Читать книгу Heildronk op 'n gypsyromp - Nadia de Kock - Страница 7
3
ОглавлениеEk loer vinnig na ABSA se Cresta-tak aan die oorkant van die koffiewinkel waar ek vir my afspraak met die kleinsake-afdeling sit en voorberei. Ek moet fokus, my asemhaling beheer. Haal diep asem, hou dit in vir vyf tellings, en laat al die lug stadig uit. Weer ’n keer.
Dit voel nie of dit werk nie. Ek verstaan nie hoekom ek so benoud is nie. Ek trek my longe weer vol lug en onthou dan ’n oefening wat ek in een van my ma se boeke raakgelees het: mens moet jouself ground, het die skrywer gesê. Of was dit centre? Dit maak nie saak nie, ek gaan dit probeer. Ek maak my oë toe en begin die oefening herroep: verbeel jou jy stap met ’n pragtige (verkieslik goue) wenteltrap af, treetjie vir treetjie al laer totdat jy by ’n klam, groen plek kom. Staan stil, kyk om jou rond en sien die pragtige pienk skoenlappers wat rondfladder, vet hommelbye wat om geel blomme zoem …
Jip, dit voel omtrent reg.
Stap ’n entjie verder op die sagte gras en gaan sit by ’n kabbelende waterstroom. Aan die oorkant sien jy blonde krulkopkinders speel. Hóór hulle lag, vóél die liefde in hierdie spesiale plek van jou. Sien die … sien …
Gerrit Vollenhoven?!
My oë vlieg oop en ek loer om my rond. Niemand kyk vir my nie.
Wat soek Gerrit Vollenhoven in mý koel, groen plek? Die oomblik is geruïneer, die skoenlappers het weggevlieg en die kinders het begin tantrums gooi (in fact, dit klink asof die bye ’n paar van hulle geklits het). Ek skud my kop en kry nog ’n suikerpakkie uit die houer voor my op die tafel. My senuwees is op. Sien, dis weer een van daardie oomblikke waar ’n goeie matroosvloed handig sou wees. Ek skud die bruinsuiker oor my cappuccino uit en kyk hoe die korreltjies bo-op die room lê voor dit stadig wegsmelt.
Gerrit Vollenhoven, wat weet van Ná middernag. Mý Diana se vierde boek. Ek skep ’n lepel vol room van die cappuccino af en kyk weer na die bank oorkant die koffiewinkel. Ek maak my haarrekkie los, trek my hande deur my hare, bind dit weer op en trek aan die poniestert om seker te maak dis stewig vas. Blerrie Gerrit Vollenhoven!
Ek vat ’n slukkie van die soet cappuccino en maak my notaboekie oop. Ek moet dubbel seker maak ek vra vir genoeg geld. Want dis wat ek vandag moet doen: ’n lening kry. Vir Vianne.
Reg: Wilderose moet drukkers toe (R40 000); die eerste Pippa moet ’n derde druk kry (R20 000); die tweede Pippa is op pad (R55 000); Brando se reisverhale gaan voor November afkom (R40 000) en ek kan netsowel voorsiening maak vir Ná middernag (R40 000). Groottotaal: R195 000. O vrek. Ek haal weer diep asem en skrap die eerste Pippa van die lys. R175 000. Dis beter. Maar is dit die regte besluit? Pippa doen op die oomblik goed en herdrukke maak veral geld, omdat die omslag klaar ontwerp is, die setter en proefleser klaar betaal is. Mens stuur net die proewe weer drukkers toe. Ek trek die R175 000 dood en skryf weer R195 000. Dis nie só erg nie. Dis eintlik min; ek is seker daar is ander klein ondernemings wat baie meer nodig het. En dis darem nog onder R200 000.
Ek sluk my cappuccino klaar, tel my sak op en haal my grimeerspieëltjie uit. Ek loer vinnig of daar nie lipstiffie op my tande is nie. Hemel, maar ek lyk gestres; ek gaan op die jeugdige ouderdom van twee-en-dertig Botox nodig hê vir hierdie plooie tussen my oë. Ek klap die spieëltjie toe en kyk of ek die kelner sien.
“Rekening, asseblief,” beduie ek en kry solank my beursie uit. As dit so aangaan, gaan ek veel meer as Botox nodig hê om ooit weer na ’n aantreklike vrou te lyk.
Die bank is gelukkig nie te besig nie. Die bles man by die kleinsake-afdeling sit ver van sy lessenaar af sodat sy groot maag kan inpas. Hy het ’n wit kortmouhemp aan en ’n donkerblou das met ’n klubwapen op.
“Juffrou Le Roux, voordat ons ’n lening aan u sal oorweeg, moet ons seker maak dat u besigheid lewensvatbaar is.”
Hy skuif sy naambordjie, “Wim Basson”, eenkant toe en leun met sy swaar voorarms op die lessenaar.
“Jy sal vir ons ’n volledige besigheidsplan moet opstel. Ek neem aan jy het al een?”
“Nee.”
Ek kyk van Wim se harige voorarms op na die plakkaat teen die muur agter hom. ’n Aantreklike ou skud ’n sprankelende kliënt se hand. Die kliënt glimlag breed; sý het obviously ’n besigheidsplan.
Wim sit regop.
“Nie? As ek mag vra, waar het jy die kapitaal gekry om Vivienne –”
“Vianne.”
“Om Vianne Boeke te begin?”
“Ek het my pensioenfonds gebruik.”
“Die hele fonds?” Sy wenkbroue spring omhoog.
“Jip.”
Hier kom dit nou.
“Plundering van ’n pensioenfonds is baie kortsigtig.”
Wim kyk streng na my, ’n diep frons tussen sy welige swart wenkbroue.
Ek het dié woorde al gehoor. By my pa, agtien maande gelede. Ek sit regop.
“Ek weet. Maar ek is nog jonk; daar is nog baie tyd om ’n annuïteit uit te neem, of iets.”
Ek leun ’n bietjie vorentoe.
“Meneer Basson … Wim, ek het nie vir ’n les in finansiële bestuur gekom nie. Ek wil ’n lening hê, want ek wil my besigheid aan die gang hou.”
Ek is nie gewoonlik so selfgeldend nie, maar ek moet darem optree soos iemand wat die potensiaal het om ’n baie belangrike kliënt te word. Dit is waarskynlik ’n magnaat-in-wording wat hier voor Wim sit. As ek hý was, sou ek gawer wees met jong onbekendes. Mens weet nooit wat gebeur in die toekoms nie.
Wim sug en vee met sy hande oor sy oë. Hy lyk moeg. Dalk sukkel die arme man om kliënte in hierdie tyd van die Groot Wêreldwye Finansiële Krisis bymekaar te maak. Nie dat ek heeltemal op datum is met die wêreldmarkte nie, maar ek hoor gereeld op 702 Talk Radio van die “global financial crisis”. Ek moet sê, nuus oor die krisis het so erg geword dat ek opgehou het om 702 te luister. Hoe moet ’n mens positief bly te midde van al die aanslae?
Ek kyk na die moeë Wim en besluit om my taktiek te verander.
“Dis mos reg om ’n lewensdroom te hê en dit na te jaag?”
Wim knik sy kop. Maar dis effentjies, asof hy lankal enige drome wat hy gehad het, laat vaar het.
Dan ruk hy homself duidelik reg. Dit lyk selfs of hy ’n bietjie regopper sit.
“Jammer as ek oorreageer het. Dis net dat ek self ouers het wat op hul oudag nie ’n pensioen het nie, omdat hulle nie daaraan gedink het toe hulle jonger was nie.”
Hy sit terug en vou sy arms oor sy maag.
“Hoe lank is Vianne al aan die gang?”
“Agtien maande.”
“En hoeveel boeke het jy al gepubliseer?”
“Tien.”
“Enigiets wat ek ken? Alhoewel, ek lees nie eintlik nie. My vrou is die een wat boeke aandra.”
“Dalk het jou vrou al van Shakira Steyn gehoor? Ons het juis gisteraand haar jongste, Heuningstroop, bekendgestel.”
Ek glimlag en voel nou meer selfversekerd. Die kans dat sy vrou Shakira Steyn se erotiese goed verslind en daarna vir haar vriendinne aangee, is nogal goed. Dis nou ás mevrou Basson Afrikaans lees.
“Ek weet glad nie. Sal haar vra.” Wim skud sy kop. “Maar, om terug te keer na jou uitgewery, ek kan nie glo dat jy al soveel boeke gepubliseer het sonder ’n besigheidsplan nie. Jou Vivien-
ne –”
“Vianne.”
“Jou Vianne Boeke sal nêrens heen gaan as daar nie ’n strategie is nie. ’n Besigheid sonder ’n behoorlike strategie is net ’n fantasie.”
Ek sak in my stoel terug, my sak op my skoot. Ek het, in my kort tyd in die korporatiewe wêreld, ’n paar strategiese sessies beleef. My teorie is dat daar te veel strategiese denke is en te min strategiese doen. Maar ek sal Wim gelukkig moet hou.
“Wat moet alles inkom?”
“Buiten die eenjaar-kontantvloeiprojeksie soek ons ook ses maande se bankstate en ’n lys van jou bates en laste.”
Bates en laste? Dís nie ’n probleem nie. My erfhuis in Auckland Park is so R900 000 werd (antieke plumbing, dampness en al –
dis mal). Ek voel nou baie optimisties. Dis net die projeksie wat ’n pyn gaan wees.
“Seker. Ek sal vir jou ’n lys van my bates en laste maak.” Ek glimlag. “Maar, Wim, ek is net effens onseker oor die kontantvloeiprojeksie.”
Wim kyk vir my asof ek pas van die maan geland het. Wat is dit met hom?
“Jou boekhouer sal dit wel hê.”
Ja, wel. Ek het nog nie ’n boekhouer nie. Ek weet, ek weet, watse tipe besigheid bedryf ek wat nie ’n boekhouer nodig het nie? Ter verdediging van myself moet ek noem dat Vianne ’n beslote korporasie is en dat ek agtien maande tyd het om ’n boekhouer te kry en die eerste belastingopgawe in te dien. Die agtien maande is amper om; ek sou in elk geval ’n boekhouer moes aanstel. Maar tot nou toe was daar nie tyd vir sulke goed nie. Ek sê niks hiervan vir Wim nie. Die arme man beswyk dalk.
“En ons sal ’n polis of vaste deposito-rekening nodig hê vir sekuriteit,” stel Wim nog ’n voorwaarde.
“Geen probleem,” sê ek.
Ek hét ’n polis. In fact, ek het twee waaruit ek kan kies. Dinge begin lekker in plek val.
“Nou goed, juffrou Le Roux, kry die besigheidsplan bymekaar en dan kom sien jy my weer.”
Reg, ’n boekhouer. Dis volgende op my lys.
Die wind het opgekom en pluk aan die kaal bome langs Beyers Naudé-rylaan. Ek hou my regteroog op die pad terwyl ek Vianne Boeke se nommer op my selfoon kry.
“Hi, Audrey. Ek gaan nou Nuno’s toe. Ek behoort so eenuur daar te wees, so ek sal jou nie sien voor jy waai nie. Het jy Diana se blomme laat aflewer?”
“Check,” sê Audrey.
“Dankie. Is daar enige boodskappe vir my?”
“Christie het gebel om te hoor hoe die bekendstelling was en ook om te hoor hoeveel Pippa’s oor is. Sanette het gebel, sy soek Wilderose se proewe Maandagoggend op die laatste, anders gaan sy nie teen Woensdag klaar korreksies aangebring hê nie. ’n Rudi-persoon het gebel, maar wou nie ’n boodskap los nie en Helga sê sy sien jou môre; sy slaap vanaand nog by haar ma.”
“Dankie. Ek sal hulle vanmiddag bel.”
Ek wonder hoekom ek gehoop het dat Markus ook gebel het, vir ’n date of so. Ek het hom gisteraand nog ’n paar keer gevang dat hy vir my kyk. Wat natuurlik beteken dat hy mý ook gevang het. Oh well. Ook maar net so goed. Ek lyk horrible na al my laat aande se werk.
By die verkeerslig kyk ek gou na my SMS’e. Daar is een van Diana: Dankie vir gisteraand. Dankie vir blomme! X Wanneer kom foto’s? Hoeveel boeke is verkoop? Een van Elaine: Sal jou later vanmiddag skakel. Een van Billy: Great do. Eenuur by Nuno’s? Het Mpoort foto’s. En een van Woolworths: Miss M le Roux, please pay amount of R612.20 to maintain a healthy credit record. Ek vererg my dadelik. Die rekening is nog nie eens ’n maand agterstallig nie (ek het bloot vergeet om te betaal, omdat ek so besig is – it goes without saying) en ek is darem al jare lank ’n gewaardeerde kliënt. Ek ondersteun hulle dat dit bars. En dis nie asof hulle al ooit gesukkel het om geld uit my te kry nie. Flippen kapitaliste.
’n Koerantplakkaat wat aan ’n lamppaal wapper, trek my aandag: 2008, die langste jaar. Seker al weer die ewige Wêreldwye Ekonomiese Krisis waarna hulle verwys. Met een oog op die pad begin ek in die paneelkissie krap op soek na my Parlotones-CD. Ek wonder hoe gaan dit met Pa; hy is in die thick of things daar in New York. Dit klink darem asof hy hierdie soort ding kan hanteer. Ná twintig jaar as ’n beleggingsbankier is hy waarskynlik al gewoond aan ekonomiese markte wat op en af bons.
Net voor die brandweerstasie kry ek die CD raakgevat. Ek moet onthou … ag flippit, daar flits die spoedkamera al weer. Hoeveel keer gaan dit my nog vang?
Melville se Sewende Straat lyk meer na Adderleystraat wanneer die suidoostewind besluit om sy stem dik te maak as Adderleystraat self. By De La Crème is die kelners besig om wapperende wit tafeldoeke van die tafels op die sypaadjie op te tel en twee meisies, rompe fladderend om hul bobene, hardloop oor die straat en glip by Ratz in.
Ek ry stadig, soek eers aan hierdie kant van die straat na parkering, dan aan die oorkant. Kort-kort kyk ek in my truspieëltjie of daar nie dalk ’n parkeerplek agter my oopgegaan het nie. Dit lyk of die hele Jo’burg in Melville kuier en daar is nie plek vir ’n muis (of sy kar) in Sewende Straat nie. En dit nogal op ’n Donderdag. Dan sien ek hoe Veronica, die karwag, hoër op in die straat staan en beduie. Die wind skep haar lang hare en sy gryp dit met een hand vas terwyl sy met die ander een vir my wys dat daar plek oorkant die Tattoo Parlour oopgegaan het.
Ek het skaars uitgeklim en Veronica gegroet wanneer ’n smous wat draaddiertjies en -bome verkoop sy opwagting by my kar maak.
“Look, madam. Look at my design.”
Aan elke tak van die silwer draadboom hang ’n klompie turkooiskleurige stene. Dit lyk soos ’n Afrika-kersboom.
“Very nice.”
Ek is glad nie van plan om vandag enigiets by hulle te koop nie. My een laai kan nie meer toe nie van al die draadgoetertjies wat ek al só versamel het. Ek hou nie eens van die goed nie, maar die mense is kunstenaars. Hulle moet ondersteun word.
“It’s new on the market,” sê die smous met trots.
Ek vat aan een van die turkooisstene.
“It’s a very good design, but I can’t buy one today.” Ek glimlag vir die smous. “Very good design.”
“Thank you. Maybe next time?”
“Yes, maybe.”
Voor Nuno’s stop ’n tweede smous my. Hy het ’n klomp oorgroot rooi draadkewers in die hand.
“No, thank you,” sê ek (redelik kortaf teen hierdie tyd) en stap by Nuno’s in.
Ek druk my windverwaaide hare plat; ek kan sommer voel hoe regop dit staan. Dis great. Behalwe dat ek Botox nodig het, is my hare ook ’n gemors.
Billy is reeds hier. Hy sit in die hoekie by die kroegtoonbank en staan op wanneer hy my sien. “Hi!” Hy soen my op die wang en trek vir ’n my stoel uit. “Ek sien die wind het jou ook beetgekry.”
“Woeste winde wat waai,” sê ek en druk die krulle wat uit my poniestert losgekom het agter my ore in. Ek kan net dínk hoe hierdie boskasie van my nou vir Billy moet lyk. ’n Ontploffing in ’n matrasfabriek. Ek behoort dit te sny. Kort, in ’n pixiestyl. Behalwe dat dit dan éérs sal krul. Ek sal soos Saartjie lyk – net in rooi.
Ziggy sien my en kom agter die kroegtoonbank uit.
“Hi!”
“Hi, Ziegs. Ek was by die bank; bring asseblief dringend ’n Margarita!”
“Seker, señorita.”
“Wanneer maak jy klaar?” vra Billy vir haar.
Ziggy kyk op haar horlosie. “Nog so ’n uur.”
Sy stap na die kroeg toe en begin my Margarita maak.
“Gisteraand se launch was ’n sukses, nè,” sê Billy nadat ons gaan sit het.
“Ja, ek dink dit het goed gegaan. Audrey sê ons het al driehonderd boeke verkoop.”
“Dis uitstekend!”
“Jip. Dis die meeste wat ons nóg by ’n boekbekendstelling verkoop het.” Ek sug.
“Jy klink nie baie gelukkig nie. Wat gaan dan aan? ”
“Diana is besig met ’n vierde manuskrip. Gerrit Vollenhoven het my daarvan gesê.”
“Dis nie goed nie.”
“Nee, glad nie. Ek sal haar seker een of ander tyd daarna moet vra.”
“Jy sal moet. O ja” sê hy en maak sy seilsak oop, “hier is die Meiringspoortfoto’s.”
Hy haal ’n pak foto’s uit en gee dit vir my. Billy het vir my foto’s geneem wat saam met my artikel vir Ver paaie gebruik kan word. Ek moet die artikel nou dringend klaarmaak. En Elaine se proewe wag vir my.
“Ek sal Diana se foto’s vanmiddag aflaai en dit oor die naweek by jou kom afgee.”
“Dankie, Billy.”
Ek vat die foto’s by hom aan en begin daarna kyk. Dit is besonders, soos al sy foto’s. “Dis pragtig.” Dit gaan stunning lyk saam met die artikel.
“Ek dink darem Ver paaie sal dit kan gebruik. Ek het vir jou ’n CD gemaak wat jy vir hulle kan stuur. Jy kan daardie maar hou.”
“Thanks. Dis nice van jou.”
“Wanneer moet jou artikel klaar wees?”
“Einde volgende week.”
Ziggy sit my Margarita voor my neer en trek vir haar ’n stoel uit.
Ek lig my glas na hulle. “Cheers.” Ek vat ’n groot sluk van die koue genot en sit my glas neer.
“Ek het ’n nuwe huismaat. Helga.”
“Wat?” vra hulle gelyktydig.
“Sy is ’n projekbestuurder en kom nou net van die UK af.”
“Ek het nie eens geweet jy soek nie? Wanneer het dit gebeur?” vra Ziggy.
“Drie weke gelede.” Ek kyk vir Billy. “Net voor ons Meiringspoort toe is.”
“En, hoe lyk sy?” vra Billy.
Ek dink aan Helga se swart power suit. “Scary.”
“Helga die Verskriklike,” sê Ziggy en lag.
“Staal jouself,” sê ek vir haar en kyk na Billy, “jy’t geen idee hoe formidabel sy lyk nie. En sy dink fiksie is ’n mors van tyd.”
“Uh-oh. Ek voorspel intense debatte by die kombuistafel. Hoekom het jy op haar besluit as sy so erg is?”
“Sy was die enigste girl wat op my ad in die Melville Times reageer het.” Ek vat nog ’n sluk van die koue Margarita. Hemels. “Jy wil mos nie permanent intrek nie, Ziggy.”
“Nee, ek wil nie. Ek het al te veel gesien hoe vriende house-mates word en dan vyande.”
Ziggy trek haar skouers op en staan op wanneer kliënte by die deur inkom.
“In elk geval, Billy,” sê ek en kyk na die borreltjies in sy bier, “ek was vanoggend by die bank vir ’n termynlening. Daar is ’n paar goed wat moet gebeur voordat November aanbreek en ek het ’n tydelike kontantvloeiprobleem. Nie erg nie, maar darem.”
“Is jy oukei?”
“Ja.” Ek sit terug. “Maar die bank soek ’n besigheidsplan. Nodeloos om te sê, ek het nie tyd gehad om ’n behoorlike plan op te stel nie. Ek veronderstel ek kan dit tussen een en twee in die môre doen.” Ek glimlag.
Sy wenkbroue lig effens.
“Mieke, mens stel nie ’n besigheidsplan binne ’n uur op nie!”
Sy oë lyk amper swart in die skemerte hier binne-in Nuno’s.
“Kan die bank jou nie help om een op te stel nie? Dan sal dit vinniger gaan.”
“Nee.”
Ek lek eers die sout op die glasrand af voordat ek weer ’n sluk van my Margarita vat.
“Dink jy ek moet ’n besigheidskonsultant of ’n ding gaan sien?”
“Jy kan, maar dit gaan jou geld kos. Hoekom probeer jy nie self die plan opstel nie? Google net ‘Business plans’.”
“Sal jy my help?”
“Dis maklik, tik net www.google –”
“Billy!” Ek lag. “Los dit maar. Ek soek ’n boekhouer ook. Weet jy waar ek een kan kry?”
“Ja, gebruik myne; hy is ’n nice ou. Kom ek b-card sy nommer vir jou, voordat ek vergeet.”
Billy haal sy selfoon uit sy sak, skuif dit oop en begin tik.
Ek kyk na hom terwyl hy met sy selfoon doenig is. Sy blink, donker hare is lank, langer as wat ek dit al gesien het. Dit raak aan die onderkant van sy hemp se kraag.
“Laat jy jou hare groei?”
Billy kyk op. “ ’Skuus?”
“Laat groei jy jou hare? Dit raak lank.”
“Seker.” Billy frons eers, duidelik nie heeltemal by nie, maar begin dan glimlag. “Maar nie tot op my boude nie.”
Ek proes en hy grinnik saam. Vir ’n oomblik sien ek hoe Billy as ’n sesjarige seuntjie moes gelyk het. Die vroue in sy familie het hom seker tot in die afgrond bederf.
Terwyl hy die b-card stuur, vra hy: “Wat gaan jy oor Diana en haar vierde manuskrip doen?”
“Onderhandel,” sê ek vaag en kyk na die twee meisies by die tafel langs ons. Hulle kyk na Billy, leun na mekaar en begin ’n fluistergesprek. Billy trek altyd aandag. Ek hoop nie dat hulle nou ’n rits drankies na ons tafel toe gaan stuur nie. Dit het verlede week in Rosebank gebeur en ek het gesien hoe ongemaklik dit Billy gemaak het.
“Mieke? Aarde na Mieke … kom in.” Billy se oë vonkel.
“Ja?”
“Ek het vir jou ’n geskenk.” Hy haal ’n boek uit sy sak. “Ek het dit hier onder by Melville Booksellers raakgeloop.”
Dís ’n verrassing. Behalwe vir die odd plak sjokolade, dra Billy nie geskenke aan nie. Ek dink hierdie is sy manier om jammer te sê oor wat in Nieu-Bethesda, op pad terug van Meiringspoort af, gebeur het. Hy hoef tog nie jammer te sê nie; dit was niemand se skuld nie. Maar hoe raak ek die kwessie aan? Dalk is die boek net ’n geskenk, niks meer nie en niks minder nie, en stel ek ons albei net in die verleentheid as ek nou iets sê.
Ek druk my hare weer agter my ore in en vat die boek by hom aan. Ireland, a haunting beauty. Op die voorblad is ’n foto, hoofsaaklik in skakerings van blou en groen, van twee kliphuise, ’n hond en ’n ou man en groen heuwels. Alles onder ’n drukkende grou lug.
“Dis wonderlik!” sê ek en leun vooroor om hom te piksoen. “Jissie, dankie Billy.”
Ek draai die boek om en kyk na die klein sproetgesigdogterjie op die agterblad voordat ek dit oopslaan. “Dis … dis vrekmooi. Dit práát met my.”
“Ek het gedink dit sou.”
“Kyk, dis al in 1972 uitgegee. Lyk dit nog dieselfde? In Ierland, bedoel ek. So mooi? So … wat is die woord waarna ek soek?”
“Haunting?” vra Billy.
“Ja, haunting.”
Ek blaai ’n paar bladsye tot by ’n swart-en-wit foto van ’n ou man in ’n verslete seemanskeppie. Sy baadjie se kraag is opgeslaan en hy kyk nie na die kamera nie. “The islander can read an outsider’s thoughts with terse accuracy. You know you have it made when they invite you into their kitchen,” lees ek hardop vir Billy.
“Dit klink soos van die mense wat ek in my paar dae op Inishmor raakgeloop het.” Billy glimlag en skud sy kop. “Ja, daar is nog dele, veral in Donegal, wat presies so lyk.” Hy beduie na die foto op die voorblad. “Ek sal vir jou ’n paar van die foto’s wat ek verlede jaar geneem het, aanstuur. Of het ek al?”
“Nee. Al wat ek gesien het, was die paar wat in Weg was … en dit was meer van Dublin, dink ek.”
Billy skud sy kop en kyk by die venster uit Vismark se kant toe. Dit lyk vir my asof hy eerder iets in Ierland onthou.
“Jy moet probeer gaan; jy sal daarvan hou.”
Skielik is dit half ongemaklik tussen ons. Ek maak die boek toe en streel eers weer oor die huise en die heuwels op die voorblad voordat ek dit in my sak druk.
Sesuur is ek nog steeds in Nuno’s, besig met my honderdste Margarita (oukei, vyfde of so iets). Billy is weg; hy en Riëtte, sy jongste meisie, gaan movies toe en Ziggy se skof het vier ure gelede reeds klaargemaak. Sy sit langs my, besig om al haar tips op Margarita’s te blaas.
“Ek dink Markus is baie sexy,” sê ek. Dit raak al moeiliker om te konsentreer.
“Wie’s Markus?”
“Van gisteraand, man. Audrey se seun se vriend, onthou jy?”
“O ja. Hy is nice, as dit die tipe look is waarvan jy hou. Ek dink Billy is baie nicer.”
“Jy het so gesê. Ek weet egter nie hoekom jy dit sê nie. Billy is ons vriend.”
Ek het Billy hier in Nuno’s ontmoet, net voordat ek Vianne begin het. Ons het onmiddellik gekliek. Daai aand het ons sit en gesels totdat Ziggy móés sluit. Billy het ’n manier om my op my gemak te laat voel of iets … ek weet nie eintlik wát nie. Hy is interessant en belese en … Billy. En sedert daardie laatnagkuier is ek, hy en Ziggy beste vriende.
“Ek kon nog nooit verstaan het hoekom julle nie vir mekaar geval het nie,” sê Ziggy. “Julle is soos brood en botter. Julle lýk selfs goed saam.”
My selfoon begin lui en ek grawe dit uit my sak. Dis Elaine. “Hallo, Elaine, net ’n oomblik.”
Ek beduie vir Ziggy dat ek die oproep buite gaan neem.
“Gisteraand se launch was indrukwekkend,” sis Elaine. Dalk verbeel ek my, dalk het ons net ’n swak selfoonsein. Of dis die Margarita’s. “Ek moet erken, ek voel seergemaak.” Nee, dis nie ’n swak sein nie. Ook nie die Margarita’s nie.
“Seergemaak?” Ek moet nou baie mooi konsentreer.
“Ja, seergemaak. Dit voel vir my asof sekere van Vianne se skrywers bevoordeel word. As uitgewer behoort jy neutraal te bly, nie jou gunsteling so oop en bloot voor te trek nie.” Genoeg om my dadelik nugter te maak.
“Dis nie baie regverdig nie, Elaine. Ek trek niemand voor nie.”
“Mieke, ek het nog net boek-en-koek-bekendstellings op ’n Saterdagoggend gehad. Gisteraand se bekendstelling moes jou baie geld gekos het. Klink dit vir jou neutraal?”
“Elaine,” sê ek, en draai my rug op ’n smous wat draadkrokodille onder my neus kom indruk, “dis nie veronderstel om algemene kennis te wees nie, maar hierdie bekendstelling was goedkoper as wat dit gelyk het. Audrey en haar vriendinne het baie van die goed self gemaak, wat baie geld gespaar het.”
Hemel, dat ek nou so goedkoop voor my voorste skrywer moet klink. Party dae wonder ek.
“En al daai rose?”
“Ja, wel –”
“En die bottels en bottels wyn?”
“Een van Diana se vriende het ’n hele klomp bottels wyn geskenk. Gun haar dit; sy het dit beskou dit as ’n soort tweede twenty-first –”
“Derde,” val Elaine my in die rede.
“Haai, Elaine!”
“Hoe dit ook al sy, ek voel steeds afgeskeep.”
“Ek is jammer. Glo my, jy het geen rede om so te voel nie.”
Hoe moet ek Elaine paai? Dit is tog die waarheid dat die bekendstelling nie duur was nie (behalwe dat Ready Transports die koste ’n bietjie opgejaag het, maar dit was onvoorsien).
“Ek wil jou nou nie oorlaai nie,” sê Elaine, “maar ek glo tog dat Waar wilderose groei ’n ordentlike bekendstelling verdien. Gerrit Vollenhoven doen dit vir al sy skrywers.”
Gaan Elaine my nou met Gerrit Vollenhoven dreig?
“Romanses,” begin ek, maar besluit dadelik om my woorde in te sluk. As ek Elaine onder die indruk bring dat ek haar boeke nie so belangrik soos Diana s’n ag nie, is die koeël deur die kerk. Almal weet tog hoe goed romanses verkoop, en Elaine se boeke, wat eintlik eerder liefdesromans is as romanses, verkoop baíe goed. Diana s’n verkoop net beter. Sex sells. Punt.
“Natuurlik moet ons kyk na na ’n ordentlike boekbekendstelling.” Ai. “Ek wou net eers dat die publiek jou leer ken voordat ons ’n bekendstelling hou. Anders val so iets heeltemal plat.”
Ek voel warm. Dit moet van die Margarita’s wees.
“Wonderlik! Dankie. En ’n moontlike datum?”
“Ek sal moet kyk. Wat sê jy van so mid-Oktober?”
“Uitstekend.”
Elaine is gelukkig; dankie daarvoor. Ek stap terug in Nuno’s en gaan sit weer oorkant Ziggy. Ek moet dadelik nog ’n Margarita kry. Ek kan nie nou aan Elaine se bekendstelling dink nie; ek het nog skaars herstel na Diana s’n. Wat my weer laat dink aan Markus. Og, daai man is sexy!
“Dink jy nie ek moet vir Markus bel nie?”
“Hoekom wil jy dit doen?”
“Ek wil hom date. Staan dit iewers geskryf dat ouens girls eerste moet vra vir ’n date? Dis ’n moderne era. Toe stry, Ziggy.”
“Nee, dit staan nêrens nie. Maar, ek sou nie.” Ziggy staan op. “Nog ’n Margarita?”
“Asseblief. Maar, wag nou eers. Hoekom sal jy hom nie date nie?”
“Hy’s nie my tipe nie.”
“Ziggy! Jy weet dis nie wat ek bedoel nie. Hoekom sal jy nie ’n ou eerste vra nie?”
“Ek sal.”
Ziggy vat ons glase en stap na die kroegtoonbank toe.
Ek voel ’n bietjie verward, en probeer my gedagtes bymekaar kry. Dit herinner my aan een aand, in hierdie einste Nuno’s, toe ek en Ziggy in ’n debat oor hoë letterkunde teenoor populêre letterkunde vasgeval het. Billy het agterna gesê dit was mal.
“Ziggy sê die tafel is bruin, dan sê jy ‘Is nie, die stoel is blou!’”
Ek begin giggel. Die volgende Margarita is beslis my laaste een, dis afdraand van hier af. Ek sal Ziegs môre weer vir haar opinie vra.
Ek sukkel vir ewig om die veiligheidshek by die voordeur oopgesluit te kry. Ek dink ek moet ’n gloeilamp met meer watts of iets gaan koop vir die stoeplig. Mens sukkel met hierdie flippen slot. Wat my meer ongemaklik maak, is dat ek wéét die straatwag staan vir my en kyk. Hy het gewaai toe ek om die draai kom en het nadergestap om seker te maak ek is veilig in die erf en dat die elektroniese hek heeltemal agter my toegegaan het. Ek waardeer dit. (Ek wonder partykeer wat hy dink; ek het een aand baie laat van Melville af gekom en vergeet om die hek agter my toe te maak. Het my amper mal geskrik toe die interkom so laat in die aand lui. Dit was die straatwag. “Close the gate!” het hy beveel.)
Wanneer ek uiteindelik binne-in die huis is, stap ek kombuis toe en gooi my sak op die tafel. My Margarita-lus is nou aangewakker. Ek haal die ysbreker uit die kas onder die wasbak en maak die yskas oop. Daar is nie lemmetjies nie (wat het ek gedink?), maar Lime Juice sal die ding doen. Die belangrikste is tog die tequila. Ek gooi ’n bietjie Lime Juice en water op een piering en sout op ’n ander een en druk my glas daarin. Hierna gooi ek ’n paar blokkies ys in die ysbreker en wanneer die ys gebreek is, meng ek dit met die tequila, Lime Juice en lemoenlikeur en gooi dit in my glas. Maklik. Ek proe. Dis lekker genoeg. Ek kan miskien nie kook nie, maar ek kan Margarita’s maak!
In my kamer skakel ek die bedlamp aan en sit my glas op die bedkassie voordat ek my hangkas oopmaak. Tussen die rye minimalistiese wit, room en swart werksklere glim my gypsyklere donker in die skaduwees. Ek druk die middernagblou fluweelrok eenkant toe en haal my pers-en-groen blommeromp van sy hanger af. Ek het die romp vyf jaar terug by ’n straatmark in Boedapest gekoop, naby die leë stuk grond waar ’n klomp gypsies ingetrek het, saans vure aangesteek en musiek gemaak het. Ek sou wat wou gee om genooi te word, maar hulle het nie sommer met ander mense gemeng nie. (Ziggy hou glad niks van gypsies nie; sy sê hulle pla mens erg wanneer hulle bedel. Sy is al deur twee gypsykinders beroof ook. Dit het my gelukkig nie oorgekom nie. Miskien het hulle aangevoel dat ek ’n kindred spirit is. Behalwe nou vir die steeldeel.)
Die romp is vrek mooi. Helderpers en donkergroen. Dis lank ook, dit hang amper op die vloer. Ek trek my langbroek uit en glip die romp aan. Ek hoef net een knoop van my bloesie los te maak, trek dit oor my kop, gooi dit op die bed en glip my bra af.
Ek gaal haal my iPod van sy staander af, druk die oorfone in en druk dit in my ore, vat ’n groot sluk Margarita en skakel die bedlamp af.
Taraf de Haidouks, die gypsies wie se musiek ek met groot moeite in Boedapest opgespoor het, begin speel; ’n dosyn musikante met viole, akkordeons en simbale. Ek begin my heupe swaai, my arms hang los langs my sye. Die viole en kitare speel vinniger en al vinniger en ek swaai wild deur my kamer. Soos ’n Twirling Dervish spin ek in die rondte; my romp lig tot bo my knieë.
Ek verbeel my ek is iewers op ’n dorpsplein in sê maar Spanje. Musikante speel tot laatnag en die mooiste meisies kom dans (ek ook, maar never mind). Net wanneer ek myself behoorlik dronk gedraai het en voel of ek gaan val, vat ’n paar hande my om die lyf vas. Ek swaai om. Dis Billy. Die dorpenaars begin juig, Billy het my van ’n besliste val gered. Ons begin tango en die dorpenaars klap stadig hande. Almal ken vir my en Billy; die skrywer en haar goeie vriend, die fotograaf, wat in die somer hier kom bly.
Ek gooi my arms in die lug en met ’n laaste draai plof ek op my bed neer. My hart klop wild, my asem jaag.
Sal dit nie lekker wees nie? Om heeldag te kan skryf en heelnag te kan dans. Om Billy daar te hê, dinge normaal soos altyd, asof Nieu-Bethesda nooit gebeur het nie.
Ek moet ophou droom, daar is werk om te doen. Ek haal die oorfone uit, sit die iPod op my bedkassie neer en skuif my selfoon oop. Ek stel die selfoonwekker vir vieruur; ek het waardevolle ure verloor met my en Ziggy se gekuiery vanmiddag. Ek sal môreoggend vroeg opstaan en dadelik begin werk. Dis nou tienuur, ses ure se slaap is meer as genoeg.