Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 8 Huistaal - Riens Vosloo - Страница 6

Koning Leeu se geskenke

Оглавление

Pieter W. Grobbelaar


Prelees – groepbespreking

Hierdie verhaal het in die Khoi-kultuur ontstaan. Die meeste van hulle verhale gaan oor diere wat menslike eienskappe aanneem, of oor hoe die aarde of dinge op aarde ontstaan het. Dit is ook in hierdie verhaal die geval. Grobbelaar vertel hierdie verhaal so snaaks dat ons nie kan help om te lag nie. Die mooiste is dat hy tipies menslike eienskappe aan diere gee, op so ’n slim, humoristiese manier dat ons van die lelikste en domste dinge in onsself daarin herken. Kyk ook uit vir die paar nuwe woorde wat hy skep. Ons noem dit nuutskeppings. Dit is net skeppende skrywers se voorreg. Ons kan nie dié woorde gebruik wanneer ons ’n sakebrief of ’n feitelike opstel moet skryf nie.

 Ken jy enige nuutskeppings? Gee voorbeelde.

 Probeer om self nuwe woorde te skep.

Die verhaal

Koning Leeu hou ’n groot party, en al wat dier is, moet kom. Want as die koning nooi, is dit wet, en jy kan nie weier nie.

Net die bokvrouens is astrant. “Nee,” sê vrou Koedoe. “Leeu wei glad te lekker onder ons geslag. Hoe moet ons weet hy gaan ons nie opeet as ons na sy party toe gaan nie?”

“Ja, ja, ja!” sê ’n hele klomp bokvrouens.

“Dan stap ek maar alleen,” sê Koedoe. “Netnou is daar moeilikheid.”

“Ja, kom ons stap,” sê die ander bokmans. Want ’n fees is ’n fees.

Die bokvrouens snuif vererg en verroer nie ’n klou nie. Net ou Boerbok se vrou bly nie weg waar daar geëet word nie – selfs al eet hulle haar.

So kom die diere aan. Dis Luiperd en Hasie, en Sebra en Mol, en Olifant en Muishond en Slang. Bobbejaan is te nuuskierig om weg te bly; Esel is te onnosel. Daar is Dassie en Seekoei en Koggelmander, en Wolf en Jakkals ook. Ja-nee, dis ’n party duisend.

Eers dans hulle ’n bietjie, dis hoog skop en laag skop, en Bobbejaan dans voor. Toe sing hulle ’n bietjie, en Jakkals sit in, net so skuins onder die regte noot. Daarna eet hulle heuning en drink melk, jy sou sê hulle doen dit al hul lewe lank. Tot Leeu en Luiperd en Rooikat en Wolf eet saam asof hulle nog nooit bloed geproe het nie. Want Leeu het gereken op ’n party kan jy darem nie van jou gaste se familie voorsit nie.

“Luister nou, my diere,” sê Leeu toe hy die heuningpot skoongelek het. Want ’n koning eet eerste en laaste, en nog heelwat tussenin ook; die ander moet maar vat wat hulle kan kry.

“Luister, my diere!” sê Leeu weer. “Ek wil graag vir julle elkeen ’n geskenk gee om te wys dat ek ’n goeie koning is.”

“Dankie, dankie, dankie!” sê die diere, en hulle druk vorentoe. Dit stamp en stoot en karnuffel mekaar, want die een is bang die ander gaan dalk die beste geskenk voor hom kry.

“Stadig, nou!” sê Leeu. “Wie gryp, kry niks – en die vraat kry laaste.”

Toe gaan dit ’n bietjie beter.

“Julle wat graag horings wil hê,” sê Leeu, “staan eenkant toe.”

“Horings?” sê Koedoe vir sy maats. “Dink julle nie ons sal mooi lyk met horings nie?”

“Ja, ja, ja!” sê die bokke en staan opsy.

“Hier,” sê Leeu, en hulle sit die horings op. Langes en kortes, reguites en gedraaides. “Maar die vrouens wat weggebly het, kry niks,” brom hy.

Olifant sien die bokke spog, dis te veel vir hom en hy gooi sy groot lyf rond om by Leeu te kom. “Ek wil ook horings hê,” sê hy en gryp sommer ’n paar mooi wittes met sy mond.

“Vraat!” sê Leeu. “Omdat jy so gulsig was, sal die horings in jou mond bly vassit, en jy sal dit nie soos die bokke hoog op jou kop dra nie.”

“O toggie,” begin Olifant kla. “Nou is my neus glad te kort. Ek kan nie … Ek kan nie … Ek kan nie … asem kry nie!”

“Vat so!” sê Leeu, en hy pluk Olifant aan sy neus tot dit amper op die grond hang. “Is dit nou beter?”

“Dankie,” brom Olifant, en hy stap met sy horingtande en sy slurpneus weg.

Maar daar is al klaar weer ’n doenigheid in die horinghoop. Dis Renoster wat so snuffel.

“O so,” sê Leeu. “Omdat jy jou neus orals insteek, sal jou horings op jou neus vassit.”

“Ag nee, bog,” sê Renoster, en hy wil die koning sommer met sy neushorings byloop. Maar Leeu klap hom deur sy ete en drinke dat sy een horingpunt waai en sy oë skrefies swel. Dis dié dat Renoster vandag so sleg sien en ’n onpaar horings het.

Leeu stap na die volgende hoop geskenke. “Hier is mooi ore,” sê hy.

Nee, die diere is net soos kinders: Hulle het nie ore nie, en hulle wil ook nie hê nie. Maar Leeu hou al klaar twee paar langes reg, en wat hy opgetel het, sit hy nie weer neer nie, want hy is die koning. “Vat dan so,” sê hy, en las dit sommer aan vir die eerste twee diere wat hy bykom. Dis Esel en Hasie. En hulle moet maar dankie sê, Esel met sy twee langes slap langs sy kop, Hasie met syne penorent.

“Dié wat mooi klere wil hê!” sê Leeu.

Nou is dit ’n konsternasie. Leeu moet net kophou, want die diere is ook maar spoggerig, elkeen wil mooier as sy buurman lyk.

Luiperd kry ’n kolletjiespak. Vir Sebra trek hy ’n streepjas aan.

Perd en Koei het ’n lang storie.

“Ons werk op Boer se plaas,“ sê Perd.

“En ons moet elke dag ordentlik aantrek,” sê Koei.

“Een pak klere is te min,” sê Perd.

“Ons wil tog nie hê Boer moet vir ons diere lag nie,” sê Koei.

“Goed, goed,” sê Leeu, want hy hou van Perd se spoggerigheid, en Koei het so ’n sagte stem dat dit selfs Leeu se hart week maak. “Hier.”

Perd is eerste. Ai, maar mooi is nie die woord nie! Dis appelblou en sweetvos, dis donkerbruin en haelwit, en swart soos die nanag self. ’n Pak vir werk en ’n pak vir uitgaan, ’n pak vir elke luim. “Baie dankie,“ sê Perd, en hy trippel weg. Maar later het hy moeg geword vir al die uit- en aantrekkery, en toe het hy die klere onder sy kinders verdeel. Dis dié dat elke perd vandag net een pak klere het, maar alle perde verskillend lyk.

Koei kry ’n bont rok en ’n rooi jas en swart Sondagsklere. Maar later het sy soos Perd gemaak en dit vir haar kinders gegee.

Terwyl Leeu nog met koei besig is, skree daar ’n stem uit die bondel. “Haai, wat van my? Moenie al die bestes vir Perd en Koei uitdeel nie!” Dis Kameelperd wat sy maniere in die bos vergeet het.

“Ongepoets!” sê Leeu. “Hoe durf jy vir jou koning skree? Nou sal jy nooit weer praat nie.” En só het dit gekom dat Kameelperd sy stem verloor het.

Net om die diere te wys hy sal hom nie laat aanjaag nie, stap Leeu eers weer na die horinghoop toe en soek vir Koei ’n klompie uit om by elke uitrusting te pas.

“Baie dankie,” sê Koei, en sy stap met haar geskenke weg.

Maar Kameelperd lyk so verdrietig, al kan hy niks sê nie, dat Leeu hom jammer kry. “Hier is vir jou ’n spogpak,” sê die koning. “En ’n paar horings om daarby te pas.”

Kameelperd trek aan en sit die horings op, en hy lyk al klaar beter. Leeu kyk hom op en af. “En ek sal jou ’n lang nek gee om jou vyande van ver af te sien aankom,” sê hy, want hy weet Kameelperd se horings beteken nie veel nie. “En lang bene om vinnig te kan weghardloop.” Nou is Kameelperd in sy skik, en hy draf tevrede weg.

Net toe Leeu wil omdraai, roer iets tussen sy voete. “Hiert!” roep hy en wip in die lug, en voor die skrikmaker nog kan padgee, het Leeu hom platgetrap. Dis Koggelmander. Met ’n potblou kop kruip hy tussen Leeu se toonnaels uit. “Dis jou verdiende loon,” sê die koning. “Nou sal jy ’n blou kop hê.”

Leeu raak haastig, want die son drink water en sy maag begin skree. Melk en heuning is darem nie ’n dierkoning se kos nie.

Nou moet die diere net aanvat. Bobbejaan kry ’n sekelstert. Dassie en Mol kry elk ’n lang dunne, maar hulle wil dit nie hê nie en gaan begrawe dit skelmpies. Toe het hulle niks. Mol kry so skaam, hy vroetel hom onder die grond in.

Boerbok kry ’n baard, en voor sy vrou haar oë kan uitvee, het sy ook een. Die diere lag stilletjies, maar koning Leeu druk deur. “Volgende! Volgende!” sê hy.

Seekoei sit glad met vier slagtande opgeskeep, en Slang kry per ongeluk Leeu se kalbas veldmedisyne wat hy by ’n jagter gesteel het. Slang slaan sommer alles met een sluk weg. Die goed begin gis, en hy wil net spoeg; die goed trek gif, en hy wil net byt.

“Kap sy bene af!” skree koning Leeu, maar dit help ook nie. Slang is nou so malkop, hy gooi kronkels en draaie en seil glibberig weg op sy maag. Vandag nog byt hy wat voorkom, en sy gif is nou éérs gevaarlik.

Muishond kry weer vrou Leeu se laventelpotjie in die hande, en hy smyt die hele spul op hom uit. Sie, toe ruik dit darem aardig. Die diere druk neus toe en gryp in die bondel: horing en hoef en waaierstert. Toe maak hulle dat hulle wegkom.

“Wat van ons?” skree Wolf en Jakkals, wat nog niks het nie omdat hulle te uitsoekerig was.

Moeg vir die gesukkel kyk Leeu om, maar daar het net ’n tjank en ’n lag oorgebly. “Vat wat julle wil,” sê hy. “En oppas as julle iets laat staan.”

Die twee moet net gryp wat voorkom. Dis dié dat Wolf vandag nog die groot lagger van die veld is, en daar is geen dier wat saam met Jakkals kan tjank as die volmaan oor die veld hang nie.

Toe ou Skilpad eindelik by die uitdeelplek kom, is daar geen dier of geskenk meer oor nie. Dis waarom hy vandag nog met die horingdop rondloop wat Krokodil vir hom gemaak het. En Padda woon glad poedelkaal in die water. Met die lang wagtery in die bloedige son het hy later so warm gekry dat hy stilletjies in ’n poel geglip het, maar iemand het sy klere gesteel. Nou is hy te skaam om tussen die ander diere te kom. As hy ’n bietjie in die sonnetjie sit en hy hoor iets roer, duik hy dadelik in die water weg.

Maar saans in die donker kom hy en sy broers uit, en dan kan jy hulle hoor kerm.

“Waar? Waar? Waar?” kla die ene.

“Klere? Klere? Klere?” kla die ander.

Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe).
1.Noem twee ander kenmerke van volksverhale in hierdie verhaal.
2.Waarom word “Leeu”, en “Boerbok” met hoofletters gespel? Skryf net die regte antwoord neer: Hulle is die belangrikste karakters in hierdie verhaal. / Dit word hulle name, want daar staan nie “die” vooraan nie.
3.Skryf vyf humoristiese sinne in die verhaal neer en sê hoekom dit 'n mens laat lag.
4.“O toggie,” begin Olifant kla. “Nou is my neus glad te kort. Ek kan nie … Ek kan nie … Ek kan nie … asem kry nie!” Wat wil die ellips […] vir ons sê? (Skryf net die regte antwoord neer.) Hy weet nie wat om te sê nie. / Hy kan nie deur sy neus praat nie. / Hy sukkel om asem te haal.
5.Wat is Renoster se “ete en sy drinke”?
6.Verduidelik in een sin wat beteken: “Ai, maar mooi is nie die woord nie!”
7.Grobbelaar gebruik in sy oorvertelling drie woorde wat jy nie in ’n woordeboek sal kry nie. Skryf hierdie drie nuutskeppings neer.
8.Wat beteken “glad” in die volgende sin: “Padda woon glad poedelkaal in die water.” Skryf net die regte antwoord neer: heeltemal / glibberig.
9.Hierdie verhaal wil vir ons verklaar hoekom iets is soos dit is, dit wil dus die ontstaan daarvan verklaar. Skryf vyf daarvan neer in volledige sinne.
10.Hierdie verhaal leer vir ons ’n lewensles / leer nie vir ons ’n lewensles nie. Skryf in twee sinne hoekom jy so sê.
11.As jy nee antwoord op vraag 10, beteken dit dan dit is nie ’n volksverhaal nie? Hoekom sê jy so?
12.Watter persoon het hierdie verhaal vertel? Hoekom sê jy so?

Postaktiwiteit (verryking)

Sê nou maar die volgende diere was nie by Leeu se party nie. Probeer in vyf sinne soos Grobbelaar vertel wat Leeu vir een van hulle sou gegee het: kat, muskiet, vlieg.

Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 8 Huistaal

Подняться наверх