Читать книгу Lojale verset - N.P. Van Wyk Louw - Страница 8
’n Toneelopvoering in Kaapstad
ОглавлениеGisteraand was daar nou weer so ’n gehoor soos jy in die stad kry. Vrot stuk, goeie spel; maar so ’n mislike gehoor – al die welgesteldes, die vername staatsamptenare, die bestuurslede van kultuurverenigings, ja, al die kultuurolannas …
Kan ’n gehoor by ons goeie dinge waardeer: mooi, innige, stil, of groot tragiese dinge, maar mooi, en eg … ’n stuk waarin ’n mens dit gewaag het om die verborge dinge van sy hart bloot te lê, nie net vermaak of ’n goeie verhaal nie? Of is die egte dinge net vir die weiniges, en wil die gehore sensasie, Grand Guignol, vermaak, “lekker lag-goed” hê? Ek onthou nog die aanmerkings van L.V.’s en ander lede van die intelligentsia by “Boumeester Solness”, wat vroeër hier mooi gespeel is.
Dit is nie intelligensie alleen wat in die waardering van kuns beslis nie, soos ek al gemeen het (miskien weens die gebrek daaraan by ons); dit is ook ’n ontevredenheid, ’n bekendheid met pyn, ’n sekere skrynerigheid van die hart. Skoon botte verstand sal jy nogal hier meer volop as elders kry: dit is vir ons ’n uitgesoekte gehoor; maar uitgesoek volgens geld, stand of geleerdheid, nie volgens fynheid van aanvoeling nie.
Almal wat smart ken, wat nog rusteloos is, leeg, honger; wat in geslagtelike en ander sake onbevredig is: jong meisies en seuns wat nog nie deur die “vrolikheid” in besit geneem is nie; baie vrouens, weduwees, oumense; almal wat iemand dierbaar verloor het en hul smart nog jonk in hulle voel, almal wat om iets onbereikbaars treur; almal wat die metafisiese smart, die eintlike skoonheidsverlange, ken … húlle kan die mooi dinge waardeer as hulle ook die vermoë om te verstaan, daarby besit.
Dit is die vet en tevrede burgermense, soms rykes, soms verstandiges, die hooggeplaastes, die aansienlikes (in soverre as hulle nie ’n eie smart en ontevredenheid het wat bokant hul sukses en eerbejag uitgaan, en hulle óók van die rusteloses maak nie) – dis hulle wat die mislike toneelgehoor vorm. Dis hulle wat net vermaak wil wees deur dinge wat hulle nie diep roer nie. Hul grootste vrees is dat hul rus deur die smart sal aangetas word. Dis hulle wat op die verkeerde plekke lag … as hul beskawing nie die gelag tot ’n glimlag, ’n oulike knipoog of ’n stampie in die ribbes vir hul vrou of buurman demp nie; maar lag waar die natuurlike taal van die hart eenmaal deur die dood-gewone spel en die banale woorde van die stuk deurbreek, waar daar skielik ’n mens alleen of ’n mens met ’n mens soos in ’n kamer praat … En hulle moet lag omdat hulle alle mooiheid en lewendigheid dadelik deur hul eie banaliteit moet neutraliseer, anders word dit ’n rotsblok wat op hulle afrol en hul vredetjie te pletter loop. En as hulle ná ’n stuk wat jou plek-plek diep geroer het, huis toe gaan, tee toe, of glasie toe en daarna burgermansbed toe … in die gange en by die deure: kyk die begroetings van vriende, die gemoedelike laggies, die banale praatjies en vriendelike nag-sêery. Het hierdie mense nou-net iets moois gesien? Waar is hul verslaentheid of hul stilte?
Hulle is die ondergang van alle kuns en alle geestelike lewe.
Moet die “romantiese” dan heers in die lewe? Die naam is verkeerd hier. Ons moet liewers sê: die “digterlikheid” of die “skoonheidsliefde”, of die “onmiddellike eerlikheid teenoor die lewe” – dié moet heers. Die ontvanklikheid vir wat mooi is, die drang daarnatoe. Dit wat alleen by die ontevredenes, die verlangendes, die mense wat smart ken, te kry is.
“Romantiek” in die alledaagse lewe is eerder die burgerlike navolging van daardie skoonheidsliefde.
Selfs die botheid van die kleinburgery moet erken dat dié liefde hoër as hul eie lewe is, omdat dit die hoogste lewe is – objektief en algemeen, en herkenbaar deur die onmiddellike insig as die hoogste … Maar hulle vrees dit nog net so, want dit is die vernietiging van alles wat hulle het en is. Daarom maak hulle vir hulle ’n afgod, ’n namaaksel van daardie “Verskriklike”; hulle gee hom konkrete, ongevaarlike en vertroude attribute – maanlig, rose, sonsondergange, windmeulens, ens. – omdat hulle sy werklike attribute: vrees, drif, eensaamheid, verafsku. Dit is wat hulle “romantiek” noem.
Dit is net ver genoeg van hul gewone lewes of om interessant te wees en soos ’n beeld van die vreeslike verlange te lyk. Maar dit is vir hulle veilig, en as hulle dan ooit in die gevaar kom om êrens van die steilte af skielik in die ware “vreeslike verlange” te stort, kan hulle hul altyd red met die “romantiese ironie”. Dit is die geheim van Heinrich Heine en sy namaak-romantiek.
Daarom is ons jongeres nie “romanties” nie. Wat ons ken, is die “Vreeslike”. En dié bestaan nie êrens in ’n ander wêreld nie, maar onmiddellik rondom ons, in ons eie voorkamer, op ons kantoor; oral op straat ook.
Maart 1937