Читать книгу Kamee - Roela Hattingh - Страница 9

Voorspel

Оглавление

“’N PLAAS KAN NIE TWEE BOERE HÊ NIE,” sê Kobus de Korte hardop. “Dit sal wragtagwaardieHerehoormy nooit werk nie.”

Hy kyk vinnig rondom hom, maar dis net die nagveld en die herkouende koeie wat hom hoor. Dis nou al goed twee jaar dat dinge net nie tussen hulle stryk nie. Klein-Koos is hardkoppig, nes hy ook was. Maar die tyd slyt aan ’n mens. Die skurwe kante moet af, ’n kalf kry die beste weiding, maar nie vir altyd nie. Hierdie storie dat die kind dink Cow Candy kan al sy weidingprobleme sommer so oplos, is verregaande. Weiding, goeie weiding, bestaan uit grasklawers, meerjarige raaigras en gemengde kikoejoe. Dit was nog altyd so op Grasfontein en so sal dit bly. In elk geval tot die dag dat hy sy kop neerlê en Klein-Koos kom maak en breek soos hy wil.

Partykeer is hy amper spyt dat hy op net die een kind besluit het. ’n Dogter sou na sy stories wou luister. Of ’n ander seun. Maar die plaas is te klein om te verdeel. En sy vrou vat ook altyd die seun se kant. Al sê sy nie so nie. Hy sien dit in die kospakkies wat sy vir die kroonprins landboukollege toe stuur. Met briefies binne-in! Die geraamde foto langs haar bed. Dit maak hom skoon ongemaklik. Wanneer hy aantrek, sit hy die ding plat.

Hy wat Kobus de Korte is, moes ná matriek kom boer, hy moes maar aangaan waar sy pa gelos het, daar was nie tyd of geld vir studie nie. Hy moes net raakvat. Vir sy ma sorg.

Maar sy vrou en die kind is mos geleerd. Weet beter. Hy het self ook ’n paar keer sy kop goed gestamp. Veral voor die lang droogte. In ’74 het hy gebargain op die reënval. Dit was egter ná jare van noukeurige opnames en so het hy toe wragtag gewaag om te voorspel wat gaan gebeur. ’n Maand te vroeg gesaai. Die hele spul het gevrek en hy het amper sy gat gesien. God weet, as hy toe die plaas verloor het, so net ná sy pa se dood …

Nee wat, die kind sal maar net moet leer. As hy wat Kobus is nou vandag ’n voorspelling kan waag, is dit dat die seun maar eers op die plaas waar hy sy prakties doen, moet voorman word vir so tien jaar. Daarna kan hy maar weer probeer. Laat hy sy foute op ’n ander man se rekening maak. ’n Boer kan nie speel nie, dit kos net te veel.

Hy is bly Klein-Koos is die naweek by die huis, sal môre met hom praat oor die toekoms. Vandag is hy net te rammetjie-uitnek. Laat hy maar by sy vriende op die dorp kuier vanaand. Môreoggend vroeg, net ná melktyd en voor kerk, kan hulle praat. Wanneer die vrou nog titivate. Dis nou as die klein klits nie weer laat is vir die melkery nie. Deesdae fuif hulle mos tot vroegoggend, dan kom hy ingesluip, borsel net tande, suig peperment en trek skoon klere aan. Die koeie weet ook. Die seun vat die spene maklik mis en dan wil hulle nie sak nie. Dis die drank. Sy vrou sê los, dis net ’n fase. Hy sal maar sy bek hou, maar hy het al gesien hoe boere hulle plase wegsuip.

Miskien moet hy maar sy halsstarrigheid oor restaurantkos laat staan en aanbied dat hulle ná kerk by die Wimpy gaan eet. Al kos dit ’n plaas se geld. Andersins boer die meneer in elk geval net met sy studentepraatjies by sy ma in die kombuis wanneer sy kook. En hy wat Kobus is, sit alleen op die stoep en luister RSG.

Ja, dis soos dit sal wees. Hulle gaan môre Stilbaai toe. Direk ná kerk. Nie Wimpy toe nie; hy sal hulle werklik trakteer. Dis tog Vadersdag. Hulle gaan eers op die strand stap en daarna by die visplek op die hawe eet. Op die balkon. Die seelug sal die onderonsie tussen hom en Klein-Koos wegwaai. Hy sal aanbied dat Klein-Koos met die driehoekland langs die vlei kan doen wat hy wil. Hy sal toegee sodat hulle weer met mekaar kan praat.

Dis tyd om te gaan inkruip. Gelukkig het hy ná aandete help opwas. Sy vrou sal vanaand inskiklik wees vir so ’n bietjie warmte. Hy stap kamer toe, hoor die telefoon lui. Seker al weer iemand wat nie môre kan tee skink nie, sy is mos altyd die back-up. Hoop nie sy gaan nou staan en melkterte maak vir die hele gemeente nie. Hy sit die gang se lig af, maak solank sy belt los en sê: “Sal ek vir ons ’n nightcap inskink, my lam?”

Sy vrou sit op die oopgetrekte bed met die telefoon in haar hand. Sy kyk na die gehoorbuis, sien hom nie raak nie. Sy vryf oor die foto van haar kind.

Kamee

Подняться наверх