Beeld ’n fotograaf gaan stuur. Dit beteken dat vanaand se bekendstelling moontlik die boekeblad sal haal. Groot nuus vir Diana en haar Heuningstroop en lekker bemarking vir Vianne Boeke.
“Elaine se proewe het ook gekom.” Audrey beduie na die stelle proewe op haar tafel.
“Dankie tog. Ons het net ’n paar dae, dan moet dit setter toe.”
Ek sal Elaine se proewe met die korreksies op Audrey se stel moet versoen. Maar môre. Want vandag is daar net te veel goed wat nog voor die bekendstelling vanaand moet gebeur.
“Jy wag altyd tot op die laaste minuut. My stel was lankal reg.”
“Audrey, jy weet dis Elaine wat –”
“My pak is klaar,” sê Audrey weer, staan op en gee vir my die twee stelle proewe aan voordat sy die perkoleerder aanskakel.
Ek skakel my rekenaar aan.
“Meksikaanse bone. Kobus het dit op sy laaste trip soontoe vir my gekoop,” sê Audrey terwyl sy die koffiebekers regsit, trots op haar prokureurseun wat gedurig oorsee kerjakker en vir sy ma geskenkies aandra. Sy gaan sit weer en begin in haar laai krap.
“Iemand van KykNET het ook gebel. Ek kon nie die naam kry nie, maar die vrou het gesê sy sal weer bel.”
KykNET? Dis woes opwindend. Hulle wil waarskynlik met een van my skrywers praat! Seker Diana, miskien Brando.
“Het jy nie die vrou se besonderhede gekry nie?” vra ek.
Ek is verheug. Dis die eerste keer dat een van Vianne se skrywers op televisie gaan wees!
“Nee, dit het te vinnig op my afgekom.”
Hemel. Hoeveel ander persoonlike assistente sê dít vir hul base en kom weg daarmee? Maar ek probeer kalm bly; Audrey is nie meer vandag se kind nie.
“Jy moet jou notaboek áltyd langs die telefoon hou, Audrey. Dít, en ’n pen.”
Die telefoon onderbreek my Personal Assistant Skills 101-lesing. Dis KykNET.
“Mieke, ons wil ’n program oor een van jou skrywers maak.”
“Dis baie goeie nuus!” sê ek. “Ons stel juis vanaand Diana Visser se Heuningstroop bekend –”
“Nie Diana Visser nie; Amelia Joubert.”
O, vrek. My hart gaan sit in my keel. Hulle kan nie met Amelia Joubert wil praat nie.
“Sy is ’n absolute fenomeen!” babbel die vrou. “Almal wil bitter graag Pippa se skrywer ontmoet.”
“E …” Ek kyk na Audrey wat ’n botteltjie naellak heftig skud, dit oopdraai en begin om die waatlemoenrooi met versigtige hale oor haar duimnael te verf.
“Ons weet Amelia Joubert is publisiteitsku, maar ons dink die tyd is ryp dat sy na vore kom. Sy is eintlik openbare besit, jy weet?”
Ek trek my hande deur my hare en staan op. Hier kom moeilikheid.
“Amelia laat haar nie voorskryf nie –”
“Ek is seker jy sal haar kan oortuig. As haar uitgewer?”
Ek gaan sit weer en draai my rug op Audrey.
“Ja … ek kan probeer. Maar sy is geregtig op ’n mate van privaatheid –”
“Ek verstaan, en ek het respek daarvoor. Dit is tog nie asof die paparazzi haar jag nie …” Die vrou gee ’n vals laggie. “Dis nou nie asof ons in Hollywood is nie. Dit is belangrik dat die lesers, die kópers van haar boek, se behoeftes in ag geneem word, stem jy nie saam nie?”
“Ja. Ek stem beslis saam.”
Ek draai terug na my lessenaar, vat my potlood raak en begin sirkels op die stuk papier voor my trek.
“Haar tweede manuskrip, Pippa maak ’n plan, is pas voltooi,” probeer ek tyd wen.
Dis ’n leuen; die eerste draft van die manuskrip is nou net klaar. Ek wil sug, maar sluk dit in.
“Miskien moet ons wag totdat dit op die rak is voordat ons haar vra om op julle program te verskyn. Ek kan ’n aantal boeke vir ’n kompetisie beskikbaar stel –”
“Dit gaan nog maande neem. Praat met Amelia. Ek sal jou weer volgende week skakel om te hoor hoe dit gegaan het.”
Die KykNET-vrou klink nou meer formeel.
Nadat ons afgelui het, druk ek Send and Receive en voel hoe die linkerkant van my gesig brand soos Audrey na my staar.
“Mieke, jy moet ’n plan maak met Amelia.”
“Ek weet,” sê ek en begin deur my e-posse gaan.
Audrey begin weer die naellakbotteltjie met mening skud.
“Haar ‘I just want to be left alone’-houding is besig om lank in die tand te raak. Wie dink sy is sy? Garbo? Of Karel Schoeman wat op ’n Vrystaatste dorpie kan gaan sit en alleen wees?” Audrey klik haar tong. “Karel Schoeman kan dit bekostig om geheimsinnig te wees. Amelia Joubert is darem nie in sý klas nie.”
“Sies, Audrey. Amelia is oukei.”
Wat anders kan ek sê? Amelia Joubert ís oukei. Ten minste ek hoop sy is oukei, want sy is ek … Mieke le Roux en Amelia Joubert is een en dieselfde mens.
Ek het nooit gedink Pippa doen dit in tagtig dae gaan so gewild wees toe ek dit geskryf het nie. Vianne Boeke moes iets uitgee en nie Elaine Bruwer óf Diana Visser óf Brando Conradie het manuskripte gereed gehad nie. Die slush pile was ’n skamele drie manuskripte – en totaal useless. Toe skryf ek Pippa in rekordtyd; twee maande en die boek was daar. Die skuilnaam, Amelia Joubert, het ek sommer uit die lug gegryp toe ek en Billy oor die omslag begin praat het. Ek meen, ek móés ’n skuilnaam hê. Ek kon tog nie onder my eie naam by Vianne publiseer nie, want om jou eie goed te publiseer is vanity publishing. Almal weet dit tog.
“Amelia doen jou glad nie ’n guns deur so geheimsinnig daar op Beaufort-Wes weg te kruip nie,” sê Audrey. “As sy haar deel vir die bemarking doen, sal sy nóg meer boeke verkoop. Dit sal net goed wees vir Vianne.”
Partykeer wonder ek of dit nie beter sal wees as Amelia van die aardbol af verdwyn nie. Ek het al daaraan gedink om haar te laat emigreer, of te laat aankondig dat sy vir altyd klaar is met Afrikaans, of iets.
Maar ek kon dit nog nie oor my hart kry nie; ek geniet die skrywery te veel. Dat ek egter ’n plan met haar moet maak, is ’n gegewe. Ek dra baie swaar aan hierdie geheim; niemand weet nie. Nie Billy nie, nie Ziggy nie en ook nie Audrey nie.
Lelani van Beeld het al begin neul, Rapport het Amelia vir ’n onderhoud gevra, selfs Boeke-Insig (wat veronderstel is om blootstelling aan hoër letterkunde te gee), het laas week ’n e-pos met vrae vir Amelia gestuur. Ek weet nie hoe lank die kluisenaar-
verskoning nog gaan werk nie.
Ek loer na Audrey. Sy draai die naellak se proppie weer af en verf met groot konsentrasie haar wysvinger se nael.
“Dis boonop tyd vir ’n derde druk, sou ek sê.” Sy blaas oor haar nael en kyk na my.
Dit ís tyd vir ’n derde druk. Die probleem is dat Vianne ’n tydelike kontantvloeiprobleem het. Christie, my boekrep, kry twee keer ’n jaar (Mei en November) geld by die boekwinkels, en dit is nog drie maande tot November. Intussen moet Elaine se Wilderose drukkers toe gaan en behoort Brando Conradie se manuskrip binne ’n week hier te wees, of so het hy belowe.
Een probleem op ’n slag; terug na Amelia. Ek het terwyl ek aan Pippa maak ’n plan, die tweede Pippa-boek, geskryf het, baie getwyfel of ek die Amelia-leuen verder moet vat, maar my liefde vir skryf het my skuldgevoelens tydelik laat verdwyn.
My ma glo ons kan nie betekenis vínd nie; elke mens skep sy eie betekenis deur die keuses wat hy uitoefen. Party mense fokus op hul korporatiewe lewens, ander help armes of betree politieke loopbane. Ek? Ek skryf. Reis, skryf en die maak van mooi boeke is my passies. Maar ek dwaal af. Die punt is dat ek van Pippa hou, maar dat Amelia ’n leuen is. Een wat ek nie mooi weet hoe om te hanteer nie.
“O, ja,” sê Audrey en sit die naellak terug in haar laai, “ek het vergeet. Daardie Gerrit-man, die een met die mooi stem, het ook gebel.”
Dis nie goeie nuus nie. Gerrit Vollenhoven, van Vollenhoven en Verwey Uitgewers, is my aartsvyand. Hy is die jagter, op soek na sy prooi: Elaine, Diana, Amelia én Brando Conradie. Mý skrywers.
“Wat wil hy hê?”
“Ek weet nie. Ek het probeer vis, maar hy sê nie veel nie. Tog ’n aangename man.”
“Nee, hy is nie aangenaam nie, Audrey.”
Ek sit vir ’n rukkie na haar en staar, maar sy kyk nie na my kant toe nie.
“Hy is ons kompetisie, ons moet ligloop,” sê ek.
Ek sug. Ek beter Gerrit Vollenhoven maar bel en dit agter die rug kry. Ek maak my laai oop en kry sy besigheidskaartjie uit.
“Vollenhoven,” blaf Gerrit in my oor.
“More, Gerrit. Mieke hier.”
“Mieke!”
“Ek hoor jy het my gesoek?”
“Ja, ek het inderdaad. Wil net seg ek sien jou vanaand tóg by Heuningstroop se bekendstelling.”
Ek sit regopper en kyk na Audrey. Hóé het Gerrit Vollenhoven op die gastelys gekom?
“Hallo?”
“Ja, ek’s hier.” Ek haal diep asem. “Dit sal lekker wees om jou te sien, Gerrit.”
“ ’Selfde hier. Ek het nie gedink ek sou dit maak nie, maar ek het vroeër van die Kaap af gekom. Sê my, gaan Amelia Joubert daar wees?”
“Hoekom vra jy?”
“Die hele land wonder oor haar. Almal wil haar sien.”
My stem is kouer as wat ek gedink het dit kon wees toe ek praat.
“Nee. Sy is ’n kluisenaar, sy haat bekendstellings. Dis ’n nagmerrie vir ’n uitgewer wat ’n bietjie bemarkingsmyle uit haar probeer kry.”
Kry nou die boodskap, Vollenhoven.
Gerrit lag – ’n lae, onheilspellende laggie. Dit sit gelukkig gou om in ’n hoes.
“Jy sal dit moet bestuur, Mieke,” sê hy sodra hy asemskep.
Ek gluur vir Audrey nadat ek die foon neergesit het. “Hoe het Gerrit op die uitnodigingslys gekom?”
“Ek het hom genooi. Hy was Januarie by Nagtrein s’n. Ek het dieselfde gastelys gebruik.”
“En ek het ná Nagtrein se bekendstelling gevra dat jy hom van die gastelys moet afhaal, onthou jy? Doen dit tog nou, asseblief.”
Ek staan op en stap kombuis toe om te kyk of daar nog roomys in die vrieskas is. Niks nie. Hemel, mens nooi mos nie jou kompetisie om te kom kyk wat jy doen nie. Dis so goed ek bied my skrywers op ’n skinkbord aan!
Daar is ook nie malvalekkers in die koekblik heel agter op die spensrak nie. Ek kan nie glo Audrey het hom genooi nie. Soms wonder ek regtig of sy dink voor sy doen. Ek grawe die Fizzers in die laai bo die wasbak uit en vat ’n bloue. Na die bloue verorber ek ’n pienke.
Dis alles simpel Gerrit se skuld! Hy maak my baie kwaad. Nee, meer as dit, hy maak my bang. Ek kry nog ’n blou Fizzer uit die laai en stroop die papier af. Gerrit Vollenhoven is ’n briljante uitgewer. En ’n goeie sakeman. As dit by syfers kom, het Vollenhoven en Verwey verreweg die oorhand; hulle het geld vir groot druk-
oplae, boektoere en bemarking én hulle het ’n hele span boekreps. Vianne Boeke het net een persoon in ons “verkopespan” en dis die sexy Christie. Sy doen (sekerlik) haar bes vir Vianne, maar dis onmoontlik dat sy by al die boekwinkels kan uitkom. Buitendien is Vianne nie Christie se enigste uitgewery nie; sy vryskut vir ander ook, onder andere vir ’n paar van die groot Engelse name. Miskien selfs vir Vollenhoven en Verwey.
Maar Gerrit se moer. Hy’s dalk groot en scary, maar hy vergeet een ding: Vianne is myne. Nét myne. Ek het persoonlike interest hierin. En ek is passievol; oor boeke en skryf en my skrywers. Try topping that, Gerrit Vollenhoven.
Terug in die kantoor sak ek in my stoel neer. Audrey is op die telefoon.
“Is julle nog reg vir vanaand se bekendstelling?” vra sy. Heuningstroop … ek hét, Kobus, al drie weke gelede.”
Sy rol haar oë terwyl haar seun iets sê.
“Ek weet jy is besig, almal is. Maar as jy te besig is om jou ma te ondersteun, dan …”
Audrey knipoog vir my voordat sy weer begin praat.
“Ek waardeer dit regtig, my kind. Bring sommer ’n kollega of twee saam. Mense met baie geld. Julle prokureurs behoort terug te gee aan die gemeenskap, en watter beter manier as om die kunste te ondersteun?”
Wanneer sy die telefoon neersit, glimlag sy tevrede. “Hy hoef nie te weet hy ondersteun hoofsaaklik Diana se Bollinger-obsessie nie.”
Sy skud ’n sigaret uit sy boksie en begin rondsoek na haar aansteker. Die telefoon lui weer en sy antwoord.
“Praat van die duiwel,” beduie sy en gee vir my die telefoon.
“Mieke, ek weet dis die laaste nippertjie,” koer Diana in my oor, “maar ek wil regtig bitter graag my fluweelbank by die bekendstelling hê. Dit is ’n lieflike donkerpers bank, so sensueel, só deel van my Shakira-persona.”
Oh joy. Ek het geweet die reëlings verloop te glad. Diana het haar tot dusver al die bekendstellingplanne laat welgeval en dit was te goed om waar te wees.
Professor Diana Visser, dosent in statistiek by Wits, skryf onder die skuilnaam Shakira Steyn. Sy is my moeilikste skrywer; sy ag haarself as Vianne se belangrikste skrywer, en lesers is gaande oor haar erotiese verhale. Dit was ’n helse waagstuk om haar eerste boek uit te gee (wat gaan die mense sê?!) maar dit het alles baie goed uitgewerk. Heuningstroop is haar derde, en wildste, boek.
“Die bank is ’n verlengstuk van myself,” borduur Diana voort. “My tweede man het dit spesiaal vir my gemaak. Toe ons uitmekaar is, het hy gesê hy gaan vir hom ’n replika maak, gesê dit sal hom altyd aan my laat dink wanneer hy dit sien. Dis wonder-
lik, nè?”
Ek kyk op my horlosie. Dis al tienuur.
“Dis wonderlik, ja. Diana, waar is die bank?”
“Hier by my in Northcliff. Dus nie te ver van Westdene af nie. Ek sou graag wou help, maar ek het nou-nou weer ’n klas, so dinge gaan maar dol. My huishulp is hier as jy iemand wil stuur.”
“Goed, ek kyk wat ek kan doen.”
Ek kyk weer op my horlosie. Die bekendstelling begin sewe-uur; dis touch and go.
“En Mieke, dink jy ek doen die regte ding?”
“Wel, as jy die bank daar wil hê –”
“Ek praat van vanaand. Ek is nie meer so seker dat dit ’n goeie ding is om bekend te maak dat ék die mens agter Shakira Steyn en haar erotiese romans is nie.”
Nie nou nie. Nie nou nie!
“Dit is ’n goeie ding, Diana,” sê ek en hou my stem kalm. “Ons het mos al hieroor gepraat. Jy het self gesê dat jou kollegas by Wits nie weet wat in die Afrikaanse boekewêreld aangaan nie. Jy het ook gesê dat jy voel dis oneerlik om agter ’n skuilnaam weg te kruip, dat jy glo jy skryf goed en dat jy graag wil deel in die bemarking van jou boeke.”
“Ja, dis alles waar.” Diana sug. “Maar ek voel skielik so ontbloot, so weerloos.”
“Jy is ’n sterk vrou. Jy weet dit.”
Ek paai nou dat dit klap en hoop die verwysing na haar krag haak die knoop deur, want ek weet nie wat om nog te sê nie. Miskien ’n slim verwysing na iets uit Women who run with the wolves, maar ek kan nie vinnig genoeg dink nie. Hel, ek weet nie eers of ek toe ooit die boek klaar gelees het nie. Het ek? Flip, ek beter weer die boek gaan soek.
“Dis net –”
Diana soek nog steeds bevestiging. Vandag van alle dae!
“Diana, jy maak nie ’n fout nie. Dis die regte tyd hiervoor. En dit gaan jou verkope van Heuningstroop ’n lekker hupstoot gee. Jy sal sien.”
“Ja, ek weet. En ek weet ook ek is sterk.” Diana dink vir ’n oomblik na. “Jy’s heeltemal reg, Mieke.“
Dankie tog. Diana lui kort hierna af met die verskoning dat sy nog moet regmaak vir klas.
“Sien jou vanaand, ek kan nie wag nie!” jubel sy (glad nie meer in ’n weerlose bui nie).
Audrey is nou besig om haar naels een vir een te bestudeer. Regtig, ek het nooit gedink persoonlike assistente dóén actually goed soos naels verf en vyl nie. Ek dog dis maar soos die blonde grappies. Toegegee, sy’s darem nie ’n persoonlike assistent nie. Nie heeltemal nie. Maar die naelsding doen sy, en ek het geen idee hoe om haar hieroor aan te spreek nie. Ek bid net elke keer dat hier nie ’n skrywer of iemand inloop nie. Ek skaam my dood.
“Ek weet nie hoe hou jy dit met hierdie neurotiese skrywers nie,” sê Audrey.
“Los die skrywers vir my en bly jy maar by die admin, Audrey, jy doen dit goed.”
’n Blatante leuen, maar nouja. Sy het haar sterk punte ook. En sy is ’n goeie mens.
“Audrey,” sê ek en gee vir haar die Geelbladsye aan, “kry asseblief ’n vervoermaatskappy wat Diana se bank by haar huis kan gaan haal en na die kerk toe kan vat.”
“Vandag?”
“Doen dit gou; ek moet die mediaverklaring klaarmaak, ’n paar e-posse beantwoord, die kleingeld vir vanaand uitsorteer én nog die boeke gaan uittel.”
Ek sug. “Diana en haar bank, ’n pers fluweelbank nogal,” mompel ek terwyl ek op ’n e-pos kliek om dit oop te maak.
Ná die vyfde vervoermaatskappy gooi Audrey haar hande in die lug.
“Almal sê dis heeltemal te kort kennisgewing, Mieke.”
Ek sit vir ’n rukkie na my rekenaarskerm en staar toe ek die pamflet onthou wat ek nou die dag in Germiston by ’n verkeerslig gevat het. Ek gooi gewoonlik al die pamflette onder die passasiersitplek in en laat dit net weggooi wanneer ek my kar laat was. Wat nie baie is nie.
“Ek kom nou,” sê ek vir Audrey en storm by die voordeur uit kar toe. Dit duur nie lank nie of ek kry Ready Transports!!! se pamflet. Ek hardloop terug studeerkamer toe.
“Ek bel nie ’n plek met drie uitroeptekens in die naam nie, Mieke,” sê Audrey beslis en gee die pamflet vir my terug. “Dis moeilikheid soek. En dis nou jou beurt.”
“Oukei, oukei” sê ek, gryp die pamflet by haar en begin bel.
“Maar doen jy dan die kleingeld vir vanaand, asseblief,” voeg ek by wanneer Ready Transports antwoord.
“Leady, good morning.”
Waar’s ek nou? “I’m looking for Ready Transports,” sê ek.
“This is Leady, may I help you?”
“Oh. Ready Transports?”
“Yes, Leady. May I help you, please?”
Die Chinese vrou is baie vriendelik toe ek my banknood aan haar verduidelik.
“Okay! You are rucky, we have place in our schedule. Leady can help you.”
“Oh, thank you,” sê ek verlig. “Thank you very much!”
“You are velly welcome. What is address?”
Ek gee haar eers Diana se adres.
“Northcliff.”
“Noth Linding?”
“No, Northcliff. You know, near Linden?”
“Okay, Rinden! Yes?”
“It’s easy to get there. It’s in Senior Drive. Left out of Beyers Naudé at the Lantana Nursery –”
“Reft at Rantana. Yes?”
“Right.”
“Light? Not reft?”
“No, no! Left … reft!”
Mense praat oor die Chinese oorname en die hemel help ons.
“Please turn left at Lantana.”
“You say light?”
“I meant left. You were right … er … correct when you said that you must turn reft at Rantana. I mean, Lantana.”
“Solly, you are making confusion?”
Nee, hel. Ek haal diep asem en begin weer. Uiteindelik het ons ons lefts en refts van ons rights en lights uitgesorteer en het ek die pad Northcliff toe en terug Westdene toe mooi uitgelê.
Maar dan tref iets my. Iets kleins, wat GPS genoem word. Vervoermaatskappye het tog sekerlik en definitief GPS?
“I assume you have GPS?” vra ek Die Vraag.
“No,” lag die vrou, “no GPS. We know Joburg velly well.”
Die hemel help Vianne vandag.
Ready (Leady) Transports!!! ry sommer nou dadelik, want hulle moet vieruur terug wees in Germiston. Ek sit die foon versigtig op sy mikkie neer. ’n Gevoel van angs pak my beet. Ek staan op.
“Ek gaan gou Woolies toe,” sê ek vir Audrey. “Ek het Lindt-sjokolade nodig, nie Fizzers nie. Wil jy ook hê?”
Voordat sy kan antwoord, lui die voorhek se interkom. Dis ’n mal dag.
“Ek sal gaan oopmaak,” sê Audrey, duidelik verlig om weg te kom van die rekenaar. “Borsel solank jou hare.”
“Ek het al!” protesteer ek (ek is redelik sensitief oor hierdie bos rooi krulle van my. Billy dink dis glorious – hy het een aand, ná ongeveer tweehonderd Margarita’s by Nuno’s, so gesê. Ek stem glad nie met hom saam nie).
Twee minute later marsjeer Audrey die kantoor binne met ’n platinumblonde girl kort op haar hakke. Laasgenoemde het ’n swart power suit en wit bloes (wat mens net as “sober” kan beskryf) aan, aktetas in die hand.
“Helga Fraundorfer,” sê Audrey en maak haar oë groot.
Wat? Ek herken Helga amper nie. Sou haar op straat onderstebo geloop het. Sy lyk baie anders as toe ek haar twee weke gelede vinnig vir koffie in Cresta ontmoet het. Toe was sy in jeans en tekkies. En ek sweer haar hare was donkerder. En dit was los. Ek het ook nie besef sy is so lank nie. Sy lyk soos ek my voorstel ’n vroulike Viking sou gelyk het. Formidabel, om die minste daarvan te sê. Ek staan op om my nuwe huismaat te groet.
“Ek kan nog steeds nie glo jy het ’n uitgewery nie!” sê Helga. “Dis tog te quaint. Ek moet jou sê, ek weet nie waar kry mense tyd om fiksie te lees nie.”
“Ja?”
Ek loer vinnig na Audrey. Dié se wenkbroue is gelig.
“Ek kry skaars tyd vir al die besigheidsboeke wat ek moet deurwerk.”
Sy sit haar aktetas op my lessenaar neer en knip dit oop.
“Helga, miskien moet jy ’n paar van ons boeke lees. Ek dink jy sal baie van Pippa doen dit in tagtig dae hou,” sê Audrey.
“Pippa wát?”
“Pippa doen dit in tagtig dae,” sê Audrey stadiger. “Fiksie is goed vir ’n mens.”
“Ek dink fiksie is ’n mors van tyd. In elk geval, Mieke,” sê Helga en haal ’n lêer uit haar tas, “ek het jou kontrak geteken. Ek het net ’n paar aanbevelings ter verbetering. Wil jy gou daarna kyk?”
“Ek sal later, as jy nie omgee nie, ek het nog baie dinge –”
Die telefoon red my amper van Helga, maar Audrey spring my voor.
“Yes, just turn left at the first traffic light,” sê Audrey. “No, left!”
“Soos ek gesê het, ek glo nie ek gaan tyd hê vir kook nie,” gaan Helga aan, “maar ek is bereid om na enige skedule wat jy opgestel het te kyk en dit te bespreek.”
Ek kyk vinnig na Helga voordat ek terugkyk na Audrey, wat nou ’n rooi kleur op haar wange het. Sy is nog steeds besig om van links en regs te verduidelik.
“Dankie, Helga.” Ek steek my hand na Audrey uit. “Gee vir my,” beduie ek, maar sy lig haar hand; sy het dinge onder beheer. Wanneer sy die foon neersit, sê sy: “Hulle is amper in Beyers Naudé. Ek gaan rook.”
Shame, Audrey wou netnou al gaan rook, maar dinge is te dol.
“Kom ek gaan wys jou gou jou kamer,” sê ek vir Helga en staan op. “Ek het duplikaatsleutels laat maak; sal dit sommer nou vir jou gee.”
“Dankie.”
“Ek stel vanaand ’n nuwe boek hier onder in Westdene bekend. Wou jy gekom het? Dis fiksie,” voeg ek vinnig by.
Sy moet darem weet waarvoor sy haar inlaat.
“Nee dankie, Mieke. Ek het baie dinge wat ek so vinnig moontlik moet afhandel. Ek wil ook kyk of ek vanaand klaar ingetrek kan kry.”
Wanneer ek haar kamerdeur oopmaak, vra Helga: “Bly jy alleen hier?”
“Ja.”
Dis tegnies nie heeltemal waar nie. Ziggy kom slaap soms hier wanneer dit te lawaaierig raak by haar woonstel bokant Nuno’s. En dit gebeur deesdae meer gereeld.
“My vriendin, Ziggy, slaap soms oor. Maar nie te veel nie.”
“Dis goed jy sê my. Ek moet weet wat die dinamika van die huis is.”
Ek is in die garage, besig om driehonderd eksemplare van Heuningstroop vir vanaand af te tel toe Audrey my vanuit die studeerkamer roep.
“Mieke! Kom gou hier!”
Sy klink benoud. Ek los die boeke net daar en drafstap studeerkamer toe.
Audrey staan agter haar lessenaar met die telefoon in haar hand.
“Father Kieran O’Connor,” sê sy met groot oë.
Wie is Father O’Connor? Dalk nog iemand wat oor Diana se “smerige” boeke wil kla? Ek vat die foon, nie baie lus om oor Diana se aandeel in die morele verval van die volk (oukei, eintlik van die forty-plus-vroue wat haar boeke lees) te debatteer nie.
“Miss le Roux,” sê die man met ’n mooi Ierse aksent, “Father O’Connor from the St James parish here. I want to thank you sincerely for the remarkable gift you’ve sent us.”
Watse geskenk?
“I beg your pardon, Father?”
“The couch. It’s lovely, and we have just the spot for it.”
Wat de duiwel gaan aan?
“Couch?”
“Be assured that it is very much appreciated. Quite unexpec-ted, as all gifts should be.”
Ready (Leady) Transports, kliek ek en slaan in ’n koue sweet uit.
“And we could certainly use it here at the church. We take care of a lot of needy people and could use a couch. My child, it is the likes of you that make my heart glad. And you sound so young! The young ones, still making homes for themselves yet finding it in their hearts to give to the poor, is a beautiful thing.”
Ek sal die bank moet gaan haal. Diana gaan ’n oorval kry.
“Bless your dear heart,” sê Father O’Connor.
Vrek. Hier het my nou gebless en ek sal die bank móét terugeis. Dis nie goed nie. As ek en die Vader Boeddhiste was, was daar nou baie karma (myne) om af te werk.
“Er, Father …”
“Yes, my child?”
Nee! Moenie vir my “my child” sê nie; ek gaan die bank onder jou kom uitvat!
“Please forgive me, but there has been a dreadful mistake. Dreadful.”
“A mistake?”
“Yes, the couch is supposed to go to the Methodists … the Methodist church down the road.”
“Oh my.”
Die Vader klink oorbluf.
“I’m not donating it to them, Father. We have a book launch there tonight. It’s not a proper church anymore, it’s a restaurant, but never mind that now, I have some extra stuff here at my house that I will bring to you later this week. Stuff the poor can use: a stove, a bookshelf, all beautiful.”
Ek haal ’n slag diep asem.
“Is Ready’s truck still there?”
As dit nie is nie, gaan ek waarskynlik flou word. Ek gaan sit.
“No, my child. They left a long time ago.”
Sien! Dis goed ek het gaan sit.
“Father,” sê ek en oorweeg my woorde, “I’m afraid I will have to come and collect the couch, sorry. But next week I will personally bring you the stove and the bookshelf, and whatever else I can find.”
“Bless you, child.”
“Ble …” begin ek maar byt gelukkig op my tong.
Amper sê ek vir die man: “Bless you too.” Ek weet nie of mens dit mag doen nie.
Nadat ek en Father O’Connor gegroet het, skakel my brein oor na die hoogste versnelling. Bank is by die Katolieke, moet na Metodiste toe gaan, kar tien teen een te klein, ek en Audrey te lig in die broek vir ’n trek, Audrey boonop ’n senior burger, ek ken nie vir Helga goed genoeg nie … Billy! Billy is al een wat my nou kan help. As jy ’n krisis beleef, en ek hét al, is Billy net die een om dit uit te sorteer.
“Billy!” sê ek uitasem toe hy sy foon antwoord. “Daar was ’n mix-up met Diana se bank. Moenie vra nie. Die bank moet vanaand by die bekendstelling wees, maar dit is hier onder in Melville, by die Rooms-Katolieke kerk! En die flippen vervoerplek se trok is al weg!”
Ek sê alles in een asem.
“Ontspan, Mieke.”
Billy is soos altyd die rustigheid vanself.
“Ek kan nie! Die flippen bank is by die verkeerde flippen kerk en Diana sal my flippen doodmaak as dit iets moet oorkom.”
Dis tye soos hierdie dat ek wens ek kan laat rip en soos ’n matroos vloek. Sulke ordentlike, lang, ruwe vloeke.
“Moenie stres nie. Ek het ’n shoot aan wat twee-uur klaar sal wees. Ek sal die bank daarna gaan haal en Westdene toe vat.”
“Jy red my lewe! Diana sal mal raak as sy moet weet dat die bank amper aan die kerk geskenk is. Nie omdat dit ’n kerk is nie, wel ek glo nie, maar omdat haar tweede man vir haar die bank gegee het. Jy weet hoe moeilik sy kan wees, en sy is vandag in top form. Ek sê jou ek moet hare op my tande hê. Wat sal ek sonder jou gedoen het? En wat as jy nou nie die Landrover gehad het nie? Mens moet nooit ’n vervoermaatskappy kontrakteer as hulle nie GPS het nie, veral nie as hulle nie van hierdie land is nie. Hoe gaan jy die bank alleen –”
“Mieke,” sê Billy en ek kan die glimlag in sy stem hoor, “stop. Ontspan nou. Die bank is uitgesorteer. Fokus op die res van die goed wat jy vandag moet doen.”
Ek gaan sit en bondel my hare op my kop. Dank die hemel vir Billy. Ek kyk sommer op boontoe, hemel toe. Die arme Father O’Connor. Hy het amper ’n meubelstuk gehad, en hy was so ordentlik toe die fout uitgekom het.
Ek moet kyk wat nog in die stoorkamer is. My eerste (en enigste, tot vandag) huismaat het ’n klomp goed hier gelos toe sy drie jaar gelede Engeland toe getrek het. Sy sal beslis nie terugkom vir haar tweeplaatstofie óf boekrak óf ketel nie. Daar sal ander goed ook wees wat die armes kan gebruik. Ek sal dit alles vir die Father vat. (Hy het darem maar ’n flippen mooi Ierse aksent.)
“Ek kon dink die priester is opgewonde oor die bank,” sê Audrey en kry weer haar sigarette en aansteker.
Ek staan op.
“Ek kom saam, ek het vars lug nodig.”
Toe ons onder die eikeboom sit, kyk ek op na die kaal takke. Een van die dae, sommer oornag, gaan die boom oortrek wees met nuwe, blinkgroen blare.
“I want to marry a lighthouse keeper, keep him company,” begin ek neurie terwyl ek in die lug sit en staar.
“Foei,” sê Audrey, “jou senuwees is klaar.”
“Ek is fine,” sê ek.
“Nee, jy is nie. Jy sing altyd daai liedjie wanneer dinge rof raak.”
O? Ek het dit nie agtergekom nie.
“In elk geval,” sê Audrey, “soos ek sê, ek kon dink die priester is opgewonde oor die bank; pers is die Vatikaan se kleur. Jy het mos gesê dis ’n pers bank, nè?”