Читать книгу Kyk na my - Nataniël - Страница 5

Ons heining

Оглавление

Ons Wêreld en die Ganse Wêreld was slegs geskei deur silwer ogiesdraad. Die ogies was groot en die draad was dun, die soort wat niks buite of binne hou nie, dit was net daar, styfgespan tussen dun silwer paaltjies, ’n skouerhoë, byna onsigbare heining, waar anders moes silwer draad heen? Die heining het gestrek om drie kante van die erf, voor teen die pad, een kant af teen die leë erf tussen ons en die Gagiano’s en aan die ander kant teen die wingerd wat aan niemand behoort het nie. Aan die agterkant van die erf was geen heining. Daar was ’n agterplaas met ’n klein geboutjie vol gereedskap, ’n wasblok uit sement, kompleet met ’n hoë kraan en ’n diep wasbak. Bome, bevrug en onbevrug, het rondgestaan soos wesens wat onwillig was om te gesels of ’n ry te vorm. Lang gras en enkele riete het aangedui dat die erf op ’n einde was, hier was ’n klein vlei, soms het ’n dun stroompie water gekabbel sonder geluid.

Ek het nooit die doel van die heining bevraagteken nie, dit was nie vir veiligheid nie, watse gevaar kon daar wees? En agter was dit onnodig, anderkant die vlei was niks, die Ganse Wêreld het daar opgehou, soos ook twee strate verder aan die ander kant van die dorp, soos ook aan die einde van ons vriende se erf in die onderdorp. (Ons Ganse Wêreld is ’n dorp genoem, daar was ander dorpe ook, dié het net bestaan wanneer ons soontoe gery het. Die res van die tyd was hulle hul eie Ganse Wêrelde.)

Op warm dae het ek op die voorstoep gestaan en kyk hoe die heining in die son skitter, dit was ’n spinnerak sonder gogga, met ’n klein voorhekkie, ook skitterend, en ’n groot hek vir inry. Die rede vir die briljante glans was dat die heining geverf was, hóé en deur wie ’n heining van ogiesdraad beskilder word, sal niemand jou kan sê nie, dit was bedek deur die blinkste verf wat enigiemand ooit sal sien. En dit was netjies. En omdat dit netjies was, het niks daarteen gegroei nie, nie ’n enkele rankplant het sy lote gelig nie, leeg en skoon het die spinnerak daar gehang.

En hier kon ’n kind doen wat lankal nie meer moontlik is nie, jy kon reeds vroeg in jou lewe die hekkie oopmaak en die Ganse Wêreld betree. Jy kon alleen in die straat stap, sommer reg in die middel, verkeer was skaars en daar was stilte. Ouma het gesê jy kon ’n motorkar al hoor as hy by die fabriek uitry, jy sal weet wanneer jy uit die pad moet staan.

Die Ganse Wêreld is Riebeek-Kasteel genoem. En wanneer jy by die hekkie staan en links kyk, het jy die opdraande gesien, die Stoepsusters se huis bo teen die bult, dan die stopstraat en die dwarspad. Anderkant die dwarspad was vrugteboorde vol skaduwee en ’n beskutte huis waarin iemand met ’n titel gewoon het, Dominee, Sersant, Magistraat, die tipe man wie se vrou nooit sonder ’n borsspeld gesien is nie. Ek het daarvan gehou om regs te kyk. Daar het die afdraande ’n gelykte geword, jy kon stap tot by die hoekerf. Hier het ek baie gespeel, ek het geen idee wie daar gewoon het nie, maar ek het die tuin goed geken, ’n uitermate groot stuk grond sonder ’n enkele spriet gras, net roosbome, miljoene van hulle, tussenin was fonteine en bankies. Die huis was in die middel van al die rose, ’n lang, plat huis met Venesiese blindings, afstootlik en altyd toegetrek, ek kan nie onthou dat ek ’n enkele keer binne was nie.

Wanneer jy regs gedraai het, was daar ’n tennisbaan en ’n oop stuk grond aan jou linkerkant, dit was die middel van die dorp. Hier het boere met bakkies parkeer. Ek het geweet wat boere was en dat hulle op plase gewoon het en dat hulle kinders ook daar gewoon het en elke middag ná skool uit die dorp verdwyn het, maar terwyl die dorp die Ganse Wêreld was, was ek nie lus om daaroor te dink of te probeer verstaan waar die plase dan kon wees nie.

Sodra die polisiestasie aan jou regterkant verskyn het, kon jy links draai na die winkels. Dit was ’n konkoksie van geboutjies, stoepe, gangetjies, binnehowe en ’n paar woonhuise, alles aanmekaar. Heel eerste was die naaldwerkwinkel, dit het aan ’n vriendelike vrou behoort, sy was brandmaer en haar lang pikswart beenhare was elke dag platgedruk onder sykouse, die mense het dit kombersbene genoem. Daar was ’n poskantoor en langsaan ’n gangetjie met kamerdeure waar enkelpersone gewoon het, ook ’n agterplaas vol van die middelwinkel-eienaar se kinders. Ek het af en toe hier gespeel, maar wanneer daar 20c in my hand was, het ek reguit geloop tot in die winkel. Die middelwinkel se binnekant was van hout. Toonbanke met glasvoorkante het deur die hele ruimte gekronkel en gewys wat alles in die laaie was. Skroewe, lekkergoed, handskoene, blouseep, politoer, koeldrankglase, sokkies, dasse, speelgoed, appelkooslekkers, meelvisse, knipmesse, babadoeke, vlieëgif, wasgoedpennetjies, tamatiesous, koeverte, skryfblokke, potlode, gordynhakies, skarniere, sonbrille en hoofpynpoeiers het alles langs mekaar gelê.

In hierdie winkel het ek ontdek dat ’n dag sonder ’n geleentheid, selfs die geringste ontploffing van heerlikheid, ’n onuithoudbare grysheid was. So gou as wat ek die pad kon onthou, het ek my ma begin smeek om my daarheen te stuur, en sy het, twee of drie keer per week om iets te koop, altyd twee goed tesame: ’n brood en ’n bottel melk. Of ’n sakkie tamaties en ’n koerant. Of aanmaakkoeldrank en bruinpapier. Dan het daar 5c oorgebly. Hiermee kon ek twee goed vir myself koop: ’n rooiworsie en ’n klein pakkie chips. Ek was ’n rykmanskind! Reken Saterdag se hotdogs en Sondag se poeding by, dan was daar selde ’n dag sonder ’n hoogtepunt.

Sou jy nie regs draai by die roostuin nie, maar reguit aanhou, stap jy verby die klein spookhuisie, ’n miniatuur-skakelhuis met planke voor die vensters en ’n toegeboude stoepie direk teen die straat. Hier was niemand. En niemand het daaroor gepraat nie. Nou kon jy weer regs draai, net ná die tennisbaan en parkeerplek vir die boere met plase wat vir eers in ’n ander wêreld geleë was, dan was jy in die hoofstraat, alhoewel die straat waarin jy so pas was, Hoofstraat genoem is.

Maar ons hou reguit aan. Op die volgende hoek is ’n motorhawe. Hier het my pa gewerk, hy was een van die dorp se werktuigkundiges en kon alles regmaak, alle beweging op die dorp was as gevolg van my pa, almal het gesê hy was die beste in die streek. Wat was ’n streek? Waar in die Ganse Wêreld het ’n streek ingepas? Ek het nooit gevra nie, dat Pa die beste was, was genoeg.

Hier het die grondpad begin en ook die heuwel, kerk, skool, koshuis, almal in ’n ry. Nou weer afdraand, dan volg ’n systraat na regs. Hier het almal gedraai sonder om vir ’n oomblik links te kyk. Nét voor jy draai, nét na die leë stuk grond langs die koshuis, het Die Vuurhoutjies gewoon. Wie ook al die woord boskasie uitgedink het, moes eers hier verbygekom het. Bome soos wat jy nêrens anders te sien sal kry nie het hier gegroei, krom en gebuig in alle rigtings, soos mal ballerinas het hulle ’n sirkel gevorm rondom ’n hut uit klei, stene, sement, hout en sink, nie ’n plakkershut nie, ’n skewe towenaarskokon met ’n aantrekkingskrag wat niemand kon weerstaan nie, as jy eers gekyk het, het jy stilgehou of stilgestaan, jy was vasgenael. Die vuilste familie in die Ganse Wêreld het hier gewoon, hulle is Die Vuurhoutjies genoem omdat almal se gesigte roetswart was. Hulle was nie sonder water nie, ook nie sonder elektrisiteit nie, ook nie sonder klere nie, hulle was net nie lus daarvoor nie. Kos het geprut in ’n pot oor ’n vuur, ’n bok het geblêr, ’n skaap het geskree, hoenders het geskrop, ’n tros kinders het rondgedwaal, in komberse gedraai of in handdoeke gebind, almal met lang bosse hare, nie klein kindertjies nie, tieners, pragtige, gespierde, vuil tieners wat skoolgegaan het wanneer hulle wou, soms tydens ’n kerkdiens in die deur kom staan het, laatnag rondgesluip het, geen kwaad gedoen het nie, net gesluip en gegrom het soos wolwe.

Draai regs, draai vinnig regs. Op ’n groot erf, twintig treë van Die Vuurhoutjies, het ons gereeld gekuier, hier het Oom Sam en Tannie Stienie gewoon. Tannie Stienie was Ouma se suster, ’n klein, dierbare vroutjie wie se gesig ek nooit kon onthou nie, my ma moes haar elke keer aan my voorstel. Oom Sam was groot en besig op die werf, orals was stapels materiaal, vele projekte het geduldig bly wag op voltooiing. Daar is ook tuingemaak, rye groente het gedy in die son, en hoenders is geslag, ja, die eerste keer het ek niksvermoedend nader gestaan toe ’n hen op ’n houtstomp neergelê is. Ek het gedog hier is ’n toertjie op pad. Lank ná die kop weg is en die pootjies ophou stuiptrek het, het ek teen die hoop teerpale gestaan en om die beurt opgegooi en gehuil.

Wat ek wel met plesier onthou, is die donkerte van die huis, ’n groot huis met ’n lang gang. Dit was ’n goeie donkerte, Tannie Stienie se oorwinning teen die hitte, sy kon ’n vertrek donker kry met lang gordyne – was daar hortjies of aftrekblindings ook? – dat ek nie die koelte kon glo nie. Ek onthou ’n keer toe die huis volkome stil was, daar was ’n lyk in die hoekkamer, die lykswa moes van ver af kom, van ’n plek wat net bestaan het wanneer ’n lykswa nodig was, en hierdie was die koelste huis denkbaar. Was dit ’n familielid? Of net ’n kennis met geen ander wagplek? Ek weet nie, maar ek onthou die vredige geleentheid, kalm en vol aanvaarding, vir my was dit geheel en al nuut en ek het daarvan gehou. Dit was soos deesdae se winkelvla, dodelik én heerlik en niemand praat daaroor nie.

’n Jaar nadat my geheue opdaag, weet ek nog nie hoeveel vrae elke mens toegelaat word nie, hierdie bevindinge is dus my eie:

Ons dorp is vinnig om te verken,

net af en toe verrassend,

mooi genoeg,

slaaptyd voel effens te vroeg,

op die oomblik het almal genoeg om te eet.

Dankie.

So was dit hier in die twee wêrelde aan weerskante van die netjiesste onvolledige heining in die geskiedenis.

Kyk na my

Подняться наверх