Читать книгу Kyk na my - Nataniël - Страница 11
’n Tafel vir Prentjie
ОглавлениеIewers naby die kerk het die hoofstraat se teer verdwyn en daar waar gruis in grond verander het, het hulle op ’n ry gesit: kerk, skool, tennisbane, koshuis. In hierdie koshuis het my ma ’n paar keer per week gewerk, sy moes toesig hou totdat die son begin sak. Op hierdie dae moes ek ná skool my tyd daar deurbring, ek het geen idee waar my boetie was nie.
’n Paar jaar gelede het ek die dorp vir die eerste keer besoek nadat ek op die ouderdom van nege daar weg is. Ek is genooi om ’n vertoning in die kerksaal te lewer, hierdie saal was altyd ’n reusegebou waar al die dorp se planne begin het of beëindig is, ek was geskok om met my terugkeer te sien hoe klein en beknop hierdie saaltjie inderdaad was. Dit het al ’n paar keer gebeur: kindergeboue wat met die jare só gekrimp het dat dit tydens ’n herbesoek meestal onherkenbaar en altyd erg teleurstellend was. Dit sou dus ook die geval wees met die koshuis, maar vir die doel van hierdie verhaal hou ek hom in sy oorspronklike vorm, lank, bleek en verdoemend.
Die inwoners het bestaan uit plaaskinders – die nasate van voorspoedige én sukkelende boere – wat almal Vrydagmiddae terug is huis toe, stadskinders wat hierheen gestuur is om uit die moeilikheid te bly en ’n paar dorpskinders uit families té ellendig vir enige vooruitsigte. ’n Paar moes naweke en selfs vakansies hier bly. En wanneer my ma op diens was, het ek gedwaal, middag na middag.
Die jongste kinders het buite gespeel, die res moes huiswerk doen in die eetsaal, ek was ook nog te jonk vir rêrige huiswerk en het gedwaal. Die voordeur het oopgemaak in ’n klein portaal en daarna kon jy links of regs draai in ’n lang gang met bleek, blink vloere en, aan weerskante, baie deure. Daar was ’n vergete sitkamer, ’n kantoor, slaapkamers vir personeel, slaapkamers en slaapsale vir skoliere (ek weet nie hoe dit bepaal is wie in sale slaap en wie in kamers nie), badkamers en die eetsaal. Aan die einde van die gang, beide kante, was daar skerp draaie na nog kamers en die agterste lang vleuel wat bestaan het uit waskamers, stoorkamers en die kombuis, uit die lug dus ’n perfekte 8.
Hier was geen plesier nie, dalk vir ander, maar ek kon niks opspoor nie, nie ’n enkele mooi ding nie, geen geheimsinnige hoekies of dansende skaduwees, net leë mure, kamers en kinders. En Die Reuk. Daar was ’n onmiskenbare reuk wat nie vir ’n oomblik wou wyk nie, nie die van skoonmaakgoed wat steeds so gewild is in blink gange nie, nie die van hoenderpastei wat moet bak in groot oonde nie, nie die van koffie wat moet ontsnap uit ’n personeelkamer nie, dit was ’n dooie reuk, ’n onverbiddelike grys reuk, my ma was uiters ontsteld toe ek eenkeer voor die ander kinders aan ’n sny brood begin ruik het, ek kon nie help nie, ek was seker Die Reuk het weggekruip in die dik snye doodsbrood wat daagliks voor elkeen neergeplak is. Geen botter of konfyt kon hierdie grou sponse vermom nie.
Dalk was dit die resepte van daardie jare of die feit dat elke dorp nie iemand soos my ouma gehad het nie, maar uit daardie groot kombuis het net moegheid en vaalheid verskyn. Ek wou skree, Waar is die beskuit, waar is die skons, waar is ons koekies, ons is kindertjies! Dis daar waar my groot gril begin het, wanneer die skinkborde met plastiekbakkies vol dryfsand en begrafnismodder die eetsaal binnegedra is. Ek het gewag tot my ma wegkyk en is dan gangaf.
Dit was tydens een van hierdie woedende ek-gril-en-ek-is-honger-wandelinge dat ek sien een van die seuntjies se kamerdeur staan oop. Hy sit op sy bed en blaai deur ’n boek. Sy voete hang in die lug. Ek het nooit geweet wat sy naam was nie, in my gedagtes het ek hom Prentjie genoem. Hy was die oudste kind in die koshuis, maar ook die kleinste, hy was stil en baie mooi, dit het gelyk asof hy geteken was, sy klere was nooit vuil of gekreukel soos ander kinders s’n nie, daar was nooit ’n blonde haar uit sy plek nie, hy het nooit skoorgesoek nie en net gepraat wanneer iemand hom ’n vraag gevra het. Dis hoe al die kinders in die wêreld moes wees. Ek het baie van hom gehou.
Ek het na Prentjie in sy dorre kamer staan en kyk, nie lank genoeg dat hy sou opkyk nie, maar lank genoeg om te sien daar was niks moois nie, nie ’n matjie nie, nie ’n stoel nie, net ’n bed en ’n kas met ’n tas bo-op, die mure was leeg, die enigste prentjie was Prentjie. Hoekom was hy nie saam met die res in die eetsaal nie? Vlug hy ook vir Die Reuk? En waar sal hy gaan? Hy het net sy lelike kamer, ek het hom so jammer gekry, ek het vir dae gewonder wat ek sou doen as ek in ’n kamer moes woon sonder enige van my goed.
Dit was ’n warm weeksmiddag, ’n paar kinders het lusteloos langs die koshuis gespeel, die res het in die eetsaal na hulle boeke gesit en staar. Ek was in die gang. Prentjie se kamerdeur het oopgestaan. Ek het nader gestap om te loer. Hy en sy boek was nie op die bed nie. Maar die Geel Juffrou was langs die bed op haar knieë. Sy was een van die onderwyseresse wat in die koshuis gewoon het, sy was jongerig met kort liggeel hare en ’n besonder breë gesig, daar was ’n dimpel in die middel van elke wang wat haar laat lyk het asof sy heeltyd glimlag. Sy was die Standerd Twee-juffrou en het elke dag ’n geel truitjie gedra.
In haar hand was ’n potlood. Sy het ’n dun horisontale lyntjie teen die muur getrek, toe het sy nog een direk onder die eerste lyn getrek en die twee aan albei kante verbind. Daarna het sy vanaf die linkerkantse hoek twee dun strepe na die vloer getrek, ook aan die regterkant, ’n tafeltjie!
My ma verskyn in die gang.
Kom jy? sê sy.
Aan die een arm hang haar handsak, aan haar ander arm hang my boetie. Hy herken my en lag met ’n oop mond, hy knak sy knieë en spring op en af op sy kort beentjies. Huis toe gaan, groot speel tot aandete, dan bad tot die hele vloer onder water was, dis waarvoor hy op koshuisdae gewag het. Maar ek was nie lus vir speel nie. Iets was aan die gebeur. Waarmee was die Geel Juffrou besig? Ek het geweet slaap laat kinders groei, maar ek was die hele nag wakker.
Die volgende dag het skool vir ure aangehou, kry tog klaar! Ek het met die trappies afgestorm, verby die tennisbane, in by die koshuisvoordeur, in die portaal gaan staan en hygend gewag dat al die kinders die eetkamer in verdwyn vir middagete en Die Reuk. Ek het gebid Prentjie se deur was oop.
Uiteindelik. Die gang is leeg. Prentjie se deur is oop. Langs sy bed, presies waar daar geteken was, staan ’n tafeltjie. Ek snak hardop na my asem. Dis hoekom hy sy eie kamer het! Dis hoekom hy so klein is! Dis hoekom hy nie praat nie! Hier word getoor, dis ’n kamer van truuks!
Maar hoekom net die tafeltjie? Hoekom nie ’n stoel nie? Was die Geel Juffrou bang sy word betrap? Ek maak my skooltas oop, ek gryp na my potlood. Die kinders eet nie vir lank nie, dan kom hulle kamers toe vir skoolklere uittrek en speel voor huiswerk. Wat ook al hier aan die gang was, ek was steeds jammer vir Prentjie. Langs die tafel teken ek vir hom ’n stoel, ek teken vinnig en die pote is skeef, maar hulle sal regkom met die toor. Ek teken ook vir hom skilderye teen die muur, storieboeke op ’n ry, ’n ekstra venster wat uitkyk op ’n rivier met visse en bootjies, ’n groot potplant met vingerblare soos op ons voorstoep, ’n blik met koekies, nog ’n blik met beskuit, ’n radio, ’n staanlamp, twee vet katte en ’n fiets. Dit gaan die mooiste kamer wees, hiérna is Prentjie my maatjie.
Jou ma slaan jou dood, sê ’n stem.
Ek ruk om. Een van die kombuistannies staan in die deur. Dis sy wat altyd die stink brood sny en in stapels pak.
Wie krap op ’n muur? vra sy.
Die Geel Juffrou, sê ek.
Jou ma slaan jou twee keer dood, jy mag nie Geel Juffrou sê nie!
Sy het die tafel geteken, toe toor die kamer dit lewendig! Ek teken net goetertjies, hy het niks!
Sy het net gemerk waar die lessenaar moet kom, as ’n voorbeeld, dat die helpers moet weet waar, al die ouer kinders kry lessenare langs hulle beddens!
Nee!
Ek huil kliphard. Die kombuistannie wikkel haar neus.
Moenie huil nie, sê sy, Hulle gaan jou hoor. Ons kry ’n lap en maak gou skoon.
Sy draai om en verdwyn.
Ek huil van skrik en oor daar nie wonderwerke is nie en oor twee keer se doodslaan. En oor Prentjie wat net ’n tafel het. Twee kombuistannies verskyn. Elkeen met ’n groot lap en ’n spuitbottel. Die eerste een sit haar hand op my kop.
Gaan was jou gesig, ons sal nie ’n mens vertel nie, sê sy.
Ek stap in die gang af. Ek hoor hulle praat.
Wat het hier gebeur? vra die een.
Die snaakse enetjie wou toor, sê die ander, Sy arme, arme ma.