Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 8 Huistaal - Riens Vosloo - Страница 8

Die moeder wat stof geword het

Оглавление

Kasiya Makaka Phiri


Prelees – groepbespreking

Hierdie pragtige verhaal kom uit Malawi.

In verhale kom min of geen feite voor nie, want dit is fiksie. Maar soms kom daar ’n paar feite in voor. Of soms gebeur daar iets in ’n verhaal waarvan ons kan sê: Wel, dit sou kon wees, dit is moontlik. In hierdie verhaal, wat in die heelal afspeel, sal jy op sulke “moontlike onmoontlike” dinge afkom.

Die verhaal

Eens op ’n tyd het die son ’n dogter gehad. Net soos haar skitterende vader was sy ’n ster van groot glans. Sy het skoene van glinsterende stersaffiere gedra, en aan haar vingers en om haar enkels, polse en nek het vonkelskerfies van verskietende sterre gesprankel. Haar glans het die hemelruim agter die son verlig, en sy het oor hierdie ruim geheers en dit met groot wysheid en liefde regeer.

Toe, eendag, op een van haar inspeksierondes tussen die ontelbare planete in die onmeetlike heelal, sien sy ’n planeet in ’n afgeleë uithoek. Dit was baie ver, net-net binne bereik van die son se vingerpunte, en in alle skakerings van groen en blou.

Die ster het lank en aandagtig daarna gekyk voor sy gepraat het.

“Op daardie planeet,” sê sy vir die son, “moet my troon staan. Ek wil my lewe deurbring in daardie ryk groene en koel bloue.”

Die son sug. Hy kyk na sy dogter se glans en sug weer. Sy oë kan ver in die toekoms in sien.

“Alles is joune,” sê hy. “Jy mag gaan waar jy wil. Jy mag doen wat jy wil. Maar onthou dat jy die grootste deel van jou glans sal moet prysgee en hier agterlaat. Jou mantel met die gloed van die daeraad, jou kleed van helder lig, jou skoene van stersaffiere, jou enkelringe en armbande en halssnoere vol van die aand- en môresterre se vonkeling – niks hiervan kan jy saamneem nie. Die sensitiewe groen van die planeet sal nooit die hitte van jou uitstraling kan verduur nie, en die blou sal heeltemal opdroog. Maar in die plek van jou glansryke kleding mag jy drie wense wens wat onvoorwaardelik toegestaan sal word.”

“Goed,” sê die ster. “Laat ek daaroor nadink.”

Sy het jare en jare daaroor nagedink, want so is dit met die son en die sterre in die onmeetlike heelal. Alles neem jare en jare om te gebeur, hoewel dit vir hulle maar soos ’n vonkeling vervliet. Eindelik het sy genoeg gedink en haar besluit geneem.

Haar mantel met die gloed van die daeraad laat sy van haar skouers afgly, sy werp haar kleed van helder lig af, haar skoene van stersaffiere, haar sandale van skemerlig, haar fyn pantoffels van die skemering se nagloed … In ’n verblindende skittering oorhandig sy dit alles aan haar vader. Toe sê sy: “Nou gaan ek na die groen-en-blou planeet om sy moeder te wees.”

“Neem enigiets wat jy nodig het,” antwoord die son. “Jy moet weet dat ons jou oneindig sal mis, al sal jy elke dag vir ons sigbaar wees. En onthou dat jy altyd welkom is hier. Helaas, die gloed van ons strale sal waarskynlik nie altyd vir jou aangenaam wees in jou nuwe liggaam op daardie klein planeet nie.”

Daarop strooi hy die ster se ringe, die enkelringe, die armbande en halssnoere in ’n baan van flonkerende stersaffiere en sterstof om hom uit sodat dit soos ’n stroom gestorte melk oor die hemelruim sprei. Van die groen-en-blou planeet af sal die ster hulle kan sien, sodat sy nooit sal vergeet waarvandaan sy gekom het nie.

Eindelik vertrek die ster. Eers ry sy op ’n verskietende ster wat deur tyd en ruimte pyl, later op ’n enkele ligstraal in die mildheid van ’n nuwe dag. Steeds strek die pad oneindig ver voor haar uit. By haar het sy ’n skoffel, ’n stamper en vysel, ’n wanmandjie, ’n waterpot, ’n kookpot, borde gemaak van bamboes en hout, ’n byltjie, ’n slaapmat en ’n groot karos. Haar laaste rit is op die eerste ligstraal wat die groen-en-blou planeet bereik.

Toe sy op die planeet land, sien sy hoekom dit van ver af so groen gelyk het. Die woude en uitgestrekte grasvelde is so mooi dat haar hart van geluk swel en selfs nog sagter word as voorheen. Haar liefderike blik laat die plante nog geiler groei en die groen van die struike en bome nog ryker en dieper word. Om haar gloei blomkelke in die baie kleure van die lig wat saam met haar van haar veraf tuiste gekom het: geel, oranje, blou, pers, wit, pienk, suurlemoen, lemmetjie, asuur, akwamaryn en tallose skakerings daarvan.

“Kinders,” sê die ster, “ek wens ek kan kinders hê. Baie, baie kinders. Kinders om lief te hê. Kinders wat in die gras baljaar. Kinders wat sing, kinders wat lag, met stemme wat teen die berghange eggo. Kinders om te roep en te troetel, en as ek oud en hulpeloos is, kinders om vir my te sorg. Kinders om my sterkte te wees as ek swak en broos word van lank lewe. En as dit tyd word, kinders om my ter ruste te lê.”

Haar wens is vervul en daar was kinders. O, sy was omring van kinders! Links van haar en regs van haar. Voor haar en agter haar. Daar was seuns so lank en lenig en sterk dat hulle ure lank op een been kon staan. Daar was saggeaarde, vriendelike seuns wat warmte en deernis gedeel het selfs met dié wat nie baie vinnig kon hardloop of so lank kon staan nie. Daar was dogters, rank en sterk soos hulle broers, wat soos wildsbokke die hele dag lank kon dartel en spring sonder om die geringste moegheid te toon. Ook dogters lieflik soos blomme, liefderik soos moeders, vriendelik soos broers en vol deernis soos vaders. Hulle het almal om die son se dogter vergader en haar “Moeder” genoem.

En só het die ster, dogter van die son, wat eens in onbeskryflike heerlikheid in die hemelruim geregeer het, die Moeder van Alle Kinders geword wat op die blou-en-groen planeet gebore is.

Sy het almal liefgehad en vir elkeen gesorg. Die lang en die kort kinders, die vet kinders en die maeres, die donkeres, die blekes, die goudbruines. Sy het vir hulle almal gesorg, dag en nag.

Daar was kinders wat geloop maar nooit gehardloop het nie, en kinders wat gehardloop het en nooit geloop het nie. Daar was “myne”-kinders wat alles vir hulself wou hê. “Niks”-kinders wat nooit meer as een woord gesê het nie: niks. “Ek-kom-nou”-kinders wat altyd heen en weer geblits het. “Nie-ek-nie”-kinders wat nooit toegegee het dat hulle iets verkeerds gedoen het nie. “Ek-weet-nie”-kinders, “hy-het-eerste-begin”-kinders, “sy-wou-mos”-kinders, wat gemeen en onbedagsaam was, en baie, baie ander kinders.

Die Moeder het vir hulle gesorg wanneer hulle wakker was en wanneer hulle slaap. Sy het vir hulle reën en oorvloed gebring, en omdat sy die weë van die weer geken het, het sy ook sonskyn gegee. En toe dit tyd was vir die plante om te rus, het sy herfs en winter ingebring sodat die plante kon slaap.

Sy was altyd die eerste van almal op. Met ’n groot besem het sy die werf skoongevee en vroegmôre was sy al op die land met haar skoffel om kos te kweek vir haar kinders. Al was hulle ook hoe gulsig, daar was altyd genoeg kos vir hulle ná die gehardloop en gesing, die wegkruipertjiespelery en al die ander dinge wat kinders graag bedags doen.

Die Moeder van Alle Kinders was baie sterk, maar die jare het swaar op haar gedruk. En mettertyd het daar ’n verandering in die kinders van die aarde gekom. “Hulle is nou anders,” het sy teenoor die son gekla. “Ek beteken niks meer vir hulle nie. Ek twyfel of hulle my nog raaksien.”

“Onthou, hulle is jou kinders. Hulle het nie gevra om in die wêreld te wees nie,” het die son geantwoord. “Werk met hulle, jy sal ’n skat vind waar jy dit die minste verwag en wanneer jy dit die minste verwag.”

En so het sy haar kinders aanhou dien. Hulle het nou begin baklei oor dinge. Hulle het mekaar nie meer gehelp of enigiets self gedoen nie, net heeltyd geskree en die Moeder se teenwoordigheid en aandag opgeëis.

“O, ek is honger, o, ek is dors, o, ek wil dit hê, dra my, troetel my. Jy is die Moeder, jy het ons in die wêreld gebring, sorg vir ons.”

En die Moeder van Alle Kinders het die seerplekke gedokter en die hongerige monde gevoed en die dorstige kele water gegee en vir hulle gesorg tot hulle groot was. Toe het hulle weggedwaal na veraf plekke en net af en toe teruggekom en party nooit weer nie. Hulle was nou al so gemeen en verwilder dat hulle mekaar begin doodmaak het.

Hartseer het die Moeder se hart begin wegvreet. Sy wat eens regop en trots was, was nou krom van die pyn en vernedering wat haar kinders haar aangedoen het deur haar vir alles te blameer. Hulle het nie ’n enkele vriendelike woord vir haar gehad nie.

En so het sy maar gesing om haarself te troos. In die tierende wind wat bome ontwortel, in die koel bries wat die nuwe dag wakker soen en die slaperige voëls wek vir die oggendlied, het sy gesing. In die dreuning van die reën wat neerstort en ontboste land wegraap en see toe meesleur, in die sagte motreën wat soos donsvere op die toppe van die hoogste berge van die wêreld neersyg, het sy gesing. En in daardie plekke waar dit koud genoeg was vir die reën om in sneeu te verander en venynige haelstene op die aarde te laat val. Orals het sy gesing.

Singend het sy selfs in die helder daglig opgekyk na die hemel, asof daar iets was – ’n baan van sterre, miskien – wat haar kon help. En singend weer afgekyk op haar handewerk. Soms wanneer sy in die oerwoude of beboste vlaktes brandhout gesoek het, het sy gesing van die woude wat geplunder word deur haar dolende kinders. Haar kinders wat eeue oue boomstamme afkap. Haar kinders wat die aarde stelselmatig vernietig en sterwend in hul spore agterlaat.

Die Moeder van Alle Kinders het geweet dat hulle nie omgee vir die aarde nie. Hulle het gate gegrawe in hul soektog na kosbare metale en edelstene en die gapende wonde net so agtergelaat. Daarom het sy in haar omswerwinge op die aarde dié lied gesing – soms hardop, soms in ’n fluistering:

Julle ploeg en dolwe my om

om jul hartewens te oes,

tot ek nakend lê, en gewond.

Ongenadige droogtes maak my bar,

reënstorms sleur my vlees mee,

sodat almal my bespot en verag.

Tog verduur ek alles.

Ek, die Moeder wat gebore is om te gee,

hou niks terug vir myself nie.

Ek voed die wêreld, en my kinders kyk stom

hoe ek vergiftig lê deur hulle hand.

Omdat die kinders se ore nie ingestem was op die musiek van die aarde nie, het hulle nie gehoor wat sy sing nie. Net soms, wanneer sy teen skemer sing, het daar ’n onverklaarbare swaarte op die harte van die eens saggeaarde en deernisvolle kinders gedruk.

Soos die kinders al verder en verder oor die aarde versprei het, wou elkeen meer ruimte vir homself hê. Elke dag het hulle oor bome baklei. En oor glinsterende rotse. En elkeen het vir hom ’n stuk aarde uitgemeet. Hier: “Dié boom is myne.” Daar: “Nee, dis myne.” En oral: “Myne. Myne.”

Hulle het die voëls uit die woude versamel en hulle opgesluit in hokke sonder ruimte om te vlieg. Hulle het die visse uit die water geraap en hulle in houers gedruk met geen ruimte om te swem nie. Hulle het die diere net vir die pret geskiet en hulle horings en huide versamel. Soms het hulle wilde diere in strikke gevang en hulle dan gevange gehou. Die woude se bome het hulle afgekap en gestroop.

En toe die aarde moeg word en die Moeder van Alle Kinders oud en sieklik word en sterf, was die kinders te gevoelloos om om te gee.

By haar dood is haar tweede wens vervul: dat haar oorskot in swart geklee sou word en dat sy toegelaat sou word om haar kinders steeds tot die beste van haar vermoë te versorg. So het sy selfs ná haar dood dag en nag gewerk, geklee in ’n swart kleed en ’n swart mantelkap. Sy het, noudat sy nie meer hoef te slaap nie, nog harder as tevore gewerk. Maar die kinders het nog steeds nie omgegee nie. Hulle het net aanhou roep: “Gee vir my, gee vir my, gee vir my,” en sy het aangehou om hulle te dien.

Omdat sy nou net ’n gees was, het sy nooit meer gepraat nie. Haar liedere het nog slegs in die nag of teen dagbreek opgeklink, wanneer die wind hulle in die valleie opgespoor het, of in die heuwels waar hulle eggo’s nog lank getalm het.

Die Moeder het met besondere sorg na ’n kind omgesien wat vroeg in haar tyd gebore is, maar nie kon praat nie. Die kind het die mooiste oë gehad en sterk, donker hare wat in vlegsels met krale versier agter haar rug afgehang het. Soos haar hare gegroei het, het haar hart ook gegroei, so het haar arms en bene gegroei. Sy het ’n pragtige jong vrou geword.

Eendag toe hierdie dogter met haar take besig was, het sy opgekyk na die Moeder. Vir die heel eerste keer het daar woorde uit haar mond gekom.

“Laat ek jou help, Moeder. Sit ’n bietjie en rus eers.” Haar stem was warm en vriendelik, en vriendelikheid was iets so ongewoons op die planeet dat daar ’n magtige stilte oor die aarde kom lê het. Alles het tot stilstand gekom – net vir ’n oomblik.

Die Moeder het diep gesug. “Dankie, my kind,” het sy gesê.

Hierdie enkele daad van vriendelikheid het die Moeder verlos. Sy het in ’n hopie op die grond neergesyg en in stof verander. Haar werk was klaar. ’n Groot wind het opgesteek en haar stof hoog die lug ingewaai om die maan te vorm soos dit nou lyk. En daarmee is haar derde wens vervul: dat ’n lig uit haar sal skyn sodat sy haar kinders en die groen-en-blou planeet nog steeds elke maand van die jaar kan sien.

Tot vandag toe hou die maan wag oor haar rusiemakende en vegtende kinders. Sy sien haar dogters onder leiding van die jong vrou, besig om heel te maak en gesond te maak, om te dien en te bewaar soos sy voorheen gedoen het.

Maar die kinders van die dogters van die maan kla steeds, maak steeds rusie, veg steeds. En wanneer die maan dit sien, steek sy haar gesig weg en huil van skaamte, voor sy dit regkry om weer te kyk en ’n skraal halfmaan te wys. Nag ná nag draai sy haar gesig meer en meer tot sy volrond van liefde straal. Op so ’n magiese volmaannag is dit moontlik dat iemand ’n sprankie van hierdie liefde opvang en dit met ander deel.

Nou nog, in wind en in reën, sing die dogters van die maan die lied van hulle wie se lewenstaak dit is om te gee. En in dié lied skuil ’n innige wens: dat die kinders weer sal leer om hul Moeder lief te hê.

Woordverklarings

daeraad – eerste daglig

deernis – meelewing, liefdevolheid

dolend – dwaal, rondloop

huide – velle

inspeksierondes – die draaie of rye wat iemand stap om inspeksie te doen

karos – gebreide dierevel wat soos ’n kombers gebruik word

magies – wonderlik, toweragtig

mildheid – oorvloedig, sag, goed

ontboste – ’n stuk grond waarop al die struike en bossies uitgehaal is

oorskot – ’n lyk

plunder – iets breek of vir jouself vat

rank – slank, lenig

skakering – tinte van meer as een kleur, afhangend van hoe die lig val

skoffel – landbouinstrument om grond om te keer

slaapmat – tradisionele mat om op te slaap

stelselmatig – stukkie vir stukkie, soms volgens plan

sterstof – letterlike vertaling van “star dust”, verwys na toweragtige glans

swaarte – swaarmoedigheid, neerslagtigheid

variasie – weergawe wat ietwat van ’n ander weergawe verskil

vervliet – verbygaan

vonkelskerfies – nuutskepping wat verwys na skerfies wat vonkel

vysel – kombuisinstrument om iets fyn te stamp

wanmandjie – landbouinstrument om iets te sif sodat net die fynste deeltjies deurval

weë – die manier waarop iemand of iets optree

werp – gooi

Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe).
1.Noem ten minste drie woorde in die verhaal wat as nuutskeppings beskou kan word en dus nie in ’n woordeboek gevind sal word nie.
2.As jy jou kennis van die heelal soos ons dit ken op hierdie verhaal sou toepas, hoekom sal die dogter haar glans verloor wanneer sy op daardie ver planeet gaan woon?
3.Wat noem ons in die wetenskap die jare waarna daar in die volgende sin verwys word: “Alles neem jare en jare om te gebeur, hoewel dit vir hulle maar soos ’n vonkeling vervliet.”
4.Skryf die sin in hierdie verhaal neer waarin jy van die Melkweg lees.
5.Gee twee ander Afrikaanse woorde vir “flonkerend”.
6.Skryf drie soorte kinders in hierdie verhaal neer en beskryf elke soort kind se karaktereienskap in jou eie woorde.
7.Beskryf in drie sinne hoe die maan, volgens hierdie verhaal, ontstaan het.
8.Wat is die ooreenkoms tussen die kinders van die aarde in die verhaal en die mens soos ons hom vandag ken? Sleutelwoord: natuurbeskerming.
9.Wat is die Moeder se hooftaak in hierdie verhaal? Beskryf dit in een sin.
10.Noem twee kenmerke van ’n volksverhaal in hierdie verhaal.

Postaktiwiteit (verryking)

Jy het vroeër geleer daar is ’n basiese storielyn in ’n volksverhaal. Al word die karakters en gebeure so ’n bietjie verander in ander weergawes daarvan, herken ons steeds die basiese storielyn; daarom kan ons sê dit is ’n variasie.

In baie volksverhale kry ouers op wonderlike maniere kinders. Die kinders word dan van hulle weggeneem omdat die ouers iets verkeerd gedoen het. In “Die boomkinders” wat in Kenia vertel word, beledig die moeder die kinders en hulle word dan vye. In die Europese verhaal “Sneeukind” word die seuntjie ’n sneeupop nadat die pa hom as slaaf verkoop het. In “Die kalbaskinders”, wat in Oos-Afrika vertel word, word die ma kwaad omdat haar kind nie werk nie en nadat sy hom uitgeskel het, verander hy weer in ’n kalbas.

 Herken jy in een van hierdie verhale die basiese storielyn van “Die moeder wat stof geword het”? Hoekom sê jy so?

Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 8 Huistaal

Подняться наверх