Читать книгу Lojale verset - N.P. Van Wyk Louw - Страница 7
Gelykmaak en rangordening
ОглавлениеDie 19de eeu in Wes-Europa en die Wes-Europese kultuurkring was die eeu van die gelykmaak. Dit het begin met die leuse van die Franse Revolusie: vryheid, gelykheid en broederskap. Die vryheid, só het gou geblyk, was vryheid vir die grootkapitalis om sy eie werksaamheid grensloos te ontplooi en vryheid vir die gewone mens om in daardie wêreld van onbeteuelde konkurrensie, geldmag en massa-propaganda rond te val of in te pas soos hy kon; die broederskap was maar alte dikwels dié van Kain jeens Abel, in ’n eeu wat die masjien- en snelvuurgeweer, gifgasse en duikbote uitgevind het en wat die kanonne van Europa op die verste uithoeke van die aarde laat bulder het – o.a. om Sjinese broers te dwing om die invoer van opium “vry” te stel. Maar uit die gelykheid, die enigste van die groot drietal wat wesenlik onwaar is, het daardie eeu ’n waansin laat ontstaan waarvan die wêreld baie stadig sal genees.
Die mens en alle menslike sake ken alleen die ongelykheid. Daar is tydelike en daar is wesenlike ongelykheid. Mense kan toevallig of tydelik in ’n maatskappy ongelyk wees; weens ’n verouderde klasse-indeling; omdat ongelukke (bv. droogte, oorlog, armoede) van die bestes na ondertoe afgedruk het; of anders omdat ’n geluk (bv. die ontdekking van goud of petroleum op ’n swak boer se grond, die geboorte binne ’n vooraanstaande familie, ratsheid met geld, ens.) mense sonder verdienste na boontoe gestoot het. Maar daar is ook ’n wesenlike ongelykheid en ’n rangordening wat mens reeds in die stygende linie van die natuur deur grond, plant, dier en mens waarneem; en binne die menslike soort weer in die agterlike en skeppende rasse; en nog meer, individueel binne elke groep, in die eindelose verskeidenheid van menslike tipes tussen die idioot aan die een kant en die enkele groot manne wat soms soos die voorafskaduwing van iets hoërs as die mens self lyk. Mense is wesenlik ongelyk. En ingevleg in hierdie rangordening kry ons tallose verdere verskille: verskille van funksie (man en vrou); van rypheid (jeug en ouderdom); van temperament, van belangstelling, van kultuurmoontlikhede.
Die “mens” is geen vaal, egalige abstraksie nie, maar ’n eindeloos kleurryke verskynsel waarvan wesenlike en toevallige ongelykheid skering en inslag is.
Teenoor hierdie verskeidenheid het die 19de eeu met sy gelykheidsleuse te staan gekom en hy het alles begin afbreek om gelyk te maak: die liberaliste eis algemene stemreg (een stem per mens) afgesien van bekwaamheid om te oordeel, erns of verantwoordelikheid; die “filantrope” eis (bv. in Suid-Afrika) gelykheid tussen blanke en swart rasse, afgesien van hul ontwikkelingstrap; die kommuniste wil almal in ’n klaslose gemeenskap gelykmaak met die proletariaat; die voorvegters van die “regte van die vrou” wil die geslagte gelykmaak, afgesien van die verskil in funksie; Ellen Key en ander opvoedkundiges wil in ’n denkbeeldige “eeu van die kind” die kind gelykstel aan die ryper volwassene. Hulle is almal broers, die liberale demokrate, “filantrope”, kommuniste en pedagogiese gelykmakers, en almal kinders van een vader: die 19de-eeuse gelykheidsgedagte.
In die ekonomie het daardie eeu net so verkeerd-vereenvoudigend gedink. Neem maar een voorbeeld: die tipiese fabriek of handelsmaatskappy. Die Marxistiese ekonomie stel hom hier ’n groot groep gelyke masjienwerkers voor onder een baas wat hulle uitbuit; al hoe meer van die tussenklas, die kleiner onafhanklike arbeiders, stort in die proletariaat af totdat dit byna die hele bevolking egalig omvat. Dan sal die revolusie die baas afsit (vandag sê hulle: likwideer) en die groot klomp gelyke werkers met gelyke lone, die klaslose gemeenskap, sal oorbly. Die moderne fabriek of handelsonderneming lyk veel meer op die natuurlike “piramide” van die menslike gemeenskap: ongeskoolde werkers, geskooldes, tegnici, bestuurders, met steeds ingewikkelder en verantwoordeliker funksies hoe hoër mens styg; en in plaas van een baas is daar groot getalle aandeelhouers (o.a. baie armes) deur wie die fabriek weer verder in die gemeenskap inrank. Die uitwis van “standverskille” binne die fabriek sou nie ’n uitbuiter nie, maar die werk self vernietig.
Of die verskil in funksie die maatskappy egter ekonomiese verskille regverdig, is ’n vraag wat ek nie tot troos vir die kapitalis wil beantwoord nie. Ek weet nie watter verhouding daar dan tussen die beloning van ’n bankier, ’n hoofamptenaar, ’n Beethoven moet bestaan nie. Die bankier en die hoof sou dalk hier ’n bietjie naby aan die ongeskoolde werkers wees.
In die wysbegeerte (waar die stryd egter baie ouer as die 19de eeu is en sedert die Grieke reeds as ’t ware skematies en suiwer voorgestel word) toon die eeu dieselfde neiging om te nivelleer. Hy wil die oneindig ingewikkelde en fyn-geskakeerde patroon van die werklikheid tot een “grondstof” herlei en kleurloos maak. Een groep, die materialiste van La Mettrie af tot by Moleschott en Haeckel, wil alles wat hoër as die materie is – die lewe, die psigiese en die geestelike – tot die laagste, of sê maar, die mins georganiseerde vorm herlei. Die heelal word hier as ’n ingewikkelde masjien verklaar. Klank, kleur, gevoel, skepping, skoonheid, sedelikheid, waarheid, die hele rykdom en verskeidenheid van die lewe verdwyn uit hierdie wêreldbeskouing … buiten waar dit waag om inkonsekwent en menslik te word.
Maar sy teenvoeter bly nie uit nie: die eensydige “idealisme”. Die mens weier om die dinge wat waardevol is, deur die filosofie te laat wegredeneer; en soos die materialisme alles volgens die laagste kategorie wil verklaar, so verklaar Hegel en die absolute idealisme alles volgens die hoogste: die gees of die idee. Hier kry die hoogste rigsterre – skoonheid, sedelikheid en waarheid – hul regmatige plek in die wêreldbeskouing, maar die hele pragtige spel van die dinge wat laer as die gees is – instink en drif, wil, brute krag, toeval, die materie, miskien die hele mens as individu – word herlei tot ’n spookagtige dans van logiese kategorieë.
Maar hoewel hierdie twee wysgerige rigtings so teenoorgesteld is, is hulle tog albei vorme van dieselfde neiging: die neiging om alle verskeidenheid in die wêreld te negeer en sy rykdom tot ’n enkele soort te probeer herlei. Dit is vorme van die neiging om gelyk te maak: gelykmaak na ondertoe of na boontoe, maar tog gelykmaak.
In teenstelling met al hierdie neigings sal die groot taak van die 20ste en volgende eeue waarskynlik wees: die opstel van ’n nuwe rangordening. Mens moet nou nie meen dat die bestaande sosiale klasse en ekonomiese verhoudings ’n ewige of natuurlike rangordening is nie. As mens dit glo, sal hierdie gedagte bloot ’n stuk aartskonserwatisme wees – terwyl dit in die werklikheid meer revolusionêr as die “rooi” of “ligrooi” omwentelingspraatjies van die salonbolsjewiste is. Ons bestaande klasse- en ekonomiese verhoudings is deurtrek van tydelike en toevallige ongelykheid, en hulle is ’n gedurige uitdaging aan die idealisme en die intelligensie van die mens. Maar die rigting van sy oplossing moet wees: geen 19de-eeuse poging om te probeer gelykmaak wat nooit gelyk kan wees nie, maar om ’n sosiale stelsel of stelsels te soek (want hulle sal in verskillende lande en by verskillende rasse anders wees) wat altyd nader aan die innerlike rangordening van die mensdom sal kom. Daar moet ’n altyd suiwerder en sterker bouwerk van die polêre verhoudings: leierskap en volgelingskap, aristokrasie en volk, ontstaan, met ’n erkenning van die organiese verwantskap van hierdie bloot-skynbare teenstellings. Om dit te verkry, sal die liberaal-demokratiese staat wat ons van die vorige eeu geërf het miskien stadig, maar tog ingrypend, verander moet word.
Ook intellektueel is hierdie proses aan die gang. In die wetenskap en die wysbegeerte is dit ’n neiging om sku te wees vir die radikale vereenvoudigings van die wêreld wat die 19de eeu so liefgehad het; om die verskillende range van die werklikheid (stof, lewe, psige, gees) elkeen in sy eie reg te erken en te ondersoek en om nie dié een voorbarig tot die ander te probeer herlei nie (Husserl, Whitehead, Scheler en baie ander).
Dit is nie alleen ’n strenger intellektuele ontwikkeling hierdie as die vroeëre uitwis van verskille nie, maar ook een wat nader aan die natuurlike en die estetiese instelling van die mens kom. Die gewone mens sien juis die wêreld as onoorsigtelik ryk en verskillend, en hy weier emosioneel, selfs wanneer hy intellektueel meen dat hy toestem, om die abstraksie wat die materialisme hom bied, te aanvaar as die wêreld wat hy ken en waarin hy leef; in sy onmiddellike, estetiese ervaring van daardie wêreld kom al die dinge wat weggeredeneer was, weer terug: klank en kleur, die skoonheid, selfs die pyn, en die hele pragtige rangordening van waardes en van mense.
’n Nasionale kultuur vertoon dieselfde piramidevorm soos die maatskappy: ’n breë basis van die massa se kultuurbesit, en daarbo ’n gedurige styging en vereniging tot by die skerp toppunt van die hoë skoonheid wat bo uit glans.
As ’n mens net die literatuur as voorbeeld neem: eers die dagbladpers, nuttig en haastig; dan die tydskrifte vol ligte leesstof – die kinders se prentstories, die versmade en populêre moordverhale, ens. – daarna die knap, deeglike of vermaaklike romans; en dan die beste en blywendste wat in die volk geskrywe word. Van die volk se standpunt is dit ’n ryk verskeidenheid met baie oorgange, maar as geheel vir hom waardevol.
Daar is al pogings aangewend om ook hier te nivelleer. Die 19de eeu het die massa-skrywer en die groot oplae meegebring; en meer as een eis van “volkskuns” vandag is niks anders as die verheffing van die massa se literêre maatstaf as die enigste geldige.
Maar ook van die ander kant af is deur die suiwer estetici alle populêre geskrifte as waardeloos veroordeel.
Die mens hou daarvan om ’n vraagstuk in die vorm van ’n botte óf-óf te stel. Het die piramide die toppunt of die basis meer nodig om piramide te wees? Doen Shakespeare of die “comic strips” meer vir die verspreiding van Engels? En moet ons Afrikaners net een van die twee, óf massa-lektuur óf aristokratiese kuns, vir ons eie kultuurontwikkeling kies?
Ook hier moet grense bewaar word en die waarde van die verskeidenheid erken word. Ook ’n volkskultuur word in organiese rangordening opgebou. En mens verstaan die proses beter wanneer jy daardie rangordening begryp as die ware vorm van die menslike samelewing en van die natuur self.
Januarie 1939