Читать книгу Skaduself - Paula Marais - Страница 11

Sanusha (6): Om ’n kans waar te neem

Оглавление

My mamma het strepe op haar polse. Dit is dof en wit, soos spinnerakke. Ek het dit getel. Op haar horlosiearm het sy 7. Op die regtereen (die een waarmee sy skryf) het sy 5.

7 + 5 = 12

Daar is 12 maande in die jaar. 12 in ’n dosyn, dit is hoe Mamma eiers koop. Maar wil jy iets snaaks hoor? ’n “Baker’s dozen” is nie 12 nie, dis 13! Dis omdat bakkers in Engeland lank gelede, miskien toe daar nog dinosourusse was, ekstra brood weggegee het sodat hulle nie in die moeilikheid kom omdat hulle te suinig is nie. As Mamma 13 strepe op haar polse gehad het, sou sy ’n baker’s dozen gehad het. Getalle is cool.

Toe ek vir Mamma vra waar haar strepe vandaan kom, sê sy dit is littekens van toe sy seergekry het.

“Hoe?” vra ek.

“Wat?”

“Hoe’t Mamma seergekry?”

“Dit was ’n ongeluk,” sê sy. “Soos toe jy van jou fiets af geval en jou tand gebreek het.”

“My tand gaan teruggroei,” sê ek, en druk my vinger in die gat.

“Jy’s gelukkig,” sê sy en glimlag.

“Maar as ek dit weer breek, is dit finish en klaar,” sê ek.

“Wie sê so?” vra sy.

“Asmita Ayaa. Sy sê ek moet my soos ’n dame gedra en nie so vinnig ry nie.”

“Gmf,” sê Mamma. “Ek en Robbie het altyd op ons fietse in ons oprit resies gejaag. Partykeer het ek gewen, maar eintlik eers nadat hy siek geword het.”

“Miskien is dít waar Mamma die strepe gekry het,” probeer ek help.

“Nee,” sê Mamma beslis. “Dis nie hoe dit gebeur het nie.”

Toe begin sy my op die gras kielie en ek giggel.

Vandag is ons by Kirstenbosch. Mamma het nie toeriste nie, daarom het sy baie tyd vir my. Ons het ’n piekniek ingepak met regte gemorskos! Weense worsies. Tjippies. Jelliewurms. En Melrose-kasies. Appels en nartjies ook, en ’n groot bottel grenadellasap. Ons gooi ’n groot kombers op die boonste grasperk oop en kyk na die mooi uitsig. Dis ’n sonskyndag en ons soek diere in die wolke. Ek kry ’n leeu en ’n akkedis, maar die akkedis het vlerke. Mamma sien ’n eenhoring. Dis ’n perd met ’n horing soos ’n renoster s’n.

Dis lekker, net ons twee. En toe kom ’n man aangehardloop, en hy bly staan. Hy is papnat gesweet. Hy drup soos ’n kraan wanneer jy vergeet om dit heeltemal toe te draai.

“Thea?” sê hy.

En Mamma antwoord. “Hallo, Clay! Jy lyk dors.”

“Ek is,” sê hy. “Ek was op die kontoerpad.”

“Hou aan hardloop,” sê ek baie, baie sag, want ek wil hê hy moet weggaan.

“Sanusha!” sê Mamma in haar skrikmaakstem. “Wil jy ’n bietjie sap hê, Clay?”

“Ja, hoekom nie?” sê hy, maar ek hou nie van sy groot oë wat so na Mamma kyk nie.

“Dis my dogter, Sanusha,” sê sy.

“Hallo, Sanusha, jy lyk nes jou ouma.”

Boring! Ek steek my tong by die hoek van my mond uit. Wie is hierdie ou?

“Clay is die bestuurder van die koffiewinkel waar ek soggens koffie drink,” sê Mamma. “Hy maak prentjies in my cappuccino’s. Dit is ’n nuwe kunsvorm.”

“Wat daarvan?” vra ek, en Mamma se gesig word hard soos ’n klip.

“Ignoreer haar, asseblief,” sê sy vir die sweterige man en wys na die sap.

Hy gaan sit langs Mamma. Sy hare is grys aan die punte, en hy het baie groot spiere op sy arms en bene. Ek is ’n bietjie deurmekaar. Sy gesig lyk nogal jonk, maar sy hare is oud.

Hy moet uit Mamma se koppie drink, want ons het net 2 saamgebring, dis ’n paar. Jy kry baie goed in pare – sokkies, skoene, kouse. Selfs ’n mes en vurk is ’n paar, want daar is 2.

“Hoe oud is jy?” vra ek.

“Sewe en twintig,” sê hy. “Hoe oud is jy?”

“Ek is 6.”

“Sjoe, ses,” sê hy. “Jy’s so oud, jy’s al amper ’n tiener.”

“Dis nonsens,” sê ek. “Tieners is 13. Dis soos eers oor 7 jaar. Daar is 7 dae in ’n week. En 7 kleure in ’n reënboog. Rooi, oranje, geel …”

“Sanusha,” sê Mamma, wat haar manier is om vir my te sê om stil te bly.

Ek staan op, gaan klim in ’n boom en hang onderstebo, naby genoeg om te kan hoor wat hulle sê.

“Jy’t die afgelope paar dae nie ingekom nie,” sê die man.

“Toergroepe. En ek was besig by die huis.”

“Hoe gaan dit met Rajit?”

Mamma sê niks, daarom skree ek uit die boom uit: “Dit gaan goed met Appa. Hy’t ’n groot, fancy werk in die stad gekry en ek was by sy kantoor en ek het ’n fotostaat van my hand gemaak en dit lyk presies net soos my regte hand behalwe dit is swart-en-wit.”

“Cool,” sê die man. “Miskien kan jy my die een of ander tyd wys.”

“Hoekom?” vra ek. “Jy’s nie na ons huis toe genooi nie.”

“Sanusha!” sê Mamma, en sy trek my van die boom af en gee my ’n piets op my boude. Dis nie eens seer nie, maar sy slaan nooit aan my nie, daarom huil ek rêrig, rêrig hard met regte trane. Sy laat my op die gras sit en sê ek moet dadelik stilbly of, die Vader hoor haar, sy gaan my die volgende 2 weke nooit park toe bring nie. Dis 14 dae, en dis lank, so toe bly ek stil en steek my hand uit na ’n jelliewurm, en Mamma slaan my hand en sê dis nou genoeg – ek kan ’n appel kry en sê vir Clay jy’s jammer dat jy so ’n onbeskofte kind is.

“Jammer,” sê ek.

“Dis oukei,” sê hy, maar ek kan sien ek het sy gevoelens seergemaak en ek is bly.

Mamma se serp het teen hierdie tyd al losgekom en ek kan sien die man kyk na die lelike blou kol op haar nek. Sy draai vinnig weer die serp om haar nek.

“Mamma is baie lomp,” sê ek vir hom. “Sy stamp haar gedurig. Ek sê vir haar om die lig aan te sit.”

“Ek sien so,” sê die man.

“Dis niks, rêrig,” sê Mamma.

“As jy so sê,” antwoord die man.

“Ek sê so, ja.”

Die man slurp sy sap en sê nie eens ekskuus nie en hy staan op en sê hy moet gaan, want hy moet sy vriend vir ’n braai ontmoet en hy is al klaar laat. Ek kan sien hy dink Mamma is mooi, maar hy lyk ook hartseer.

“Kom drink iets by die koffiewinkel, Sanusha,” sê hy. “Ek sal vir jou ’n nommer ses in ’n koppie warm sjokolade maak, net so oud soos jy is.”

“Kan jy?” vra ek, want dit klink nogal awesome.

Hy raak nie aan Mamma of aan my nie, maar hy waai vir ons en sê geniet julle piekniek en moenie te veel wurms eet nie, Sanusha. Het hy dan nie gehoor Mamma sê ek moet eerder appels eet nie?

Mamma waai so effens en lyk ongelukkig, soos Mr Miserable in my Mr Men-boekie, wat nog nie geleer het om sy frons om te draai nie.

“Ons beter gaan, liefie,” sê sy. “Asmita Ayaa het gevra ek moet wortels bring.”

“Daai man moes nie ons grenadellasap gedrink het nie,” sê ek vir Mamma. “En dit was óns piekniek. Dis hoekom ons nie vir Asmita Ayaa saamgebring het nie.”

“Dis goed om te deel, Sanusha. En jy hoef nie vir Appa hiervan te sê nie. Hy sal ontsteld wees dat ons sonder hom gaan piekniek hou het.”

“Appa haat pieknieks. Hy sê sy broek word vuil.”

“Dis reg, liefie, dis mos wat hy altyd sê.”

*

By die huis skil Asmita Ayaa en Mamma die wortels. Partykeer praat hulle terwyl hulle werk en partykeer sê hulle niks – vandag is ’n stil dag. Mamma skakel die radio aan en Asmita Ayaa neurie saggies. Sy kan 10 wortels in 3 minute skil – ek het op die muurhorlosie gekyk hoe lank dit haar neem. Jy moet die sekondewyser dophou, die vinnige een, en elke keer wanneer dit verby die 12 gaan, tel dit as 1 minuut. Die skille spat in alle rigtings, selfs op die vloer. Sy tel dit nie op voor sy klaar is nie en partykeer trap ek op een en maak of ek neerslaan soos wanneer jy op ’n vrot piesang gly.

Mamma skil netjies en stadig. Sy hou elke stuk groente vas soos ’n brose babatjie (“broos” beteken iets kan maklik breek – nes Mamma) en sy krul die skille af, een vir een. Sy maak netjiese hopies op die koerantpapier, en wanneer sy die papier oplig, kan jy nie eens sien waar sy gewerk het nie.

Daarna kap hulle die uie. Ek hou nie van uie nie. Dit laat my huil, en nie omdat ek hartseer is nie. Dit laat Mamma en Asmita Ayaa ook huil, en gou-gou huil al die Moonsamy-vroue in die kombuis terwyl die sonneblomolie warm, warm, warm word. Die waaier bokant die stoof maak hmmmmmmm, sodat ons nie eens die radio kan hoor nie. Dis hoekom ons nie hoor toe Appa onder die motorafdak stilhou nie, want hy het nie ’n motorhuis vir sy kar nie en sy kar is taamlik nuut. Hy het dit vir sy nuwe werk in die stad gekry. Mamma het sy ou kar gekry, wat na suurmelk ruik wanneer die son daarop skyn, want ek het eenkeer my bottel daarin uitgegooi toe ek nog ’n baba was.

Appa kom by die huis in, en ons sien hom eers toe hy sy sleutels op die kombuistoonbank neersit.

Ek wag dat Mamma na hom toe hardloop soos sy altyd maak sodat sy voor Asmita Ayaa vir hom kan hallo sê, maar sy kyk nie van haar uie af op nie. Asmita Ayaa sit haar mes neer, vee haar hande aan haar voorskoot af, en gee vir Appa ’n drukkie.

“Hallo, seun, jy’s vroeg by die huis.”

Van agter sy rug haal hy ’n bos blomme uit. Pienkes, Mamma se gunsteling.

“Ek het huis toe gekom om my gesin te sien en om vir my vrou blomme te bring,” sê hy.

Mamma gooi die laaste van die uie in die pot. Dit sis. (’n Goeie woord, dit klink soos wat dit beteken.) Sy roer.

“Dankie, Rajit,” sê sy. “Sit dit in ’n blompot.”

“A nee a,” sê Asmita Ayaa, “is dit soos jy vir jou man dankie sê?”

Mamma kyk na my ouma. “Wat wil jy hê moet ek doen, hom spyker?”

Ek weet nie wat dit beteken nie, maar Asmita Ayaa trek haar gesig asof Mamma op haar gespoeg het. Dis nie mooi om te spoeg nie, al is dit baie cool om te kyk hoe lank dit word voor dit breek.

Mamma skakel die stoof af en hou haar hand uit. “Kom, Sanusha, ek wil ’n entjie gaan ry.”

Ek weet nie wat om te doen nie, want dit lyk of Appa ’n drukkie nodig het.

“Gaan op jou eie, Thea,” sê Appa. “Die kind moet gebad word.”

Ek is nie “die kind” nie, ek is Sanusha.

Mamma maak of sy hom nie hoor nie en trek my by die voordeur uit. Sy gordel my vas, en ek waai vir Appa wat agterna gekom het, sy gesig gevaarlik soos ’n groot storm.

“Jy ry mooi met my dogter!” skree hy agter Mamma aan.

Mamma klap haar deur toe, en laat die enjin grrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrr. Ons ry in die straat af en ek kan sien Mamma huil.

“Is jy honger, my engel?” vra sy.

“Ja.”

“Wat van ’n lekker groot burger en ’n fliek?”

“In die middel van die week?”

“Ja wat. Hoekom nie?”

Mamma steek ’n sigaret aan, maak haar venster oop en blaas groot wolke rook uit. Dit word al donker, daarom kan ek die rooi puntjie van haar sigaret sien wanneer sy haar hand beweeg. Appa sal raas as hy weet sy rook met my in die kar. Mamma rek om die radio aan te skakel. Sy draai dit so hard dat dit my ore seermaak en ek kan nie eens vra dat sy dit sagter maak nie.

“O, jy laat ons agtervolg?” skree sy skielik en swaai haar kop om agter ons te kyk. Sy draai die musiek sagter en flikker die ligte toe sy dwars oor die pad beweeg.

“Jy oukei, liefie?”

“Ja.”

Toe skree sy ’n rêrige lelike woord oor en oor en swaai links. “Los my uit!” sê sy. “Laat my alleen!”

Maar Mamma is nie alleen nie – sy is by my, en ons gaan ’n burger eet en ’n fliek kyk in die middel van die week. Mamma leun oor. Sy kyk in haar handsak.

“Waar’s dit? Waar’s dit?” vra sy.

“Waar’s wat?” Maar sy hoor my nie, want sy swaai die kar verby ’n groot bus vol gesigte met monde soos groot O’s.

“Jesus, tog,” sê sy, en nou is ek heeltemal deurmekaar, want sy praat nooit oor hom nie behalwe op Kersfees wanneer hy verjaar, 25 Desember. Dis ’n goeie dag, want 5 gaan presies 5 keer in 25.

Mamma gooi haar sigaret by die venster uit. Ek weet vir seker dis ’n stoute ding om te doen. Sy is ’n morsjors wat die omgewing beskadig. Dan gaan die wêreld vergaan en het ons nêrens om te woon nie.

Mamma se kar maak grrrrrr, grrrr, grrrr. My veiligheidsgordel trek styf oor my skouer toe ons om ’n draai gaan.

“Mamma ry te vinnig,” sê ek. Dit is waar. Ek het ’n groot teken gesien en dit het 60 gesê, wat 60 kilometer per uur beteken. Sy gaan ’n boete kry! Miskien hoor sy my nie, want sy ry nie stadiger nie en sy gaan so vinnig om nog ’n draai dat ek dink ek gaan uitval. Ek druk die knoppie af om my deur te sluit.

“Gee pad!” skree sy. “Piss off!” (Dis ’n lelike woord vir piepie.)

“Waarnatoe gaan ons, Mamma?” skree ek.

“Ek moet by Annie uitkom.”

Ek hou van tannie Annie. Sy het een keer vir my ’n boek gegee oor ’n ou met die naam Newton, op wie se kop ’n appel geval het en toe werk hy uit hoekom dit gebeur het. ’n Akker het eenkeer op my kop geval, maar ek het nie aan enigiets slim gedink daarna nie.

“Moenie bang wees nie, Sanusha – ons gaan oukei wees.”

Ek wil net hê Mamma moet stadiger ry.

“Ry stadiger, Mamma,” sê ek.

“Ons moet hom eers afskud,” sê sy.

Ek weet nie van wie sy praat nie.

“Wie?”

“Die man wat ons agtervolg. Ons moet by Annie uitkom.”

My maag maak grom, grom, soos Winnie the Pooh s’n wanneer hy heuning wil hê.

“Wat van ons burger?” vra ek. “Mamma het vir my ’n burger en ’n fliek in die middel van die week belowe!”

“Sodra ons veilig is. Ek moet eers sorg dat ons veilig is,” sê Mamma, maar haar stem klink snaaks.

Grom, grom, maak my maag.

“Daar’s hy!” skree Mamma en die kar spring vorentoe soos ’n rekkie wat skiet. “Hou vas, Sanusha – as ek ’n afdraaiplek sien, gaan ek my kans waarneem!”

Watter kans?

Ek klou aan my sitplek vas. Die bande skreeeeeeeeeeeeeeeee. Mamma gil. Ek gil.

Die kar draai al in die rondte.

Toe stamp ons teen iets. Hard. Glas breek en val op Mamma. Sy is vol bloed. So rooi soos my trui.

Ek is nie meer in my stoeltjie nie. Ek lê naby Mamma, maar ek weet nie hoe ek hier gekom het nie. My arm is seer – dit hang snaaks, soos ’n leë mou.

Mamma se oë lyk snaaks, maar sy haal asem, daarom weet ek sy is nie dood nie.

“Mamma? Mamma?”

Sy sê niks.

1, 2, 3, 4 …

“Mamma?”

Stemme wat skree en ligte en mense wat hardloop. Hulle maak die voorste deur oop.

… 31, 32, 33, 34, 35 …

“Is jy oukei, meisie? Ons het ’n ambulans laat kom.”

Ek wys na Mamma met my gesonde hand. “Sy’s nie dood nie,” sê ek. “Maar sy’t haar kans waargeneem.”

Skaduself

Подняться наверх