Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 8 Huistaal - Riens Vosloo - Страница 4

Оглавление

Tradisies is gewoontes wat deur eeue heen dieselfde gebly het. Mense wat by hierdie gewoontes hou, is tradisioneel. Hulle leef in die meeste opsigte nog soos hulle voorouers geleef het.

Volksverhale is een van die tradisies wat deur tradisionele mense in stand gehou word. Dit word al eeue lank oorvertel en ons weet nie wie dit eerste vertel het nie. Dus kan ons nooit sê wie die “skrywer” van ’n volksverhaal is nie, net wie dit oorvertel het. Daarom moet die skrywer se naam by die titel van ’n volksverhaal altyd verstaan word as “die oorverteller”.


Daar bestaan baie variasies van een verhaal omdat elke mens ’n bekende storie op sy/haar eie manier vertel of skryf. In elke oorvertelling sal daar egter ’n basiese storielyn wees waaraan mens hierdie besondere storie herken. Hierdie storielyn sal omtrent altyd in een sin opgesom kan word. Iemand word byvoorbeeld gestuur om ’n boodskap oor te dra, maar hy dra die verkeerde boodskap oor. Of ’n man gaan soek na ’n meisie met daardie eienskappe wat hy in sy vrou wil sien, maar hy vind haar nie en kom huis toe. In ’n ander verhaal is die basiese storielyn dalk dat die karakters stry oor wie die sterkste is en nie een is reg nie. In die verskillende weergawes van die basiese storie kan die karakters verskillende name hê of ’n ander dier kan as karakter optree.

Oorspronklik is volksverhale nie geskryf nie, maar om die vure vertel. Ouers het dit by hulle ouers gehoor en dit saans weer vir hulle kinders vertel. Hierdie kinders het dit weer vir hulle kinders vertel. En hulle het dit weer vir hulle kinders vertel. Só is dit deur die eeue heen van generasie tot generasie oorgedra en het dit vir ons behoue gebly. Daarom noem ons dit ook mondelinge verhale.


Sedert die koms van skrif het skrywers hierdie verhale begin opteken. Dit is ’n wins, want nou is ons seker dié verhale gaan nie verlore nie. Maar wanneer mens ’n verhaal mondeling of skriftelik vertel, laat jy altyd iets weg of jy voeg iets by. Elke mens vertel ’n storie so ’n bietjie anders. Die verhaal bly as ’t ware lewend omdat dit voortdurend ’n bietjie verander.

Boonop het elke generasie die vertelling so ’n bietjie aangepas om dit meer verstaanbaar te maak vir die kinders aan wie dit oorvertel word. In ’n mondelinge verhaal wat drie eeue gelede vertel is, sal ons byvoorbeeld lees van krygers wat baie dae en nagte te voet getrek het na ’n ver, ver land om hulle koning uit ’n bose monster se kloue te bevry. Moenie verbaas wees as die krygers met die trein reis wanneer hierdie verhaal in ons eeu oorvertel word nie! Dit maak nie die moderne verhaal “verkeerd” nie, dit is net meer verstaanbaar vir kinders wat nie verstaan hoekom mense te voet reis as daar ander maniere is nie. Die belangrikste is om te onthou die rolle wat die karakters speel en die lewensles wat dit inhou, bly dieselfde.

Daar is nog ’n rede hoekom een volksverhaal so ’n bietjie van ander weergawes daarvan verskil. In ons land is die bobbejaan ’n simbool van domheid. Maar in Sjina is dit juis andersom, want daar is die bobbejaan ’n simbool van wysheid. Dalk het iemand ’n mooi Sjinese volksverhaal gehoor van ’n bobbejaan wat baie wyse dinge vir sy vriende leer. Maar as mens dit vir die Suid-Afrikanertjies vertel, sal hulle dit mos nie verstaan nie. Wel, storievertellers kan altyd planne maak. En die storieverteller sal weet in Suid-Afrika is die uil ’n simbool van wysheid. Dan word die bobbejaan in die Suid-Afrikaanse vertelling net ’n uil, dis mos maklik!

Noudat skrywers mondelinge verhale begin opteken, dink ons dit kan nie meer verander nie, want dit staan op skrif. Maar dit kan, want onthou: Die karakters kan verander maar daar is steeds slimmes en dommes en bose, en die gebeure en die lewensles bly dieselfde.

Nog ’n kenmerk van volksverhale is dat daar wonderlike dinge gebeur wat nie in die werklike lewe moontlik is nie. Diere kan byvoorbeeld praat en een rivier kan die hele wêreld van water voorsien. Mense met towerkragte kan met een towerwoord alles verander. Dit is alles deel van die wonderlike wêreld van verhale.

Maar die wonderlike dinge wat in volksverhale gebeur, verskil van die “onmoontlike” dinge wat in wetenskapsfiksie (science fiction) gebeur. In volksverhale aanvaar ons net dit is moontlik. Maar in wetenskapsfiksie is daar meesal ’n verklaring en dit het gewoonlik te doen met vordering in die wetenskap wat dalk onmoontlike dinge moontlik kan maak. In volksverhale kyk ons in die eeue terug en in moderne verhale kyk ons hoofsaaklik die toekoms in. Goed, maar in Harry Potter gebeur daar ook dinge wat nie in die werklike lewe moontlik is nie? Ja, maar Harry Potter se verhale het in jou generasie ontstaan, so ook wetenskapsfiksie. Dit is nie verhale wat al geslagte lank oorvertel word nie en dit kan nie as volksverhale beskou word nie.

Daar is ’n paar soorte volksverhale: sprokies, mites, spookstories, fabels. Dit is genoeg om te onthou dat die sake wat hier onder gelys word, kenmerke van die meeste volksverhale is. Elke volksverhaal sal – buiten die eerste aspek – nie al hierdie kenmerke vertoon nie, maar dit sal omtrent altyd meer as die helfte van hierdie kenmerke vertoon.

 Die belangrikste, wat alle volksverhale kenmerk: Dit word al eeue lank van generasie tot generasie oorvertel.

 Dinge gebeur wat nie in die werklike lewe moontlik is nie.

 Dit gaan oor iets wat lank terug sou gebeur het.

 Dit bied ’n verklaring vir die wêreld en die mens se ontstaan.

 Dit bevat ’n lewensles.

 Dit bevat ’n goeie karakter/s, ’n slegte karakter/s en soms ook ’n onskuldige slagoffer/s.

 Diere, lewelose voorwerpe en natuurkragte het menslike eienskappe, want hulle kan praat en vertoon emosie.

 Karakters wat reeds dood is, tree op asof hulle lewend is, of hulle word weer lewend, of hulle verskyn as ’n natuurkrag.

 Inligting of ’n sin of woord word soms herhaal.

 Dit is nie spanningsverhale nie.

 Dit word in die derde persoon vertel. Die verteller sal dus byvoorbeeld nooit skryf “Eendag het ek ’n meisie gesien met hare so mooi as wat ek nog nooit gesien het nie”.

Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 8 Huistaal

Подняться наверх