Читать книгу Kamee - Roela Hattingh - Страница 6
Gate uit
ОглавлениеONS HET NOU NET GALA GESWEM BY die Rec en stap huis toe deur die wye veld. Jy is tien, ek is nege. Ons het vyftig sent gekry om te deel en ons het vir ons elkeen ’n Groovy en ’n klein slab donkersjokolade van Albany gekoop. Dis bitter en soet en maak ons warm van binne af. Ons hare is teen ons voorkoppe vasgeplak en gekoek. Joune hang slierte teen jou nek af en jou hemp is reeds nat in die middel van jou rug.
Ons is bang. Die huis is ver, die veld is oop en groot en leeg en ons loer heeltyd na die klompie doringbome. Op die horison is mynhope. Laas was dit die piramides in Egipte en ons was Nefertiti en haar tweelingsus. Ons het towerkragte gehad; ek kon enige metaal laat smelt deur daarna te kyk en almal wat jou sien, het op jou verlief geraak en jou gedien.
’n Ander keer was die mynhope Don Quixote se meulens en ons het Spaans gepraat: amigo, obrigado, por favor, mucho, hombre.
Jy lees elke aand vir my uit die Kinders van die wêreld. Ons is ook kinders van die wêreld.
Die huise waarheen ons stap, is nie van bakstene gebou nie. Dis sulke dunnerige mure, ek dink dis asbes; jy sê dis gevaarlik: Asbes gee mens tering. Ons het lank terug in ’n baksteenhuis gebly waarvan net die tuin nou oor is. Sondae op pad kerk toe ry ons daar verby. Ons kan nog sien waar ons gebly het, al is al die huise en strate weg. Net die tuine is oor. Ons mag nie ons eie kaalgatperskes gaan pluk nie, al sien ons dis ryp.
“Verbode terrein,” sê Ma.
“Niemandsland,” fluister jy altyd vir my met ’n spookstem.
Ons bure het in die gat geval toe ons klein was. Ma het die dag voor die gat ingeval het, gesien die water verdwyn in die kraak in die grond in en die rose is droog, alhoewel sy die kraan vir die hele nag oop vergeet het, maar niemand het geluister toe sy sê iets is verkeerd nie. Die tuin wou net nie nat word nie. Ma sê myners hoor nie as vrouens praat nie. Ons bure het van vakansie af teruggekom en net vir een aand oorgeslaap voordat hulle na hulle oupa en ouma toe sou gaan. In die middel van daardie nag het die gat ingeval. En hulle het verdwyn. Vir altyd. Sommer so oornag. Ek het lank gewonder of die bure daar onder se huis heel is, of hulle vars melk gehad het. Ek weet daar was baie water.
In ons kamer het die muur net in drie gekraak. Niks het ingeval nie. Toe eers luister die myners vir Ma.
Inderhaas trek ons die dag ná die gat na hierdie splinternuwe huis toe in Summerplace, waar ons nou bly. Ons oom sing altyd: “Little boxes on the hillside, little boxes made of ticky-tacky, and they’re all made out of ticky-tacky, and they all look just the same.”
Dan lag hy. Hy is ’n boer en bly op ’n plaas waar daar net een huis is. Ek dink hy lag omdat dit hier so plat is en omdat ons huis nie dieselfde as die ander is nie. Ons s’n is ligblou. Die bure aan ons linkerkant, die Souties s’n, is groen. Die ander buurtannie wat die inrykafee besit en wie se man dood is, se huis is ligpienk.
Dis al skemer. Die miershope maak lang puntskaduwees.
“Sê nou maar,” begin een van ons twee.
“… die aarde is toe met ’n dun lagie sjokolade presies waar ons monde is. Dit sweef half in die lug en … ”
“… en ons moet ons pad oopeet om êrens heen te gaan en die sjokolade gaan weer toe agter ons.”
Ons loop en draai ons koppe van links na regs en weer terug soos ons ons pad kamstig oopeet. Soos katte maak ons klapgeluidjies.
“Watter sjokolade ons ook al sê, dis wat daar is.”
“Flake … ”
“Turkish Delight … ”
“… en hoe meer ons eet, hoe … ”
“… vetter en vetterder word ons.”
“Dis wonderlik, dan moet ons al hoe meer eet om ons bestemming te bereik en almal wat ons wil seermaak, moet ook ’n pad deur die sjokolade eet.”
“Teen die tyd dat hulle by ons kom, is hulle soet … ”
“… en wil ons nie meer pla nie.”
Ons blaas ons monde op en maak ons arms rond en waggel heen en weer in die paadjie soos ons die pad voor ons massiewe lywe probeer oopeet. Ons loop al weerskante van die grondpaadjie en sig-sag voor mekaar verby.
“Peppermint Crisp … ”
“Gemmersjokolade … ”
“Koffiesjokolade … ”
“Daai Pink Panther-sjokoladetjies … ”
“Kit Kat, Crunchies … ”
“Sirkeltjieklappersjokolade … en … en … bokdrolletjies … ”
By die laaste troppie doringbome gaan die aarde oop en die dag val diep in ’n rysmiergat in. Al die soet sjokoladestafies wat ons al ooit geëet het, skif in ons mond.
Die lang man leun teen ’n doringboompie, sy ding in sy hand. Dis vet en pers soos ’n eiervrug. Dit blink. Maar dis sy oë wat ’n gat in die dag brand.
Ons hardloop. Laat val die handdoeke met ons nat baaikostuums wat styf opgerol is. Ons skree nie. Voel nie die skerp klippe onder ons voete of die duwweltjies nie. Ons is nie Johanna van Arkel, Racheltjie de Beer, Emily Hobhouse, Barbara Lipschutz, Medea of die Koningin van Skeba nie. Ons hardloop uit al ons stories, ensiklopedieë en kinderdrome uit.
Toe is ons by die einde van die veld. Ons klim deur die draad. Uiteindelik teerpad en geel, pienk, groen, blou, geel, pienk, groen huise tot by ou Bettie wat ons met haar kreukelvel inwag.
“Ek het vir die nonnies gekyk al die pad van doer bo by daai bome.”
Sy hou ons styf vas tot ons ophou ruk. Sy ruik na Vaseline en meubelolie. Sy maak ons sit op die agterstoep, ons bene in die son. Gee vir ons krummelpap met botter en sheba. Ons eet hoenderboudjies in die oond gebraai. Die sout maak ’n krakerige skilletjie. Ons eet sommer so met ons hande.
Die soet smaak van bang is weg.