Читать книгу Marico se mambas - Piet Swanepoel - Страница 5

JY VERTEL DIE STORIE VERKEERD

Оглавление

Die Marico-bosveld het oor die jare karakters opgelewer soos seker min ander streke in Suid-Afrika, manne wat geglo het: ’n man met ’n plan is ’n man wat kan. Een so ’n planmaker was Daantjie Nel, befaamde beessmokkelaar, wildskieter ( let wel – nie wilddief nie!) op kroongronde, kompanjiegronde en onbewoonde plase.

In daardie jare het die polisie nie veel gehad om hulle mee besig te hou nie. Misdaad was minimaal in die Marico-streek en hulle moes hul tyd maar omkry met die versorging van hul perde en patrollieritte. En dan natuurlik was daar die kat-en-muis-speletjie met die onwettige jagters en uitgeslape mampoerstokers. Almal het so nou en dan iets vir die pot geskiet, sonder ’n permit natuurlik! En baie het gestook – sonder liksens natuurlik.

Daar word toe daardie tyd ’n nuwe sersant by die polisiekantoor op Derdepoort aangestel, sersant Piet Rich, ’n ambisieuse, flukse geregsdienaar. Ná ’n paar maande het hy sy streek en die inwoners redelik goed geken. Een naam wat telkens opgeduik het, was dié van Daantjie Nel, soveel so dat sersant Rich ’n meer as normale belangstelling in die man begin toon het. Volgens die stories en staaltjies was genoemde Daantjie die mees uitgeslape, jy kan maar sê, wetsoortreder in die ganse Marico-streek. Sy eskapades en planne was legendaries. Sersant Piet Rich het vir Daantjie as ’n uitdaging begin sien. Dit was gou algemeen bekend. Van die ou polisiemanne in die Marico-streek het net vir mekaar gekyk en ’n glimlag van die mond afgevee. Op veevendusies het die boere daaroor gepraat, hul koppe geskud, en gelag. Net Daantjie het niks gesê nie, maar sy ore was oop.

Op ’n dag het Daantjie besluit dat dit tyd is om biltong te maak. Die eerste ryp het al plek-plek geval. Sy geliefkoosde jagplek was ’n onbewoonde plaas nie baie ver van sy eie woonplaas af nie. Hy het sy getroue Tswana-handlanger geroep en aangesê om die donkiekar in te span. Toe is hy die huis in om ná ’n rukkie te voorskyn te kom met ’n Leemetford en ’n ou Martini-Henry-geweer. Die twee wapens is op die donkiekar gelaai en hulle is vort na die jagplek toe.

Die Leemetford was die standaard Britse weermaggeweer, wat met ’n skerppunt-kopermantelkoeël van .303-kaliber geskiet het. Die polisie was in die dae van hierdie verhaal daarmee uitgereik. Die Martini-Henry was ’n ou staatmaker uit die jare voor die Driejarige Oorlog en het met ’n soliede loodkoeël van .45-kaliber geskiet. Voor die oorlog was daar ongeveer 30 000 van hulle in die Z.A.R., maar hulle het in onbruik geraak toe ammunisie skaars geword het.

So twee kilometer van sy bestemming af het Daantjie die kar en donkies onder ’n groot koelteboom vasgemaak en hy en sy handlanger het al teen die voet van die berg langs verder gestap. Ná ’n ruk het hulle skuins teen die berg begin uitklim tot by ’n lekker uitkykpunt. Daantjie het op ’n plat rots gaan sit en sy pyp tydsaam gestop. Intussen het sy skerp oë die bos onderkant hom gefynkam. Hulle het nie baie lank gesit nie toe hy ’n ligte beweging in die bos langs ’n sandsloot gewaar.

’n Pragtige koedoebul kom uit die ruigte gestap en gaan staan mooi dwars in die sandsloot, skaars 150 meter van hulle af. Daantjie skuif die veiligheidsknip van die Leemetford versigtig terug en vat toe dooierus oor ’n droë stomp. Toe die skoot klap, val die groot bok op sy kloutjies. Daantjie oorhandig die Leemetford aan sy helper: “Gaan wag nou maar vir my by die donkiekar.” Toe stap hy fluit-fluit teen die berg af na die koedoe toe, Martini-Henry oor die skouer.

’n Ent voor hom klink skielik ’n kwêvoël se waarskuwende “Koe-wê-ê-ê-ê!” uit ’n hoë boom. Toe Daantjie om ’n draai in die sloot kom, lê die dooie bok so twintig tree voor hom. Tien tree anderkant die koedoe sit sersant Piet Rich op sy groot vosperd, geweer oor die knieë. Daar is so ’n skewe glimlag op sy gesig. Daantjie haal die swaar geweer van sy skouer af en laat dit voor hom op die grond rus.

“So, meneer Nel, dan het my dag aangebreek. Vandag het ek jou – op heterdaad!”

“Waarvan praat jy, sersant?”

“Meneer Nel, ek was op pad na oom Jakkie du Plessis van Patattadraai, maar toe ek hier onder in die leegte verbyry, besluit ek op die ingewing van die oomblik om so ’n entjie teen die berg op te ry om sommer so ’n bietjie rond te kyk. Ek was skaars ’n honderd tree of wat uit die pad uit, toe hoor ek ’n skoot klap hier bo net onderkant die berg. Ek gee toe dadelik my perd spore al met die sandsloot langs en ná ’n honderd tree of wat toe sien ek hier lê ’n koedoe voor my in die sloot. Ek trek my perd in en wag. En sowaar, hier kom meneer Daantjie Nel fluit-fluit aangestap, geweer oor die skouer. Op heterdaad, meneer Nel, op heterdaad!”

“Nee, wag, sersant, w-a-a-g ’n bietjie. Jy vertel die storie verkeerd, hélemaal verkeerd! Ék loop hier bo teen die berg langs op soek na ’n verlore bees, so ’n rooi-witkop-os met ’n wit kwas. Skielik hoor ek ’n skoot klap hier na diékant toe. Nou wie sal hier skiet, dink ek. Hier bly mos nie mense op die plaas nie. En toe ek hier om die draai kom, wat sal ek sien!? Hier sit jý op jou vosperd, geweer oor die knieë, en skaars tien tree van jou af lê ’n koedoe, morsdood, klaarblyklik so pas geskiet.”

“Uh-uh, aikôna, meneer Nel, so maklik gaan jy nie wegkom nie. Wie dink jy gaan jou glo? Jy het ’n reputasie in dié omgewing, weet jy. Van jou en jou streke het ek al baie stories gehoor. Immers, die landdros ken ook dié stories. Vandag, meneer Daantjie Nel … is jy vas!”

“Nee, nee, sersant, so maklik gaan jý nie wegkom nie. Klim van jou perd af en dan slag ons darie koeël uit. As dit ’n Martini-koeël is, dan is ek skuldig. Dan moet jy my maar arresteer. Maar, sersant, as dit ’n Leemetford-koeël is, het jy probleme, dit belowe ek jou, groot probleme!”

Nou ja, sersant Rich weet mos hy’t nie die koedoe geskiet nie en hy voel in sy sak na sy mes, toe in die ander sak, maar nee, sy mes het seker by die kantoor gebly. Daantjie het hom heeltyd dopgehou. Toe haal hy sonder ’n woord sy Joseph Rodgers uit sy sak en bied dit vir die sersant aan. Sersant Rich begin sny en ná ’n ruk het hy die koeël in sy hand. Daantjie staan nader en kyk na die sersant. Die sersant kyk na die koeël.

“En …?” vra Daantjie.

Die sersant kyk op: “Dit kan nie wees nie. Ek verstaan dit nie. Ek het nie die koedoe geskiet nie!”

“Sersant, watse koeël is darie?”

“Ek sê jou, ek het nie die koedoe geskiet nie!”

“Sersant, dis nie wat ek vra nie.”

Daantjie vat die koeël uit sersant Rich se hand en kyk daarna: “Sersant, ek dink jy’t probleme, soos ek gesê het, groot probleme.”

“Maar ek sê jou, ek het nie die koedoe geskiet nie! Ek weet nie wie het nie, maar ek wéét ék het nie die koedoe geskiet nie, demmit!”

“Nou ja, sersant, ek hoor lankal dat jy loop en vertel dat ek die grootste ‘poacher’ in die Marico is en hoe jy my nog gaan toesluit. Maar nou ja, jy moet seker maar jou werk doen. Nou kyk, ek is nie iemand wat aan vervolgingswaan ly nie. Ek glo leef en laat leef. Soos dit nou lyk, dink ek nie ek is die een wat toegesluit gaan word nie. Maar dit hoef nie so te wees nie. Ek het ’n voorstel. Ons vergeet al twee wat vandag hier gebeur het. Jy praat nie en ek praat nie. Vat jou Leemetford en jou koeël, klim op jou perd, en gaan kyk hoe lyk dit op Patattadraai. Ek vat die koedoe en ek gaan huis toe.”

Marico se mambas

Подняться наверх