Читать книгу Kamee - Roela Hattingh - Страница 10

Tjoepstilte

Оглавление

ORAL WAAR SY GAAN, soek sy plekke om lyke te bêre.

Langs die M1-hoofweg in Johannesburg, naby Killarney Mall, tussen die struike en die klippe wat skuins met die helling op gestapel is tot by ’n yslike betonmuur, is ’n goeie plek. Die pad lê ver ondertoe. Die betonmuur maak ’n inham, dit behoort yskoud in die winter te wees. Weke kan verbygaan voordat iemand iets agterkom.

Goeie plekke is waar mense nie loop nie, waar reuke kan oorneem, die land en diere hulle plek kan terugneem.

Sy dink vooruit aan die tekens wat haar lyk sal kon weggee. Rotte. Kakkerlakke. Dalk voëls; uile eet nie sommer dooies nie. Sou aasvoëls nog in die omgewing aas? wonder sy. In Bloemfontein wel, daar is ’n aasvoëlrestaurant, nie in Johannesburg nie. Is al die roofvoëls op hok in die dieretuin? Sê nou maar net die hiënas breek deur die heinings. Sou hulle die spoor oor Jan Smutslaan, verby selfoonbome, tussen die vierwielaangedrewe Gautengers kry? Sou hulle nie eerder by Zoo Lake smul aan die wit ganse wat hulleself walserig verkoop vir krummels terwyl die kameras van die kliënte by die rolbalklub kliek nie?

Goeie plekke is waar kinders nie speel nie. Waar mense anderpad kyk.

Sy soek natuurlik ’n wegsteekplek wat by die karakter van die mens wat was, sal pas. Dis die moeilikste gedeelte van die speletjie. Hoe weet mens ooit wie iemand is? Selfs ouers vergeet wie hulle kinders is – hulle oorhandig hulle bloedjies dan gretig aan onderwyslui.

Sy het al telkemale van oudstudente gehoor dat die persone wat die grootste invloed op hulle gehad het, diegene was wat hulle verneder het. Sy verstaan dit. Te veel keer moes sy haar naam aanhoor. Veral van die siele wat dit toe wel in die wêreld “gemaak” het. Wat dit ook al beteken. Sy kan hulle almal verbind aan een van haar dissiplinespeletjies. Behalwe natuurlik vir Albert. Die eerste een – vir hom het dit nie gewerk nie – maar dit was toe nog nie ’n speletjie nie.

Die seergemaaktes, geslaandes, geïgnoreerdes, stilgemaaktes, uitgesmytes, uitskrywers en die inblyers noem almal haar naam. Die outjies wat deur die vloerplanke geval het, hulle nooit gesteur het aan die stelsel en aan haar nie, soek haar nie eens op nie. Elke keer wat ’n oudstudent haar nie onthou nie, slaak sy ’n sug van verligting. Een minder wat sy vernietig het. Sy self onthou haar weeshuisvader maar te goed.

Haar laaste slagoffer se lyk kon sy wegsteek in die besemkas van die Michael Angelo-penthouse. Die Griekse bleekgesiggie wat haar nooit hardop kon verbind tot ’n antwoord nie.

“Ek weet nie,” met ’n skalkse giggel, was haar standaardantwoord op alle vrae. Selfs as die antwoord voor die hand liggend was. Of selfs as sy – ná jare se klasgee – die konsep vir die kind in haar prosesboek neergeskryf het met ’n verduideliking van hoekom dit sal werk, was die antwoord net altyd: “E, ek is nie seker nie, ek weet nie.”

Om tot die daad oor te gaan, om jou lyf en hart en woorde tot ’n opinie of idee te verbind, het al hoe skaarser geword. Sy neem aan dis die teken van die tye. Dis koel vir die kinders om onbetrokke, neutraal, effens onseker en skugter te wees. Karakter is deesdae vir die voëls.

Die besemkas. Die perfekte plek vir die bleekgesiggie.

“Mense wat nie weet nie, word vloerlappe, my kind. Vir jou straf kan jy die seunstoilette se vloer gaan skrop. Gedurende pouse. Vir ’n week lank. Dit sal jou leer om ’n opinie te ontwikkel. As jy nie een het oor die impak van die Waarheidskommissieverslag op die psige van die Afrikaner nie, sal dit ten minste ’n opinie oor vloere was wees.”

Sou dit moontlik wees dat iemand wat in die penthouse bly ooit ’n eier laat val en dit dan self skoonmaak? ’n Borsel en ’n skoppie soek om krummels op te vee? Kombuise is gewoonlik perfek ingerig in sulke apartemente, vir mense wat nooit kook nie: ’n natuurlike cordon bleu-niemandsland. Dis restaurante toe of afgelewerde fusion food. Sy kry vir ’n oomblik die arme skropvrou jammer wat die kas gaan oopmaak. Sien die vrou se skrik wanneer die besemhare lank en welig en swart vir haar loer. Sou die skropvrou van die geleentheid gebruik maak om iets uit die student se sak te gaps? Haar skootrekenaar, die kleurgekodeerde pennesakkies wat by die kind se uitrusting en lêer pas? Sy hoop so!

Die res van die onderwysersgarde, die kinders en selfs die hoof, het gedink sy was wreed. Hulle het stilgebly omdat dit ’n maand voor die einde van die jaar en haar aftrede was. Tog het dit gewerk. Die kind het haar tot ’n opinie leer verbind. Sy werk deesdae as politieke analis vir CNN.

Sy weet nie presies wanneer sy besluit het dat dit dan nou maar haar doel in die lewe sal wees nie. Om doodeenvoudig alle twyfel uit te vee.

Die droom was die eerste stap. Alhoewel dit drie en vyftig jaar gelede in haar eerste jaar van skoolhou gebeur het, is dit nog steeds ontstellend helder. In haar droom het sy in die hoekkamer in tannie Bokkie se losieshuis wakker geword. Sy het wakker geword van kinderstemme, of liewer, kinderagtige stemmetjies. Dit het geklink soos haar matriekklas. Sy het opgestaan en gesoek. Teen die muur, langs die afdruk van een van Pierneef se werke, in die plek van die biddendehandetapisserie wat tannie Bokkie gemaak het, het hulle gesit. ’n Klas insekte, met koddige kindergesigte. En hulle het oor haar gepraat. Oor die nuwe juffrou wat nie murg in haar pype het nie. Wat blykbaar in ’n kinderhuis grootgeword het en dit nooit sal regkry om hulle te beïndruk nie.

Sy het half ingedagte die insekte een vir een begin dooddruk. Effense drukking van die regterduim. Dit was amper ’n speletjie. Kon sy die spreker in die middel van ’n sin onderbreek? Sy was die deus ex machina in ’n moderne, geanimeerde kinderteater. Sy onthou hoe sy in haar droom omgedraai het toe dit stil word, in die bed geklim en geslaap het. So asof niks gebeur het nie.

Dit was die eerste stel matrikulante; sy het hulle geërf by mevrou Viviers wat skielik siek geword het. Sy het geweet hulle steur hulle nie aan haar nie. Die eerste rugbyspan was in daai klas. Sy wou die volgende dag bedank. Het selfs vir die hoof gesê dat sy nie gereed is vir die lewe as ’n leermeesteres nie. In daardie jare kon sy nie lieg nie. Vars uit die varsity, was dit moeilik om ’n professionele toon aan te slaan. Veral teenoor matrikulante. Die hoof het haar bedank vir haar eerlikheid en die reperkussies van kontrakbreuk verduidelik. Sy het ’n beurs gehad wat sy oor vier jaar moes terugwerk.

“Kom, kom, liewe juffie, gebruik jou vrye tyd reg. Kanaliseer jou verbeelding, ontwikkel ’n interessante dissiplinêre sisteem. Só hou ons die kinders op hulle plek. Jy sal nog ’n aanwins vir ons edele professie word.”

Sy dink aan die houtjie-vir-’n-foutjie-toets. Die matrieks het aspris die verkeerde antwoorde geskryf. En sy moes by haar woord bly. Dit was die tweede stap. Albert het vier uit dertig gekry. Hy het vermakerig vir sy maats geknipoog en voor haar kom buk. Iemand het saggies ’n wolwefluit gegee.

“Nee, jou hand. Gee my jou hand.”

“No sweat. Hierso, juffie.”

Sy het die punte van sy vingers vasgehou.

“Een,” sy gesig oombliklik wit, strak, oë reguit, “twee, drie, vier, vyf, ses, sewe, agt, nege, tien, elf, twaalf, dertien.”

Sy het hard en vinnig geslaan, gekonsentreer om nie haar vingers raak te slaan nie, die houe millimeters uitmekaar. Die groen rottang wat sy van die Skei-Nat-meneer af laat kom het, het afgemete gesis. Toe sy met sy linkerhand klaar is, het hy met neergeslane oë omgedraai om te gaan sit.

“Jou ander hand, asseblief. Nog dertien.”

Die klas was tjoepstil.

Vier honderd drie en tagtig houe later was daar net slierte van die jong juffrou oor.

“Uiteraard skryf julle nog ’n toets môre. Dieselfde reëls geld.”

Die volgende dag het almal volpunte gehad.

Die geheim is om nooit ’n metode te herhaal nie. Elke leerling is anders. Individuele aandag kweek ’n gemoedelikheid, ’n amperse vertroue. Sy het die akademiese standaard onberispelik hoog gehou; nie een matrikulant het ooit minder as ’n C in die eindeksamen behaal nie. Ouers vertrou resultate, dis ’n geboekstaafde feit dat ’n onberispelike loopbaan ’n moeder se kropgevoel snoer.

Mag verskans hom in vele gestaltes. Sy weet die meeste mense dink sy was suksesvol, haar klasgemiddeld die hoogste in die land, jaarin en jaaruit. Sy het haar onderskei as ’n uitmuntende opvoeder.

Daar is baie plek vir oorblyfsels van kinders.

Onlangs het sy amper die spoor byster geraak.

Hy het die heroïenmerke onder sy naels, in sy arms, kuite, nek aan haar uitgewys. Van die trips kon hy niks onthou nie, maar elke merk was bewys van ’n storie oor verdoeseling en diefstal en grusame gretigheid. Het hy geweet wat sy afgetakelde lewe aan haar sou doen?

“Juffie verstaan mos, juffie? Ek weet juffie kan my help. Juffie was die enigste een wat my ooit kon kortvat. No sweat. Juffie was my mentor.”

Sy het nie geweet wat om te doen nie. Gedagtes oor hoe sy later die aand normale dinge sou doen, het gekeer dat sy in trane uitbars. Sy sou wasgoed was. Die wit goed van die bont goed skei. Die swart klere vir laaste bêre. Sy sou die suurlemoene van die boom afpluk en die skille fyn sny met die marmelademessie wat sy in Engeland gekoop het. Dit in die blou erdeskottel laat lê vir agt en veertig uur. Sy sou na haar foto’s van seerawe kyk.

Sy wou dit net die een keer sê: Ek was verkeerd. Ekskuus, Albert. Ek het nie geweet hoe om op te tree nie.

Sy wou alles vertel.

Sy het opgekyk, oorhoeks, met oë wat oorloop. ’n Vreemde gevoel om haar mond.

’n Glimlag.

Hy het sy linkerhand na haar toe uitgehou.

Sy het sy hand gevat en die palm gesoen. Tot ses en twintig getel. En toe het sy haar reggeruk. Die laaste slierte laat gaan.

“Jammer. Jy verwar my seker met iemand anders.”

Toe hy wegskuifel met die bekende vernedering in sy oë, het sy begin dink aan ’n wegsteekplek vir haarself.

Kamee

Подняться наверх