Читать книгу Marico se mambas - Piet Swanepoel - Страница 9

MAAR NET ’n OU SKOENMAKER

Оглавление

Vroeg in die vorige eeu, in die tydperk tussen die Driejarige Oorlog en die Depressie, het Joodse smouse die Suid-Afrikaanse platteland deurkruis met allerlei handelsware. Aan die begin was hulle meestal te voet met ’n sak of bondel oor die skouers, waarin die smousgoed gepak was. Daarom was hulle bekend as “bondeldraers”. Mettertyd het sommige van hulle ’n donkiekarretjie of treppie wat deur een perd getrek is, bekom. Later het hulle as gevolg van hul goeie sakevernuf en spaarsamigheid in een of ander ou plattelandse dorpie ’n besigheid begin.

Hier in die koers van 1930 het so ’n ou bondeldraer te voet in Bothaville aangeland. Hy was skraal en vooroor geboë met ’n lang grys baard en sagte bruin oë. Van die kinders het gesê hy lyk soos Liewe Jesus. Die klein Joodse gemeenskappie het hom dadelik opgeneem en hy het sy intrek in ’n pakkamertjie agter een van die Jodewinkeltjies geneem. Hy het ’n paar dae so tussen die winkels rondgekuier en die dorpie verken.

Toe het iemand vertel dat hy hom by meneer O.T. Carey, ’n prokureur, se kantoor sien ingaan het. Die naweek het hy sy intrek geneem in ’n tweevertrek-sinkgeboutjie onder ’n ou groot peperboom langs die hoofstraat. Die voorste vertrek het ’n deur en ’n groterige venster gehad wat op die straat uitgekyk het. Aan die agterkant was ’n kleiner vertrekkie met een venstertjie en ’n bo- en onderdeur.

Die Maandagoggend het daar ’n breë plank bokant sy voordeur teen die sinkmuur gehang, waarop in dik swart letters geverf was: SKOENMAKER. ’n Paar vroegopstaners het dit so in die verbyloop raakgesien en omdat Bothaville in daardie jare nog nie ’n plek was waar veel gebeur het nie, was die dorp se eerste amptelike skoenmaker dié Maandag die hoofonderwerp van bespreking. Die skoenmaker se naam was Abe Steinberg. Hy het nie vrou of kind of kraai gehad nie en het soos sy vinger alleen in die ou klein kamertjie agter sy werksplek gebly.

Hy het uit die aard van die saak geen meubels besit nie en het met planke wat hy iewers bekom het en ou stene ’n paar rakke geprakseer. Meneer Carey het ’n ou stoel en tafeltjie aan hom geskenk en hy het ’n ou ysterkateltjie by iemand anders gekry. Sy ysterlees, hamer, els, tang, spykertjies en naairiempies het hy uit sy bondel gehaal, asook ’n vioolkis. O ja, en hy het ook ’n ou bruin leervoorskoot gedra.

Hy was beleefd en vriendelik met almal en sy Afrikaanse woordeskat voldoende om met die Boere te kommunikeer. Hy het egter nie vriende gemaak nie, hoewel van sy volksgenote soms rukkies by hom ingeloer het. Hy was ’n alleenmens wat sy aande tuis deurgebring het. Soms, as hy so op sy eie daar onder die ou peperboom agter sy huisie gesit het, het hy viool gespeel. En dan het die dorpenaars met verwondering geluister na die vreemde, hartseer klanke wat op die aandluggie na hulle aangesweef het. Sondae het hy soms lang ente langs die rivier gaan stap en dan ure lank op ’n rots of boomstomp net gesit en luister na die water.

Van die dorpsbewoners het gedink dat hy effens “snaaks” was en die jong klomp het soms bietjie met die vreemde oubaas gespot, maar nou ook nie só dat hy hulle kon hoor nie, want volgens gerugte het hy buitengewoon sterk hande gehad en derhalwe was hulle maar ’n bietjie lugtig vir hom.

Volgens meneer Carey was sy enigste familie, sover bekend, ’n suster wat op Kroonstad gewoon het, en net gou was gerugte in omloop wat wou hê dat Abe en die suster se man, ene Abrahams, nie veel liefde vir mekaar gekoester het nie. Sy suster was eenkeer, toe van haar vriende haar by Abe kom aflaai het, vir ’n middag by hom op besoek en in die paar jaar wat hy op Bothaville gewoon het, het hulle net die een keer kontak gehad.

Een Maandagoggend het die deur van die skoenmaker se werksplekkie toe gebly. Die dorpenaars het dit gou opgemerk en toe dit teen middag nog nie oop was nie, het iemand meneer Carey in kennis gaan stel. Meneer Carey het saam met die persoon teruggestap. Die deur was nie gesluit nie en binne kry hulle die ou skoenmaker waar hy op sy ysterkateltjie lê, duidelik ernstig siek. Meneer Carey het dadelik Abe se suster laat weet en sy het vroeg die volgende oggend saam met haar man in ’n motor opgedaag. Abrahams het nie uitgeklim nie.

Abe se suster het hom probeer oorreed om by hulle aan huis in Kroonstad te kom aansterk, maar hy het botweg geweier en die egpaar is onverrigter sake terug. Mevrou Carey het gesorg dat Abe sop en ander voedsame kos kry, maar die ou skoenmaker se toestand het gaandeweg verswak. Ná ’n dag of drie laat roep hy vir meneer Carey om sy testament op te stel. Toe die prokureur daar aankom, gee Abe aan hom ’n stuk bruin papier met die opdrag om ’n doodkis daarop te teken. Dit gedoen, moes hy die name van die draers inskryf, elkeen op die posisie wat hy langs die kis moes inneem by die graf. Abrahams se naam was nie by nie.

“Dit is my testament, Mister Carey,” het die ou skoenmaker gesê. Hy het meneer Carey met die hand gegroet en gesê hy is moeg, hy wil nou rus. Hy het agteroor gaan lê teen die kussing, vir meneer Carey geglimlag en rustig sy oë gesluit.

Die prokureur het toegesien dat die ou skoenmaker se laaste wens uitgevoer word. Hy het gemerk dat Abrahams, wat seker maar om sy vrou se onthalwe gekom het, ook by die graf was. Toe die kis sak, buig Abrahams so effens vooroor, kyk na die kis en sê: “Ja, Abe, daar lê jy nou stokstyf. As jy nou anderdag saam met ons Kroonstad toe gekom het, was jy nog springlewendig.”

Ná die begrafnis het hy en sy vrou die Carey-egpaar kom bedank vir hul vriendelikheid en toe versoek dat meneer Carey maar die ou skoenmaker se skamele besittinkies aan die armes moes uitdeel.

Die prokureur het so gemaak en omdat niemand in die ou viool belang gestel het nie, het die Carey-seuns dit huis toe geneem. So nou en dan het een van die seuns die viool uit sy tassie gehaal en tot sy ma se ergernis die strykstok oor die snare getrek om die honde aan die tjank te sit. Later is die viool in ’n laai gestop en vergeet.

’n Jaar of wat ná Steinberg se dood, kom daar op ’n dag ’n brief uit Amerika, geadresseer aan meneer O.T. Carey. Dis toe ’n versoek van ’n meneer Steinberg, enigste broer van die oorlede skoenmaker van Bothaville in die Vrystaat. Hy skryf hy het maar pas van sy suster op Kroonstad verneem van sy broer Abe se oorlye. Hy is dirigent van die Philadelphia Philharmonic Orchestra en sal meneer Carey asseblief so gaaf wees om sy oorlede broer se viool aan hom te stuur? Die ou viool is gemaak deur Antoni Stradivari van Cremona en hy sal dit baie waardeer as hy dit kan kry.

Die ou viool is opgediep, afgestof en aangestuur. Die naam Stradivari het vir niemand op Bothaville enigiets beteken nie. Daar kon, wat hulle betref, net sowel op die viool gestaan het: “Made in Japan.”

Meneer Eric Carey, een van die seuns van toeka, skud sy ou grys kop as hy onthou hoe hy jare later ’n artikel oor die Stradivarius in ’n tydskrif gelees het, en met watter skok die besef tot hom deurgedring het waarmee hy en sy broers destyds, soos hy dit stel, “geraas gemaak het”; ’n egte “Strad”, koning van viole, met sorg gemaak deur ’n meester en vandag miljoene werd. Dan kyk hy so in die verte en sê sag, so asof hy met homself praat: “And to think that he was just a simple old shoemaker…”

Ja, en ook een van God se alleenkinders, een van dié oor wie die digter Arthur O’Shaughnessy lank gelede geskryf het:

We are the music-makers,

And we are the dreamers of dreams,

Wandering by lone sea-breakers,

And sitting by desolate streams; …

Marico se mambas

Подняться наверх