Читать книгу Sabina's - Nadia de Wet - Страница 6
3
ОглавлениеLexi trek Christine se voordeur agter haar toe en stap na die kraan om die tuinslang te koppel. Sy het gisteraand laat op Simonsrivier aangekom en toe sy vanoggend by die slaapkamervenster uitkyk, het dit gelyk of die impatiens teen die muur met ’n bietjie water kan doen.
Sy trek die tuinslang nader en begin om die blomme nat te spuit. Daar is onkruid ook, sy sal later vanmiddag die beddings skoonmaak.
“Môre.”
Sy wip vir die diep stem so naby haar – ’n Johannesburgse reaksie hier op die stil Simonsrivier. Die mooi vreemdeling met die blonde krulle staan aan die ander kant van die muurtjie. Lexi kan sy naam nie onthou nie.
Hy kyk haar met ’n skewe glimlag aan. Hy het ’n bruin kabeltrui aan wat los oor sy jeans hang.
“O … hallo.” Sy vee haar regterhand aan haar sweetpakbroek af en hou dit na hom uit.
Hy neem haar hand in syne. “Liam Steenkamp. Ons het ’n paar maande gelede hier ontmoet, maar nie formeel nie.”
Sy stem is werklik spesiaal – dit het haar die vorige keer al getref. Heserig maar sterk.
“Lexi Hugo, hallo.”
Van naby kan sy sien dat sy hare nie so blond is nie. Dit lyk eerder soos ’n Top Deck – lig bo en donkerder na onder.
Hy kyk vir ’n oomblik af na die stringetjie houtkrale om Lexi se pols. “Ek het gisteraand gesien hier is iemand; Christine het gevra ek moet ’n ogie hou. Welkom op Simonsrivier.” Sy stem klink soos ’n liefkosing.
“Dankie.”
Hy lig haar pols op. “Is jy ’n Boeddhis?”
“Nee, dis borry weeds … e … worry beads, dis maar al.” Sy is verleë; sy wonder of hy die hoendervelknoppies op haar voorarm raaksien.
Sy haal diep asem en trek haar hand terug. “Ek speel daarmee omdat ek nie wil rook nie.” Mooi! ’n Foutlose volsin.
“Baie beter as rook. Christine het gesê jy gaan vir ’n rukkie hier kom bly.”
“Ja, so ’n paar weke.”
“Sy’t gesê jy gaan bietjie kom rus. Jou kop skoonmaak.”
’n Warm gloed kruip teen Lexi se nek op. Wat het Christine nog vir hom gesê?
“Sy het gesê dat jy probleme het met eks-vennote van jou.”
“Sy het baie gepraat, nè?” Haar stem klink killer as wat sy bedoel het.
Die kuiltjie duik in Liam se wang toe hy glimlag, maar sy voel steeds ietwat vererg. Hoekom voel dit vir haar of hy ’n bietjie met haar spot?
“Nee wat, nie te veel nie,” sê hy. “Net oor die besigheid en die moontlikheid van ’n gastehuis.”
Die stilte wat tussen hulle kom lê, is nie gemaklik nie. Lexi kyk af na sy handgebreide trui. Vir ’n mal oomblik voel dit asof sy haar vinger oor die dik kabel kan trek. Dan wonder sy skielik wie so lief vir hom is dat sy vir hom ’n trui gebrei het. Die gedagte vang haar onkant en sy dwing haar blik terug na sy gesig, na die fluweelbruin oë en die mooi wangbene.
“Jy moenie dat dit jou onderkry nie,” verbreek hy die stilte. “Saketransaksies wat skeefloop, kan ’n mens se hele lewe versuur as jy nie oppas nie.”
“Nee wat … ek bedoel, ja, ek sal sorg dat dit my nie onderkry nie.” Sy maak haar rug ’n bietjie stywer. “Ek kan enigiets wat in my rigting kom, hanteer.”
Liam glimlag weer. “Jy lyk nie vir my na ’n hardvogtige sakevrou nie.”
“Nee, ek is nie hardvogtig nie. Maar ek is ook nie ’n deurmatjie nie.”
Sy wonder hoe Kurt oor dié stelling sou voel. Hy sou seker “Lexi, Lexi,” sê, sy kop skud en haar verder vertrap.
Liam kyk by haar verby na die berg agter die dorp. Toe hy terugkyk, is sy oë ernstig. “Ek is seker jy kan jou man staan. Al wat ek sê, is dat jy moet oppas. Jy wil nie bitter raak nie, en hierdie tipe ding het ’n manier om die joy uit die lewe te haal.”
Dit klink asof hy weet waarvan hy praat, dink sy. Miskien is hy ’n prokureur. Maar sy beeld is beslis nie dié van ’n pakdraende professionele man nie.
“Ek moet gaan. Ek moet nege-uur by Die Ateljee wees.” Hy bly staan.
Die Ateljee het nou ook ’n musiekplek, het Christine laas vertel.
“Wanneer gebeur daar weer iets interessants?” vra sy.
“Vanaand,” sê hy. “Valiant Swart speel vanaand. Ons is vol bespreek, maar as jy wil kom luister, sal ek vir jou ’n plekkie maak.”
Lexi druk haar hare agter haar ore in. “Ek kan nie, dankie. Ek het goed om te doen.”
Dis nie die waarheid nie en sy vermoed dat hy dit weet, maar sy is nie lus om op haar eie daar te gaan sit nie. Toe sy twee jaar gelede in Ierland was, het sy nie gehuiwer om vrou-alleen by die pubs in te gaan nie, maar daar is dit anders. Mans oorval jou nie voortdurend nie, die mense is vriendelik en dis dit. Sy en Michelle het agterna bespiegel oor wat die ergste is: mans wat jou in ’n pub oorval, of mans wat jou in ’n pub ignoreer.
“Kom maak een of ander tyd ’n draai, jy sal daarvan hou.” Hy gee ’n laaste glimlag. “Sien jou.”
Lexi kyk hom soos die vorige keer agterna. Sy hare blink in die son. Dan druk sy haar regterhand oor die tuinslang se kop om die waterstraal fyner te laat sproei en kyk af na die blombedding. Maar die mooi wegstap in die Levi-jeans bly in haar kop.
Na ’n middagete van brosbeskuitjies en kaas besluit Lexi om deur die dorp te gaan stap. Sy gaan nie na die rivier se kant toe nie, maar swaai regs toe sy by die hekkie uitgaan en stap oor Vierde Straat, kerk se kant toe. Anderkant die kerk draai sy links en stap ’n blok verder.
In dié kort tydjie het sy al vier van Jeanne Melck Eiendomme se groen Te koop-borde gesien. Dis ’n definitiewe teken dat die dorp ’n herlewing beleef of dit binnekort gaan beleef. Een van die dae is die eiendomspryse so hoog dat gewone mense dit nie meer kan bekostig nie.
Twee blokke verder draai sy regs en kom terug na Rivierstraat. Omtrent vyf huise van Christine se huis af sien sy ’n groot wit nota teen die venster van ’n huisie opgeplak: This house is not for sale. Never! Die handskrif is onreëlmatig en lyk soos ’n ou mens s’n.
Lexi glimlag. Jeanne Melck se agente het die eienaar seker mal gemaak. Sy kyk weer na die huisie en kan amper nie glo dat dit gesog kon wees nie. Dis een van daardie plekke wat geadverteer word as Het ’n bietjie liefdevolle aandag nodig. As jy ’n slim leser is, weet jy die plek sal omtrent afgebreek en oorgebou moet word voordat dit leefbaar is. Die huisie voor haar lyk soos ’n heks uit ’n sprokie se blyplek: klein en donker, dakteëls wat loshang, rankplante wat alles toegroei, ’n vervalle tuin en ’n draadheining wat skeef hang.
Toe Lexi die gordyn van die voorste venster sien beweeg, wil sy vinnig aanstap, maar die voordeur vlieg oop en twee eendjies kom uitgewaggel, gevolg deur ’n reusagtige tante, ook waggelend. Sy het styfgekrulde grys hare en dra iets wat soos ’n enorme eenstuk-babapakkie lyk. Dis bruin en het haasgesiggies op die sakke, en aan haar voete pryk skaapvelpantoffels.
“Middag,” groet sy toe sy Lexi sien staar. “Sjoe, sjoe,” sê sy vir die eende, wat waggelend om die hoek van die huis verdwyn. “Dis Hansie en Grietjie.”
Hoe gepas, dink Lexi geamuseerd en groet: “Ek is Lexi Hugo.”
Die vrou kom nader en steek ’n pofferige hand uit. “Tannie Schaap.”
“Hallo, mevrou,” antwoord Lexi en skud haar hand. Dis groot en grof.
“Dis ‘juffrou’,” sê sy sonder emosie. “Maar almal sê sommer tannie Schaap.”
“Hallo, tannie,” sê Lexi. Die woord lê vreemd op haar tong, sy kan nie onthou wanneer laas sy iemand tannie genoem het nie.
“Waar bly jy?” vra tannie Schaap kortaf. Dit lyk asof sy nie haar onderste stel tande in het nie en haar ken krul boontoe wanneer sy praat.
“Net hier bo, in die volgende blok. By Christine Giannini.”
Sy gluur Lexi aan. “Ek hoop nie julle hou katte aan nie.”
“Nee, nog nie. Miskien –”
“Ek háát katte,” val sy Lexi in die rede. “Die spul hier oorkant het drie van die gediertes en hulle los vir Hansie en Grietjie net nie uit nie. Ek moet hulle heeltyd jaag. Ek kan nie vir Hansie en Grietjie in die huis los nie, hulle mis oral en ek kan nie aldag agter hulle skoonmaak nie.”
Lexi ril by die gedagte aan die binnekant van die donker huisie voor haar. Sy weet regtig nie wat om te sê nie. Miskien moet sy liewer verkas.
“Verskoon my, tannie, ek moet aanstaltes maak.”
“Is jy dan haastig? Nie lus vir ’n bietjie tee nie?”
“O nee, dankie, ek kan nie. Ek verwag mense om …” sy loer na haar horlosie, “om twee-uur. Dit was gaaf om u te ontmoet.”
“Ja? En wat was gaaf daaraan?” Tannie Schaap se oë trek op skrefies.
Aarde, maar die vrou is moeilik, dink Lexi.
Sy groet vinnig en wuif voor sy omdraai en haastig aanstap. Wat ’n neerdrukkende ondervinding, hierdie skramse ontmoeting met tannie Schaap.
Later die middag gaan soek Lexi, boek in die hand, ’n sonkolletjie op die bank in die sitkamer. ’n Mens kan al die winterbyt in die middel van ’n sonnige dag voel. Sy maak The unbearable lightness of being by die boekmerkie oop. Dit bly een van haar gunstelingboeke.
Sy dink dit het baie met Sabina te doen; sy is die karakter wat Lexi die meeste fassineer. Sy is ’n skilder en beeldskoon en sy en Tomas, haar getroude minnaar, het speelse seks, Sabina altyd met haar swart hardebolhoedjie op die kop. Sy verstaan dat Tomas liefde en seks as twee aparte goed beskou; hy het seks met baie vroue, maar hy is lief vir sy vrou, Tereza.
Lexi weet dat Sabina nie emosionele bande met haar minnaars gehad het nie, en sy dink dat sy haar oorromantiseer. As sy Sabina in die regte lewe moes teëkom, sou sy haar sekerlik nie as ’n vriendin wou hê nie. Maar as ’n fiktiewe karakter is sy eksentriek, betowerend en boeiend.
Vandag sukkel Lexi egter om op die boek te konsentreer. Sy draai ’n sliert hare om haar vinger terwyl haar gedagtes heeltyd rondspring: tussen Kurt en sy sluwe planne, die vreemde tannie Schaap van vroeër, Christine en haar gastehuisidee, en Liam wat die straat afstap, gelukkig in homself.
Sy sit die boek op die vloer neer, trek haar bene op en maak reg vir ’n middagslapie. Vir lank lê sy eers na die ryk roomkleurige staalplafonne en kyk, en tel later die vierkante. Toe draai sy op haar sy en lê en staar na die blinkgepoleerde houtvloer. Die sitkamer is groot, met ’n deurleefde gevoel omdat die bonkige meubels nie meer nuut is nie.
Toe sy van die koue wakker skrik, is dit al sterk skemer. Sy staan op en stap na die agterstoep waar Christine die hout bêre. Buite is dit nóg kouer. Sy kry ’n klomp dik stukke hout en onthou dan dat sy dunnes ook nodig het om ’n vuur aan te pak. As sy dit aan die gang kan kry, sal dit haar eerste vuur wees.
Sy dra die hout sitkamer toe en begin ’n vuur pak soos wat sy gesien het Eric dit doen: eers koerantpapier, dan die dun houtjies. Sy steek die spulletjie aan die brand en dit vlam maar triesterig.
’n Stukkie van die wit vuuraansteker behoort die ding te doen, besluit sy en breek ’n groterige stuk af. Dit vlam hoog op en sy voeg nog ’n stuk by. Toe pak sy drie dikkerige houtstompe skuins oor die kleineres, gaan sit op die bank en kyk stip na die vuur. Brand nou!
Na ’n rukkie lyk dit of die vuur dit wel gaan maak. Sy besluit om dit met ’n sjerrie te vier en stap na die eetkamer waar die drankkabinet staan. Die eetkamer is net so koud, maar hier is gelukkig ook ’n kaggel wat vir die gaste aangesteek kan word, dink sy. Dis ’n groot vertrek met ’n tafel en agt stoele, maar daar is plek vir ten minste nog ’n tafel en ses stoele.
Ek dink al in terme van gaste, besef Lexi. Die gastehuisidee is blykbaar heeltyd in haar kop, net so onder die oppervlak van haar bewussyn.
Sy haal ’n glas en ’n bottel Medium Cream-sjerrie uit. Adriaan Boshoff se groot olieverfskildery van drie meisies langs ’n dam weerkaats in die spieël bokant die drankkabinet.
Met haar glas vol sjerrie maak sy die deur van die Games Room oop en gaan binne. Die vertrek is groot en donker en sy skakel die lig aan. Daar is net een klein venster aan die agterkant. Dié vertrek was beslis voorheen ’n motorhuis, bespiegel sy. Dit het ook ’n dik mat, nie houtvloere soos in die res van die huis nie.
Dis ideaal vir ’n huisteater, maar dit sal die grootste uitgawe meebring as ons die gastehuisding doen, dink sy. Sy sal ’n plasmaskerm-TV koop, DVD’s aanskaf en ’n biblioteek inrig. Die teater sal gesellig en warm moet wees sodat gaste graag hier sal wil kom sit. Die interieur het nog werk nodig: die groen mure moet oorgeverf word, en die roomkleurige mat het te veel kolle op en moet skoongemaak of vervang word.
Sy skakel die lig af, trek die deur agter haar toe en stap na die studeerkamer langs die voordeur. Hierdie sal die kantoor wees. Dis ’n klein vertrek met ’n groot venster wat op die straat uitkyk. Haar rekenaar sal hier by die wit ADSL-boksie staan vir lekker vinnige internetkonneksie.
Terug in die sitkamer sien sy dat die vuur steeds brand en sy pak nog twee stompe op. Toe kry sy haar notaboekie uit haar skootrekenaar se sak en gaan sit op die bank, haar sjerrieglas op die tafeltjie langs haar. Sy blaai na ’n skoon bladsy en begin ’n lys maak van wat nodig is vir ’n gastehuis, en wat alles nog geld gaan kos.
Na ’n ruk hou sy op skryf. Die lys is nie baie lank nie. Sy sal nog heelwat navorsing moet doen, miskien selfs ’n kursus in kleinsakebestuur moet oorweeg.
Sy sit vir ’n lang ruk voor die kaggel en toe al die hout uitgebrand is, besluit sy om te bad voordat sy gaan slaap. Sy stap stadig met die gang af na die trap en kyk na die klompie skilderye en swart-en-wit foto’s, geraam in donker hout, teen die muur. Die familie Bredenkamp word uitgestal; op een foto is al vyf die boeties en drie sussies saam, ’n spannetjie orrel-pypies met krulhare.
Onder die foto’s hang ’n paar Impressioniste-afdrukke waaroor Christine baie erg is: romantiese skilderye van meisies in lang rokke op swaaie, musiekmakers, kuierendes.
Sy skakel die kombuis- en gangligte af en stap met die houttrap op na die boonste verdieping. Die hout van die trapreling voel soos satyn onder haar handpalm en sy ruik houtpolitoer.
Sy het vir Christine gevra hoe oud die huis is. “Die eienaar het planne hier gelos. Dis in 1938 opgetrek, ek kan nie dink dat hulle veel later sou begin bou het nie. So, early forties.” ’n Huis met ’n geskiedenis, dus. En ’n siel, glimlag sy toe sy aan Christine se vertellings dink. Sy is regtig gaande oor dié vriendelike ou plek.
Die kamers op die boonste verdieping is almal ruim. Elke dubbelkamer het ’n eie badkamer en ’n komvenster. Die drie kamers aan die linkerkant kyk noord, na die rivier se kant toe. Die twee enkelkamers aan die regterkant kyk suid, na die berg, wat nou onsigbaar is in die donker.
Lexi gaan draai solank die badkamerkrane oop en gooi ’n groot blerts badskuim in. Hierdie ou baddens op pootjies hou baie water en sy gaan vanaand ’n lang bad neem. Op die ingewing van die oomblik gaan haal sy ’n vanieljegegeurde kers in haar kamer en steek dit in die badkamer aan.
Sy lê maar ’n klein rukkie en ontspan toe haar selfoon ’n SMS aankondig. Dis van Michelle. Dis laat, jammer! Kom nou net by die huis. Daar is BA joppie by bank. Stuur solank jou CV.
Nie hier nie, antwoord Lexi en sak terug in die diep bad. Haar CV ís hier, op haar skootrekenaar, wat onder in die kombuis staan.