Читать книгу 40 dae tot hoop - Ronell Bezuidenhout - Страница 12

Оглавление

Dag 4

Stilhouplek

Ná ’n leeftyd se middelmatige gewoonheid of

’n ondeurdagte vasval in die slaggate van godsdienstigheid,

vereis Lydenstyd van my as Christen om tot stilstand te kom.

Net dan kan ek eerlik nadink oor wat regtig in my

binneste aan die gang is. Lydenstyd dwing my tot stilstand

sodat ek myself weer kan uitdaag: Glo ek regtig?

Joan Chittister

Elke reis het ’n stilhouplek nodig, ’n plek waar jy weer die padkaart kan bestudeer. Of waar jy sommer net kan asemskep voordat jy die reis later hervat.

Nou hoekom sal ons tussen die Kaap en Johannesburg die motor by Colesberg onder ’n boom in trek om te rus, maar ons gun ons nie dieselfde soort stilhouplek vir ons lewensreis nie?

Gewoonlik sal Dag 4 ’n Saterdag wees. (Dit is inderdaad só as jy op Aswoensdag begin het). En dit bied jou die ideale geleentheid om vir ’n slag nee te sê vir jou gewone aktiwiteite, en om ’n bietjie meer tyd by jou stilhouplek deur te bring.

Het jy dit al oorweeg om een van jou naweekdae as ’n heilige stilhouplek in te rig? Nee, ek bedoel nie dat jy op ’n Sondag ’n erediens bywoon of later vir ’n middagslapie omkantel nie. Ek bedoel unplug. Om jou selfoon vir ’n volle dag af te skakel. Of dan ’n halwe dag …

Hoor hoe verduidelik die Ou-Testamentiese teoloog Walter Brueggemann dit: “’n Rusdag-viering, wat in die Bybel ook ‘sabbat’ genoem word, gaan nie in die eerste plek oor aanbidding nie. Dit gaan oor nee sê vir werk. Dit gaan oor nee sê vir die kultuur wat die farao’s geskep het om van mense slawe te maak. Dit gaan oor nee sê waar een groep mense hulle ten koste van ’n ander groep mense verryk.”

Dit maak dus sin dat hierdie pelgrimsreis jou ook oor die farao’s in jou lewe wil laat nadink. Dit is nie maklike dinkwerk nie, want ons hedendaagse farao’s is nie altyd so sigbaar soos die destydse Egiptiese vorste nie – of só dink ons.

Ons hoef ons dalk nie af te sloof om piramides te bou nie, maar ons is steeds baksteen-pakkers, dag na dag na dag. Steeds sloof ons ons af. Ons base het net ander name.

Hoe bedink ’n mens hierdie siklusse as jy dit nie soms onderbreek nie?

Die ou geloofvaders en -moeders het geglo dat jy minstens een dag per week êrens in die natuur moet kom. Hoekom? Dit dwing jou om na ander dinge rondom jou te kyk as na dit waarna jy gewoonlik kyk.

Dit laat my dadelik dink aan God se gesprek met Abram in Genesis 15. Nadat Abram sy lot by God bekla – en in die proses ook ’n bietjie protesteer by God omdat God se tydsberekening nie na sy sin is nie – antwoord God hom só: Kyk ’n bietjie na die hemel, Abram! Probeer die sterre tel.

Hiermee verwys God nie bloot na die sterre as ’n simbool van sy voorsienigheid nie, maar Hy sê dit waarskynlik ook om vir Abram te laat hoor: Haal ’n bietjie jou oogklappe af! Kyk na die groter wêreld waarvan jy deel is.

Hoeveel te meer sal dit ons hier in die 21ste eeu nie baat om ’n slag verder en wyer te kyk nie – ons wat heeldag na ’n rekenaar se skerm staar …?

Môre sit ons die reis voort met die aanbreek van die eerste Lydensondag. Natuurlik sal dit ’n onderbreking van ons gewone handelswyse wees. Dit sal amper wees asof God vir ons sê, soos vir Abram: “Kyk op …”

Sondag is nooit soos ’n ander dag nie. Só lui een van die ou Christelike wyshede.

Die lewe kan hóé sleg wees, maar Sondag is anders. Sondag herinner ons aan die opstanding. Sondag is Die Dag van Nuwe Lewe.

Eugene Peterson se vertaling van Psalm 119 in The Message is ’n kunswerk. Luister hoe verwoord hy hierdie pelgrim se gebed: “Guide me down the road of your commandments; I love traveling this freeway … Invigorate me on the pilgrim way.”

Gun jou vandag so ’n stilhouplek sodat jy die waarde van jou lewe kan bedink. Sodat jy die lokvalle kan systap en die weg wat God jou wys, kan leer ken.

Sodat jy môre, met die eerste tree ’n nuwe week in, kan uitroep: “I love traveling this freeway.”

Gebed: Here, maak my selfs méér opgewonde oor hierdie hartsreis!

Geloofsgewoonte 4: Die sewe classics

’n Geloofsgewoonte is iets wat jou help om jou lewe só in te rig dat jy al hoe meer in jou toewyding aan God en jou diens aan jou medemens kan groei. Deur die eeue heen was daar sewe spesifieke gewoontes wat gelowiges gehelp het om staande te bly.

Drie van die gewoontes het met ons lewe en ons leefwyse te doen:

•om te vas

•om te gee

•om dikwels ’n geloofsmaaltyd saam met ons medegelowiges te vier

Nog drie van hierdie gewoontes het met die bestuur van ons tyd te doen:

•vaste tye vir gebed

•die viering van ’n rusdag

•om die lewe volgens seisoene te leef (die Advent-seisoen; die Lydenstyd-seisoen; die Pinkster-seisoen, ensovoorts).

Die sewende gewoonte raak sowel ons liggaam as ons tyd-bestuur:

•’n pelgrimsreis.

Ons vroegste geloofsouers het klaarblyklik met dieselfde dinge gesukkel as dit waarmee ons vandag in die 21ste eeu probleme ondervind, naamlik: Hoe maak ons met die té min ure in ons dag, en hoe leef ons die lewe in ons liggaam?

Deesdae verwoord ons dit dalk ’n klein bietjie anders, maar die betekenis is presies dieselfde. Ons vra: Hoe maak ek ruimte vir God in my besige lewe? En: Hoe behou ek perspektief in dié tyd wat ek verslaaf geraak het aan die gesig in die spieël, of wanneer ek wens dit was eerder ’n ander gesig …?

Die uitdaging hier is om hierdie geloofsgewoontes vir jou eie lewe se vorming te gebruik. Daar is immers net een doelwit: om dit wat jy doen, dit waarmee jy jou besig hou, só te doen dat dit “vir die Here” gedoen word. Om die manier waarop jy jou tyd deurbring, en die manier waarop jy jou omgewing en jouself versorg en versier, só in te rig dat dit “vir die Here” gedoen word.

40 dae tot hoop

Подняться наверх