Читать книгу Die hart van 'n wenner - Pieter van Jaarsveld - Страница 8

Definisie van emosionele intelligensie (EI)

Оглавление

Daar bestaan talle definisies van emosionele intelligensie (EI), maar baie van hulle het geen navorsing om dit te rugsteun nie en is die onbewese sienswyse van die formuleerder daarvan.

Goleman definieer emosionele intelligensie as: The capacity for recognising our own feelings and those of others, for motivating ourselves, and for managing emotions in ourselves, and in our relationships.(1)

Self verkies ek die definisie van Reuven Bar-On. Nie net het hy sy navorsing in Grahamstad in 1985 begin nie, maar ook die assesseringsinstrument (EQi) ontwikkel wat in Augustus 1996 amptelik bekendgestel is. Dit het geblyk die beste evalueringsinstrument vir EI in Suid-Afrika te wees, en baie betroubare navorsing is tot dusver hierop gegrond: EI is ’n versameling niekognitiewe vermoëns, bekwaamhede en vaardighede wat ’n uitwerking het op ’n mens se vermoë om sukses te behaal in die hantering van omgewingseise en druk.(2)

EI verwys dus na die volgende dimensies van intelligensie:

•Persoonlik

•Sosiaal

•Emosioneel

•Innoverend (vernuwend)

•Oorlewingsvaardighede

Hierdie boek is gegrond op Bar-On se benadering tot EI (emosionele intelligensie). Die telling van ’n EI-toets staan bekend as die EK-telling (EQ), terwyl die telling vir kognitiewe vermoë as IK (IQ) bekend is. (Q [Engels] = “quotient”; K [Afrikaans] = kwosiënt. ’n Sinoniem vir “kwosiënt” is “syfer” of “uitkoms”.)

In die literatuur sal ’n mens dikwels vind dat, wanneer die skrywer verwys na vaardighede wat emosionele intelligensie betref, die term EK eerder as EI gebruik word, wat nie 100% korrek is nie. Deesdae is dit feitlik aanvaarbaar om die term EK te gebruik wanneer jy na EI verwys en ek doen dit ook in hierdie boek.

’n Groot getal boeke oor EK is reeds gepubliseer waarin die nadruk slegs op die emosionele dimensie van intelligensie val. Self glo ek juis die niekognitiewe dimensies bepaal sukses in die lewe, eerder as net die emosionele dimensies. Hoewel die emosionele dimensies belangrik is, vorm hulle slegs ’n deel van die niekognitiewe dimensies.

Die hart van 'n wenner

Подняться наверх