Читать книгу Marico se mambas - Piet Swanepoel - Страница 6

OOM ATTIE SE SPAN

Оглавление

In die dae van die transportryers was ’n man se span osse en sy wa sy belangrikste besittings, want van hulle was hy afhanklik vir sy lewensbehoeftes en voortbestaan. Die trekosse was maar meestal Afrikaners, taai, geharde, inheemse beeste met krag en stamina. Die transportryers het ook geglo, geweet daar is op hierdie aarde nie ’n mooier bees as ’n rooibees nie! Daardie gedraaide horings en trotse houding het hom ’n koningbees gemaak.

’n Goeie drywer was trots op sy span. Meestal het hy hulle self geleer, of touwys gemaak, soos die oumense gesê het. Elke os het sy naam gehad en hy het sy naam geken. ’n Goeie drywer het nie heeldag sy osse onder die sweep gesteek nie, net as een lyf wegsteek; dan het hy hom op sy naam genoem en so bietjie afgestof met die voorslag. In dik sand of swaar turf, as die span begin swaar trek, en die drywer gee die woord, dan buk hulle weg en hulle bring daardie wa anderkant uit.

Die transportwa was meestal ’n sterkgeboude bokwa van 18 voet. Daar was verskillende tipe waens, maar die een wat die meeste togryers verkies het, was die sogenaamde Grahamstadter. Hy is op Grahamstad gemaak en volgens die ou transportryers was hý die bobaas. Op hom kon jy ’n vrag van tot vyf ton gelaai het. ’n Deeglike wa!

Met die ontdekking van diamante by Lichtenburg het die boere van die Marico-bosveld skielik ’n nuwe mark gehad. Delwerstoerusting moes van Johannesburg af gekarwei word, en op die Hoëveld rondom die delwerye was vuurmaakhout maar skaars. Dit was Depressietyd en geld was nog skaarser. Die geleentheid om met transportry iets te verdien het dus soos manna uit die hemel gekom. In die Marico was daar ’n oorvloed van goeie brandhout: hardekool, karee, olien, kameeldoring, sekelbos, noem maar op.

Die waens is opgeknap, geverf en geghries. Ou trekosse is saam met jonges ingespan en nuwe spanne is geleer. Mettertyd het die togryers geweet watter drywer se span was goed en wie se span was beter. Oor die beste span was daar egter nie twyfel nie. Oom Attie Esterhuis, ’n veteraan wat voor die Driejarige Oorlog al transportgery het, se span donkerrooies het nie hulle gelyke gehad nie.

Daardie dae was daar baie plekke nog nie brûe oor die riviertjies en spruite nie en baie ou driwwe was nog in gebruik. As dit gereën het en die volwater het afgekom, moes daar soms dae gewag word voor die driwwe weer begaanbaar was .

Op ’n dag hier in die reëntyd was oom Attie met ’n swaar vrag olienhoutstompe onderweg diep uit die klowe uit. ’n Ent vorentoe was juis ’n drif met baie steil walle. Die ou bospaadjie was maar ongelyk met taamlik optes en aftes. Oom Attie het agter die wa geloop om die osse by die aftetjies bietjie te help met die briek. Toe hy so aankom na die drif toe, toe hoor hy daar is probleme by die drif. Stemme raas en swepe klap en so tussenin klink nou en dan die benoude bulk van ’n trekos.

Toe hy nader kom, sien hy teen die oorkantste wal bly staan ’n volgelaaide bokwa. Die wiele het tot by die nawe weggesak in die turf en weerskante langs die span is die drywer en helper met ’n dubbele sweep en ’n agteros-sambok besig om die osse genadeloos te dryf onder ’n vreeslike geskree en geswets. Die osse beur dan na links en dan na regs soos hulle onder die houe probeer uitkom, maar die wa roer nie. Oom Attie draai sy wa se briek vas en saam met sy touleier stap hy nader.

Die drywer sien hulle eers toe oom Attie groet. Oom Attie ken die man nie en sommer so met die eerste aanblik hou hy ook nie van hom nie. Die man het klein, wrede ogies en sy dik lippe krul in ’n permanente gryns langs die mondhoeke ondertoe. Hy stel homself voor as Koos Wostenholm. Oom Attie dink so by homself: Koos Woesteling sou jou beter gepas het. Maar hy sê niks, stel homself net voor. Die man se oë vernou so effens en, sonder om sy hand uit te steek, sê hy:

“Attie Esterhuis, nè. Ja, van jou en jou osse het ek al gehoor.” Hy kyk terug na die span donkerrooies op die oorkantste wal: “Lyk vir my nie so besonders nie; maar net gewone kommen osse,” smaal hy. Hy draai terug na sy helpers toe en skree: “Nou toe, laat ons hulle ’n bietjie beter hel! Darie bliep-bliep-bliepse wa moet uitkom!”

Toe hy die dubbele sweep lig, sluit ’n kragtige boerehand om sy arm. Hy kyk om, vas in oom Attie se blitsende blougrys oë.

“Nee, man, só werk mens nie met osse nie. Dis redelose diere. Met slaan sal jy niks regkry nie. Kan jy nie sien nie, hierdie span osse is flou gespook. Span hulle uit en gee hulle blaaskans.”

“‘Span hulle uit en gee hulle blaaskans …’” koggel die man hom. “En dan? Dan sal hulle die wa speel-speel hier uittrek, nè, oubaas! Of dalk moet ons ’n ander plan maak. Dalk moet jy jou wonderlike span afhaak en bring. Volgens die stories wat ek gehoor het, sal dit vir hulle kinderspeletjies wees. Ha!”

Oom Attie kyk die man vas in die oë en skud sy kop instemmend: “Ja, wil jy glo.” Hy draai na sy touleier: “Kom, Oupiet, kom ons gaan haal die rooies.”

Hulle haak die trektou by die disselboom af en kom deur die drif met die rooispan. Koos Woesteling en sy helpers het intussen sy span uitgespan. Oom Attie stuur sy touleier en Koos se twee helpers terug na sy wa toe vir ’n ekstra ketting. Toe hulle terugkom, maak die oubaas die twee punte van die ketting weerskante van die disselboom om die wa-as vas. Die middel van die ketting lê nou op die punt van die disselboom. Sy span se trektou word nou aan die disselboom en die ketting gehaak. Sodoende is die trekkrag versprei op die as en die disselboom, anders kan die disselboom by die voortang uitskeur.

Oom Attie stap langs sy span teen die wal uit en trek hulle reguit. Soos hy aanstap, noem hy elkeen op sy naam, van die agterosse af: “Domkrag, Broekman; Potberg, Landman; Donkerberg, Wakkerman; Jambloed, Joiner; Sinkwas, Sterland; Bantom, Mooiveld; Wiegman, Weiland,” en die twee voorosse Skiller en Bakker. Toe stap hy terug tot by die agterosse en, sonder om sy langsweep af te rol, sê hy: “Oubaas se rooies … VAT!”

Soos een bees buk die rooispan. Die jukke lê solied teen die skowwe. Die ketting om die wa-as klink en die trektou span soos ’n snaar, maar die wa beweeg nie.

“HOKAAI! HANOU!” klink oom Attie se stem. Hy hoor hoe Koos Woesteling saggies grinnik.

Oom Attie stap weer langs sy span op. Hier klap hy een op die boud, daar laat hy sy groot ou boerehand oor een se rug gly. Toe stap hy terug tot by die wa. Hy rol die langsweep af. Koos Woesteling lag en skud sy kop op en af. Die koedoevoorslag sny die lug en knal soos ’n geweerskoot bokant die rooispan in die lug.

“VAT, my rooies!” praat oom Attie.

Die rooispan buk weg. Die trekgoed kreun en kraak. Domkrag en Broekman sak op hulle knieë. Bantom gee so ’n lang brul. Maar die wa beweeg nie.

Koos se hand val op oom Attie se skouer: “H-o-o-o, man, HOKAAI! Kyk om agtertoe!”

“HANOU!” sê oom Attie en hy kyk om. Waar die rivier eers reguit gelê het, lê dit nou met ’n kinkel tot agter die wa. Sy rooispan het die wal met rivier en al seker goed twintig tree ver bak getrek!

Ek vertel die storie vir Johan Jordaan, ’n nasaat van drie geslagte Maricojaners. Hy sê sonder om te blik of te bloos: “Ja, dié storie is waar. Ek kan jou gaan wys waar dié drif lê. Net so ’n entjie stroomop van hier af in die Wilgeboomspruit, kinkel en al.”

Marico se mambas

Подняться наверх