Читать книгу Lojale verset - N.P. Van Wyk Louw - Страница 5
Kultuurleiers sonder kultuur
ОглавлениеVir iemand wat die geestelike strominge in Suid-Afrika noukeurig nagaan, sal die merkwaardigste verskynsel in ons eie tyd op hierdie gebied seker die groei van die Afrikaanse kultuurverenigings wees, vanaf die kleinste plaaslike verenigings tot die F.A.K., die kultuurrade en die Akademie – hul groei in getal, in die omvang van hul werk en in hul steeds hegter samesnoering en organisasie. Die toekomstige skrywer van ons beskawingsgeskiedenis sal moontlik die kwarteeu ná ongeveer 1925 “Die Tydperk van die Kultuurorganisasies” noem. Ek twyfel daaraan of die kultuur in enige ander land ter wêreld soseer ’n saak vir organisasies is. In die ou en sterk kultuurlande leef en groei dit so vanself dat “kultuur” en “organisasie” eerder as twee teenoorgesteldes beskou word.
En tog is hierdie eienaardige ontwikkeling by ons noodsaaklik. Die Afrikaner is in ’n totaal ander omgewing geplaas as die kultuurvolke waaruit hy ontstaan het. Hy kom uit digbevolkte lande – Holland, Duitsland, Frankryk en Engeland – waar die opeenhoping van die bevolking in pragtige ryk stede vanself die opbloei van die kultuur bevorder, en hy kom woon yl-versprei oor ’n wye land wat hom in die plek daarvan ’n vreemde eensaamheid gee; hy kom uit lande waar die kultuur uit ’n sterk homogene bevolking spruit, met een oorheersende taal, wat dit tot ’n kragtige eenheid bind – en hy bevind hom hier in ’n land waarin sy mense tussen blanke anderstaliges met ’n ander kultuur woon en waar die hele blanke bevolking nog weer in die geweldige massa swartes – anders van bloed, kultuur en taal – ingeknie is. Die rede waarom hy vandag nie in hierdie menggroep ondergaan nie, is alleen omdat hy vir hom die nuwe orgaan van sy kultuurorganisasies gekweek het, iets wat hom saamsnoer tot ’n eenheid wat hy territoriaal nie besit nie. Dit is sy manier om hom aan te pas by die nuwe omstandighede in die nuwe land, net soos die wit pels van die poolvos of die vetblare van die Karooplant aanpassingsorgane is. Die organisasies sorg vir die noodsaaklike “bloedsomloop” van die kultuurgoedere, wat so maklik plaasvind in die ouer, digbevolkte lande waar – om net één ding te noem – die boekhandel soveel makliker tot hoë ontwikkeling kom.
En juis omdat hierdie vorm van organisasie so noodsaaklik vir ons voortbestaan as volk is, sal dit ook nog baie verder ontwikkel, sowel wat omvang as integrasie betref. Ons staan nog maar eintlik aan die begin van hierdie groot ontwikkeling. Die dag sal kom dat daar ’n net van Afrikaanse kultuurorganisasies oor ons land uitgestrek lê waarin elke Afrikaner, van die geringste tot die hoogste, betrokke sal wees; wat waarskynlik sterk sentraal saamgesnoer sal wees en soos ’n piramide sal oploop tot sy spits, en waarin alle belange van die Afrikaner as aparte groep verteenwoordig sal wees. Dit is ’n toekomstige ontwikkeling wat los staan van alle politieke oorwegings en wat alleen deur die volk se wil om te bestaan, bepaal sal word. Maar omdat hierdie nuwe ontwikkeling so groot en vir ons volk so van die uiterste belang is, moet ons dit noukeurig en skerp-krities volg en enige gevaar wat daarin steek betyds erken. Om ons kultuurorganisasies se ontwikkeling gedurig krities te toets, is net soseer ’n volksaak as om hulle aan te moedig.
En dadelik, nog sonder verwysing na wat by ons gebeur, staan daar voor wie die saak oorweeg, een vraagstuk helder op: organisasie is iets uiterliks, ’n werking met konkrete, byna tasbare dinge, iets luidrugtigs, iets wat verwant is aan die mark en die raadsvergadering, ’n mag tussen die magte van die wêreld; kultuur is van die gees, van die mens se innerlike, ontasbaar en stil en skugter; ook magtig, maar met die mag van die martelaar eerder as van die beul. Die organisasie soek en skep vastigheid, ’n staalstellasie vir die bouwerk van die gees; die kultuur is die rustelose en vloeibare, die gedurige hervorming en herskepping van die geestelike waardes in elke mens. Sal die kultuur, wat so geaard is, nou nie sy wese self verloën of verloor wanneer hy die bondgenootskap met die organisasie aangaan nie? Hoe kan die begrippe kultuur en organisasie versoen word? Sal die poging om ’n kultuur deur intensiewe organisasie te bestendig, nie tot die ondergang van die kultuur as lewende krag lei nie?
Twee gevare kan voor die dag tree: ’n volk (of sy leiers) kan die kultuur beskou as iets wat klaar gemaak is, ’n vaste grootheid – ’n hoeveelheid vaste gewoontes, waarhede en “erkende” kunswerke – iets wat net so op ander oorgedra kan word. Dit is ’n fout wat maklik begaan word, want dit is juis die klaar-kultuur wat organiseerbaar is. So kan ons besluit om die Afrikaanse kleredrag van 1840, of die Afrikaanse kunsproduksie van 1905–1939, of die Afrikaanse sedes of politieke ideë van ’n willekeurige gekose tydperk in ons geskiedenis te kanoniseer as enige norm, as die enigste Afrikaanse kultuur vas te lê. En sodanige kultuur kan ons dan deur organisasies verbrei. Maar dit sal soos water uit ons vingers loop, dit moet ons weet, en ons sal nie met kultuur nie, maar met niks bly sit. Want die ewig-skeppende gees van die mense sal tot ander gestaltes voortskry – tot nuwe kuns en ander sedes en dieper waarheid; en die jong kunstenaar, die jong denker en die jong mens van die daad sal teen ons opstaan met die krag van hul eie skeppende oortuiging, en opstaan in die naam van die kultuur – die ewig-skeppende – wat ons wou red maar wat hulle sal besit.
Laat ek dít sê vir Afrikaners wat graag ’n “Voortrekker”- of ’n “Boere”-kultuur by ons wil bestendig – as “Voortrekker” of “Boere” nie net dieselfde as “Afrikaner”-kultuur beteken nie –: dat ons kultuur nooit dié van honderd jaar gelede, nie eens dié van veertig of van tien jaar gelede kan wees nie – 1925 en sy vraagstukke lyk al vir ons vandag soos ou geskiedenis – en elke geslag Afrikaners is net so “unmittelbar zu Gott”, het net soveel die plig om uit eie krag kultuur te skep as enige voorafgaande geslag. Dit is ’n voorreg waaraan ons nie kan ontvlug nie. Die kern en die bronaar van die kultuur is die vryheid, die vryheid om nuwe waarheid en skoonheid te skep en na nuwe self-gewonne insig te handel; en as die kloppende lewe van daardie vryheid deur enige organisasie (ook deur ’n staat) geknel word, sal die kultuur self sterwe, of hy sal die bande verbreek (al is dit dan maar ná jare) soos die Middeleeue eenmaal verbreek is.
Die groot, byna onmoontlike taak van ’n kultuurorganisasie is dus om naby die groeipunte van die kultuur te bly; om sy eie starre vorm gedeeltelik te verloën en self iets van die vloeibare van die kultuur aan te neem. Ek noem die taak “byna onmoontlik”, want dit is meer as ’n saak van “op die hoogte bly”, van lees wat plaasvind, ens. – dit sou kultuurleiers nogal kon doen – maar aangesien daar op die groeipunte altyd stryd en onsekerheid is, vereis dit die keuse tussen botsende standpunte, en ook nog die keuse van die regte kant; dit vereis feitlik saamstry in die voorste geledere. En dit is juis wat vir die organisasie so onmoontlik is; daarom ook sien ons dat die staat (selfs ’n goeie staat) of sy amptelike liggame gewoonlik so erg mistas met die beloon en aanmoedig van eietydse kuns. Wat sou die Franse “Kultuur”-minister van destyds sê as die Franse volk hom die £20 wat sy departement vir die sterwende Baudelaire afgeknyp het, kon terugsmyt? Of dink maar aan die Académie se verbasing dat daardie einste Baudelaire hom kon aanbied as kandidaat vir ’n liggaam wat vol Augiers en selfs Villemains gesit het! Of kyk na ons eie tyd: is Anacker, die wenner van die Duitse volksprys vir literatuur, die heersende vors onder die Duitse digters?
Maar die kuns, dit moet ons onthou, is net een van die groeipunte in die kultuur; daar is nog ander, daar is ook nog die ontwikkeling van ’n volk tot nuwe waarheid en nuwe wêreldbeskouings, tot nuwe sedelike insigte – nog gevaarliker strydgebiede vir die organisasie om hom op te begewe.
’n Oplossing of versoening sal hier alleen ’n gedeeltelike kan wees. Die organisasie sal nooit heeltemal van sy starheid en vastheid loskom nie; en daarom sal hy gedurig in botsing met die groeiende kultuur lewe – hy sal waarskynlik vir sy ratser vriend en teenstander altyd ’n bietjie bespotlik lyk. Maar die botsing sal minder hewig wees wanneer die organisasie erken dat hy in die lewe van die gees die mindere is, dat hy middel is en die kultuur doel, en wanneer hy dus ’n fiere nederigheid aankweek wat op die erkenning van eie wese en grense berus. Of die organisasie in Suid-Afrika nederig is teenoor die kultuur, bespreek ek nie nou nie, maar ek betwyfel dit. Soms lyk dit asof hy hom tussen die volk en die kultuur inskuif, skoon asof hy self die waardevolle en die doel is.
Maar die gedeeltelike versoening van kultuur en organisasie wat tog moontlik is, is moontlik alleen deur die persoonlikheid van die kultuurleier; en dit voer ons in die midde van die tweede gevaarplek in.
Met die twee menslike waardes waaroor ek skrywe – organisasie en kultuur – slaan twee menslike tipes ooreen: die “organisasiemens” en die “kultuurmens”. Ek wil nie met hierdie eenvoudige indeling iets afdoen aan die oneindige ingewikkeldheid van elke mens se persoonlikheid nie, en ek wil ook geen sielkundige tipologie opstel nie. Maar van die standpunt van hierdie vraestelling gesien, bestaan daar onder mense wat in die kultuurorganisasie betrokke is dié twee tipes.
Die “organisasiemens” is makliker om te teken, want hy leef meer na buite toe uit. Sy “hart” is gewoonlik “reg”, hy wil die goeie; maar aan die hele bedryf is dit tog die uiterlike dinge van die organisasie wat hom die meeste tref: hy woon graag vergaderings en bestuursvergaderings by; hy hou van possies en baantjies; mosies en amendemente is sy kos; hy hou vurig koukus en hy werf stemme; hy sal die hele aand by ’n deur sit om kaartjies te skeur en van al die “kultuur”-verrigtings daarbinne niks weet nie – en sal gelukkig wees daaronder; hy is gewoonlik so besig met hierdie dinge dat hy geen tyd kry om te lees, te dink of diep te voel nie; hy is in die kultuur alleen ’n aanvaarder. So iemand is ’n uiters nuttige en onmisbare lid van enige organisasie. Maar hy word ook ’n gevaar. Deur sy ywer en onmisbaarheid word hy ’n leier, ’n “kultuur”-leier; hy word voorsitter, afgevaardigde na volkskongresse en volksman!
In hierdie hoër kringe word dié tipe “organisasiemens” nou weer in twee ondertipes verdeel. As hy min intelligensie het, word hy een van die mense wat vir die eenparige besluite van ons kultuurkongresse stem, ’n verharde luisteraar na toesprake en referate (iemand anders sit nou by die deur), ’n waardige kongresganger en ’n gewigtigdoende verslaggewer van die “verrigtings” wanneer hy in sy eie vereniging terugkeer.
Maar as hy intelligenter is (of ’n hoë amp beklee), is dit ’n ernstiger saak. Hy word nou ’n voorman en ’n volksleier: hy luister nie, maar lewer referate; hy moet rigting gee aan daardie einste kultuur waarvoor hy weens drukke werksaamhede geen tyd kan kry nie. Hy word byna ’n kultuurminister, d.w.s. in naam ’n “dienaar”, in werklikheid ’n heer van die kultuur.
Hierdie tweede soort “organisasiemens” in ons kultuur sien ons dikwels voor ons, meestal op verhoë. Hulle weet nie niks van die kultuur af nie – dan sou hulle darem nie daar gekom het waar hulle is nie – maar die kultuur het lankal ’n dooie ding, ’n werktuig vir hulle geword. Alles wat eenmaal lewe was, het versteen. Ons herken hulle aan die eenvormigheid van die gebare, aan die verstarde leuses, aan die roerende patos waarmee hulle die stryd van 1920 met die frases van 1921 uitstry – eenmaal was hulle wel op die hoogte – en hulle donder in ons ore ’n onwrikbare vertroue in die gemeenplase van ons eie jeug in. En as dit ’n goeie redenaar is, of as hy ’n mooi vertoning maak, klap ons in die massa-opwinding dalk saam die hande; maar as ons huis toe gaan, het die “kultuur” vir ons onbewus ’n ietsie minder in sy waarde geword.
Die “kultuurmens” is moeiliker om te teken, want hy lewe veel meer na binne toe uit wat ’n mens nie sien nie. Hy versmaai die toneelgebaar en die groot geluid ’n bietjie; hy skat die possies en baantjies van die kultuur na hul waarde en soek hulle nie; hy het soveel tyd nodig vir die noodsaaklike dinge – dink, voel, geniet, soms skep – dat hy party van die nuttiges nalaat. Maar die werklike geesteslewe van die volk bestaan enkel en alleen in hom, in sy bewussyn, in sy gedurige herskep van die kultuur. Die dooie pakke papier en ink wat houtrakke vul, word lewende skoonheid en waarheid deur hom omdat hy die boeke lees; die swart stippels op wit velle wat die mensdom bymekaargemaak het, word musiek omdat hy dit hoor; doek en verf word beelde deur sy oog, en al die groot denkers van die wêreld herleef deur hom omdat hy hul gedagtes weer deurdink.
“Organisasiemens” en “kultuurmens” het weinig met mekaar gemeen, al sit hulle saam aan dieselfde tafel. Dit gebeur wel dat een persoon albei kan wees, maar dit kom selde voor.
En nou is die vraag vir ons: watter van die twee is die leier in die kultuurorganisasie en in ons eie kultuurorganisasie? As ons eerlik is, sal ons hier bitter waarheid ontdek. Maar die saak is vir ons uiteindelik van soveel belang dat ons nie oneerlik durf wees nie.
Neem nou ’n keer die Afrikaanse kultuurvoormanne van enige deel van ons land, een vir een nugter en eintlik bang vir ons volksaak voor die oë, en vra by elkeen: “Is hy iemand wat lees, wat hom die tyd gun om te dink, wat dikwels oor werklik ernstige dinge praat, wat op die hoogte is van wat in ons land, in ons taal en in ons kuns geskied, of wat probeer om op die hoogte te bly; bestaan daar meer vir hom as sy amp, sy vermaak, en dan sy kultuurorganisasie?” (Dis maar swak en uiterlike kenmerke van die “kultuurmens” hierdie, maar dit kan tog as toets dien.) En as u so vra, sal daar maar min wees, vrees ek, van wie u u daardie versekering sal kan gee. By professore, onderwysers en ander manne van die vak moet u ook onthou dat hul vak – Afrikaanse literatuur, wysbegeerte of kuns – vir hulle ’n werktuig is soos die boer se ploeg vir hom is; en om billik te wees, moet u by sulkes dan vra: “Het hy ander gebiede van die geesteslewe buitekant sy vak om (bv. ander literature) waarin hy belang stel, leef hy dieper of wyer as wat sy broodwinning vereis, of het die amp en die toeval hom ‘kultuurmens’ gemaak?” Daar bestaan nie so ’n ding as ’n professionele “kultuurmens” nie.
Bekyk verder ons hoogste kultuurliggame en -rade. Hoeveel sit daarin wat werklik “kultuurmense” is, en hoeveel is daar ampshalwe en so te sê per ongeluk? Ons wa se wiele het in die afgelope jare dik aangepak, en ons moet nie verbaas wees as ons swaar ry nie.
In die organisasie van die kultuur het die “organisasiemens” ’n voorsprong en kry hy eerder die leiding in die hande. En dit voer uiteindelik daarheen dat die kultuur glip uit die nette van wie hom van buite af wou vang; dat die verrigtings en feeste van daardie organiseerders niks met die kultuur of die skoonheid te doen het nie; en dat die bestes van die volk hulle daarvan begin afwend of die verrigtings bywoon nog alleen omdat hulle dit as plig beskou om die “saak” te ondersteun. Maar hierdie sekondêre soort ondersteuning, uit plig, nie uit behoefte nie, sal uitsterf by ’n volgende geslag wat nie die Afrikaner se stryd om erkenning meegemaak het nie. Dit sterf nou al uit – en nie by die onverskilliges alleen nie! Maar as ons die dag sover gekom het, sal ons die “kultuurmense”, ’n volk se natuurlike aristokrasie, vir ons saak verloor, en dan sal geen hoeveelheid massapropaganda ons van ondergang red nie.
Waar die blote “organisasiemens” die kultuur in die hande kry, is hy vir ons in twee opsigte gevaarlik: hy kom in aanraking met, hy word gehoor of gelees deur mense wat nog vir ons saak gewen moet word; en as hulle self beskaafde mense is (ons moet nooit vergeet dat daar sulke mense buite ons beweging bestaan nie), kry hulle die gedagte dat die hele saak net so voos van binne is as die voorman; en dan ook is hy gevaarlik omdat hy die jeug en die intellektueles binne ons beweging die gedagte gee dat ons “kultuur” ’n saak van lawaai en leuses-uitskreeu is. Hierdie tweede is uiteindelik vir ons die gevaarlikste. Dit stoot, soos ek gesê het, ons bestes af en uit.
Hoe moet kultuur en organisasie dan nader aan mekaar gebring word? Moet ons naderhand aan ons eie kultuurleiers begin arbei? Maar dit lyk onmoontlik: elke predikant weet dat die ou vaste roetine-kerkgangers moeiliker is om te bekeer as die verharde sondaar wat nooit in die gebou kom nie!
Ons “kultuurmense” dra self die skuld. Daar staan nog te veel van hulle buite ons organisasie. Dit is ’n verstaanbare versuim. Die “kultuurmens” hou nie van die stryd en die luidrugtigheid van die vergadering, of van die uiterlike en die sleurwerk wat verbonde is aan die opbou van ’n organisasie nie. Hy is soms onhandig daarin; hy voel hom ontuis soos ’n vreemdeling. Die werk is soms te eenvoudig vir hom, soms te nederig. Maar hy sien die rigting helder waar ander net die pad sien.
Met die pragtige beeld van die grotbewoners in die sewende boek van sy “Staat” het Plato vir ons die “kultuurmens” in sy verhouding tot die gemeenskap onvergelyklik mooi geteken: die “kultuurmens” is hy wat uit die grot ontsnap het, waar die ander net die skaduwees van die dinge teen die mure sien beweeg; hy het in die sonlig uitgekom en die werklike dinge gesien; al sy waardebepalings het verander; hy het afkerig geword van die stelsel van belonings vir die man wat die beste oog vir die skadudinge besit …
En “as hierdie man nou weer sou afgaan en sy setel in die vorige plek inneem, sou sy oë nie vol donkerte wees omdat hy pas uit die sonlig gekom het nie … ?”
En die “kultuurmens” is ook onwillig om in daardie gemeenskap af te gaan waar domheid en onkunde gevind word. “Sou hy nie,” vra Plato, “verkies om in die sonlig ’n slaaf of die huurling van ’n slaaf te wees liewer as om weer in die grot af te gaan nie?”
So staan die “kultuurmens” teenoor die wêreld van die organisasies waar baie nederige werk ook verrig moet word. So bly baie van die beste onder ons Afrikaners buitekant die werkplek van ons volksaak. En met hierdie afkeer is die “kultuurmens” trou aan sy eie aard.
Maar hier weer stel die besondere posisie van die Afrikaanse volk besondere eise aan die Afrikaanse “kultuurmens”. Ons het nog geen veilige besit nie. Kultureel is ons ’n beleërde stad wat nog na alle kante toe moet skiet. Geen amptelike erkenning van regte verander hierdie toestand wesenlik nie – dit skep vir ons alleen die moontlikheid van die stryd.
Die strydbaarheid van ons kultuur is nie iets wat van buite af daaraan geheg is nie; dit is ook geen grensoorskryding, geen poging om die geestelike besit van ons volk op ander oor te dra nie, soos die kultuurpropaganda van die imperialistiese volke dit soms is nie. Die strydbaarheid is deel van ons lewe. Dit is as swaar taak aan ons opgedra deur die ligging van ons volk tussen die magtige Engelse kultuur en die swart massa van Afrika in. As ons nie daardie strydbaarheid gehad het nie, sou ons as volk en as kern van Afrikaanse kultuurwil verdwyn het, en dan sou die “kultuurmens” ook nie die moontlikheid van sy stille herskepping gehad het nie. Sy stilte om tot homself in te keer, lê alleen veilig tussen die skanse waaruit die skote knal.
Daarom mag hy hom nie aan die stryd en aan die organisasie onttrek nie. Die tipe “kultuurmens” sal by ons anders wees as by ander volke; en ek glo dan ook aan geen abstrakte, algemeen menslike “kultuurlewe” wat in Londen of Amsterdam of Sjanghai of Kaapstad dieselfde sal wees nie; ons stryd sowel as ons sonlig sal in ons eie êrens moet deurbreek. Maar Plato se onsterflike woorde geld hier vir ons soos vir die “kultuurmens” van weinig ander volke:
“Julle moet dus om die beurt afgaan om saam met die ander mense van die stad te woon, en julle moet gewoond raak daaraan om die donker voorwerpe te sien; want as julle daaraan gewoond is, sal julle duisend maal beter kan sien as dié wat daar woon; en julle sal weet wat elkeen van die beelde is en waarvan dit ’n beeld is, omdat julle die waarheid gesien het van wat skoon en reg en goed is. En dan sal die stad wat julle en ons s’n is ’n werklikheid van die nugter-wakker lewe word en nie ’n droom soos die meeste stede wat bestaan nie …”
Februarie 1939