Читать книгу Die Poort 4: Krygers - Nelia Engelbrecht - Страница 10
7
ОглавлениеDie aandete is toe ’n baie grand storie, met ’n klomp vreemde Bewakers wat met bote van Venesië af aangery word as gaste.
“Wow, dude, jou oupa het nie teruggehou nie,” sê Jason toe hy met ’n volgelaaide bord kos langs Nomsa kom sit.
“My oupa hou daarvan om mense te impress,” brom Leonardo suur.
“Wel, count me in; ek’s impressed,” sê Jason en val die oorlede Italiaanse hoender op sy bord met mening aan.
“Al hierdie goed is seker egte, regte silwer en kristal?” vra Nomsa terwyl sy met haar vurk teen ’n glinsterende kandelaar met lang rooi kerse tik en toe ’n sluk vat uit ’n glas wat heeltemal te fancy vir ’n waterglas lyk.
“My oupa het mos sy eie glasblasery op die Murano-eiland,” sê Adriana so casual soos iemand wat sê haar oupa maak sy eie blikbekers. “Van sy ontwerpers het al baie internasionale kompetisies gewen.”
“Awesome,” sê Jason terwyl hy met ’n stywe wit lapservet ’n vetkol op sy ken afvee.
’n Halfuur later begin ons pelle wegslip. Ek en Leonardo is die laaste twee wat by ons tafel agterbly.
“Wanneer laas het jy en Zak gepraat?” vra hy terwyl hy sy poedinglepel bestudeer.
My nekhare rys. “Hoekom wil jy weet?”
“Ek wonder maar net of jy al met hom uitgemaak het.”
“Ek het nog nie kans gehad nie. Ek sal nog.”
“Wanneer, Kali?” vra hy sag. “Of is dit net vir my wat jy nie wil hê nie?”
Sy swart oë glim in die kerslig. Ek ruik warm sonlig op seesand. Daar is ’n verdwaalde druppeltjie room in sy een mondhoek. Ek lig my hand. Sy lip is sag onder my vingerpunt. Alle klank om ons raak stil. Ons hou saam asem op terwyl ons harte ritmies klop en klop.
Dan bars die bubble. Ek ruk my hand terug. “Sorry.”
Jis, ek sweer my wange gloei bloedrooi. Ek wil opspring en weghol, maar my bene voel soos Italiaanse roomys wat besig is om te smelt.
“Wow.” Leonardo glimlag. “Dis baie sexy as jy so bloos.”
“Jy verbeel jou.” Ek dwing my roomysbene om op te staan. “Kom, ons moet gaan, die ander wag seker al.”
Gelukkig keer niemand ons voor nie. Ons vleg tussen die gaste deur tot buite in die tuin agter die hotel waar die ander vir ons wag.
“Oukei. Is julle reg? Vat hande.”
“Jy bedoel ons gaan nie met ’n boot …”
Voor Nomsa se sin klaar is, staan ons al in die Portaal.
“Leonardo Contarini, as jou GPS my vandag in Venesië se vuil kanaalwater laat land, is daar groot moeilikheid!”
“Relax, Nomsa. Ek weet presies waarheen ons gaan.”
“Where are we?” vra Tara toe die mis om ons begin verdwyn.
“Naby een van die plekke waar die gondels vasmeer,” antwoord Leonardo.
Die donker stegie is so nou dat daar skaars drie mense langs mekaar kan loop.
“So much vir Venesië se exciting naglewe,” sê Nomsa toe ons om ’n hoek gaan en net hier en daar ’n toeris sien rondloop.
“Ja, wel, dinge is nie altyd soos dit lyk nie.” Hy beduie na ’n deur waarvan die vaalblou verf hier en daar afskilfer. “Agter daardie deur is een van die hipste nagklubs in die stad, maar om daar in te kom, moet jy die regte toegangskaart hê.”
Ek lig my wenkbroue. “Ek neem aan jy het dit?”
“Jip, ek het gedink my oupa sal nie omgee as ons dit bietjie leen nie. Maar voor ons gaan party, gaan ons eers gondel ry.”
’n Entjie verder wieg ses swart gondels wat aan houtpale vas is, sag op die water. Die gondeliers, met hulle swart langbroeke en wit-en-swart-gestreepte T-hemde, staan eenkant en gesels. Twee van hulle kom nader toe hulle ons sien en groet vir Leonardo asof hulle ou pelle is.
“Right, julle vier lovebirds kan saam met Guiseppe gaan,” sê Leonardo. “Tara, jy en Kali kom saam met my. Antonio is ons gondelier.”
Die kort, stewige Italianer lig sy pet en groet voor ons hom tot by een van die gondels volg. Terwyl hy die gondel losmaak en met ’n roeispaan van die kant af wegstoot, trek Mr Wikipedia los.
“’n Gondel is omtrent 11 meter lank en weeg 600 kg,” vertel Leonardo. “Die ouens bou dit van hout in fabrieke wat ons squeri noem. ’n Paar honderd jaar gelede was daar omtrent 10 000 gondels op die water, maar nou is daar net so 500. Die gondels is actually net daar om toeriste af te rip – die locals ry met vaporetti wat gewone bote is, of met traghetti wat amper soos groot nie-so-grand-gondels lyk en twee roeiers het.”
Die gondel met Nomsa, die tweeling en Adriana, gly skuins voor ons oor die water. Die nag ruik na nat koue en donker skadu’s.
Antonio buk toe ons onder ’n lae brug deur vaar. Dan is ons saam met ’n paar ander bote en gondels in die Groot Kanaal. Weerskante van die kanaal weerkaats die ligte van geboue en straatlampe op die water.
Leonardo beduie na ’n groot brug ’n ent vorentoe. “Dit is die Ponte di Rialto. Dis in 1591 gebou en was vir driehonderd jaar die enigste brug oor die Groot Kanaal.”
Ons is in ’n gondel op Venesië se Groot Kanaal en netnou gaan ons onder die Rialto-brug deur vaar. Hoekom is my hart dan so swaar? Is dit omdat ek alleen op ’n bankie sit terwyl Tara en Leonardo langs mekaar op die oorkantste bankie sit en gesels? Of omdat die twee couples in Guiseppe se gondel hande vashou?
Hart-seer verdof die prentjiemooi toneel voor my. Ek wens Zak was hier. My liewe Zak met sy heuning-en-sonlig-oë en sy rooibruin kuif. My kleintydse speelmaat wat al so lank my hart in sy hande hou.
Ek sluk en knip my oë. As ons nie Bewakers was nie en daar nie goed soos Poorte en Ander was nie, het Zak dalk nou saam met my na die Rialto-brug gestaar terwyl Venesië se ligte om ons op die water wieg.
Ek vat aan my nek. Ouch. Brand die merk nou al as ek net aan Poorte en Ander dink?
Something is wrong, sein Tara ’n sekonde voor twee motorbote naderdreun en voor ons gondalas insny. Die bote se enjins veroorsaak golwe wat tot in die gondels slaan. Ons gondelier roep uit en swaai sy vuis in die rigting van die naaste boot.
Vure slaan oral op my lyf uit en verander my bloed in lawa. Ek staar deur ’n rooi waas na die mans met hulle swart klere. Een van hulle het ’n lang, wit poniestert. Hy glimlag smalend terwyl hy sy laserpistool lig.
Dis Chanda-Mundia en die bek van sy pistool wys na ’n plek tussen my oë.