Читать книгу Lojale verset - N.P. Van Wyk Louw - Страница 6
Die aristokratiese ideaal
ОглавлениеAs daar een ding is wat ons kultuur vandag nodig het, dan is dit die wedergeboorte van die aristokratiese ideaal. Die kenmerk van ons tyd is die opkoms van die massa en die massa-waardes. Alles dreig om gepeupel te word. Die moderne nywerheid verskaf kos en geriewe in hoeveelhede wat geen vroeër eeu gehad het nie, en die mediese wetenskap hou aan die lewe wat maar enigsins nog kan asemhaal. Hierdeur het die 19de eeu ’n ongekende toename in die bevolking in alle lande gesien. Geboortebeperking by die intelligentste deel van die mense het hierdie bevolkingstoename hoofsaaklik ten gunste van die vrugbare massa minder intelligentes laat plaasvind. Stoflik en in getalsterkte het die massa dus ’n voorsprong gekry soos nog nooit tevore in die geskiedenis nie. Toe het die algemene skoolplig en die algemene stemreg van die 19de eeu hom nog die geestelike en politieke wapens in die hand gegee. Hy word koning, keiser, nog meer as keiser: die stem van die massa word werklik die stem van God. Die stemme van die leiers: van die profeet, van die boetprediker, van die groot enkelinge, die kultuurskeppers, klink klein en verlate in daardie gedurige dreuning op.
Maar die massa word hom ook van sy krag bewus soos nog nooit tevore nie. Hy sien dat sy koerante en tydskrifte die sterkste is – dié koerante en tydskrifte wat ’n beroep op die massa-waardes en -intelligensie doen; sy partye beheers die beskaafde lande; sy leiers, dié wat hom die beste verstaan, die luidste vlei en die meeste belowe, mense wat “die vertroue van die publiek het”, word die groot staatsmanne. En met hierdie bewustheid van sy mag dring die massa hom in op plekke waar hy in vroeër eeue skroomvallig verby gesluip het: in die kuns en literatuur, die wetenskap, die wysbegeerte, die hoër lewe van die gees. Ook hier moet sy smaak, sy insig, sy begeertes die deurslag gee. Die kultuur word massa-kultuur, en die meerderheid van die mensdom, selfs baie van die bestes, word, in ’n nuwe sin van die woord, massa-mense.
By ons in Suid-Afrika het hierdie proses hom niks stadiger as in Europa en Amerika voltrek nie. Wat die Industriële Revolusie daar meegebring het, het die instroming van ’n gemengde uitlandse bevolking wat gedeeltelik uit sy eie kultuur ontwortel geraak het, by ons verhaas. Die ou Afrikaanse boerestand en -lewe was binne hul grense aristokraties en sterk individueel. Maar vir die afstammelinge van daardie boerestand was die trek na die stad dikwels net so ’n ontworteling as vir die uitlander die immigrasie na Suid-Afrika: hulle was albei vreemdelinge in ’n nuwe omgewing en potensieel massa-mense. Want dit is nie alleen die blote bestaan van baie mense bymekaar wat ’n massa maak nie, maar ook die los-word uit oorgelewerde skroom en beskeidenheid – wat die maklikste in ’n nuwe omgewing met groot nuwe moontlikhede plaasvind. (Vergelyk al die “Babbitts” van die Verenigde State.)
Die massa-mens het sy besondere geestesgesteldheid en waardes. Sy persoonlikheidsideaal is “die lekker kêrel”; die allemansvriend, die egte demokraat, die man wat nooit “anders” as die res is nie; bo alles vrees en haat hy die afsydigheid en die trots wat grense tussen mens en mens in stand hou. Sy enigste maatstaf van waarde is die populariteit: ’n boek wat baie uitgawes beleef, is “goed”; ’n gedig wat almal geniet, is “mooi”; ’n toneelstuk waarna almal gaan kyk, dié moet hy ook sien; ’n skildery waarvan afdrukke in elke huis hang, of musiek wat almal liefhet en fluit, is die “beste”. Daarom ook, as hy intelligent is, is sy vernaamste doel in die lewe: vooruitkom, deur baie goedgekeur en geprys word. En vir hom is die volkome maatskaplike orde dié waarin elkeen heeldag “lekker” spook om vooruit te kom – op die plaas, in die handel, op skool en aan die universiteit – en niemand ooit tyd het om “diep” of “alleen” te wees nie. “O, brave new world!”
Ons Westerse mense, en ons in Suid-Afrika, het vandag feitlik geen aristokrasie meer nie. In die politiek neem ons dit as vanselfsprekend aan dat die wil van die massa moet seëvier; dat sy welvaart die hoogste goed is. In ons etiek eis ons saam met Kant dat die goeie handeling so moet wees dat dit tot algemene sedereël verhef kan word – die massa-reël. In die hoogste setels van ons kultuur sit gepeupel, massa-mense wat alleen massa-waardes ken.
Die aristokratiese lewenshouding is geen blote trots en afsydigheid nie. Die eeu wat die meeste van die individualis se “ivore toring” gepraat het, die 19de eeu, het geen begrip van aristokratisme meer gehad nie. Dit is verantwoordelikheidsgevoel teenoor ’n mens self; dit is die geloof aan ewige geestelike goedere en die geloof dat hul waarde onafhanklik van die goed- of afkeuring van die mense is; dit is die stel van die swaarste taak aan ’n mens self: die lewe na die innerlike wet van jou eie wese; dis die weerbaarheid teen massa-waardes; dit is die erkenning van die eensame taak om die geestelike skatte hoog te hou en veilig deur die massa te dra.
Die aristokratiese lewenshouding is altyd iets weerbaars en soldaatagtigs, ook met die swygsaamheid van die soldaat wat nie in elke vergadering hardop praat nie. Dit is nooit ’n jag op vooruitkom nie. “Streben” is ewig en altyd die kenmerk van die massa-mens; die aristokraat is reeds so ver vooruit as wat hy kan kom.
In die kuns en die wetenskap, in die hele hoër geestelike lewe, is die aristokratiese lewenshouding dié wat hom die strengste tug oplê, wat alleen die wette van die skoonheid en die waarheid eerbiedig, wat hom van alle onmiddellike sukses by die massa, van alle voordeel en alle betrekkingsoekery afwend; wat nie rus voordat volmaaktheid binne die grense van die taak self bereik is nie. (Die massa is met baie minder as die volmaaktheid tevrede.) Hier is die lewenshouding nie vereiste of voorbereiding vir die geestelike lewe nie, maar die geestelike lewe self. Alle kultuur kom van enkeles wat hulle in daardie gees aan hul taak wy, en geen massa-maatstaf reik werklik daaraan toe nie.
As mens na ons Afrikaanse aldagskrywery kyk, na ons “deeglike” romans, ons “gewaagde” gedigte, ons “wetenskaplike” proefskrifte, dan lyk hierdie terugtrek in ’n streng afsydigheid en opgaan in die werk self die enigste redding vir die enkeling en uiteindelik vir die volk se kultuur.
Want die aristokratisme staan nie vreemd teenoor die volk nie. Dit is geen verwaandheid nie. Die verwaande is trots op sy werklike of vermeende prestasie – nie op sy taak nie. Hy aanvaar juis die massa-maatstaf van die sukses. Nog minder is dit individualisme wat van die gemeenskap afgekeer is. Dit is in sy wese die hoogste diens aan die gemeenskap. Dit is ’n lewe binne die gemeenskap, maar gedurig op ewige, geestelike waardes daarbuite gerig. Elke groep het ’n minimum aristokrasie in hom nodig, mense wat hulle streng aan die taak van die kultuuropbou wy en afsien van tydelike sukses. Wanneer die massa so groot en magtig word dat hy hierdie enkeles verdring en vernietig, verrot sy eie lomp liggaam soos ’n stuk vleis wat ongesout is.
Die aristokratiese lewenshouding is die sintese en die versoening van gemeenskapslewe en individualisme. Niks het ons Afrikaanse kultuur vandag nodiger nie.
April 1938