Читать книгу Sabina's - Nadia de Wet - Страница 8

5

Оглавление

Toe Lexi Vrydagaand net na sewe by Die Ateljee instap, sien sy Pierrie dadelik raak. Hy wuif en kom na haar aangestap.

“Haai,” sê hy en gee haar ’n drukkie. “Kom ek wys jou waar ons gaan sit.”

Hy neem haar na ’n klein tafel heel agter in die vertrek.

“Ek is nou hier, dan kan ons ontspan,” sê hy en vat Lexi se jas by haar. “Ek help net gou vir Brenda inskep.”

Sy kyk om haar rond. ’n Vuur brand in die kaggel. Die plek is volgepak en elke keer as ’n kelner die swaaideur tussen die kombuis en woonvertrek oopmaak, waai die heerlike geur van skaapvleis saam.

Ná omtrent vyftien minute kom sit Pierrie by haar.

“Hoeveel mense dink jy is hier?” vra Lexi.

“Ons kan sestig mense seat, twee-en-sewentig met die ekstra stoele. Maar Brenda druk gewoonlik op die laaste nippertjie nóg mense in. Swerwer is baie gewild.”

“Hulle kan nie vreeslik geld maak as hier net tagtig mense is nie.”

“Dit betaal darem die petrol en kos vir ’n week,” sê Pierrie en maak die wynlys oop wat die kelner so pas voor hulle neergesit het. “Rooi of wit?”

“Enige shiraz as julle het, dankie.”

Hy wink ’n kelner nader en terwyl hy die bestelling plaas, kyk Lexi na die mense om hulle. Sy ken natuurlik niemand nie. “Is dit mense van Kaapstad af of dorpenaars wat hierheen kom?”

“Maar meesal mense van die dorp. Mind you, daar is heelwat jappies van die Kaap wat huise op die dorp besit en kom uitspan vir die naweek. Baie huise staan gedurende die week leeg.”

Dan sien sy vir Liam raak. Hy sit voor, naby die verhogie, met Brenda langs hom. Dié het ’n dieppers bloes en donkergroen fluweelromp aan. In haar reguit blonde hare pryk ’n diepgroen band met ’n groot rooi fluweelroos op. As sy nie so mooi was nie, sou sy soos ’n Kersboom gelyk het, dink Lexi. Nou lyk sy soos ’n gekoesterde eksotiese voëltjie, een wat bedags vry in die woud rondvlieg, maar saans na die goue koutjie terugkeer.

Pierrie volg haar blik. “Al dra ’n aap ’n goue ring …” sê hy en rol sy oë.

Hy leun effens vooroor, sodat Lexi nie meer vir Brenda kan sien nie. “Ek het jou mos gesê Liam skryf vir Swerwer ook songs, nè? Nice goed. Ek dink hy moet self sing, hy het ’n wonderlike stem.”

Lexi hoor Liam se diep, rokerige stem in haar kop en knik instemmend.

“Kan jy jou voorstel watse hit hy sal wees met daai stem en daai looks?” sê Pierrie. “Maar hy weier om voor enigeen te sing, selfs nie voor –”

Voordat hy sy sin kan voltooi, gaan Brenda op die verhoog staan en tik teen die mikrofoon. Sy wag vir ’n oomblik dat almal stilbly en begin dan met die verwelkoming. Die ligte verdoof geleidelik en die kelners loop nog ’n laaste vinnige draai deur die vertrek en maak seker dat al die kerse aangesteek is en die glase vol is.

“Soos altyd is dit heerlik om Jacques en Francois, oftewel Swerwer, weer hier te hê, al die pad van die Karoo af,” sê Brenda. “Ons is geëerd dat julle so gereeld so ver hierheen ry. En te oordeel na die tempo waarteen die kaartjies vir die vertoning gevlieg het, is dit duidelik dat julle nóg meer gereeld hierheen kan kom!”

Sy glimlag in die rigting van ’n tafel skuins voor die verhoog en gaan sit dan langs Liam. Sy loer vinnig onderlangs na hom en gee ’n klein, byna onopsigtelike glimlaggie.

Die gaste begin hande klap en hier en daar fluit iemand geesdriftig terwyl die twee musikante hul plekke op die verhogie inneem. Jacques, die hoofsanger, is ’n maer jong man met ’n swart langmou T-hemp aan en ’n breërandhoed op. Hy tel sy kitaar op wat langs ’n stoel staan en glimlag skamerig vir die gehoor.

Dan kyk hy na Francois, wat besig is om sy baskitaar in te stel, sy kop skeef gedraai soos hy luister na die klanke. Jacques tel sag af, en hulle begin gelyktydig speel. Toe hy die eerste reëls sing, daal ’n stilte oor die vertrek neer. Die atmosfeer is gelaai; dit voel asof almal hul asem ophou.

Jacques se hoed gooi skaduwees oor sy gesig. Die woorde word so weemoedig gesing dat dit voel asof die winterwind ongemerk onder die voordeur ingewaai het en die vertrek skielik yskoud gemaak het:

Sy lyk soos ’n prentjie in haar BMW

Maar sy ry en gaan sit alleen langs die see

Sy staar na die skepe wat wegraak uit die baai

Net nog ’n vrou wat wag

vir die winterwind om op te hou waai …

Lexi neem ’n groot sluk wyn en wonder oor die vrou in die liedjie. Sy wens Jacques wil sê wie die liedjie geskryf het, maar dis duidelik dat hy nie gaan praat nie, hy gaan net sing.

Ná die eerste liedjie val hulle dadelik weg met die volgende een:

Ek en jy was al oral rond

En ons weet

Ware liefde is ’n mite …

Wie is só sinies? dink Lexi. Ná Eric voel sy ook nie meer heeltemal entoesiasties oor die liefde nie, maar sy beskou dit darem nog nie as ’n mite nie. Dís dalk haar probleem: sy het te veel hoop oor.

Skielik is dit vir haar baie belangrik om te weet of Liam hierdie twee liedjies geskryf het. Sy kan nie vir Pierrie vra nie, netnou raak hy nuuskierig. Sy sal ná die vertoning ’n CD koop en kyk wie die lirieke geskryf het, besluit sy.

Die pouse breek aan en daar heers ’n stilte voordat die gaste begin praat. Swerwer het almal, Lexi ingesluit, betower met hul musiek.

“Ek het jou mos gesê hulle is nice,” sê Pierrie en skink vir hulle elkeen nog wyn. “Nog ’n bottel?”

“Ja, wat,” sê Lexi. Dis darem stapafstand huis toe, sy hoef nie te bestuur nie.

Die kelners dra borde stomende skaapvleisbredie en pampoenkoekies uit. Lexi dink sy gaan haar bord kos in drie happe opeet – die skaapvleis is murgsag en die pampoenkoekies is presies soos sy daarvan hou, nie te loperig nie en ook nie te soet nie.

“Hallo, Lexi.”

Dis Liam se donker stem. Sy sluk die hap pampoenkoekie wat sy pas geneem het heel in. Dis so warm dat haar oë traan.

“Haai,” sê sy eindelik, tel haar glas op en neem ’n groot sluk wyn.

“Hou jy van die musiek?”

Hy trek sy regterhand vinnig deur sy lang krulkuif, ’n oorrompelende, sexy gebaar. Lexi kyk vir ’n sekonde te lank na sy hare voordat sy terugkyk na hom.

“Ja, regtig baie. Is daar CD’s te koop? Ek wil graag weer daarna luister.” Haar stem klink vir haar vreemd.

“Ek weet nie of hulle saamgebring het nie. Ek het niks gesien nie.”

Hy voel in sy baadjiesak en bring ’n kitaartjie uit draad gevou te voorskyn. Hy hou dit na Lexi uit. “Jy kan hierdie solank as ’n troosprys kry,” sê hy en glimlag.

Sy vat die kitaartjie by hom en kyk verwonderd daarna voordat sy ’n heserige “dankie” uitkry. ’n Mens sou sweer die man het so pas ’n diamantring in haar hand gedruk!

Pierrie verlig die spanning. “Ai, maar dis te cute!” sê hy. “Waar kry jy dit? Self gemaak?”

Liam bly glimlag en bly vir Lexi kyk. “Ja.”

Dan verdwyn sy glimlag en sy sien ’n vlietende uitdrukking in sy oë wat haar hart ’n slag laat oorslaan. Dis ’n herkenning van iets wat gedeel word, iets net tussen hulle twee. Sy bly stil, en vir ’n wonder sê Pierrie oorkant haar ook niks.

“Die show gaan weer begin,” sê Liam. “Geniet dit. Dis lekker om jou hier te hê, Lexi.”

Hy knik sy kop vir haar, glimlag vir Pierrie en stap terug na die tafel waar Brenda reeds wag.

“Well, slap me silly and call me Susan!” sê Pierrie met groot oë. “Wat was dít? Al daai sparks!” Hy glimlag sy duiwelglimlaggie wat sy oë laat toetrek en versit op sy stoel van lekkerkry.

“Jy verbeel jou.”

Lexi vat vervaard ’n sluk wyn en draai haar stoel om Swerwer beter te kan sien, maar sy loer eers vinnig na Liam se kant toe. Hy sit met sy rug half na haar gekeer, sy blik stip op die verhoog.

Sabina's

Подняться наверх