Читать книгу Sabina's - Nadia de Wet - Страница 9

6

Оглавление

Die teetuin in Rivonia, met hoë jakarandas en eikebome, is ’n oase in die bedrywige Johannesburg. Voëls kwetter in die takke en ’n entjie weg loop ’n hadida met blouswart vere wat skitter in die sonlig op die grasperk rond en pik met sy lang snawel na goggas. Die jakarandaboom se takke steek helder teen die skerp blou lug af. Op hierdie Hoëveldse winteroggend is daar nie veel besoedeling nie, die lug voel vars en skoon.

“Lexi, Lexi,” sê Kurt Morar en neem ’n slukkie koffie. Dis nege-uur op ’n weeksoggend en sy en Kurt is die enigste kliënte.

Sy selfoon lui en met ’n halwe knikkie as verskoning na haar kant toe, blaf hy: “Morar!” Hy kyk in die lug in, soos een wat nou diep gaan dink en nie gesteur wil word nie.

Lexi hou hom van agter haar sonbril dop terwyl hy praat. “Ja-nee, definitief,” sê hy terwyl hy sy kop knik. “O, vir seker, vir seker,” paai hy en kyk dan vir Lexi. Hy rol sy oë, slaan sy Robert Cavalli-sonbril van sy kaalgeskeerde kop af tot oor sy oë en kyk weer hemelwaarts.

Lexi voel hoe haar mond op ’n geïrriteerde plooi saamtrek. Sy ruik Kurt se naskeermiddel tot waar sy sit. Vanoggend het hy ’n swart pak klere en ’n pienk das aan. Sy kan nie sy arms sien nie, maar sy weet hulle is fris, want hy gim elke dag twee keer, über-jappie wat hy is.

Lexi weet dit alles, want sy het laas jaar vir ’n volle maand saans saam met hom gegim. Hy het gereken sy moet ’n bietjie definisie kry; haar maer lyf was seker vir hom te oninteressant. Toe moes sy al geweet het dat lywe ’n belangrike deel van die Thinking Hat-styl gaan wees, verstand is nie genoeg nie. Dit was tydens so ’n gimsessie dat sy Kurt se Sanskrit-tatoeëermerk gesien het. Toe was sy nog semi-beïndruk; vandag weet sy hy het dit laat doen sodat mense moet dink hy het ’n spirituele kant.

Lexi hou nie van jappies nie. Sy dink hulle is almal etiketbehepte, oppervlakkige hedoniste – soos Kurt wat net Calvin Klein-onderklere dra, teen tweehonderd rand stuk (sy weet, want sy moes laas jaar vir hom ’n klomp by die Doebai-lughawe se Duty Free koop).

Sy kan nie onthou dat Kurt altyd so was nie. Hulle ken mekaar al vyf jaar, vier daarvan het hulle saam by die bank gewerk. In daardie dae het hy ’n gewone kar gery en het hy nog nie sy kop geskeer nie. Nou ry hy ’n swart Audi TT met ’n nommerplaat wat Kurt GP sê. Sedert hy as ’n onafhanklike besigheidsanalis werk, doen hy baie goed, maar kyk wat het al daardie geld met hom gemaak, dink sy suur.

Haar selfoon piep op die tafel voor haar – dis ’n SMS van ’n eiendomsagentskap wat haar inlig van ’n wonderlike winskopie iewers aan die Wes-Rand. Sy vee die boodskap uit sonder om verder te lees. Waar kry dié mense my nommer? wonder sy vererg.

Uiteindelik beëindig Kurt die oproep en tik iets op sy selfoon in.

“So ja, nou kan ons gesels,” sê hy, klap die foon toe en skuif sy sonbril op. “Wat is dit wat jou pla?”

“Kurt, ek stem glad nie met klousule 12 saam nie. Jy het die geld om my en Daan uit te werk en daardie klousule gaan jou al die mag gee wat jy wil hê.”

Kurt glimlag en kyk in die verte in. Toe kyk hy terug na haar. “Lexi, Lexi, jy moet verstaan dat dit goeie besigheidsin –”

“En ek is nie daarvoor te vinde nie. Ek gaan nie sit en toekyk hoe jy al die mag vir jouself vat nie,” val sy hom in die rede. Wat haar aanbetref, is die onderhandeling verby.

Hy hou sy hand op. “Ek het dit voorheen vir jou gesê en ek sê dit weer: Sê nou maar daar kom ’n geleentheid om die besigheid uit te brei, moet ek dan nee dankie sê omdat my twee vennote nie die geld bymekaar kan kry nie?” Hy skud sy kop en glimlag weer. “Ek meen … come on, jy kan dit mos nie van my verwag nie,” sê hy asof hy met ’n stadige kind praat.

Sy wens Daan was dapper genoeg om saam met haar vir Kurt aan te vat. Daan se verskoning is dat Kurt nie mag weet hulle probeer ’n alliansie teen hom vorm nie, maar sy dink die ware rede is dat Daan te bang is om enigiets te doen. Dis sý wat heeltyd teen Kurt moet opstaan.

Waarheen het die Kurt verdwyn wat sy geken het? Hoeveel nagte het sy en hy nie saam by die bank sit en toets aan die internetbankdiens-webwerf nie? Drie-uur op ’n Sondagoggend, wanneer die bank se kliënte warm en knus in hul beddens geslaap het, het hulle op die sypaadjie voor die bank se hoofkantoor in die middestad gaan rook en land en sand gesels. Hulle het planne gemaak om saam oorsee te gaan, hulle het oor Eric gesels en oor watter blonde meisie Kurt ook al op daardie stadium op tou gehad het, hulle het grappies gemaak en so baie en so hard gelag dat dit deur die stil stad weergalm het. Hulle was beste vriende. En nou? Nou is haar vriend weg en voor haar sit ’n vreemdeling.

Kurt klap sy sonbril met een beweging af tot oor sy oë en begin sy notaboek en selfoon in sy leersakkie pak. “In elk geval, sê net as jy nie meer belangstel nie. Ek gaan jou nie probeer ompraat nie. Die klousule bly in. Take it or leave it.”

“Kurt, jy weet ek en Daan het nie genoeg geld om die mag in balans te hou nie. Hoekom wil jy nou alles op die spel plaas?” vra sy en maak seker dat dit nie klink of sy hom smeek nie, dat sy net ’n feit stel.

Sy mondhoeke trek effens af. “Praat jy nou namens Daan ook?”

Lexi skrik; sy moet Daan hieruit hou. “Nee,” sê sy en sit regop.

Hy gee ’n klein glimlag. “Ek herhaal: die klousule bly in.”

Sy sit haar selfoon in haar handsak en tel haar motorsleutels van die tafel op. “Goed,” sê sy en staan op. “Ek’s uit.”

“Fine with me.” En terwyl hy ook opstaan: “Terloops, ek het nie aan jou geld gevat nie; ek het my eie geld gebruik om die besigheid die laaste paar maande te bedryf. Jy kry dus net terug wat jy ingesit het. Nie ’n sent meer nie.”

Lexi kyk weg oor die tuin totdat sy haarself kan vertrou om te praat. “Ek kan nie help om te wonder hoe die hof sal voel oor so ’n rentevrye lening nie.”

Sy swaai om en begin aanstap na haar motor. Na ’n paar treë gaan staan sy en draai om. “Die geld wat ek na die leningsrekening oorgeplaas het, asook die geld wat ek vir aandele oorgeplaas het, moet voor Vrydag in my persoonlike rekening terug wees. Jy het my bankbesonderhede.”

Toe stap sy so vinnig as wat haar lam knieë haar toelaat na die parkeerterrein toe.

Op pad huis toe ry sy by haar alma mater, die Universiteit van Johannesburg, verby. Sy was hier in die tyd toe dit nog RAU was, toe haar grootste probleem was of sy ’n afspraak op ’n Vrydagaand gehad het.

Dis hier waar sy haar eerste ernstige kêrel gehad het. Sy naam was Wouter en hulle het in hul tweede jaar begin uitgaan. Sy het Rekenaarwetenskap geswot, hy B.Mus. Hy het viool gespeel en musiek gekomponeer, hy was talentvol en uiters aantreklik. Hulle het hul tweede jaar in Melville omgekuier, maar nogtans goed gedoen in hul eindeksamens.

Hulle het graag na jazz en klassieke musiek gaan luister, baie gefliek en gereeld na amateurteaterproduksies gaan kyk. Sommige naweke het hulle in sy broer se woonstel in Northcliff gaan bly. Hulle het baie oor trou gepraat. Trou en twee kinders, ’n hond en ’n huis iewers in die voorstede.

Voor die einde van hul derde jaar het Wouter op haar kamermaat, Sandra du Toit, verlief geraak. Lexi het na ’n ander kamer getrek, haarself in die leë kamer toegemaak, Leonard Cohen in die CD-speler gesit en vir weke aaneen gehuil. Die eindeksamen was ’n fiasko en sy moes haar derde jaar herhaal.

Maar soos al wat ’n spirituele ghoeroe is, sê: Alles gebeur met ’n doel. Die wonderlike Wouter, begaafde violis en komponis, het so ’n paar jaar gelede ontdek hy is gay. Hy het sy vrou – wat nie Sandra was nie – en twee dogters verlaat en by ’n dirigent ingetrek. Dit was agterbladnuus in al wat ’n koerant is. Gelukkig is daardie hartseer Lexi gespaar.

Sy draai by die motorhawe naaste aan haar huis in. In die winkel voel sy soos ’n reuse mislukking toe sy vir die vrou agter die toonbank sê: “Twenty Vogue, please.”

Laatmiddag gaan sit Lexi met ’n glas rooiwyn op haar patio na die laaste stukkies sonlig en kyk. Sy besluit om Michelle te bel om haar te vertel hoe die ontmoeting met Kurt afgeloop het. Sy gaan grawe in haar handsak op soek na haar foon en vat die onoopgemaakte pakkie sigarette raak. Sy skuif dit eenkant toe, kry haar selfoon raak gevat en haal dit uit.

Michelle se foon gaan dadelik oor na stempos. Lexi laat nie ’n boodskap nie. Sy drink haar glas leeg en stap kombuis toe om dit weer vol te maak.

Ná die tweede glas wyn gaan sit sy voor haar rekenaar. Sy begin ’n e-pos aan Kurt skryf:

Soos ek dit vandag aan jou gestel het, is ek nie bereid om die aandele-ooreenkoms met klousule 12 soos dit nou staan te teken nie. Dit is vir my duidelik dat ons nie ooreenstemming hieroor gaan bereik nie. Aanvaar dus my bedanking met ingang van 1 Junie 2008.

Geliewe ook die kapitaalbelegging soos deur my gemaak op 5 Desember 2007 voor of op 24 Mei 2008 aan my terug te betaal.

Sy stuur die e-pos en daarna bel sy vir Daan, maar sy foon is af. Hy het haar nog nie gebel om te hoor hoe vanoggend afgeloop het nie en dit maak haar kriewelrig.

Sy besluit om vir Daan ook ’n e-pos te tik:

Ek het vandag uitgeklim. Ek het ook my kapitaalbelegging teruggeëis. Kan ons ontmoet?

Lexi

Daan se antwoord kom binne ’n uur:

Ek het met Alet gesels en ons het besluit dat ek by Kurt moet bly.

Ek is amper vyftig, ek kan nie bekostig om uit te klim nie. Hierdie is, soos dit vir my voel, my laaste kans.

Jammer, girl. Regtig.

I wish you well.

Daan

Direk daarna kom nog ’n e-pos deur. Dis van Kurt:

Sodra jy die aangehegte dokument teken, sal ek die betaling maak.

Kurt Morar

Lexi maak die aangehegte dokument oop. Dis ’n kombinasie van ’n Ooreenkoms van Geen Openbaring én ’n Handelsbeperking. Sy lees vinnig daardeur.

Die eerste klomp paragrawe lyk vir haar billik; Kurt is blykbaar bang dat sy enige maatskappygeheime sal uitlap. Nie dat hy enige geheime of strategieë met haar gedeel nie. Dit was maar een van die talle probleme by Thinking Hat: hy het haar en Daan soos werknemers pleks van vennote behandel.

Die laaste twee paragrawe slaan haar wind uit. Daarvolgens mag sy vir geeneen van Thinking Hat se kliënte werk nie. Daar is geen aanduiding of dit huidige of toekomstige kliënte is nie, ook nie of daar ’n einddatum aan die beperking is nie.

Soos dit daar staan, sal sy nie eens koeksisters by Telkom kan gaan verkoop nie. Of by enige van die selfoonmaatskappye nie, want hulle is almal kliënte van Thinking Hat.

Daar is geen manier wat ek hierdie mal dokument van Kurt gaan teken nie, dít staan vas, besluit Lexi en staan op om vir haar nog ’n glas wyn te gaan ingooi.

Sabina's

Подняться наверх