Читать книгу Kyk na my - Nataniël - Страница 13
Oorlog
ОглавлениеOf ons direk van die huis gery het, of ons eers Wellington toe is, of my boetie iewers afgelaai is, of ek ’n hoed opgehad het of nie, details soos hierdie is alles uitgewis deur my tweede noodkoma. Net die heel ergste oomblikke, die lewensgevaarlike prente, die mees barbaarse geluide, dit het gebly. Ons moes iewers parkeer het, ons moes seker ver gestap het, my pa sou my hand vasgehou het, dalk ’n kombers onder sy arm, my ma sou ’n sak of mandjie gedra het, op ’n stadium sou ons in ’n ry gestaan het, kaartjies gekoop het, aan oranje ysies gesuig het.
Die belewenis begin skielik, ontplof soos ’n onverwagse toneel – reuk, temperatuur, klank, beweging, gevoel, alles gelyk. Ek moes sandale aangehad het, my voete is wit van die stof en dis meer as bloot sien, ek kan dit voel, droog, droog, droog. Harde grond met ligte poeier wat om jou enkels wolk, platgetrapte gras, strooierig en skerp, soos klein messies steek dit tussen my oop tone. Om een of ander rede is ek kleiner as gewoonlik, kort en na aan die grond, op, op reik ek, maar ek bly onder. Ek sien stowwerige skoene, mans en vrouens is almal in dieselfde skoene, sommige skoene is bruin, nou sandkleurig van die stof, sommige skoene is swart, nou grys van die stof. Alle skoene is sigbaar, broeke se pype eindig by die enkels, roksome en onderrokvalletjies ook.
Die rokke: Elkeen ’n wye uitskopromp, met plooitjies gebring na die middellyf, vormlose bokant, pofmoue met strikkies op die elmboë. Die kleure is dof, ligpienk, ligblou, liggeel, liggroen. Niemand staan stil nie, die rokke is haastig, beslis op pad na ’n gebeurtenis, almal is geroep. Ek is te kort, ek kan nie die wêreld sien nie, die rokke bol om my, ek is ’n miertjie op ’n basaartafel, omring van sponskoeke, ’n groot vinger gaan my nou dooddruk. Ek ruk myself hoër, ek sien hulle skouers, wit kleedjies hang soos oor sitkamerstoele. Ek ruk myself weer, nog hoër, daar is geen gesigte, geen hare, net kappies, wit gedoentes wat eers bol soos die koppe van die seekatte in my prenteboek, dan tuit na vore. Agter hang geplooide flappe soos voor die klein venstertjies van Die Aarde-huisies.
Ek weet my ouers is weerskante van my, maar ek kyk nie na hulle nie, ek steier soos ’n opwen-eend deur die chaos, vooroor soos ons dorp se vet ooms in die aande loop, kanniemeernie-kanniestopnie-kanniemeernie-kanniestopnie.
Waar is ons? roep ek.
Hierdie is die Goodwood-skougronde, sê my ma, Dis die groot Republiekfees.
Ons moet ry! gil ek.
Wat praat jy? sê my ma, Ons het nog nie eens ’n plekkie gekry nie!
Wat maak hierdie mense? gil ek.
Hulle dans hier voor, sê my ma, Kyk daar! Sjoe, Pappa, het jy geweet soveel mense kan kringe maak?!
Voor ons verskyn ’n vlakte groter as die kerk, die skool en die koshuis se gronde saam. Daar is mense wat sirkels gevorm het en nou mekaar se hande vashou. Man, vrou, man, vrou, die mans het onderbaadjies aan, blou of oranje. Onderbaadjie, pofkoek, onderbaadjie, pofkoek, dertig of veertig in ’n sirkel, dertig of veertig sirkels in ’n leegte. Al die sirkels beweeg in die rondte, dis mooi. Lelik maak mooi. Maar die mooi is net die draai van die sirkels, nie die kappies nie, ook nie die onderbaadjies nie, ook nie die skoene nie en BESLIS nie die geluide nie. Lelik maak lelik. Hulle sing. Die hele spul sing. Dis ’n vrolike melodie, hulle sing met oorgawe, maar soos alle buitelugsang verdwyn dit onmiddellik. Daar is musiekinstrumente, ’n groot platform dien as ’n verhoog, lappe, oranje, wit en blou span om die karkas. Bo-op is ’n regopklavier, gespeel deur ’n vrou met ’n kappie, daar is ’n halfmaan van mans met kitare en trekklaviere en ’n bosbeer met ’n laphoed agter ’n stel tromme, ek herken al die instrumente. Heel voor staan ’n man met pikswart hare en ’n strikdas, hy lig ’n silwer pompie en ruk dit oop en toe soos wanneer Oupa die vuur aan die gang kry. Die pompie skree moord, Die Vuurhoutjies martel weer ’n kat of jaag ’n varkbaba.
Mens noem dit volkspele, sê my ma.
En dis die laaste woorde van die dag.
Ek sien hoe my pa die kombers oopgooi, hoe my ma gaan sit en ’n plastiekbak uit die mandjie haal. Ons gaan lank hier bly, in hierdie plat hel. Nero is skielik daar, lewensgroot tussen twee trekklaviere, hy lig sy vuis en ruk dit na onder. Die hekke lig en die leeus storm. Hulle vreet die man met die strikdas en die pompie eerste. Bloed op die kappies, bloed op die skoene. Doef! Doef! klop my ore. En toe is alle klank weg. Dis weer stil. Soos op Riebeek-Wes is dit ’n gemaal van mense, oop monde, handgebare, skares in die arena, skares wat toekyk, ek hoor niks.
Die volgende Saterdag dra my ma haar mandjie by die voordeur uit.
Kom, sê sy, Gaan was jou hande dat ons kan ry. En vat van jou boeke dat jy iets het om te doen.
Waar gaan ons nou? vra ek.
Ons gaan braai! sê my ma, Ek het jou mos gesê. En bring jou broer se rooi kombersie, hy gaan slaap nog voor ons eet.
Ek gaan die kombers haal, maar ek gaan nie saam nie!
Wat sê jy?
Ek gaan nie saam nie, ek haat daai mense.
Van wanneer af praat ons so? Waar het jy daai woord geleer?
Hulle huis is lelik en hulle sê simpel goed.
Eben! roep my ma.
My pa verskyn uit die motorhuis.
Iemand het besluit hy gaan nie meer saam nie, sê my ma.
My pa kyk na my.
Gaan jy self inklim of moet ek jou kom haal?
Ek klim op met die trappies, loop in by die huis, was nie my hande nie, gryp die rooi kombers en gaan klim in die motor. Vyf minute later hou ons stil by die huis met die vergeet-gesigte. My boetie spring uit en hardloop na die swaai agter die sleepwaens. Die mense kom groet, die vrou kyk na my.
Klim hy nie uit?
Nee jong, sê my ma, Hy’s weer vol geite.
Lekker sit! sê die vrou.
Simpel ding.
Ek lê op die agterste sitplek, die ure voel soos weke. As hulle wil aanhou om my te vat waar ek nie wil wees nie, sal ek hulle wys. Daar agter in die motor verklaar ek oorlog, ek weet nie dat dit ’n vyftienjaaroorlog gaan wees nie, ek het wel begin leer dat die besluite wat ek neem wanneer ek woedend is, my bestes is, niks laat my dan van plan verander nie. So bly ek lê totdat my bene later dood voel. Een keer kom kyk my pa. Ek lê met my oë toe. Later maak my ma die deur oop.
Hier is tjoppies, sê sy, En daai dun wors waarvan jy so hou. En braaibrood. En skuimpoeding. Met vla. Kom eet gou.
Ek maak of ek slaap. My ma loop. Later slaap ek rêrig en word eers wakker toe my pa my optel en by die huis indra. My maag pyn van die honger. Ek kry myself verskriklik jammer, maar ek sal nie huil nie, ook nie eet nie, ook nie praat nie. Dis oorlog.