Читать книгу Skaduself - Paula Marais - Страница 13

Sanusha (6): Om met 1 hand eiers te breek

Оглавление

Appa hou nie daarvan as Annie by Mamma is nie. Ek kan dit sien aan hoe hy sy arms vou nadat hy stilgehou het.

“Tannie Annie se huis is vreeslik groot,” sê ek, en probeer my gordel losmaak. “Daar is groot bome, ’n swaai, ’n klimraam, ’n trampolien én ’n sandput.”

“Ek weet, Sanusha,” sê hy in sy knorrige stem. “Ek was al daar.”

“Hoekom kom Appa dan nie saam met my in nie, dan drink ons tee by Mamma?”

“Jou ma is siek. Sy moet rus.”

“Sy rus nie as ek hier is nie. Ons stap in die tuin en speel Ludo en Snap en drink Oros uit baie mooi koppies. Ons skink dit uit ’n teepot met rose. Die koppies is geel.”

“So dis net die twee van julle wat tee drink?”

“Dis nie tee nie, Appa. Dis Oros,” sê ek en ek pluk aan die deurknip. Partykeer luister Appa nie.

“So, jy drink Oros saam met Mamma en dis net julle twee?” vra Appa.

“Nee,” antwoord ek. “Laas keer het ek vir Grootbeer saamgebring en Matthew was ook daar. Matthew is morsig. Is seuns altyd morsig, Appa?”

“Niemand anders nie?” Hy antwoord nie my vraag nie.

“Appa! Ek vra of seuns altyd so mors!”

“Seker maar meestal, ja. Sanusha …”

“Kan ek nou ingaan? Ons gaan vandag koekies bak.”

Appa klim nie eens uit om saam met my hek toe te loop nie. My skoolsak is regtig swaar en ek moet op die punte van my tone staan om by die deurklokkie by te kom. Tannie Annie se klokkie is rêrig cool. Elke keer as jy dit lui, speel dit ’n ander deuntjie. Ek lui dit weer om te hoor watter liedjie volgende gaan speel (“Walking on Sunshine”). Die deur gaan oop en toe ek omdraai om vir Appa te waai is hy klaar weg.

Mamma se gesig is nog vol krappe van die glas. Sy kyk oor my skouer na die straat.

“Wie’t jou afgelaai?” vra sy.

“Appa.”

“Was daar nog mense in die straat?”

Wat is dit met al die vrae?

“Nee. Kan ek nou inkom? Ek wil koekies bak.”

Mamma neem my by die voordeur in asof ek nie weet waarheen om te gaan nie. Tannie Annie is nie altyd hier nie, en dis jammer. Ek wens Mamma wil my hard druk, soos tannie Annie maak. Soos voor die ongeluk. Ek weet sy is seer van binne, maar ek het ook ’n seer arm en ek hou nog altyd van drukkies.

Mamma beweeg soos ’n ou tannie. Sy vou haar arms oor haar lyf en skuifel soos Asmita Ayaa wanneer sy haar dik winterpantoffels aanhet.

“Ons gaan mos koekies bak, nè, Mamma?” herinner ek haar.

Sy knik. In die kombuis haal ons meel, eiers, botter en suiker uit. Wanneer jy bak, is dit rêrig belangrik om die hoeveelhede reg te kry. Hier is ’n paar belangrike dinge wat jy moet onthou:

1 teelepel is 5 ml

1 eetlepel is 15 ml

1 koppie is 250 ml

Daarmee kan jy enigiets bak. Maar vandag bak ons soetkoekies. Ons pak al die speserye op die tafel uit: kaneel, gemmer, neutmuskaat, naeltjies. Toe die gekapte neute en bakpoeier en die ander wit goed wat die koekies laat rys. Hierdie resep het wyn in – dis die kleur van ’n pruim wat reg is om te eet.

So gou ons al die droë bestanddele deurmekaar geroer het, sny ons die botter in. My arm werk nie so goed nie, maar ek kry dit reg, want Mamma doen die moeilike goed met die mes. Ek hou die handmenger met my gesonde arm vas en Mamma hou die bak stil. Mamma het hierdie slim toertjie met eiers – sy breek dit met een hand, soos ’n regte sjef.

“Hoe weet Mamma hoe om dit te doen?” vra ek.

“My ma,” sê sy, maar sy sê niks verder nie.

“Nes ek by Mamma leer!” sê ek.

“Presies.”

Ons maak ’n lekker deeg en rol dit op die toonbank uit en kies ons koekievorms. Ek hou van die vierkante en die sterre, maar Mamma hou daarvan om sirkels met ’n glas te maak. Sy druk die rand van die glas in die meel, druk dit dan hard af op die deeg. Ek kan nie die deeg rol nie, so my werk is om die koekies op die plaat te pak wat met botter gesmeer is. Ons praat nie baie nie. Sodra die liggie aan die oond se buitekant afgaan, weet ons dis warm genoeg. Mamma sit die eerste plate in.

Ons hoor tannie Annie se sleutel in die slot, maar ek kyk nie op nie.

“Kyk wie kry ek voor die deur!” sê tannie Annie.

Daai man van die koffiewinkel staan agter haar.

“Clay!” sê Mamma en ek dink aan modder.

Dis ’n snaakse naam.

“Hallo, Thea,” sê Clay en ek kan sien hy hou baie van Mamma, want hy staar na haar. “En Sanusha!” sê hy vir my. “Ek het jou nommer ses gebring. Ek het gehoor jy gaan dalk vandag hier wees.”

Ek wil eers ’n bietjie vies wees, maar toe gee hy vir my ’n koppie. Hy het ’n 6 reg in die middel van my warm sjokolade gemaak.

“Cool,” sê ek.

“Sanusha,” sê Mamma in dáái stem.

“Dankie,” sê ek gou-gou.

“Dankie, Clay.”

“El hét mos al dankie gesê.”

Clay trek sy skouers op, en glimlag. “Ek het vir jou nog iets gebring, Sanusha, maar ek is nie seker jou ma sal my toelaat om dit vir jou te gee nie. Dit moet ons geheim wees.” In sy hand hou hy ’n kolwyntjie met feetjiepoeier en ’n ballerina bo-op. (Ek hou meer van ’n vliegtuig, of ’n vuurpyl.)

Ek kyk na hom. Is hy dom? Weet hy dan nie ’n mens vertel net jou geheime wanneer jy alleen is nie? Ek leun ’n bietjie nader en fluister. “Nie nou nie. Mamma kan jou hoor.”

“Reg,” fluister hy ook, en staan terug. Hy bêre sy skat in ’n pienk boksie. Hy sit dit agter die vrugtebak en knipoog vir my.

“Wat fluister julle twee daar anderkant?” vra Mamma met ’n glimlag. Ek hou daarvan as Mamma gelukkig is.

Clay loop na Mamma toe. “Jou cappuccino, madame,” sê hy met ’n simpel stem.

“Dankie, Meneer,” sê sy. “Ek het nie geweet jy lewer af nie.”

“Wel, net vir ons belangrikste kliënte. Hoe voel jy?”

“So-so.”

Tannie Annie tel vir Matthew van haar heup af en sit hom op die vloer neer. “Hoekom gaan sit ons nie buite in die tuin nie? Dis so ’n mooi dag.”

Dis ’n goeie idee, maar Matthew kruip agterna. Hy is nog nie ’n jaar oud nie, maar vandat ek hom leer spoeg het, agtervolg hy my, en dis baie irriterend. Ek weet nie hoekom Mamma nie net huis toe kom sodat ek hom nie heeltyd om my hoef te hê nie.

“Gee pad,” sê ek, maar nie hard genoeg dat Mamma kan hoor nie.

Onder die bome in die tuin gooi tannie Annie ’n groot gestreepte kombers oop en ’n kleiner een met grasvlekke op. Tannie Annie gaan sit langs Clay. Ek hou van die klimraam. Ek kan al net aan my bene en voete daaraan hang. Sonder hande.

Mamma hou haar koffie vas en het klaar ’n sigaret opgesteek, soos sy altyd maak wanneer ons buite is. Ek het al my 6 gedrink en dit het niks anders as gewone warm sjokolade gesmaak nie. Ek het gedink 6 sal na iets smaak! Mamma gaan sit versigtig op die kombers en Clay leun vorentoe om haar te help.

“Ek’s oukei,” se sy, en kyk na my. “Sanusha, wees versigtig as jy daar gaan opklim. Die klimraam is nog nat van die sproeier.”

“Ek is nie ’n baba nie,” sê ek. Sy het dit al gesê, seker 1000 keer.

“O, bliksem!” sê mamma skielik. Juffrou Candy sê dis ’n baie lelike woord. “Ek het die koekies in die oond vergeet. Dis is seker teen dié tyd houtskool.”

Mamma probeer opstaan, maar tannie Annie vat aan haar arm. “Dis niks, skat, ek sal dit doen.”

“Jy beter gou maak! Jou kombuis is dalk al aan die brand.”

Dít sal cool wees om te sien. Ek hang nog so onderstebo en wonder of ek saam met tannie Annie moet gaan, toe hoor ek ’n harde slag, soos die geluid van Kandasamy Ajah se gereedskapkis. Die groot tuinhek wat na die pad toe gaan, swaai oop en kap hard teen die muur.

Mamma probeer opstaan toe Appa vinnig op sy lang bene oor die gras nader kom.

“Klim dadelik af daar, Sanusha,” sê Appa in sy g’n-stuk-nonsies-nie-stem. “Gaan in, en vat vir Matthew saam.”

Appa lyk so kwaai dat ek my arms om Matt se maag sit en hom saamsleep binnetoe. Tannie Annie maak die kombuisvensters oop sodat die rook kan uitgaan. “Tannie Annie,” skree ek, “ek dink jy moet dadelik buitentoe gaan. Appa is baie kwaad en hy’t by die verkeerde kant in die tuin ingekom.”

Skaduself

Подняться наверх