Читать книгу 40 dae tot hoop - Ronell Bezuidenhout - Страница 17

Оглавление

Dag 7

Slegte bemarking

Jesus did not come to give you a burden but a blessing.

Rick Warren

Dit klink vir my maar na ’n resep vir ’n mislukking. Wie gaan tog op ’n uitnodiging reageer soos: Tel jou kruis op en volg my?

Hoekom was mense 2 000 jaar gelede so onmiddellik gewillig om ’n vernederende pad, want dit is wat ’n kruisweg beteken, saam met Jesus te stap? Hulle was dan selfs in die eeue daarna bekend as “mense van die Weg”.

Wat het hierdie Jesus-pad so onweerstaanbaar gemaak dat hulle hul visvangnette net so gelos het?

Waarskynlik moet ’n mens eers probeer verstaan wat in hierdie reisigers-van-ouds se wêreld aan die gang was. Wat hulle omstandighede was dat hulle “Die Weg” gekies het – want jy kies hierdie pad nie sommerso nie. Veral nie as jy nie weet hoe dit gaan eindig nie.

En wie was hulle, hierdie armste van die armes wat op die Galilese platteland gebly het? Hoekom het hulle Jesus-volgelinge geword? Hoe het dit gekom dat hulle selfs ’n bedreiging vir Rome ingehou het? Dat die polisie in Jerusalem ontplooi is daardie spesifieke pasgaweek?

Daardie pelgrims was immers mense sonder enige politieke of ekonomiese mag. Hulle was die nobodies van destyds. Die agtergeblewenes, die gesigloses, onderdruktes en ballinge in hul eie land. Die minimum wagers met geen vooruitsig op armoedeverligting nie.

Daarby was hulle mense wat swaar aan godsdienstige wette gedra het (wat deur Jesus “’n juk” genoem is). Hulle het so uitsigloos geleef dat hulle niks van die toekoms verwag het nie. Dalk het God van hulle vergeet …

Dit blyk dus dat toe hulle dié alternatief aangebied is, toe die “Volg My!”-oproep hul ore bereik het, hulle dit met albei hande aangegryp het. Daar was nie vir hulle ’n ander pad nie. Dit was hul enigste uitweg.

Dit alles konfronteer ’n mens met die brutale werklikheid: Ons verstaan van Jesus as ons “persoonlike Saligmaker en Verlosser” bied dikwels ’n gemaklike prentjie van ’n Jesus wat nie te veel aan ons gewone, alledaagse lewe torring nie. Ons sê graag: “Dit het Jesus alles gekos – dankie tog! – namens my.”

Nee, dit is nie dat ons lewe heeltemal onveranderd bly as ons tot geloof kom nie. Inteendeel! Maar … dit is darem nou ook nie so erg nie. Soos Richard Rohr skryf: “Dit is nie dat ons tussen goed en kwaad hoef te kies nie; ons weet immers wat ‘kwaad’ is, en in alle eerlikheid weet ons ook dat ons nie in daardie kategorie val nie.

“As doodgewone, goeie mense wat tot geloof gekom het, is dit eerder tussen ‘goed vir mý’ of ‘beter vir ánder’ wat ek moet kies.”

Jy sien, as die Jesus-pad net ’n tipe versekeringspolis is terwyl ek ongestoord op my doodgoeie, gewone pad voortgaan, sal ek nooit die radikaliteit van hierdie alternatief begryp nie. As Jesus bloot ’n add-on is (selfs al is dit wat my betref ’n ernstige en toegewyde add-on) sal ek my geloof bloot ervaar as ’n lewe wat gerieflik kan voortgaan. Darem nou mét Jesus – sodat dit voortaan selfs nóg beter sal gaan.

Voordat ek nie hierdie gewone en doodgoeie pad waarop ek so tuis is, ontmasker as ’n doodloopstraat op weg Ashoop toe nie, sal ek nooit die rewolusionêre of aktivistiese pad van Hoop verstaan nie. Dan is dit soos om te sê dat ek wel die potensiaal het om ’n skoenlapper te word, maar dat ek verkies om nie die metamorfose te deurloop nie. Nee, ek kies eerder die wurm-status.

Dietrich Bonhoeffer – die jong dominee-aktivis wat weens sy teenkanting teen die Nazi’s gehang is – het hierdie pad van Hoop goed verstaan. Hy het gesê: “When Christ calls a man, He bids him come and die.”

Op hierdie pad sterf jy soos die Een wat jy volg.

Jy begin hierdie reis wanneer jy op die pad na Ashoop agterkom dat daar níks is wat jou daar hou nie. Dat hierdie pad geen moontlikhede bied nie. Dit lei na nêrens; dit is ’n doodloopstraat.

Wanneer jy dan die Jesus-pad betree, verander alles. Veral jou uitkyk op die lewe. “Goed vir my” is nie meer jou lewensrigting nie; “goed vir jou” word jou fokus.

•Hoeveel van die doodgoeie, gewone pad probeer jy steeds op die Jesus-pad saam met jou dra?

•Daar is ’n groot verskil tussen Jesus-as-Enigste en Jesus-onder-andere. Ons vals self mislei ons hier wanneer ons met laasgenoemde tevrede is. Hoe, dink jy, kan hierdie valsheid in jou lewe ontmasker word?

Gebed: Here, as ek U as ’n add-on gebruik, moet U my dit wys. Ek wil U graag as my enigste moontlikheid dien.

Geloofsgewoonte 7: Bedink waarom, dan hoe

Dit was nog altyd gelowiges se behoefte om ’n lewe van intimiteit met God te kan ervaar. Om Jesus-dissipels te wees, en om só heling in ’n stukkende wêreld te bring. Dit is die geloofsdroom.

’n Filosoof het eenmaal gesê: “As jy ’n rede het waarvoor jy leef (noem dit jou droom), dan sal jy ’n manier vind om dit ’n werklikheid te laat word.”

Of soos iemand anders dit verwoord het: “If you’ve got a why to live for, you will cope with the how.”

En dit is so. Die “waarom” moet eers duidelik uitgespel word voordat jy die vraag na “hoe” kan aanpak.

Geloofsgewoontes is die hóé. Maar, nee, ons wil nie “hóé”-uitblinkers wees nie. Ons wil uitblink in die verwerkliking van ons droom. Daarom span ons allerlei hulpmiddels in.

Want ons het ’n behoefte aan gesprek met God, maar … hoe moet ons bid? Ons weet dat ons die Bybel verantwoordelik en in konteks moet lees … maar presies hoe kry ons dit reg? Ons wil ander help … maar hoe moet ons te werk gaan?

Hier help Paulus ons. Sy raad aan Timoteus is: “Oefen jou … om in toewyding aan God te lewe” (1 Tim 4:7) – en net daarná verduidelik hy aan die jong man hoe hy te werk moet gaan.

Ons probleem is dikwels dat ons nie altyd so ’n brandende begeerte het om ons “waarom” of ons “hoe” te ontdek nie. Meister Eckhart sê: “Die rede waarom ons God nie in die lewe herken nie, is te wyte aan ons gebrekkige behoefte daaraan om Hom te sien.”

Geloofsgewoontes se bedoeling is om die “gematigde” behoefte in ’n “intense” behoefte te verander.

Ek lees die volgende in NS Whitley se boek The Lost Art of Spiritual Disciplines: “Your pursuit will never be greater than your disciplines.”

Dink nou ’n bietjie oor die volgende:

•Uit watter van die geloofsgewoontes wat jy inoefen, kry jy die meeste waarde? Hoekom?

•Identifiseer die een faset van jou lewe waar daar groei nodig is. Praat ook met ander mense hieroor. Vra desnoods dat iemand jou hiermee moet help. Soms is ménse die “hoe” …

40 dae tot hoop

Подняться наверх