Читать книгу Marico se mambas - Piet Swanepoel - Страница 7
DEM FOEL
ОглавлениеNá die Driejarige Oorlog het heelwat van die Britse soldate hulle in Transvaal of die Vrystaat gevestig. Van hulle is eers terug na Brittanje om dan met vrou en kinders terug te kom. Die Britse regering het sommige van hulle gehelp om plase te bekom. So het daar dan ook ’n paar in die Marico-bosveld te lande gekom.
Een van dié, Jock MacLauchlin, het vir hom ’n plaas langs die Klein Marico-rivier uitgesoek en toe op ’n gelyktetjie vyftig meter van die kabbelende stroompie af sy penne ingesteek en begin bou. Oorkant die riviertjie het ’n bosryke rant getroon en om sy toekomstige werf het ’n paar groot ou bosveldreuse hul wye skaduwees gesprei. Idillies.
Jock MacLauchlin se naaste buurman was Koos Kwêvoël, ’n naam wat hy gekry het omdat hy altyd sy hare met so ’n hoë windmakerkuif gekam het. Koos was ook baie lief vir gesels. Hoewel hy aan die begin nie baie gelukkig was dat ’n Kakie sy buurman word nie, het sy nuuskierigheid en geselslus ná ’n maand of wat die oorhand gekry en het hy toe een Sondagmiddag oorgestap. Hy het juis ’n koei vermis en hy kon dit dan sommer as verskoning gebruik om by die Kakie aan te loop en kennis te maak. Daar was nie grensdrade nie en die koei kon maklik soontoe afgedwaal het.
Die nuwe huis se mure was al dakhoogte en was gebou met die tradisionele rooi bakstene van die Marico. Onder ’n groot maroelaboom het ’n nuwe bokwa gestaan waarop ’n paar pakke sinkplate, kosyne, deure, vensters en timmerhout gelê het. Lyk of die kêrel te veel geld het, het Koos so by homself gedink. In die Marico gebruik hulle maar boekenhout en populier wat hulle self saag en met ’n dissel afwerk. Hy kon ook nie onthou wanneer laas hy so ’n mooi, splinternuwe wa gesien het nie, pragtig groen geverf met rooi speke, vellings en nawe.
’n Fris kêrel met ’n yslike geel snor en ’n rooi gesig was besig om balke te meet en te saag. Ja, sulkes het hy baie in die oorlog gesien. Jy kan maar sê ’n tipiese Engelsman. Toe hy nader kom, het die man die saag neergesit en hom met die hand gegroet. Hy het natuurlik Engels gepraat en hy was die eerste Engelsman wat Koos ontmoet het wat ’n “r” kon sê. En hy het nogal gebry ook – pure soos die Kolonialers. Koos wat as krygsgevangene op Ceylon so ’n bietjie Engels opgetel het, het genoeg verstaan om te volg wat die kêrel sê en kon homself darem ook op ’n manier verstaanbaar maak. So ontdek hy dat sy nuwe buurman ’n Skot is met die naam Jock MacLauchlin. Nou ja, dis al klaar beter as wat hy gedink het. Dis darem nie heeltemal ’n Engelsman nie.
Koos meet die afstand water toe so met sy oog en sommer ook hoe die grond lê. Hy skud sy kop: “Joe ken not myk jor hous heer.”
Jock kyk hom vraend aan: “Why not? Why can’t I build my house here, Mister Koos?”
“Biekos … biekos de riwwer ies toe neer. Wen iet biekam foel, iet wil ghou ouwer jor hous. Wen iet ryn toe matsj, iet wil biekom werrie foel.”
“Don’t worry, my friend, I’ll build a dam upstream. It will break the force of the water,” antwoord Jock.
Ná ’n rukkie het Koos gegroet en teruggestap huis toe. As Jock hom agternagekyk het, sou hy opgemerk het dat Koos sy kop een of twee maal geskud het.
Tuis vra sy vrou, Annie, of hy die koei gekry het. Toe skud Koos weer sy kop en lag net verleë: “Die koei? O ja, die koei. Nee, die Engelsman, wat eintlik ’n Skot is, het my skoon van die koei laat vergeet. Hy bou so wragtag sy huis op die rivier se wal!”
“En as die rivier afkom?”
“Dis wat ek ook vir hom gevra het.”
“En …”
“Nee, hy sê hy sal ’n dam so ’n entjie stroomop van die huis bou. Dit sal glo die water opdam.”
’n Maand later het die reënseisoen aangebreek. Koos het die wolke dopgehou en dié somer geweet waar elke bui uitgesak het. Op ’n dag trek die lug toe. Lae, donker wolke rol uit die suidweste oor die rante aan. Die hele uitspansel is grys. Dit word skemer. Teen drie-uur moet hulle kerse opsteek. Toe begin dit reën, eers sag, en geleidelik al harder tot dit ruis oor die rante. Koos kyk deur die kombuisvenster in die rigting van die klowe. Hy kan egter niks beken nie, maar hy weet: Die rivier gaan afkom. En die nag lê nog voor.
Die reën het egter bedaar en iewers in die nag heeltemal opgehou. Die volgende môre skyn die son. Koos stap rivier toe en toe stroomaf na die dam toe. Jock was reeds daar. Die water bruis sterk oor die uitloop – en dit het nog nie eers gereën soos wat Koos al ’n keer of twee in sy lewe hier in die Marico ervaar het nie. Koos sê niks nie, maar die Skot kan sy gedagtes lees.
“I’ll build a bigger dam!” sê hy sonder om na Koos te kyk.
Daardie winter het die Skot ’n damskrop en vier donkies gekoop. Twee maande lank het hy en vier helpers dag vir dag grond geskuif en opgewerk, hoër en hoër, totdat daar ’n massiewe grondwal deur die rivierloop gelê het. Toe het hulle vragte klippe aangery en die wal uitgestraat. Selfs Koos moes toegee dat dit ’n ordentlike stuk werk was. So ’n damwal het hy nog nie gesien nie. In die hele Marico was in elk geval nie een nie.
Die somer het gekom, maar die reën het weggebly. Koos het gewag en Jock het gewag. Wanneer hulle mekaar iewers raakgeloop het, het nie een van die twee oor die damwal gepraat nie, hoewel dit voorop in elkeen se gedagtes was.
Oujaarsdag breek aan. Die oggend was helder sonder ’n wolkie in die lug. Ná middagete stap Koos by die kombuisdeur uit. Hy gee twee tree en steek vas. In die weste lê ’n swart wolkbank. Ná ’n rukkie kan hy sien dat dit vinnig opkom met blitse wat aanhoudend daarin speel. Ná nog ’n ruk kon hy ook die donderweer hoor rammel. Dit is ’n groot weer. Koos dink aan Jock en vir die eerste keer voel hy bekommerd, al weet hy nie mooi hoekom nie. Dit is asof hy weet Jock hou ook die weer dop.
Ligte windvlae begin speels deur die bos swiep en toe bedaar dit. Die lug is skielik doodstil, die bome roerloos, asof in afwagting. Groot druppels begin neerplof. En toe skielik bars die storm in al sy geweld los. Blitse en donderslae skeur die lug en ’n stormwind laat die bome buig en kraak. Groot takke word afgeruk en deur die bos gedryf en deur dit alles heen stort die water in strome neer.
Ná ’n halfuur of so begin die geweld van die storm afneem. Koos staan en kyk oor die kombuis se onderdeur na buite. Hy draai om en haal sy hoed en baadjie van die kapstok afl. Annie hou hom dop.
“En nou, ou man, waar gaan jy heen? Dit reën nog.”
“Nee, ek wil maar gaan kyk hoe lyk dit daar by ou Jock, hoe lyk sy dam.”
Annie het hom deur die oop bodeur staan en agternakyk tot hy tussen die bome weggeraak het. Toe het sy met ’n sug omgedraai en na die stoof toe gestap waar sy begin besig raak het met die aandete. Sy hoop maar die damwal het gehou.
Ná ’n halfuur of so strompel Koos by die deur in. Sy klere is geskeur, sy hoed weg en sy oë amper toegeswel. Hy lyk sleg. Annie staar hom aan, slaan haar hand oor haar haar mond: “Koos! Wat nou? Wat het gebeur?”
“Nee, darie verdomde Skot is mal! Ek stap hier af en toe ek by die klein dammetjie kom, toe sien ek hy is heeltemal onder water. Jy sien gans niks van hom nie, net ’n hobbeltjie in die water waar die wal is. Die groot dam is vol, hy loop sterk oor, en ek dink, dit kan nog reën vannag. Dan is daar moeilikheid. Toe loop ek na die Skot toe en klop aan sy deur. Toe hy oopmaak, sê ek vir hom: ‘Joor little dem foel en joor biek dem foel to-e-e!’
“Toe begin hy sommer slaat aan my!”