Читать книгу Sabina's - Nadia de Wet - Страница 4

1

Оглавление

Saterdagoggend. Lexi sit op Christine se stoep en speel met die duur kamera wat sy vir haarself as Kersgeskenk gekoop het: “Aan my, van my.” Die instel van die sluiterspoed en F-stop is ’n uitdaging. Dis al einde Februarie en sy het nog nie tyd gehad om die tamaai handleiding te lees wat saam met die kamera gekom het nie. Sy is te besig om haar tande in haar splinternuwe direkteurskap in te slaan en werk haar oorhoeks.

Sy klap haar tong en draai die knoppie agter op die kamera na die berg-ikoon. Dis die Photography for Dummies-knoppie vir mense wat nie self die F-stop en sluiterspoed kan instel nie.

Sy mik na die pragtige ou eikeboom op die sypaadjie oorkant Christine se huis. Die groen blare steek mooi af teen die helderblou lug. Die foto lyk nie te sleg op die kamera se skerm nie en sy is nogal gretig om dit op haar rekenaar af te laai.

Eers toe sy die kwê-roep hoor, sien sy die twee grysloeries bo in die boom sit. Sy mik na die een op linkerkant, sorg dat die fokus reg is en druk die knoppie op dieselfde oomblik wat die voël opvlieg. Ag nee, die beeld op die kamera se skerm wys dis uit fokus.

Lexi skakel haar kamera af, sit dit op die vloer langs haar neer en leun terug in haar stoel. Haar bene is direkteurwit en sy sit haar voete op die stoepmuurtjie om ’n bietjie son te kry. Christine het so pas agter haar op die stoep uitgekom. Sy het ’n lang romp met groot pers rose aan en het haar iPod in die hand.

Christine is Lexi se ma se oudste suster, een van die wilde Bredenkamps van Bredasdorp oor wie die dorp nog steeds praat. Sy was vir langer as drie dekades in die buiteland, eers getroud met ’n slim Skot (passievol oor Skotse legendes, die Rangers-sokkerspan en sy Christine), en toe met ’n donkerkop-Italianer (passievol oor Italiaanse opera, die AC Milan-sokkerspan en sy Christine).

Ná die Italianer se dood het Christine nog in Europa rondgetoer en haar toe verlede jaar, net voor Kersfees, hier op Simonsrivier in die Boland kom vestig. Haar kasarm van ’n ou huis is in die hoofstraat: Rivierstraat 34. Dis ’n dubbelverdieping met ’n tweeslaapkamerkothuis agter, ’n groot stoep voor en ’n klein wit muurtjie wat die huis van die straat skei.

Lexi is mal daaroor om hier te kuier. Sy het al meer as twintig nabyskote geneem van Christine se massas rooi en pienk impatiens wat teen die helderwit muur blom. Sy beskou nabyskote as haar forte.

“Alexandra, my kind,” sê Christine en gaan sit op die rusbank oorkant Lexi, “jy weet jy is van Bredenkamp-stoffasie gemaak.”

Lexi se Hugo-bloed van haar pa se kant is nog altyd deur Christine geïgnoreer – die Hugo’s is vir haar heeltemal te vervelig. Geen skandale, geen interessante karakters, volgens haar net ’n spul dominees en diakens.

Sy druk die iPod saam met die oorfone in haar romp se sak. Dan leun sy terug en vervolg: “Ons Bredenkamps het nog altyd ons eie koppe gevolg. En ons het nog altyd ’n goeie sesde sintuig gehad. As jou kop nou vir jou sê jy kan hierdie Kurt-vennoot van jou nie heeltemal vertrou nie, moet jy luister.”

Sy wuif met haar regterhand. “Hy klink vir my giftig,” sê sy en voeg met ’n slinkse glimlag by: “En ’n small man? Jy weet wat ek bedoel.”

Lexi knik haar kop en begin ’n sliert hare om haar vinger draai. Sy is gedaan gewroeg oor die dilemma waarin sy haar bevind. Kurt het Thinking Hat verlede Junie gestig, en Lexi en Daan Verwey het in Oktober as direkteure by hom aangesluit. Maar dis nou al Februarie en niks is nog op skrif nie – dit nadat sy en Daan ’n hoop geld vir aandele in Kurt se bankrekening gedeponeer het.

Lexi probeer die onderwerp verander; sy beduie na Christine se iPod. “Waarna het jy geluister?”

“ ’n Reisprogram. ’n Podcast met ’n daaglikse reisfees op. Gisteroggend s’n was oor Londen.” Sy strek haar hande melodramaties voor haar uit. “Stad van my drome. Ek kan nie wag om weer daar te kom nie.”

“Klink interessant. Waar kry jy die … e …?”

“Podcasts,” sê sy, want sy kan sien Lexi het nie ’n idee wat dit is nie. “Podcasts is radio-uitsendings wat elke Jan Rap en sy maat op die internet kan doen. Jy het net ’n bietjie sagteware nodig om jou eie radiostasie te begin. Dit wemel van crackpots met hul eie programme, maar hierdie is darem die BBC en dus bo verdenking.”

Lexi voel half simpel oor haar onkunde. Sy is tog immers in die rekenaarbedryf.

“Ek trek elke dag ’n nuwe podcast van die net af,” sê Christine.

Lexi hoor die tikkie trots in haar tante se stem. Christine was die hele familie altyd ver voor wat tegnologie en nuwe ontwikkelings betref. En nou, op sewentig, doen sy dit steeds.

“Maar jy moet my nie die onderwerp laat verander nie,” sê sy streng. “Ons praat oor jou toekoms.”

“Ek weet,” sug Lexi.

“En nie net jou toekoms nie. Ek is bekommerd oor jou. Kyk hoe lyk jy: die blinkbruin hare het plek gemaak vir dowwe vaal hare. Jy glimlag nie meer nie, jou oë sit te diep in hul kasse én jy’s te maer.“

Lexi hét ’n spieël en sy weet sy lyk soos ’n spook.

Christine haal haar bril af en sit dit op die tafel voor haar neer. “Ek is op pad na die Isle of Man, gaan ’n ou man daar geselskap hou. Klink my sy laaste dae het aangebreek, poor dear.”

Dís nuus vir Lexi. Sy is ook bly Christine het besluit om nie verder oor haar voorkoms te praat nie. “Moet jy hom gaan versorg?”

“Nee, daar is ’n verpleegster. Nagverpleegster ook. Ek moet hom net geselskap hou, bietjie voorlees, mymer oor die goeie ou dae, sulke goed.”

Sy huiwer ’n oomblik dramaties. “Ek sê dit met ’n doel vir jou, want ek het ’n briljante plan – vir jou én vir my.” Sy beduie opgewonde na die huis en erf om hulle. “Kyk die pragtige huis wat hier staan. Hoekom omskep ons dit nie in ’n gastehuis nie?”

“ ’n Gastehuis?” sê Lexi sonder oortuiging. Sy het gehoop op iets meer opwindend van Christine af. Sy wat Lexi is, is nie genoeg van ’n tuisteskepper om ’n gastehuis aan die gang te hou nie.

“Ja! Hier is net een op die dorp – Die Ateljee, soos jy weet. Ek praat tans met die spulletjie op die dorpsraad. Ons kan die sonering van hierdie plek vinnig verander as dit moet. Ek is lankal lus vir so iets.”

Christine bly stil en kyk straat toe. Lexi volg haar blik.

“Hierdie plek is ideaal,” praat Christine verder, maar sy bly straat toe kyk. “En ek het jou daarvoor nodig. Ek beplan om nog baie te travel voordat ek my kop neerlê, maar ek sal hier inval wanneer jy my nodig het. Ek belowe.”

Sy leun oor na die tafel om haar bril raak te vat en sit dit op.

Op die oorkantste sypaadjie kom ’n man aangestap. Dis nie sy blonde krulhare of sy songebruinde arms wat skerp teen sy wit T-hemp afsteek wat Lexi laat staar nie. Dis sy gemaklike langbeenstap en die jeans wat net reg pas. Hy stap soos iemand wat heeltemal seker is van homself. Nie arrogant nie, net gemaklik in sy eie vel.

“Wie’s dit?” vra Lexi sonder om haar blik van hom af te haal.

“Mmm …” Christine sit regop en skuif haar bril reg. “Dit lyk soos een van Die Ateljee se ouens. Ek het hom al hier sien verbyry. Nogal indrukwekkend.”

Die vreemdeling is nou reg oorkant Christine se huis. Sy knik in sy rigting en sê onderlangs vir Lexi: “Mooi bos hare, nè? Ek is nou seker dit was hy wat ek laat gistermiddag by die rivier sien loop het.”

Lexi sê niks, hou net haar oog op die blondekop.

“Ek wed jou hy’s ’n kunstenaar, ’n digter dalk,” raai Christine. “Definitief nie ’n bleek bankier of siellose jappie nie. Jy kan dit sommer op ’n myl sien.”

Lexi wil lag, want Christine lei darem vreeslik baie uit die man se voorkoms af. “Môresê!” roep haar tante skielik en die man kyk na hulle, waai en steek die straat oor.

Lexi skuif haar sonbril van haar kop na haar oë, haal haar voete van die stoepmuurtjie af en sit ’n bietjie meer regop.

“Môre,” groet hy. Sy stem klink hees, ’n bietjie broos.

“Kuier jy hier?” vra Christine en staan op.

“Nee, ek is hier bo by Die Ateljee. Pragtige dorp waarin ons woon,” sê hy en kyk na Lexi se kant toe. Hy glimlag en ’n kepie vorm langs sy mond. Al is sy stem broos, is daar tog ’n beduidenis van iets sterker ook, besluit sy.

“A ja a,” sê Christine. “Mooi plek en gawe mense. Wil jy nie inkom vir ’n koppie tee nie?”

“Wens ek kon, maar ek moet ongelukkig twaalfuur by Die Ateljee wees.” Hy glimlag weer sy kuiltjie-glimlag. “Hopelik ’n volgende keer?”

“Wat van ’n vinnige wyntjie?” vra Lexi en druk haar hare agter haar ore in. Sy wil hom graag hier hou, besef sy. Sy is nie gewoonlik so voor op die wa nie.

“Dit klink goed, maar dit sal ook moet wag vir ’n volgende keer. Brenda gaan vies wees as ek laat is.”

Met ’n kopknik vir Christine en ’n klein-seuntjie-glimlag in Lexi se rigting draai hy om en stap weg. Lexi kyk hom agterna. Hy het smallerige heupe en lyk waarskynlik soos die Dawidbeeld wanneer hy sonder sy jeans is.

“Vanmôre se podcast het oor Donegal gehandel,” onderbreek Christine haar gedagtes.

“Ierland?”

Christine knik. “Ek glo nie ek het jou dit ooit gesê nie, maar ek het ’n kort affair met ’n Ier van daardie geweste gehad, voordat ek met Franco getroud is.” Sy leun met haar kop teen die bank en maak haar oë toe. “Hy kon tog so mooi dig. En dan lees hy die goed vir my voor,” mymer sy.

Lexi kyk terug na die man met die lyf wat nou amper by Die Ateljee is, strek dan haar nek na regs sodat sy nog vir oulaas na sy stappie kan kyk.

“En hy het net so goed in sy Aran-trui en jeans gelyk,” sê Christine.

Skuldig kyk Lexi vinnig na haar, maar Christine het haar reeds uitgevang; haar oë is oop en blink van plesier.

Sy staan op. “Ek kry vir ons iets om te drink,” sê sy en stap die huis binne met klingelende silwerarmbande en swaaiende romp. Dan draai sy om en kom loer by die deur uit. “Ek dink ek moet maar bly en matchmaker speel, so in die trant van Jane Austen.”

“Los maar die matchmaking vir storieboeke,” sê Lexi.

“Bangbroek!” lag Christine net en verdwyn in die huis.

Sy kom terug met ’n skinkbord met twee glase wyn. “Boeing is lankal oor,” sê sy en gee vir Lexi ’n glas aan. “ ’n Mens hoef in elk geval nie te wag om ’n lekker chardonnay te drink nie. Uys Krige het mos hoeka gesê wyn maak die lewe draaglik.”

Lexi teug aan die yskoue wyn en sit dit in die skadu van haar stoel neer om koel te bly. “Vertel my nog van die Ier,” sê sy en strek haar bene weer op die stoepmuurtjie uit.

“Later. Sê my nou eers: hoe voel jy oor ’n gastehuis, Alexandra?”

Sabina's

Подняться наверх