Читать книгу Sabina's - Nadia de Wet - Страница 7
4
ОглавлениеRivierstraat is breed en die hoekerwe baie groot, met die huise wat in een hoek staan en die res van die erwe beplant met vrugtebome. Lexi is op pad winkel toe, op soek na vars melk vir haar oggendkoffie, en loop na die huise en kyk.
Net voor die tweede dwarsstraat staan die ligblou tweeverdiepinggebou, met sy stoep reg rondom en ’n donkerblou uithangbord by die voordeur: Die Ateljee. Sy stap nader; sy was laas nie aan hierdie kant van die straat nie en wil nou gaan loer.
Die uithangbord adverteer: Musiek op naweeksaande. Daaronder staan: Tradisionele Boerekos. Die plek is doodstil, asof dit herstel ná gisteraand se Valiant Swart-vertoning.
Lexi staan nog die uithangbord en bekyk toe ’n skraal jong man by die voordeur uitkom. Hy het kortgeskeerde hare en dra ’n wit gehekelde tjalie om sy skouers.
“Haai daar! Kom jy in, of gaan jy hier buite bly staan? Dis koud.” Hy stap nader. “Ek is Pierrie. Eintlik Pierre, maar almal sê Pierrie. Ek het jou gister sien verbyloop. Bly jy hier of is jy ’n toeris?”
Hy bry swaar, die Pierrie klink soos Peghie.
Lexi dwing haar blik weg van die verspotte wit tjalie. “Ek is Lexi. Ek bly hier bo in my tante se huis en ek oorweeg dit om hierheen te trek.”
Pierrie lig sy arms op en vir ’n oomblik dink sy hy gaan haar ’n drukkie gee. “Nou maar welkom!”
“Dankie. Maar ek kan nie inkom nie, ek is op pad winkel toe vir melk vir my oggendkoffie. Ek funksioneer nie behoorlik voordat ek kafeïen ingekry het nie.”
“Jy kan mos by ons koffie kry,” sê hy verbaas en vat haar hand. “Kom in, jy sal siek word van die koue.”
Sy volg hom na binne. Sy is nuuskierig oor Die Ateljee. Elke keer wat sy vir Liam gesien het, was hy op pad hierheen.
Die groot leefvertrek se mure is donkerblou geverf, met hordes foto’s van Afrikaanse sangers daarteen uitgestal. Dis duidelik dat musiek die eienaar van hierdie plek se groot liefde is.
Lexi stap stadig langs die muur af en kyk na die foto’s terwyl Pierrie agter haar aan draal. Die ou bekendes is almal daar: Koos du Plessis; Kerkorrel, droewig sonder ’n glimlag en met ’n sonbril op; Laurika Rauch met oë toe; Koos Kombuis in sy jonger, ongebonde dae. Die nuwe geslag sangers het ook hul plek teen die muur gekry: vurige Jan Blohm, hare wild en hartstog amper buite beheer; Riku Lätti met sy eerlike, oop glimlag; Bacchus Nel, die mooi, lang, blinde man.
“Kom ontmoet vir Brenda, die plaaslike heks,” sê Pierrie. “Sy’s die eienares. Sy’t lank gelede ’n minor treffer gehad en het sedertdien ’n ding vir musiek. Not to mention musikante, as jy my vra.”
’n Kil stem klink agter hulle op: “Gelukkig het sy jou nie gevra nie, of hoe, Pierre?”
Lexi kyk om en sien ’n beeldskone vrou in die deur staan. Sy lyk allermins soos ’n heks, eerder ’n feëprinses met gladde blonde hare. En beslis die netjiesste paar vroueheupe waarom jeans ooit sal vou.
“Brenda van Staden,” sê sy en hou ’n klein handjie na Lexi uit.
“Lexi Hugo.” Brenda se hand is yskoud in Lexi s’n.
“Aangenaam. Ek dink amper ons is vol tot volgende Dinsdag,” sê Brenda en stap na die besprekingsboek wat op die tafel by die telefoon lê.
Lexi stap agter haar aan. “Ek is nie ’n gas nie, ek bly hier bo. Het melk kom koop en in Pierrie vasgeloop.”
“Dis gaaf. Vir hoe lank gaan jy op ons dorp kuier?” Brenda draai om en kyk Lexi vir ’n lang oomblik aan, takserend.
“Tot Saterdag. Dan moet ek terug Johannesburg toe.”
“ ’n Johannesburger!” kry Pierrie sy stem terug. “Dan gaan jy en Liam –”
“Dankie, Pierre,” knip Brenda hom kort. “Nou maar lekker kuier hier by ons … e …”
“Lexi,” herinner Lexi haar.
“Jy moet Vrydagaand ’n draai kom maak!” sê Pierrie opgewonde. “Valiant Swart was gisteraand hier, en volgende Vrydagaand –”
“Is ons vol,” val Brenda hom weer in die rede.
Met haar in die omgewing is dit seker moeilik om ’n volsin uit te kry, dink Lexi.
“Regtig?” Pierrie stap na die ontvangstoonbank, maak die boek oop en kyk na die besprekings.
“Ons is sowaar vol,” sê hy teleurgesteld.
“Ek weet,” sê Brenda kil.
Sy klink soos ’n vrou wat haar man in die donker voorportaal inwag ná ’n aand saam met die manne, dink Lexi vererg. Dié Brenda is omtrent ’n aaklige karakter.
“Dit maak nie saak nie,” sê Lexi vir Pierrie. Maar dan kom sit ’n duiweltjie op haar skouer. “Wanneer ek terugkom om my permanent hier te vestig, sal ek lank vooruit bespreek.” Sy gee Brenda haar beste ysglimlaggie, een wat haar mond net op ’n plooi trek.
“Gaaf,” sê Pierrie. “Jy sal van die dorp én Die Ateljee hou.”
Hy kom óf nie agter dat daar ’n atmosfeertjie tussen die twee vroue is nie, óf hy is aspris. Lexi het ’n vermoede dis die tweede opsie.
Dis tyd dat sy aanstaltes maak, sy wil regtig nou koffie hê.
“Nou ja, totsiens, julle. Sien julle hopelik gou weer,” sê sy en stap so gemaklik as wat sy kan by die voordeur uit. Sy voel hoe Brenda se oë in haar rug brand.
Terug by die huis maak Lexi vir haar ’n pot filterkoffie vir die dag, drink ’n groot beker vol en gaan skakel haar rekenaar aan. Daar is net een e-pos, van Christine af.
Ek het gou weggeglip na die internetkafee hier op Douglas. Dale laat my omtrent nie onder sy oë uit nie! Wil al die day nurse laat gaan, maar ek het my voet neergesit. Die vrou sit net vir kwaadgeld rond en ek raak hees van heeldag ou classics vir Dale voorlees. Maar ek kla nie, hy is ’n dierbare siel. Baie verswak, maar die verstand nog glashelder.
Ek het nog nie veel van die eiland gesien nie. Die stuk tussen die lughawe en Douglas het my aan Ierland herinner: groen velde, geel blommetjies, vet skape.
Douglas self is baie mooi. Die dorp het ’n promenade en die hotelle daarop is almal in die Victoriaanse styl gebou. Terwyl ek hier sit en tik, is daar ’n lae mis wat oor die dorp hang. Dis die cloak van Manannan Mac Lir – die Keltiese god waarna die eiland vernoem is. Hy gooi sy jas oor die Isle of Man wanneer hy sy kinders wil beskerm.
Ek hoop alles is nog wel aan jou kant.
Groetnis,
Christine.
Ns. Wat noem jy die gastehuis?
Christine wéét hulle gaan die gastehuis oopmaak, dink Lexi en glimlag. Sy sweer haar tante is heldersiende.
Sy kliek op reply en begin tik. Sy vertel van Kurt, van Pierrie, van die onvriendelike Brenda, van haar planne vir die gastehuis. Sy sluit die e-pos af met: Ek noem die plek na een van my gunstelingkarakters in ’n boek. Dis nog ’n verrassing.
Dinsdagaand. Lexi het die laaste drie dae baie geslaap, baie geëet, ’n bietjie rivier toe en terug gestap.
Sy sit by die kombuistafel met The unbearable lightness of being voor haar oopgeslaan en ’n beker warm-sjokolade langsaan. Tomas se liefde vir Tereza was mooi, maar dit het hom ook uitgeput. Hy moes voortdurend sy bewegings verduister, dinge vir haar wegsteek, sy liefde vir haar bevestig, haar dra. Die tas waarmee Tereza jare gelede ongenooid by hom aangekom het, was swaar, net so swaar soos die emosies wat sy met haar saamgebring het.
Lexi kyk van die bladsy af op. ’n Herinnering het pas by haar opgekom, een wat seermaak. Sy dink aan die aand toe sy en Eric die fliek by vriende van hom in hul huisteater gaan kyk het. Die beeldskone Juliette Binoche het die rol van Tereza gespeel en Praag was heeltyd sigbaar in die agtergrond: beset deur Russiese tenks, hartseer en donker.
Eric het daardie aand vir die eerste keer by Lexi oorgebly. Hulle het laat by die huis gekom, ’n spanning soos nog nooit vantevore tussen hulle. Eric het die voordeur agter hulle toegesluit en hulle het woordeloos na Lexi se kamer geloop.
Hulle het die hele nag nie geslaap nie. Wanneer hulle nie liefde gemaak het nie, het hulle op hul rûe langs mekaar gelê en sag gesels, Eric met sy hand die hele tyd om Lexi s’n gevou. Hy het haar laat voel dat haar menings uniek is, dat wat sy sê waarde het. Dít het nooit verander gedurende hulle verhouding nie.
Dit was seker amper volmaan, want die nag was lig, en ’n skrefie in die gordyn het Eric se oë in twee donker poele verander. Hy het haar hand opgelig en vir ’n paar sekondes teen sy wang vasgedruk. “Ek hou so baie van jou,” het hy gesê.
Die volgende oggend het sy vir hulle roosterbrood en koffie gemaak en dit teruggevat bed toe. Later het die krummels op die laken hulle nie gepla nie. Hul liggame het na warm botter en Marmite geruik.
Dis miskien die laaste keer wat sy heeltemal gelukkig was. En dis al drie jaar terug.
Die voordeurklokkie se gelui bring haar terug na die kombuis op Simonsrivier. Sy staan op, steek haar voete in haar stewels en gaan maak die deur oop. Dis Pierrie.
“Hallo, liewe Lexi. Ek het gedink ek kom maak gou ’n draai. Om jou behoorlik welkom te heet, onder die heks se oë uit!”
Sy is regtig bly om hom te sien. Hy het ’n warm melktert in sy een hand, gereed vir ’n lekker kuiertjie, lyk dit vir haar.
“Hoe’t jy geweet waar ek bly?” vra sy terwyl sy terugstaan sodat hy kan inkom.
“Liam het gesê. Op so ’n klein plekkie weet almal mos maar alles van almal af. Hy was gisteraand by Brenda, ons het vir ’n verandering saamgeëet.”
Hy kyk rond en beduie met sy kop na die melktert. “Waar kan ek dié neersit?”
“Kom ons sit sommer in die kombuis. Dis lekker warm daar, die koolstoof is al die hele dag aan.”
Terwyl sy die perkoleerder aanskakel en koppies uithaal, stap Pierrie terug na die ingangsportaal.
“Jy het divine skilderye, nè!” roep hy en Lexi volg hom na die sitkamer.
“Dis nie myne nie, dis Christine s’n. My ma se suster.”
“Jy het nou die oggend gesê jy kom terug om te bly. Gaan jy hier intrek?”
Lexi glimlag net.
“O, ek sien! Jy het net die heks se siel versondig,” sê Pierrie.
“Nee, ek gaan inderdaad hier kom bly. Ons gaan ’n gastehuis begin – ek en Christine.”
Pierrie se oë glinster. “Nooit! Dis great. Ek sal eerder by jou kom werk voordat ek by die heks bly. As dit nie vir Liam was nie …”
“Hokaai! Ek kan mysélf skaars aan die lewe hou!”
Moenie sulke goed sê nie, betig Lexi haarself. Dis nou tyd vir positiewe denke en woorde. Sy moet eenvoudig sorg dat sy haar kapitaalbelegging van Thinking Hat terugkry.
Hulle loop terug kombuis toe en Pierrie gaan sit by die tafel. Terwyl sy die koffie skink, draai hy haar boek om sodat hy die titel kan lees.
“Jislaaik, maar jy’s diep, nè! Ek het die DVD gesien. Daniel Day-Lewis is to die for.”
“Hy’s bietjie maer,” sê Lexi en sit ’n beker voor hom neer. “So, vertel my van die dorp.”
Sy kry twee koekbordjies uit die blou kas bo die wasbak en sny vir hulle elkeen ’n behoorlike stuk van die warm melktert. “Ek het ’n vermoede dat as daar iemand is wat álles van die dorp sal weet, is dit jy.”
“Nie regtig nie, hoor,” sê Pierrie. “Ek is ook maar net passing through – ek het twee weke gelede eers hier aangekom. Ek werk net by die heks totdat ek genoeg geld het vir ’n buskaartjie Jo’burg toe.”
“Wat gaan jy in Johannesburg doen?”
“Weet nog nie. Ek het baie ondervinding van guest houses. Sal seker weer iewers regkom.”
“Vertel my van Liam,” vra Lexi so nonchalant as wat sy kan. Sy wil nie té nuuskierig klink nie.
“ ’n Dark horse, as jy my vra.” Hy vat nog ’n hap melktert en vee die laaste bietjie met sy teelepel uit die bordjie op.
“Hoekom sê jy so?”
“Want ’n mens weet niks van hom nie, my darling. Behalwe,” hy leun eers oor om nog ’n sny melktert te vat, “dat hy songs skryf vir baie gewilde ouens. Ouens soos Wikus de Wet en daai band wat Vrydagaand by Die Ateljee sing: Swerwer.”
“Die feit dat jy nie veel van hom weet nie, beteken nie hy’s ’n dark horse nie, Pierrie.”
“Is seker so. Maar hy hou hom maar eenkant. Kom kuier so drie keer ’n week by die heks, bly tot laat – as hy ooit huis toe gaan.”
Lexi voel ’n belaglike stekie jaloesie in haar hart. Miskien is ek jaloers op hulle situasie, verweer sy haar. Twee mense wat op ’n mooi plek liefde gevind het.
“Bly hy op die dorp?” vra sy.
“Ja, sy huis is onder naby die rivier. Kom jy Vrydagaand Ateljee toe?” vra Pierre en neem nog ’n groot hap melktert.
“Ek dag julle is vol.”
“As Swerwer sing, dra die heks ekstra stoele en tafels in. Ek het een vir ons gegryp.”
“Ek wil graag, maar Brenda is nie baie …” Lexi kan nie ’n gepaste woord kry nie.
Pierrie knik. “Nie baie welcoming nie. Moenie daaroor stres nie, sy is so behep met die musikante op Vrydagaande dat sy jou nie eens sal raaksien nie. Of nee wag, dit sal moeilik wees. Jy is soveel mooier as sy, sy sal jou definitief as kompetisie sien.”
Lexi lag verleë, maar Pierrie vryf sy hande met groot gebaar teen mekaar. “It’s showtime! Dis tyd dat sy ’n bietjie kompetisie kry.”
“Jy’s laf. Ek is nie van plan om met enigiemand te kompeteer nie,” sê sy beslis.
Dis die waarheid; sy het genoeg probleme soos dit is.