Читать книгу Skaduself - Paula Marais - Страница 8
Thea: ’n Ma se gevoel
ОглавлениеIn die tronk het ek baie tyd om te dink, en ek het nie altyd beheer oor waarheen my gedagtes dwaal nie. ’n Groot deel van die tyd dink ek teen wil en dank aan Clay: hoe lief ek hom gehad het, die foute wat ek gemaak het.
So baie foute! My dogters. My seuntjie, Joe.
Maar my gedagtes is nie altyd helder nie. Ek dink deur gaas, deur filters. Om minuut na minuut, sekonde na sekonde toegesluit te wees (want dit is hoe stadig die tyd verbygaan) het my laat besef dat ek al my hele lewe in ’n newel slyt. Party dae is daar ’n dik swart gordyn voor my, en net wanneer ek dit regkry om dit oop te trek sodat ’n klein bietjie lig inkom, val die gordyn weer toe en is ek weer in die donker.
Die meeste mense wil weet wanneer alles begin het, en soms wonder ek ook. Miskien het dit begin die dag toe ek verwek is. Ek was nie ’n beplande baba, of eens ’n welkome een nie. My biologiese ma was van Glencairn, naby Vishoek. Moeder sê ek het my hoë wangbene by haar gekry, en my borste. Die beauty spot aan die regterkant van my gesig net bokant my bolip, die een waarmee Moeder altyd gesê het ek eendag ’n man gaan verlei, en my oë – een ligbruin, een blougrys – is blykbaar net myne alleen.
Maar hoe sou Moeder nou eintlik weet – sy het net een keer my biologiese ma gesien.
My ouers het my aangeneem toe ek ses weke oud was. Ek sweer ek kan nog die tyd in die baarmoeder onthou. ’n Vyandige plek, kolkend van bitterheid en vrees. My ma was sestien en wou my nie hê nie. ’n Terapeut het eenkeer vir my gesê selfs as ’n fetus moet ek al die intensiteit van haar verwerping aangevoel het. My lewe lank soek ek ander se goedkeuring, en ná wat ek gedoen het, sal ek dit nou nooit kry nie.
My pa het my eendag vertel my biologiese ma het my Sofia genoem. Maar my aanneemouers se huishulp was Sophie, dus moes my naam verander word – en sommer gou ook. Ek is nie seker of ek ooit heeltemal in Thea sal ingroei nie. Sofia klink so sag en soepel, met ’n sweem van hoogmoedigheid en minagting. Ek wens ek was Sofia. Ek is nie Thea nie, ook nie Sofia nie, maar iets vaags en onmoontliks tussenin.
Ek het ’n broer gehad. Robbie. Hy was drie jaar ouer as ek. Hy was my ouers se eie vlees en bloed – met my ma se blou oë, my pa se blonde hare en my oupa aan vaderskant se maniertjies. Ek onthou hoe sy tong altyd by sy mondhoek uitgesteek het wanneer hy by die kombuistafel sit en prentjies uitknip het. Nes Oupa. Robbie was goed vir my. Hy het my beskerm. Eenkeer het hy my onder die trap weggesteek terwyl ons gewag het vir Moeder om te kalmeer nadat ek nat toiletpapier teen die plafon gegooi het – groot klonte toiletpapier wat aan die plafon vasgeklou het. Toe Moeder haar asem terugkry, het Robbie vir haar vertel hy het dit as ’n eksperiment gedoen. En in Moeder se oë kon Robbie niks verkeerds doen nie.
Wanneer ons wou ontsnap, het ons die boomhuis in die boekenhoutboom aan die onderpunt van die tuin opgesoek. Pa het dit vir Robbie gebou – elke seun moet ’n boomhuis hê – maar dit was eerder mý spesiale plek as Robbie s’n, veral nadat hy siek geword het. Ek het nie geweet hoe om op te tree nie, daarom het ek my meestal onsigbaar probeer maak. Sodat my ouers kon vergeet dat die verkeerde kind aan die doodgaan was.
Volmaakte, goedhartige, pragtige Robbie, wat in die badkamer opgooi en wie se hare in klosse oral in die huis uitval totdat hy so bles is soos ’n babaeekhoring.
Ons huis was soos een van daardie ou myndorpe nadat al die goud opgeraak het. Ek het geleer om vir myself kos te maak: Bovril- of grondboontjiebotter-en-konfyttoebroodjies en yslike koppies rooibostee met melk en lepelsvol suiker. Wanneer my ouers vas geslaap het, sou ek in die gang afsluip en met ’n versigtige handjie aan my ouboet se duvet pluk.
“Thea?” Ek kon hoor hy glimlag in die donker.
“Ja.”
“Nagmerries?”
“Ja.”
Hy sou wegrol om vir my plek te maak en ek sou by hom in die bed glip asof, as ek hom styf genoeg vashou, ek sou kon keer dat hy van my af weggaan.
Wanneer my ma ons so saam opgekrul onder Robbie se duvet aantref, het sy niks daarvan gehou nie. Glad niks.
“Uit hier! Robbie het sy slaap nodig, Thea. Hoeveel keer moet ek jou nog sê?” het sy geskree.
“Ontspan, Veronica, jy oorreageer,” sou my pa walgooi.
“Dis onvanpas, Stuart. Jy weet dit tog.”
“Moenie belaglik wees nie. Hulle is kínders. Hy’s haar bróér.”
Dit was eers baie, baie later dat ek besef het waarvoor sy bang was.
*
My ma het ’n gevoel gehad vir wat fatsoenlik was en wat nie. Dit was fatsoenlik om ’n romp kerk toe te dra. Dit was fatsoenlik om ’n eenstukbaaikostuum te dra, nie ’n bikini nie. Meisies het nie voor hulle sestien was saam met seuns disko toe gegaan nie. Om iemand se hand in die openbaar vas te hou, selfs wanneer twee mense getroud was, was verregaande vertonerigheid. Tatoeëermerke was onuitspreeklik vulgêr. ’n Romp sonder broekiekouse? Nooit! En om te huil? Wel, dit was doodeenvoudig nie iets wat jy gedoen het nie – tensy dit agter ’n toe deur en in volslae stilte geskied het.
Namate Robbie weggekwyn het, het sy al hoe harder op haar lip gebyt, en ek het haar fatsoenlikheid met elke greintjie van my liggaam gehaat.
Maar Robbie was ’n vegter, en doodgaan het nie vanself gekom nie. Ek onthou hoe hy in die hospitaal in sy blou pajamas met die personeel gesit en grappies maak het.
“Knock, knock,” sou hy vir ’n verpleegster sê.
“Who’s there?” sou sy vra.
“Isabel.”
“Isabel who?”
“Isabel out of order? I had to knock.”
Vir my was hy skreesnaaks.
Pa wou my nie daaraan blootstel nie – die opgooiery, die medikasie, die drupsakke en die piep-piep van die hartklopmonitors. Moeder het gereken dit sou goed wees as ek verstaan waardeur Robbie moes gaan. Ek sou dus langs sy bed sit en dinosourusse teken, wat hy met Prestik op die mure rondom sy bed vasgeplak het.
Toe Robbie op sy siekste was, het Moeder eendag vergeet om my by die skool te kom haal.
Ek was toe in sub B en ek het by die hek op my boeksak gesit, gekyk hoe die son sak en gewonder wat Robbie sou gedoen het as hy ek was. Hy sou seker huis toe geloop het, het ek gedink. Hy sou ’n plan gemaak het om by die huis te kom.
Ek het die bakens geken, maar dit het baie hard gereën.
Ek het ’n afdraai gemis en verdwaal. ’n Man sonder voortande met ’n Pick ’n Pay-trollie, hoog gelaai met sy besittings, het my gekry waar ek huilend langs ’n reusevullishouer, tot oorlopens toe vol stukkende glasbottels, staan. Hy het na bier en sweet geruik en ek was bang vir hom, maar hy het my versigtig op sy trollie getel en my na die naaste polisiekantoor geneem.
Wie is jy en waar kom jy vandaan?
Ek het nie toe al geweet dis ’n vraag wat my die res van my lewe sou agtervolg nie.
My ma het om verskoning gevra, met afgryse vervul oor haar vergeetagtigheid. Sy het vir my my eie aardbol gekoop om my beter te laat voel, en vir my al die lande gewys waar sy al was: Frankryk, Duitsland, Nieu-Seeland.
Maar sy was nie regtig teenwoordig nie. Haar oë was wasemrig, en alles wat sy gesê het, was deurmekaar en verdraaid, asof sy nie heeltemal haar gedagtes kon orden nie.
Wat as dit ék was? wou ek haar vra, maar ek was te bang om haar antwoord te hoor.
*
Robbie het vasgebyt, taai soos staalpuntstewels. Toe sy immuunstelsel erg aangetas was, is ek nie naby hom toegelaat nie. Nie met my asma en snotneus nie, om nie eens te praat van ’n geneigdheid om maagvirusse by die skool op te tel nie. Ek het smiddae saam met Pa in sy bakkie rondgery en gekyk hoe sy werkers krane en toilette installeer en vrot, stinkende dreine oopmaak.
Dit het gelyk asof my ma haar skaam vir my pa se werk. Wanneer iemand haar vra, het sy gesê hy is ’n entrepreneur.
“Ek’s ’n lóódgieter, Veronica. Dis hoe ek ons rekeninge betaal.”
“Wel, dis nie nodig om so te kere te gaan nie, Stuart. Jy’s die eienaar van ’n suksesvolle besigheid, dis al wat belangrik is.”
“Ja. ’n Loodgietersbesigheid, wat vir jou halfjaarlikse vakansies en die kinders se privaat skole betaal.”
Wanneer Pa die dag vergaderings met sy kliënte gehad het, het ek by die huishulp gebly. Nie Sophie nie; sy was reeds weg. Pa het vir my plastiekelmboogstukke en -waterpype gelos om aanmekaar te sit. Ek het van die simmetrie gehou. Ek het ingewikkelde ontwerpe prakseer, wat die hele slaapkamervloer vol gelê het, want dit was te mooi om te breek.
“Dis nie verfynd nie, Stu. Ek het vir haar poppe gekoop om mee te speel.”
“Dis net plastiekbuise, in vadersnaam. Dis nie asof dit al gebruik is nie.”
Ek was die baba van die gesin, maar ek wou nie met ’n babapop speel nie. Kinders het my nie geïnteresseer soos hulle vir Joe gefassineer het toe hy nog maar ’n kleuter was nie. Om die waarheid te sê, ek het hulle heeltemal geïgnoreer. Ek wou baie graag ’n troeteldier hê – ’n hond, ’n hamster. Selfs sywurms.
“Onsindelik,” het Moeder gesê. “Dit sal nie goed wees vir Robbie nie.”
Sy het vergeet hoe ons, wanneer hy gesond genoeg gevoel het, onder Kirstenbosch se eikebome verdwyn het om erdwurms uit te grawe. Eenkeer het ons ’n halfontbinde suikerbekkie gekry, vol maaiers en bloed, en Robbie het dit opgetel.
“So dis wat met my gaan gebeur,” het my ouboet gesê. “Tensy hulle my veras.” Hy het bedoel ons ouers. Moeder sou hom stilgemaak het as hy so praat, maar ek het nie. “Ek wil ’n bank hê,” het Robbie gesê, “met my naam daarop. Net hier, onder die bome.”
Natuurlik is Robbie nooit toegelaat om daaroor te praat nie. Nooit nie. En toe die tyd aanbreek, het hy nie sy bank gekry nie, want my ma het op haar lip gebyt, wat reeds vol plooie was, en anderpad gekyk.
Maar ek besef dit is amper onmoontlik om jou ’n ma se gevoel van hulpeloosheid voor te stel wanneer ’n kind siek is, tensy jy dit al self ondervind het. Die naaste wat ek ooit daaraan gekom het, was toe Sanusha waterpokkies gehad en haar so gekrap het dat haar vleklose vel oortrek was met rou seerplekke, maar dit was natuurlik nie lewensbedreigend nie.
Dit kos ’n ma soos ek om dit reg te kry.
Ons halfjaarlikse vakansies het minder geword nadat Robbie siek geword het. Hy kon nie ’n lang reis verduur nie: nie die bedompigheid van die kar se agtersitplek of die zoemende lugversorging op vliegtuie nie. Hy was min gepla wanneer vreemdelinge hom aanstaar. Klein kindertjies sou by hom verbyloop en met hulle vingers wys. Kyk, Mamma, hy’t nie hare nie. Robbie het nie sy kaal kop onder ’n pet of ’n bandana weggesteek nie, hoewel Moeder graag wou hê hy moes. Skat, daar’s geen rede waarom jy nie hierdie een kan dra nie. Dis baie stylvol. Maar ek en Robbie het geweet dit het niks te make gehad met “styl” nie. Sy het dit gehaat dat ons aandag trek. Een skuif na die Spur (reeds ’n stap laer vir haar) en ons het onmiddellik ekstra ballonne en inkleurprente gehad. Ons het almal geweet waarom.
Op die speelgrond het die kinders nuuskierig na Robbie gestaar.
“Wil jy voel?” het Robbie aangebied.
Een na die ander sou die kinders aan sy kop vat, met versigtige vingertjies aan die knoppe en duike in sy skedel voel.
“Wat makeer jou?” het ’n kind eenkeer gevra.
“Kanker.”
“O.” Sy voorkop het verkreukel. Toe sê hy: “Ek het Fizzers. Wil jy een hê?”
Ek was maar vyf, maar ek onthou een spesifieke vakansie toe Robbie dit nog kon bybring, in die vroeë jare van Robbie se siekte, waartydens ons gesin die naaste aan normaal was: in 1970 iewers naby Knysna. Soggens het ons vroeg opgestaan en ek en Robbie, wat toe agt was, het strand toe gestap, met my onwillige pa agterna. Hy was nooit ’n oggendmens nie, maar Moeder het tyd nodig gehad om te “titivate”, soos hy dit genoem het. Sy sou later by ons aansluit, haar grimering perfek, haar gesig verskuil onder ’n enorme sonhoed, ’n reusesonbril op haar oë.
Wanneer ons met vakansie was, kon Moeder genoeg ontspan om nie alles wat ons doen te kritiseer nie. Trouens, soms het sy ’n gedaanteverwisseling ondergaan. Dan sou sy ’n Frisbee optel en dit met geoefende hale gooi sodat ons moes koes en duik om dit te vang. Binne ’n halfuur het sy ons heeltemal uitgeput. Eenkeer het sy selfs agter ’n Frisbee aan in die water geduik, en ek en Robbie het geskater toe haar spoggerige pienk hoed slap oor haar gesig hang. Die hoed het skeef drooggeword en daarna het Moeder dit in die tuin gedra wanneer sy die geel-en-swart kewers op haar rose in brandspiritus gooi om hulle dood te maak.
Die kewers was natuurlik elke jaar terug, maar Robbie het geweier om hulle te help uitroei. Dit was dus ek wat die styf toegedraaide spiritusbottel en die flesse in die motorhuis moes gaan haal, en ek en Moeder het mekaar op ons slagveld gevind, met ons eie weergawe van Agent Orange – behalwe dat ons s’n pers was.
Robbie het graag vir Moeder geterg en partymaal het hy haar laat giggel soos ’n skoolmeisie. Sy sou met haar hande oor sy kop vryf, en iets sê oor hoe goed hy ’n bal kon vang of kon skryf of LEGO bou. Maar vir my was die tye saam met haar op die strand die heel lekkerste. Sy was besorg oor my vel en sy sou my lyf met sonroom invryf – oral waar dit nie deur my swembroek bedek was nie. Ek het gehou van die gevoel van haar hande wat my invryf: sag, maar deeglik. Dit het my laat voel asof iemand vir my omgee, vir my lief is.
Pa sou op sy handdoek sit met die dag se koerant – hy was ’n bietjie van ’n nuusverslaafde. “Ek wonder wat daai Ringo Starr gaan doen noudat die Beatles uitmekaar is,” sou hy sê, of: “Dink Vorster werklik hierdie Bantoestan-besigheid gaan werk?”
Pa het gewoonlik nie ’n antwoord verwag nie, maar partykeer sou Moeder glimlag en ons verras deur iets te sê soos: “Ringo was ’n briljante tromspeler lank voor hy deel was van die Beatles. Hy’t ‘Octopus’s Garden’ geskryf, weet jy?” Waar Moeder sulke brokkies gekry het, weet ek nie, maar sy was ’n ywerige leser, iets wat Robbie by haar geërf het, maar ek nie. Ek kon nooit lank genoeg stilsit nie. Buitendien het ek gehou van die klank van haar stem wanneer ons aan weerskante van haar sit vir ons slaaptydstorie. Sy kon haar stem laat boem asof sy oor ’n luidspreker praat, of dit sag en syerig maak soos ’n slang. Robbie, altyd liefdevoller as ek, sou sy arms om Moeder gooi en haar op haar wang soen.
“Ek is ontelbaar lief vir Mammie, tot in ewigheid,” sou hy sê.
“En ek vir jou, seuna,” sou sy antwoord.
Elke middag tydens ons vakansie sou Moeder vir ’n paar uur verdwyn. Eers het ons na hierdie tye uitgesien, want ons het geweet Pa sou vir ons ’n skelm roomys koop, al was ons almal op die een of ander spesiale eetplan wat Moeder se kankerondersteuningsgroep vir Robbie voorgestel het.
Robbie het siekte anders as ek hanteer. Hy het hom aan Moeder se sorg oorgelaat met ’n geduld waarna ek gesmag het. Hy was in staat om dinge te doen vir die blote rede dat dit ander gelukkig gemaak het. En Robbie het my gelukkig gemaak soos niemand anders sou of kon nie.
Dit het gelyk asof die vakansie vir Robbie sterker maak. Hy het nie so maklik bruin geword soos ek nie, maar binne ’n week was sy vel nie meer so doodsbleek nie. Hy het genoeg vriende vir al twee van ons gemaak. Ek het soos ’n brakkie agter hom aangedrentel, en saam vlugbal en Frisbee gespeel wanneer hy dit kon regkry.
Saans het ons ’n kamer gedeel in die selfsorgeenheid wat ons ouers gehuur het, en Robbie sou in die lig van ’n flits vir my lees of my bangmaak met spookstories, wat my verbeelding op loop gesit het met beelde van bloed en derms. Ons het ’n fantasiewêreld geskep wat heeltemal onverstaanbaar vir ons ouers was, iets wat ons net nog meer plesier gegee het.
Maar ten spyte van hierdie oomblikke van vreugde, het daar ’n spanning geheers waaraan ons nie kon ontsnap nie. My ma het Robbie met valkoë dopgehou, besorg dat hy hom sou ooreis of seermaak. En selfs wanneer my pa uiteindelik vir haar ’n dekstoel strand toe gesleep het, kon sy steeds nie ontspan nie en het sy kort-kort gebuk om die sonskermroom op te tel, of byna obsessief aan ’n groot bottel water geteug. In die namiddae het sy ons van die strand af teruggejaag om te gaan rus.
Verder het sy gebid. Deurentyd. Dalk selfs op die strand. Ons het voor elke maaltyd die seën gevra: Dankie vir die heerlike kos. Mag dit vir Robbie beter gesondheid bring en hom met sy herstel help. Amen. Ek het nie aanstoot geneem omdat die res van die gesin van die gebed uitgesluit was nie: Dit het reg gevoel dat God se aandag op my boetie moes wees. Maar dit het gelyk asof Moeder meer tyd saam met God as saam met Robbie deurbring. Elke middag sou sy na die naaste Katolieke kerk ry of stap om haar sondes te bely. Ure later sou sy terugkeer, haar wange rooi, haar oë bloedbelope, en ’n whiskey skink. Pa sou ’n bottel wyn by ete oopmaak, en sy sou baie meer as hy drink. Wanneer ek nou daaraan dink – en ek het oorgenoeg tyd daarvoor – wonder ek of daardie aanhoudende waterdrinkery en laatslapery tydens ons vakansies nie dalk die gevolg van ’n feitlik permanente babelas was nie. Ironies genoeg het dit slegs so aangehou terwyl Robbie gelewe het en het dit blykbaar nie haar bestuur van die huishouding beïnvloed nie.
Dit het my pa se hartaanval gekos om dinge te laat verander.
*
By die skool het ek een spesiale maatjie gehad.
Annie was die suiwerste sonskyn. Sy was blond en bleek, met skitterwit tande en dik brillense op haar neus, sodat sy permanent nuuskierig gelyk het. Hoewel sy nie mooi was nie, het sy mense soos swaartekrag aangetrek. Om redes wat ek nooit heeltemal verstaan het nie, het sy mý uitgekies. Sy het haar nie gesteur aan my permanente behoefte om mense te beïndruk nie: die beste Barbie-pop, die meeste boeke, die mooiste klere. Op dertien was ek die eerste een in ons klas om my maagdelikheid prys te gee – vir ’n seun wat drie jaar ouer as ek was, by Bishops skoolgegaan het, met ouers wat drie BMW’s gehad en in ’n paleis net langs Kirstenbosch gewoon het.
Annie was kaptein van die netbalspan en ’n provinsiale swemmer. Daar was meestal ’n helder pienk blerts op haar neus en haar gesig was besaai met sproete – die gevolg van lang ure in die son. Sy het haar sokkies soos worse op haar enkels omgerol en ’n soom in haar romp gewerk sodat dit net-net haar agterstewe bedek het. Annie het pajamapartytjies gereël en kon die lekkerste Thai-kerrie maak wat jy nog ooit geproe het – met steurgarnale!
Sy het my ook aan my eerste man Rajit voorgestel – dalk die enigste aspek van ons vriendskap wat ek werklik berou. Dit spreek vanself dat Sanusha sal sleg voel as ek dit sê. Sanusha ruk haar op vir die geringste ding; sy was nog altyd so vinnig op haar perdjie.
Sover ek kan onthou, het Rajit en Annie mekaar ontmoet by die een of ander interskoleredenaarskompetisie oor die Britse Koninklike Familie se reg op privaatheid ná die onlangse geboorte van prins William. Hulle het teen mekaar deelgeneem. Annie se span het gewen (natuurlik), maar Rajit was so ’n goeie verloorder dat sy hom die volgende naweek na ’n partytjie by haar huis in Rondebosch genooi het. Vanselfsprekend was ek ook daar. Ek het Rajit een kyk gegee en geglo ek is verlief. Hy was toe al iets vir die oog – digte wimpers, amandelvormige oë soos diep waterkuile, en langer as ek, wat ongewoon was in daardie dae. Daar was nie ’n enkele puisie op sy gesig nie, sy skouers was klaar breed, sy heupe smal en sy stem perfek vir die radio. Later, toe ons pas getroud was, sou ons in die bed lê en ek sou na die gedreun van sy diep bariton luister. Daardie stem was genoeg om my maag te laat draai en knoop, stywer as ’n Franse vlegsel.
Rajit het my onmiddellik raakgesien, soos Annie verwag het. Annie het graag Kupido gespeel, en die feit dat hy ’n Indiër was by ’n partytjie in die minder as liberale suidelike voorstede het dit selfs opwindender gemaak. Die blote gedagte aan hom het my ouers onmiddellik op hulle agterpote gehad en my vriende het my waagmoed bewonder.
“Dis nie dat ek rassisties is nie,” het Moeder gesê, “maar dink net aan die kultuurverskille! Wat van Kersfees?”
My pa het minder gesê, maar dit het meer beteken. Hy het gewoonlik nie geswyg oor sulke kwessies nie, veral nie as dit duidelik was hy stem met Moeder saam nie. Kort nadat ek met Rajit begin uitgaan het, het Pa eendag op die kontoerpad naby die Rhodes-gedenkteken morsdood neergeslaan. Hy en sy vriend Denzel het vir die Argus-fietstoer geoefen. Denzel het vir my gesê ek het Pa sy dood gekos – met my wilde maniere, my swak skoolpunte en my kafoefelry met daai kerrievreter.
Dit maak my seker skuldig aan vadermoord ook nog.
Dit was nie asof Rajit die enigste seun was met wie ek al ooit “gekafoefel” het nie. Seuns se tonge het uitgehang wanneer hulle my sien en ek het hulle ook nie te lank aan ’n lyntjie gehou nie. Ná ’n dag op die strand het ons na partytjies toe gegaan onder die dekmantel van oorslaap by vriende. (Ek het vir Pa gesê ek bly by Annie-hulle. Sy het weer vir haar ouers gesê sy is by ons huis.) Ek sou eenkant staan met my sigarette en my nuwe BIC-aansteker wat ek stilletjies by die Spar gekoop het. Terwyl ek my sigaret aansteek, sou ek aan my boob tube trek en ’n smeulende blik stuur in die rigting van die seuns wat in my belangstel.
Op daardie sterbesaaide aande sou almal dronk word op rum-en-Coke of bokswyn. Ek het wyn verkies, en dit vinnig afgesluk totdat my kop effens draai. Greg-Dave-Fabio-Adrian-Grant-Costa het gou sy arm om my gehad en my spesiaal laat voel. Hy sou goed sê soos: “Is sy nie stunning nie?” of: “Kyk wie’t ek raakgeloop, hoe lyk sý vir jou?” of: “Jirre, ek soek jou lyf.” Tydens daardie paar uur se gevroetel en terloopse, onbeskermde seks het ek nie so aan myself getwyfel nie. Dis nie maklik om selfvertroue te hê as jou ma jou altyd aansê om nie so vol van jouself te wees nie.
Ná al daardie seuns het ek op die ou end op agtien met Rajit getrou, in ’n rooi sari, versier met turkoois krale en met dik goue gare geborduur. Sy ma, Asmita, het dit tydens ’n reis na Jaipur gekoop.
Wat anders kon ek doen? My matriekpunte was so swak dat geen universiteit my sou aanvaar nie – nie dat ek belanggestel het nie. Op skool het ek in die klaskamer sit en droom van op reis gaan – na die Galápagos-eilande, Antarktika en Route 66. En wanneer ek nie daarmee besig was nie, het ek aan Rajit gedink en aan sy kaal lyf teen myne agter in sy pa se Honda Ballade. (Dis verstommend wat jy reg onder jou ouers se neuse kan regkry.) Ek het hoegenaamd geen begeerte gehad om my voorgeskrewe boeke te lees nie, en geen geduld om te sit en studeer nie. Geskiedenis was vervelig, wiskunde was onverstaanbaar, Afrikaans was sieldodend en ek het die biologie wat ek by Rajit geleer het baie meer geniet as enige bespreking van swamspore of amfibiese lewensiklusse. Aardrykskunde was my enigste redding.
Op die wêreldkaart het ek my pad uit die klaskamer gevind, totdat ek in ’n doodloopstraat beland het.
*
Sanusha.
Die helfte van haar DNS is nou wel myne, maar sy lyk glad nie na my nie, nog minder tree sy soos ek op. Om maar een ding te noem: Sy is ongelooflik slim, nes haar pa, wie se briljante verstand ’n groot deel van sy aantrekkingskrag was totdat hy dit begin gebruik het om my te verkleineer. Toe sy klein was, was Sanusha effens mollig, en die kombinasie van ’n skerp intellek en ’n dikkerige lyfie het veroorsaak dat sy dikwels geboelie is deur die klein tewe wat saam met haar skoolgegaan het. Anders as ek, het Sanusha gelukkig nie omgegee wat mense van haar dink nie, of sy het ten minste voorgegee dat sy nie omgee nie.
Rajit het Sanusha se naam gekies. Ons het nie geweet wat dit beteken nie, maar hy het vir haar gesê dit beteken “prinses”. Fisiek het sy in elke opsig na sy ma gelyk – ’n kleiner, presieser weergawe van Asmita was moeilik denkbaar.
Ek het niks daarvan gehou nie. Ek wou hê my dogter moet ’n jonger, beter weergawe van my wees.
Vir Moeder was my swangerskap die laaste strooi. Sy het by die opwasbak in die kombuis staan en uie kap toe ek huis toe kom en haar die nuus meedeel. Ek en Raj het besluit ek sou dit alleen doen. Aangesien my moeder en pa sy blote teenwoordigheid verpes het, het hy maar selde sy gesig in Upper Torquay-laan gewys.
Die enigste gesinsaandete wat hy ooit bygewoon het – ’n jaar tevore, toe ons begin uitgaan het – was ietwat van ’n ramp. Ek onthou hoe my pa sy hand uitgesteek het om Rajit s’n te skud en toe sy handpalm agter aan sy jeans afgevee het, terwyl sy neusvleuels so effens oopgesper het die oomblik dat hulle mekaar se hande los. Pa het van ’n beenbreekgreep gehou, ’n teken van krag en manlikheid; Rajit was die soort ou wat sy naels gevyl het. Sy lang, sensitiewe vingers met hul goedversorgde naelvliesies was een van die redes waarom ek van hom gehou het.
“Pap handjie,” hoor ek my pa in die kombuis vir my moeder sê.
Ons gaan sit aan tafel. Vir die eerste keer in my lewe sien ek die vertrek deur iemand anders se oë – Rajit s’n. My moeder was behep met die familiegeskiedenis, selfs al was dit nie net haar familie nie. Op die buffet, in plaas van die gewone vrugtebak en verskeidenheid geurmiddels en souse, het my moeder ’n versameling familieportrette staangemaak. In silwer en goue rame word my voorsate uitgestal – wel, eintlik Robbie s’n – met hulle stywe boordjies en gladgepleisterde hare. Strak staar hulle na die kamera. Natuurlik is daar ’n glimlag hier en daar, een of twee spontane foto’s, mense wat onverhoeds betrap is, hulle emosies vir ewig vir die nageslag vasgevang (en ek was seker ek het my nie die veelseggende blik tussen my aansienlik jonger ouma en ’n man wat blykbaar my oupa se se ouer neef was verbeel nie). Maar selfs opmerkliker is hoe wít en hoe éénders almal lyk. Seker daarom dat my gunstelingfoto die een is van my moeder se oupa by ’n jaghuis in Rajasthan: Indiërmans met tulbande en sierlike snorre wat hulle haelgeweers ongeërg vashou, hulle jaghonde keffend om hulle voete. Ek het my graag verbeel ek is deel van daardie eksotiese toneel.
Moeder het die tafel gedek met haar beste breekgoed en die silwereetgerei wat die huishulp ure lank blink gevryf het – meestal met ’n vies gesig en ’n verlangende blik deur die venster na buite, waar die son geskyn het en die tuinier besig was om die gras te sny. Moeder het blomme en kerse uitgesit, maar in plaas van verwelkomend, lyk dit intimiderend, selfs vir my. Asof sy die onwelkome vryer probeer verdryf met tafellinne, Tsjeggiese kristalglase en skitterblink messegoed. Sy het selfs verklee sodat Rajit sleg afsteek in sy jeans en T-hemp.
Hovaardig bekyk my moeder Raj van oorkant die tafel, asof sy hom uitdaag om die verkeerde mes op te tel. My pa, wat sy ongemaklike bes doen in ’n netjiese broek en baadjie, deel sy enigste insig in die Indiese bevolkingsgroep: “Ek was nog altyd mal oor ’n lekker kerrie.”
Stilte.
“Ek is bly,” glimlag Rajit oplaas. “Ek geniet altyd ’n vindaloo. Hoe sterker, hoe beter.”
Ek tel die sarkasme in Raj se stem op en skop hom onder die tafel. Hy glimlag en knipoog vir my.
Stilte.
“Rajit gaan ’n aktuaris word,” sê ek.
Pa se gesig is bot. “Wat de hel is dit?”
“Liefling!” Moeder sit haar hand op Pa se yslike poot.
“Ek gaan met syfers werk,” sê Raj.
“Wat, soos in ’n bank?”
“Nie noodwendig nie,” antwoord Rajit.
“Kan ek vir jou inskep?” vra Moeder, en wys na die eenderse bakke, hoog gestapel met aartappels en broccoli, slaai en vleis. Baie vleis.
“Raj is ’n vegetariër,” laat ek van my hoor.
My pa verbleek en my moeder stoot geluidloos haar stoel terug.
“O aarde,” sê sy, en gee my ’n kyk wat ek goed ken. “Thea, kom help my asseblief in die kombuis. Dit lyk my ek het die sous vergeet.”
Ek volg haar gedwee.
“Dink jy nie jy moes dalk vroeër genoem het dat hy nie vleis eet nie?” sis sy toe sy my in die spens vaspen.
“Hy wou nie ’n bohaai maak nie.”
“Wel, nou maak ék ’n bohaai. Wat voer ek hom?” vra sy, terwyl sy die yskasdeur ooppluk, buk en ’n pakkie bruin sampioene uithaal.
“Moenie moeite doen nie, Moeder. Hy sal alles eet behalwe die vleis.”
“Probeer jy hierdie familie in die skande steek? Dring jy daarop aan om my te verneder? Is dit wat jy wil hê?”
“Jy wou hom nie eens hier hê nie, Moeder. Ek wou nie vir jou nog meer werk maak nie.”
“Alles aan jou is werk.” Moeder kap uie en knoffel, plak ’n pan op die stoofplaat neer en skakel dit aan. Sy gooi ’n klont botter in die pan. Sampioene. Suurlemoensap. Gemengde kruie. Ek kon die spanning in haar skouers sien. Sy was so styf soos ’n winkelpop, haar gesig van plastiek. Toe draai sy skielik om en stoot my vorentoe. “Gaan eetkamer toe en help jou pa. Ek kom nou.”
“Goed.”
In die eetkamer praat niemand nie. Toe ek inloop, vang ek Rajit se oog en trek my skouers op. Pa leun vooroor, sy elmboë op die tafel, en sluk die inhoud van sy wynglas met ’n enkele teug weg.
“Hoekom is jy nou eintlik hier?” vra Pa, en stoot die bottel na Raj toe, wat sy kop byna ongemerk skud.
“Ek hou van u dogter,” sê Raj baie sag.
“Ek ook,” sê Pa, “maar ek is nie so seker ek hou van jóú nie.”
“Pa!” sê ek.
“Stil, Thea – dis tussen my en hierdie jongman.”
“Ek sou nie so sê nie,” antwoord Raj. “Thea het die reg op ’n mening.”
My pa slaan met sy vuis op die tafel sodat die breekgoed ratel. “Ek weet wat goed is vir my dogter!”
“Miskien is ék goed vir haar,” sê Raj.
“Ek dink nie jy’t genoeg lewenservaring om dit te weet nie.”
Raj lig sy ken en kyk my pa vierkant in die oë. Dit is soos twee renosters wat reg staan om aan te val. My pa gluur Raj aan, maar Rajit kyk nie weg nie. Om die waarheid te sê, dit lyk asof hy effens vorentoe leun. Pa lyk verward, knip sy oë, en sit terug.
“Het jy broers en susters?” vra hy in ’n vriendeliker stemtoon.
“Twee jonger susters,” sê Raj en ontspan in sy stoel. “Layla is vyftien en Kesiree sestien.”
“En wat doen jou ouers?”
“My pa is ’n onderwyser. My ma is in litigasie.”
“’n Prokureur?” vra Pa, en byt hard op sy tande. Hy plas nog wyn in sy glas en sluk dit af.
“Ja.” Rajit teug aan sy Coke.
My moeder kom die vertrek binnegeskarrel. In een van haar beste borde is bruin sampioene op ’n laag koeskoes gestapel.
“Rajit,” vra sy, “eet jy sampioene?”
“Dankie, mevrou Malan. Dit sal heerlik wees.”
Natuurlik kan niks wat Rajit doen my ouers beïndruk nie – nie eens die eet van die sampioene nie, wat hy al vantevore vir my gesê het slymerig smaak en hom aan swart slakke laat dink. As hy met gevoude bene bokant die tafel gesweef en vuurballe in die lug gehou het, sou Pa hom tien teen een net aangegluur het en Moeder sou op haar horlosie gekyk en opgemerk het hoe laat dit word.
Nie dat dit laat word nie. Teen die tyd dat ons klaar geëet het, is die Kaapse somerson nog nie onder nie en die atmosfeer is so gespanne dat ek ’n migraine voel aankom. Ek vryf met my handpalms teen my slape en wens, nie vir die eerste of die laaste keer in my lewe nie, Robbie is hier. Selfs die gewoonlik sjarmante Rajit kry sigbaar swaar. Onder die tafeldoek hou ek sy hand styf vas.
“Wel,” sê Moeder ná nog ’n pynlike stilte. “Wat van koffie?”
Rajit haal een van sy innemende glimlagte uit. “Nee dankie, mevrou Malan.”
“Gaan jy nou vir my sê jy drink ook nie koffie nie?” vra Pa. “Wat de hel is verkeerd met koffie? Drink ’n koppie, man. Dit sal jou borshare laat groei.”
Rajit lig sy wenkbroue. “Dis ’n wonderlike vooruitsig, meneer Malan, maar ek moet nog ’n opdrag gaan klaarmaak. Ek moet seker maar ry voor dit te donker word.”
“Laat jou ouers jou toe om in die donker op jou fiets te ry?” vra Moeder.
“Hulle werk soms laat.”
“Aaaa,” sê Moeder, asof dit alles verklaar. “Besige ouers.”
“Ja, seker.”
“Ek stap saam met jou deur toe,” sê ek, met die hoop op ’n soen weg van my ouers se afkeurende teenwoordigheid.
My pa staan op, maar dié keer steek hy nie sy hand uit nie. Hy knik net kortaf. “Rajit.”
“Meneer, mevrou Malan, baie dankie vir ’n heerlike ete.”
Buite die voordeur neem Rajit my in sy arms.
“Wel, dít het goed gegaan,” sê hy en begin lag.
“Ek is bly jy’t nog jou humorsin,” sê ek.
“Ek kan sien ek gaan dit nodig kry.”
En toe is sy lyf teen myne, en sy lippe gaan oop en sluit oor myne. “Ek wil vir jou iets gee voor ek gaan,” fluister hy. “Iets om jou aan my te laat dink.”
“Wat is dit?” vra ek, vol verwagting.
Hy sit ’n klein pakkie in my hand.
Dis sy servet, netjies toegevou. Binne-in is die meeste van sy sampioene.
*
En nou, net ’n paar maande later, voel dit vir my, is dit net ek en Moeder in die kombuis, met ander sampioene wat eenkant langs die opwasbak in ’n polistireenbakkie lê en wag om gaargemaak te word.
As my moeder my vir my pa se dood verkwalik, sê sy dit nie, maar haar dubbele verlies maak haar toenemend afsydig: twee sterftes in haar kerngesin. En al twee die oorledenes was belangriker as ek.
“Kan ek help met iets?” vra ek.
Sy kyk na my, ’n stywe glimlag om haar mond. “Hoe lyk dit met slaai?”
Ek knik en haal kropslaai, komkommer en tamaties uit die yskas.
Ek sien ’n glas whiskey, sonder ys. Sy drink alleen, want daar is niemand om saam met haar te drink nie.
“Wat eet ons?” vra ek.
“Risotto.”
“Lekker.”
Moeder het baie dinge laat gaan, maar haar kookvernuf is nie een daarvan nie. Deurskynende uie sis in die pan; in ’n borrelende pot verkleur aspersies na ’n helderder, dieper groen. Ons werk stelselmatig, in stilte. Kook is een ding wat ons saam kan doen sonder om te stry.
Moeder het ’n draadloos in die kombuis. Sy luister na Springbok Radio van vroeg in die oggend wanneer ons Eric Egan sy gunsteling-kenfrase kan hoor uitroep, “I looooveee yoouuu”, tot laat in die aand ná die nuusbulletin om sewe. Die radio bring verligting. Dit help effens om die gespanne stilte te verlig. In stilte skil ek die komkommer in wisselende strepies van donker en lig, soos Moeder daarop aandring, voor ek dit in skyfies sny.
“Jy’s vroeg by die huis,” sê Moeder terwyl sy koppies rys in die pot afmeet.
Ek weet dis ’n stekie. Ek is een van daardie tipiese tieners wat die huis soos ’n hotel gebruik. In vir maaltye en om my wasgoed te bring, dan uit, uit, uit. Ek kom graag uit onder my moeder se intense, starende oë, ontsnap graag aan die herinnering aan ’n gedeelde verlede wat sy skynbaar gerieflikheidshalwe vergeet het. Ek probeer haar vergewe vir die manier waarop sy my behandel, maar ek is nie soos sy nie – ek is nie so geseënd om ’n instapbiegstoel te hê en die oortuiging dat ’n paar Ave Marias alles sal beter maak nie.
“Ek wou met Moeder praat,” sê ek.
“O?” Moeder kyk op en lig haar geplukte wenkbroue. “Hoekom?”
“Wel, ons sien nie veel van mekaar nie.”
“Ek moes nooit vir jou jou pa se kar gegee het nie. Ek moes dit verkoop het. Elke keer dat ek die enjin in die oprit hoor brul, dink ek dis hy.”
Sy hoef niks meer te sê nie. Selfs my aankoms by die huis veroorsaak vir haar pyn.
“Miskien moet ons dit dan liewer verkoop,” stel ek voor. “Iets anders kry.”
“Nie elke agtienjarige het ’n kar nie. Toe ek so oud soos jy was, het ek bus gery. Of geloop. Toe jou pa by my vlerkgesleep het, het ek met ’n boek van Bishopscourt af Mowbray toe geloop net om hom te sien te kry. Ek kon twee hoofstukke op pad lees.”
Ek het dit al tevore gehoor. Dat ek nie van lees hou nie, is nog ’n teleurstelling. Ons ruil nie boeke uit soos ander ma’s en dogters nie; ons gaan nie saam biblioteek toe en maak nie ons mandjies vol hardebandboeke nie.
“Moeder mis hom seker vreeslik,” sê ek.
“Hy was my sielsgenoot,” antwoord sy, “iets wat jy eers sal verstaan wanneer jy ’n bietjie ouer is.”
“Ek is lief vir Rajit, Moeder,” sê ek.
“Liefde!” antwoord sy en gooi ’n koppie chenin blanc by die rys voor sy die aspersies se sous byvoeg. “Wat weet jy van liefde?”
“Moeder was nie veel ouer as ek toe Moeder vir Pa ontmoet het nie.”
Moeder roer die mengsel, en draai toe die hitte laer. Ek sny ’n tamatie en die mes vang my vinger. Bloed pomp na die oppervlak en ek lek die druppels af. Hoekom smaak gesprekke met Moeder altyd soos geroeste metaal?
“Ek was ’n vrou toe ek jou pa ontmoet het. Jy’s ’n kind.”
Ek voel my gesig brand, my wange rooiwarm gloei. “Ek verwag, Moeder, so ek sal seker vinnig moet grootword.”
Moeder skakel die stoof af en stoot die pot eenkant toe. Toe draai sy na my toe, haar vertrekte gesig net-net onder beheer, en klap my deur my gesig.
“Jou klein slet,” sê sy. “Elke dag bid ek dat jy in ’n beter mens sal verander. En nou doen jy dít.”
Ek raak aan my wang, onseker of nog geweld gaan volg, en beweeg instinktief weg van die mes wat nog op die houtbord lê.
“Ek is nie ’n slet nie. Rajit is my baba se pa. Ek is lief vir hom. Hy’s lief vir my.”
“Hy’s nie die eerste man by wie jy slaap nie, Thea – ek is nie dom nie. Ek weet van jou reputasie. Dit volg my elke keer wanneer ek kerk toe gaan. Ek het al so baie vir jou gebid.”
“Ek het verander.”
“Regtig? Jy dink jy ken hierdie seun. Jy ken hom nie, Thea. Jy weet niks van hom af nie.”
“Ek kan leer.”
“Jy gaan op die harde manier leer.”
Moeder se gesig is so naby myne, ek kan die aartjies in haar oë sien. Toe gryp sy my polse en stamp my teen die kas. My rug is teen die handvatsel en pyn skok langs my ruggraat af. Sy los my polse, gryp ’n handvol van my groot bos krulhare, en kap my kop teen die kersiehoutkas.
Een maal.
Twee maal.
Drie maal.
Duiselig probeer ek haar wegstoot, maar haar swaar spykerhak vergruis my voet. My gesig vertrek, ek doen my bes om nie te skree nie.
Ek ken hierdie buie van haar. Maak of jy dood is. Hou jou slap. Maar hierdie keer kry ek dit nie reg nie. Wat as sy my baba seermaak? Met al die krag wat ek bymekaar kan skraap, stoot ek haar weg. Skok wys op haar gesig en sy tree terug voordat sy weer haar gesig teen myne druk.
“Jy’s ’n vieslike hoer, Thea. Nes jou ma.” Moeder sit haar hand onder my ken en blaas haar walms in my gesig. “Raak ontslae daarvan,” sis sy. “Raak ontslae van hierdie baba of ek vergewe jou nooit.”
Ek verlang na Pa, na sy kalm redelikheid wanneer hy dit durf waag het om haar teë te gaan. Ek huil. Ek probeer ophou, maar die snikke kom in my keel op, tot ek dink ek gaan verstik.
Ek snak na my asem. “Wat sê Moeder?”
“Jy weet goed genoeg wat ek sê. Laat dit aborteer. Ek gaan nie ’n bastergebroedsel in hierdie familie toelaat nie.”
“Ek dag Katolieke glo nie aan aborsie nie, Moeder.”
“Dis nie ’n baba hierdie nie, dis ’n fout.”
“Ek gaan met Rajit trou, Moeder. Ons het klaar besluit.”
“Oor my dooie liggaam. Dink jy om ’n baba groot te maak is maklik? ’n Huwelik is maklik? Jou pa draai in sy graf om. Die Here alleen weet hoe ek my vir jou skaam. Om te dink ek het jou van die straat af opgetel, jou soos my eie grootgemaak, en dís wat jy aan my doen!”
“Ek gaan nie my eie kind doodmaak nie. Ek weier.”
Ek het iemand nodig wat my sal liefhê.
My moeder trek haar rok reg en stoot haar vingers deur haar hare. “Ek gee jou vier en twintig uur om daaroor te dink. As jy doen wat ek sê, sal ek daarvoor betaal, en ons vergeet daarvan. Maar as jy met Rajit trou en daardie gebroedsel hou, kan jy maar jou koffers pak, my meisie. Dan wil ek jou nie langer in my lewe hê nie.”