Читать книгу Kyk na my - Nataniël - Страница 12

Kerkkamp, maalvleis, Nero

Оглавление

Ek sit agter in die motor. Langs my sit my boetie in sy motorstoeltjie, ’n primitiewe uitvindsel van metaal, seil en leer, ’n groteske tuinstoel sonder pote. My ma sit voor met ’n mandjie op haar skoot. Agter die motor is my pa besig om die laaste van die stel blou tasse in die kattebak te laai. Hy klim in die motor en draai die sleutel. Ons ry agteruit tot in die straat, my pa trek die handrem op, dit maak kkrrrr! soos wanneer ’n hond deur ’n been byt. My pa klim uit, trek die hek toe en klim weer terug in die motor. Ons ry verby die klein wingerd, op teen die bult, verby die Stoepsusters se huis en draai regs. Ek voel ’n kol op my maag, die senuwee-muisie begin skielik aan my kou. Vir alle lekkertes, Ouma se Wellington, inkopies, Johannesburg se Kaap (dis hoe Oupa die Paarl genoem het), draai ons altyd links.

Waantoe gaan ons? vra ek.

Ons is op pad kerkkamp toe, sê my ma.

Waar is dit? vra ek.

Nog ’n entjie, sê my pa.

Wat gaan ons daar doen? vra ek.

Ons gaan kuier, sê my pa.

En sing, sê my ma, Ons gaan Bybel lees, vir julle kinders stories vertel, ons gaan hande vat en al in die rondte dans. En ons gaan baie bid.

Ons kan mos by die huis ook bid, sê ek.

Partykeer moet ’n mens vir ’n tydjie weggaan, sê my ma, Jy moet saam met mense wees wat dink en glo soos jy, jy moet stilte hê dat jy kan konsentreer.

Grrts, grrts, kou die muisie.

Ons kan mos by die huis konsentreer, sê ek.

Ja, jy kan, maar dis nie dieselfde nie, sê my ma.

Partykeer moet kinders minder praat en net gehoorsaam wees, sê my pa.

Hy draai links, op in ’n klein straatjie, hou stil voor ’n metaalhek, draai sy ruit af en waai met sy arm. Iemand stoot die hek oop en ons ry tot onder ’n afdak. Daar is baie motors, rye en rye staan hulle onder parallelle afdakke.

Hier is ons, sê my pa, Kom ons gaan soek ons rondawel.

Ons huis was aan die bokant van Riebeek-Kasteel, die kerkkamp was reg in die middel van Riebeek-Wes. Die afstand tussen die twee was ses kilometer. My ouers het elke tas wat ons besit volgepak, my boetie aan ’n gogga vasgegespe en my senuwee-muis wakker gemaak sodat ons minder as tien minute kon ry om in die rondte te dans en te konsentreer.

My pa maak die kattebak oop.

Rugbybal, sokkerbal, strandbal, ek het almal gebring, sê hy, Hier is baie kinders en baie grond, julle kan speel tot julle moeg is.

Dit was die laaste woorde wat ek gehoor het. Daarna het ek monde sien beweeg, oë sien knip, die son sien opkom en ondergaan, mense sien skarrel, hande sien kitaar speel, vuurhoutjies lanterns sien aansteek en komberse moeders en hul babas sien huisves. Daar was ’n ry geboutjies met puntdakke, sement, asbes, sink, hout, karton, wie sou weet wat gebruik is om hierdie menshouers mee te vervaardig, wie sou weet hoekom my pa dit rondawels genoem het. Daar was enkele bome op ’n groot oppervlakte met arm gras (my een oom se eerste vrou het altyd haar sonbril opgesit uit vrees dat sy verby arm gras moes ry; Haat dit! het sy gesug, blykbaar was dit die resultaat wanneer ’n grasperk net genoeg water gekry het om nie te vrek nie, maar te min om behoorlik groen te wees), ’n saal waarin samekomste gehou is, ’n systoep waar maaltye vanaf langtafels bedien is en langsaan ’n vierkantige gebou wat bestaan het uit ’n stoorkamer en ’n groot kombuis. Waar hierdie twee geboue ontmoet het, was ’n vierkant, donker en buite sig, hier het vullisdromme en kratte en tuingereedskap gestaan. Hier het ek elke dag kom loer. Op ’n stadium gee een van die aarde se groot en onsigbare heersers, Perversie, aan elke kind ’n onsigbare klein handlanger wat hom sal lei na plekke en situasies waar onbehoorlikhede – stoute goed – moontlik mag plaasvind. Dit was hier dat ek op die laaste dag, toe die vooruitsig van terugkeer na ons tuiste my gehoor geleidelik teruggebring het, twee werkers sien vuisslaan het en een die dodelike opdrag, Vrek, vark, vrek, gesis het.

Een ligpunt tydens my tyd in die kamp: Daar was maalvleis, baie maalvleis. Bobotie, herderspastei, wors, frikkadelle, ronde en langwerpige vleispasteitjies, spaghetti met maalvleis en tamatie, maalvleis met gebraaide uie en gerasperde kaas, ek was verstom oor die groot metaalbakke, die hoeveelhede, die reuk. Al groot hoeveelhede wat ek geken het, was die koshuisvoer en die stank daarvan. Hier was dit byna feestelik. Uit die groot kampkombuis het drie maaltye per dag verskyn, ook tee in die oggend en warm melk in die aand. Elkeen van hierdie vyf bedienings is aangevul met brood. Roosterbrood, toebroodjies, dik snye vars brood in gelid op skinkborde, broodvingers gedoop in eier en gebraai, ook broodpoeding. Ek het net twee soorte brood geken, winkelbrood, wit, bruin of heelgraan, sag en doodgewoon, en plaasbrood, krakerige kors buite, solied en spierwit binne. Die brood in die kamp was anders, groot snye, lekker genoeg om sonder botter te eet, het tuisgemaak gelyk, maar is twee keer per dag by die metaalhek afgelaai. Ek het dit bidbrood gedoop, en daarna nog net een keer weer raakgeloop. Meer as tien jaar later het ek weer ’n kerkkamp bygewoon, ek was verlief op ’n beeld van ’n jeugwerker en het gehoor daar is oop storte op die terrein.

Terug na Riebeek-Wes: Op die voorlaaste aand sit almal in die saal, op stoele, kissies, kussings en skote, ’n wit doek hang voor teen die muur, agter staan ’n filmprojektor op ’n hoë tafeltjie. Iemand skakel die ligte af en teen die wit doek begin gedrogte rondspring. ’n Paar mense het net begin omkyk toe die rolprent tot ruste kom.

’n Grys stad verskyn, vol pilare, massiewe geboue, vroue met gevlegte hare, mans in lang gewade, soldate met swaarde, perde, koetse sonder dakke en markte waar met lewende diere gesmous word.

Dis Rome, spel my ma se mond.

Is dit naby Wellington? vra ek.

Nee, beduie my ma se mond, Dis oorsee, honderde jare gelede.

’n Man het goue blare op sy kop. Rooi doeke hang van sy skouer en ’n wit mantel sleep agter hom. (Ek weet nou die akteur was Peter Ustinov.) Hy is woedend, hy loop op en af in ’n marmersaal, hy bal sy vuiste en gil op ’n ry benoude mense, ek hoor niks.

Keiser Nero, beduie my pa se mond.

Die muisie is wakker en knaag aan my. Meteens is die hele doek vol mense, duisende, hulle sit in rye in ’n groot ronde plek. Dis die meeste mense wat ek nog ooit gesien het, ook die grootste plek, ’n daklose kerk, ’n tentlose sirkus, ’n boomlose atletiekdag. Die muisie is skielik stil, ons albei weet hier kom groot, groot moeilikheid.

In die middel van die skare is ’n leë sirkel. Klein groepies mense begin verskyn, hulle lyk bang en klou aan mekaar.

Die Christene, beduie my ma se mond.

Nero lig sy vuis en ruk dit toe na onder.

Vullis! Dis al wat my pa se mond vorm.

Binne ’n dik muur lig ’n traliehek op en ’n groep leeus sluip my jong lewe binne. Hulle groot pote kap na die Christene, die duisende mense spring op en waai hulle vuiste in die lug, Nero glimlag breed, ’n maer vrou langs hom smul aan ’n tros druiwe. Teen ’n doek in Riebeek-Wes: waansin. Ek kan myself nie hoor nie, maar ek weet ek huil, op my ma se skoot word my boetie wakker en kyk na my, hy glimlag, ’n leeu ruk iemand se arm af, my pa tel my op en dra my na buite, ’n vreemde vrou bring vir my suikerwater.

’n Paar maande later het ons by Ouma-hulle gekuier. Een middag het ons Paarl toe gery om ’n rolprent te gaan kyk. Daar was ’n teater naby die Toringkerk, anders as by die inryteaters het ons baie na aan die doek gesit, soos die leeus by die kerkkamp was alles te groot en te naby. Die rolprent was Hawaii, ’n eienaardige storie met Julie Andrews in die hoofrol, dit het reeds drie jaar vroeër verskyn, maar is op dié dag in die Paarl gewys.

Julie Andrews en ’n klomp Engelse in uniforms het met ’n outydse skip gevaar op ’n rowwe oseaan. Daar het hulle die koningin of leidster van die eiland ontmoet. Dié was ’n reusevrou, sy was gefassineer deur die skip en wou dit van binne sien. Omdat sy te groot was om met ’n leer teen die kant op te klim, moes ’n primitiewe hyskraan gebou word. Anders as by die kerkkamp was al my sintuie volledig funksioneel en ek kon alles hoor. Was die branders te onstuimig? Was die musiek te dramaties? Teen die tyd dat die logge liggaam bo-oor die skip begin heen en weer swaai het, was dinge te veel. Ek het kliphard gehuil, moontlik gegil, ek was verstom oor (en ’n klein bietjie beïndruk met) my volume, maar ek kon dit nie keer nie. Weer moes my pa my uitdra, weer is ek buite met eetgoed gepaai tot kalmte.

Tot op dié stadium het die heelal bestaan uit Riebeek-Kasteel, Riebeek-Wes, Wellington en Paarl. Rome en Hawaii was ondenkbaar, dat mense sulke goed kon uitdink, so wreed en op so ’n skaal en sonder waarskuwing, was ondenkbaar, dat ons elke keer ná so ’n ontnugtering weer kon terugry huis toe asof daar niks verkeerd was nie, dit was ondenkbaar. Oorweldigend, onmoontlik, ondenkbaar.

Kyk na my

Подняться наверх