Читать книгу Kopskoot - Rudie van Rensburg - Страница 13

11

Оглавление

Dis nie meer blote toeval nie, dink Kassie, want dit kom klokslag in sy lewe voor. Elke keer wanneer iets met hom gebeur wat hom opgewonde maak, word hy met ’n bekhou terug aarde toe gebring. Hy skud sy kop. Nie eers geringe roem sal hom ooit beskore wees nie.

Toe hy in standerd ses gekies is as lid van die WP se junior veerpyltjiespan vir die SA toernooi, het die bure se hond hom die aand voor die tyd gebyt. Aan sy gooihand. Hy moes onttrek. En net voor hy sy skool in die wiskunde-olimpiade in Oos-Londen moes gaan verteenwoordig, het hy pampoentjies gekry.

Só spring daar altyd ’n hindernis in sy pad. Net nadat hy gister gehoor het hy is aangewys as die gasuitstaller by die jaarlikse Suid-Afrikaanse Seëlfees in Benoni, het Daniels hom vanoggend ingelig hy moet nou ook die moordsaak van Giel Lourens hanteer. Alles dui daarop dat Lourens en Mostert deur dieselfde man geskiet is. Buitendien is Kraaifontein dun aan mannekrag en speurervaring, het Daniels saaklik bygevoeg. Dis ook in ooreenstemming met die SAPD se nuwe strategie om sake doeltreffender te hanteer. Net omdat die moorde in verskillende gebiede plaasgevind het, beteken dit nie twee speurtakke hoef hul energie daaraan te bestee nie.

As dit nie daarvoor was nie, sou Daniels sy verlof van twee weke goedgekeur het. En “Die Keur uit die Kassie Kasselman-seëlversameling” (die indrukwekkende titel is deur die organiseerders voorgestel) sou ’n belewenis wees vir elke besoeker aan die fees. Nou sal hy die uitnodiging nie kan aanvaar nie en sy verlof moet kanselleer.

Alles omdat ’n ou met ’n pet, donkerbril en blou oorpak besluit het om trigger happy te raak.

Kassie sug en steek die sewende sigaret van die oggend aan. Hy het elke sigaret in die pakkie met ’n balpuntpen op die filter genommer om te sorg dat hy nie meer as tien op ’n dag rook nie. Dit gaan nie vandag realiseer nie. Hy sal môre maar weer probeer. Hy druk die sigaret haastig dood in ’n piering. Ná al die jare vergeet hy steeds hy mag nie rook in die kantoor nie.

Hy trek die dossier nader. Behalwe vir die .45-patroondoppies wat by albei moordtonele gekry is, het die ondersoek niks anders van belang opgelewer nie. Hy wag nog buitendien vir die ballistiese toetse om te bevestig dat die patrone deur dieselfde wapen afgevuur is. Die koeëlpunte en doppies is na Somerset-Wes gestuur, en dit kan tot drie maande neem om die uitslag te kry. Daar is geen ander deurslaggewende forensiese leidrade nie. Geen vreemde vingerafdrukke, skoen- of bloedspore, DNS of vreemde voorwerpe nie. Die feit dat die moordenaar nie met sy slagoffers gestoei of handgemeen geraak het nie, sluit die moontlikheid van hare ook grootliks uit.

In albei gevalle het die moordenaar die skote van tussen ’n halfmeter en ’n meter afgevuur. Albei kopskote, buiten die bladskoot wat Giel Lourens se suster opgedoen het. Maar sy was nie veronderstel om op die toneel te gewees het nie, soos ’n mens kan aflei uit haar verklaring aan die Kraaifontein-polisie.

Die beskrywing van die moordenaar is beperk tot sy kleredrag. Nie Lourens se suster of die sekretaresse by die prokureursfirma kon enige gelaatstrekke beskryf nie. Die sekretaresse het ’n donkergroen bakkie as moontlike voertuig van die moordenaar geïdentifiseer. In Kraaifontein het navrae van die polisie by bure en mense in die omgewing niks opgelewer nie. Niemand het ’n bakkie of verdagte persoon gewaar nie.

Met Kassie en Els se besoek gister aan die prokureursfirma was daar geen dreigende e-posboodskappe op Mostert se rekenaar nie. Ook sy selfoonrekords toon hy het nie vreemde oproepe ontvang nie. ’n Deeglike ondersoek van sy kantoor het ook niks van belang opgelewer nie. Die personeel by die firma was stomgeslaan. Mostert het nie vyande gehad nie. Trouens, hy was ’n geliefde kollega met ’n innemende persoonlikheid. ’n Goeie gesins- en kerkman.

Volgens die Kraaifontein-verslag kon al Giel Lourens se selfoonoproepe teruggespoor word na kliënte van sy tuindienste-onderneming. Hy het nie ’n rekenaar gehad nie.

In dié stadium is die enigste ooglopende afleidings dat Mostert en Lourens deur dieselfde persoon met dieselfde wapen om die lewe gebring is en dat daardie persoon hulle besoek het met die uitsluitlike doel om hulle van die aardbol te verwyder. Diefstal was nooit ’n motief nie.

Die wekker op Kassie se lessenaar lui skril. Hy sukkel om die knoppie vinnig af te druk. ’n Paar van sy kollegas gluur hom vies aan en Da Silva mompel onderlangs.

Kassie vat sy sleutels en selfoon. Sy afspraak met Giel Lourens se gewese vrou is oor twintig minute in Paardeneiland. Kolonel Daniels was verbaas omdat hy vir Rooi Els gestuur het om met Lourens se suster te gaan praat. Kassie het nie die moeite gedoen om te verduidelik die Kraaifontein-verslag dui daarop dat sy met geen nuwe inligting vorendag gaan kom nie. Sy en haar broer het deur die jare maar min kontak gehad. Lourens se gewese vrou, van wie hy vier jaar gelede geskei is, sal Kassie baie meer kan vertel oor die man. En hy het later vanmiddag ook ’n afspraak met Mostert se weduwee in Rondebosch.

Terwyl hy agter ’n vragmotor in die verkeer ingewurm sit en nommer agt vir die dag aansteek, dink hy weer oor sy besluit van vanoggend. Hy het vasgeskop die media moenie nou al daaroor ingelig word dat dieselfde man moontlik by die moorde betrokke was nie. Hy wou ook nie hê hulle moes ’n beskrywing van die moordenaar se kleredrag aan die pers vrystel nie. Daniels het wel sy wenkbroue ’n paar keer daaroor gelig, maar hy steur hom nie meer daaraan nie.

“Dit kan jou in jou ondersoek help, Kassie,” het Daniels gesê.

Maar hy het by sy punt gestaan. Hoewel berigte in die media hulle dalk vinniger op ’n warm spoor kan sit, is die teenoorgestelde ook waar.

“Moordenaars lees koerante,” was sy verweer. “Dit kan die moordenaar bedag maak, hom dalk uit die Kaap laat verdwyn.”

Hy wou ook nie hê die media moet nou al op loop raak met die storie nie. Hulle gaan die polisie gek maak met hulle navrae. Én die polisie gaan talle oproepe van die publiek kry wat niks gaan oplewer nie en net kosbare tyd mors.

Daniels het uiteindelik kopgegee, maar op sý voorwaardes.

“Kassie, in die verlede het jy jou gat afgevee aan deeglike verslae in jou dossier. Maar ek wil dit vandag vir jou duidelik stel: ek gee jou nou jou sin, maar ek verwag elke oggend ’n vorderingsverslag op my lessenaar. Elke dag! Brigadier Filander is klaar soos ’n lastige brommer al om my gesig oor dié moorde. Ek moet hom daagliks kan wys ons maak vordering. Verstaan ons twee mekaar mooi?”

Hy het net geknik. Dis nie die eerste keer dat Daniels hom dreig oor onsinnige papierwerk nie. Hy sal maar ’n plan moet maak met die verdomde verslae. In die ou dae was ’n paar vinnige aantekeninge in die dossier goed genoeg. Hy kan darem daarop reken dat Rooi Els daagliks ’n deeglike verslag sal skryf oor sy deel van die ondersoek.

Hy hou voor Magic Tiles stil, die onderneming waar Lettie Lourens ’n ontvangsdame is. Sy het ’n pers uitrusting aan, duidelik Magic Tiles se korporatiewe drag. Sy is besig om haar lippe rooi te maak toe hy by die toonbank gaan staan. Die naambordjie op haar boesem sê Lettie.

Sy kyk vlugtig na hom. “Die teëls is diékant toe,” beduie sy nors.

“Ek is nie hier vir teëls nie,” sê Kassie. “Ek is van die polisie, ek het jou vanoggend …”

“O, is jy die speurder!” Sy giggel. “Ek’t iets soos Magnum PI verwag. Jy’s maar tengerig vir ’n speurder.”

Kassie lag net verleë. “Waar … waar kan ons privaat gesels?”

Sy kom orent, tel die foon op. “Mavis, jy kan my maar kom aflos. Die speurder is hier.”

Hulle wag tot Mavis, in dieselfde onooglike pers uitrusting as Lettie, toonbank toe kom.

Lettie is ’n groot vrou, sy troon bo Kassie uit. Sy stap voor hom uit in ’n nou gangetjie. Haar arms dril soos sy loop, haar bene is formidabele stompe. Hulle gaan sit in ’n kantoortjie met twee stoele en ’n tafeltjie waarop ’n ketel en ’n paar bekers staan. Teen die muur is ’n plakkaat: Ons kliënte kom ALTYD eerste.

Haar bolwange bewe liggies toe sy vra: “Kan ek vir jou tee maak?”

“Nee, dankie.” Hy kyk op sy horlosie. “My tyd is bietjie min. Kan ek maar met die deur in die huis val?”

Sy knik met skrefiesoë terwyl haar kake maal aan ’n stuk kougom. “Vra maar, oor Giel Lourens kan ek ’n novel skryf.”

“Wanneer het julle twee ontmoet?”

“Vyf en twintig jaar gelede, in ’n kroeg in Goodwood. Dit was Giel se dertigste verjaardagpaartie en ek was die kroegmeisie.”

“En wanneer is julle getroud?”

“Drie maande later.” Sy skud haar kop heftig. “Dit was ’n blerrie groot fout.”

“Hoekom … sê u so?”

“Ag, los die ‘u’, noem my sommer Lettie.” Sy vroetel in haar uniform se sak. “Jy’t nie dalk ’n sigaret vir my nie? Ek’t myne nou op die counter staan en vergeet.”

Hy gee vir haar nommer nege en steek nommer tien vir homself aan. Sy haal ’n leë Coke-blikkie onder die tafel uit en beduie hulle moet die as daarin afskud. “Mens mag eintlik nie hier rook nie, maar almal doen dit.” Sy suig met oorgawe aan die sigaret, blaas die rook in kringetjies uit.

“Giel. Ja, laat ek jou van hom vertel. Dit was ’n moeilike man om mee saam te leef. Moeilik. Die bottel was sy doodsteek. ’n Suiplap. Min kere nugter aangekom by die huis. En hy kon nooit ’n werk hou nie. Altyd van een job na ’n ander gehop. Meeste van die tyd gefire, as jy my vra. Ons het swaar gekry, hel, regte armgatte gewees. Ek moes bly werk. Gelukkig was daar nie kinders nie, Giel het probleme gehad met sy tools. Dis van al die gesuip, het ek altyd vir hom gesê.”

Kassie begin vermoed sy gesprek met Lettie gaan nie aan sy verwagtinge voldoen nie, maar hy druk deur. Die hoop beskaam nie. “Het hy enige vyande gehad, mense wat hom kwaad sou wou aandoen?”

Sy rek haar oë, leun terug in die stoel. “Jy vra nog! Hy’t meer vyande as vriende gehad. Altyd met almal gebaklei. Skoor gesoek, gestry, vuisgeslaan. Hy’t nooit gewaag om aan my te slaan nie, maar hy was in ’n helse lot kroeg-fights. Hy’t baie keer kort duskant die tjoekie gaan draai. Mense gefoeter asof hy betaal word daarvoor.”

“Iemand in die besonder wat dalk ’n rede sou hê om hom te wil vermoor?”

Sy lag, haar groot maag skud gesellig saam. “Daar was dosyne van hulle. Dosyne! Dat hy nie al lankal gepot is nie, is vir my ’n blerrie wonderwerk. Nee, kyk, Giel Lourens het gewéét hoe om vyande te maak. Dit was sy speciality.”

Kassie kyk stip na die vrou voor hom. Dis sy belangrikste vraag vir haar. “Weet jy of hy ’n Riaan Mostert geken het? Hy was ’n prokureur.”

Sy staar na die plafon, tuit haar mond, lyk asof sy diep nadink.

“Mostert? Nee,” sê sy beslis. “Ek ken nie die naam nie. Al Riaan wat Giel geken het van wie ék weet, was Riaan Meiring. En dié is vyf jaar terug saam met sy vrou in ’n karongeluk dood. Shame, agt kindertjies wees agtergelaat.”

“Tragies … tragies,” sê Kassie.

Riaan Mostert se vrou is op die oog af ’n goeie vyf jaar jonger as haar man, skat Kassie. Sy is slank en sjiek, met ’n fyn gesig, treffende groen oë en donker hare met ’n paar strepies grys tussendeur geweef. Soos dit seker ’n weduwee betaam, is sy in ’n swart rok geklee.

Haar opgehewe, rooi oë dui op baie trane die afgelope paar dae. Maar sy hou haar sterk voor hom.

“Ek wil my man se moordenaar aan die pen laat ry,” sê sy beslis. “As ek enigsins kan help, help ek graag. Maar ek weet nie of ek enige nuttige inligting vir jou het nie.”

Sy stryk met ’n gemanikuurde hand liggies oor haar hare. “Ek en Riaan het mekaar dertig jaar geken. Ons sou in Junie vanjaar nege en twintig jaar getroud gewees het. En in dié hele tyd het Riaan net vriende gehad. Ek was nooit bewus van iemand wat hom wou kwaad aandoen nie, wat nog van vermoor.” Haar oë word sag. “Hy was ’n geliefde man in die gemeenskap én in sy werkplek.”

Op Kassie se vraag of die naam Giel Lourens van Kraaifontein iets vir haar beteken, skud sy net haar kop.

“Nog nooit van hom gehoor nie. Ek twyfel of Riaan hom geken het. Ons vriendekring en kennisse is maar almal hier in die suidelike voorstede. Hy kon dalk ’n kliënt gewees het?”

“Nee, hy was nie,” sê Kassie. “Niks anders waaraan u kan dink wat die afgelope tyd vreemd was nie? Dalk iets aan u man se gedrag wat anders as gewoonlik was? Enigiets wat nie normaal voorgekom het nie?”

“Nee, niks.” Dan aarsel sy ’n oomblik. “Die enigste ding wat my man nooit met my bespreek het nie, was … wel, sy nagmerries.”

“Nagmerries?”

“Ja. Vandat ek hom ken, het hy verskriklike nagmerries gekry. Hy het eenkeer terloops gesê dis oor iets wat lank terug in sy lewe gebeur het, maar hy het altyd botweg geweier om my daarvan te vertel.”

“Weet sy familie dalk waaroor dit gegaan het?”

Sy skud haar kop. “Nee, ek het sy oorlede ma eenkeer daaroor uitgevra. Sy was verbaas. Volgens haar wete het hy nooit as kind en selfs in sy hoërskooljare nagmerries gekry nie. Daarna was hy natuurlik uit die huis en sou sy nie bewus gewees het van sy nagmerries nie.”

“Interessant … interessant,” sê Kassie. “Wat het hy in die tyd gedoen voor u hom ontmoet het?”

“Wel, hy het pas graad gekry en het sy klerkskap gedoen by ’n firma hier in die Kaap.”

“Kan u onthou wat die firma se naam was?”

“Van der Post en Vennote, maar hulle bestaan nie meer nie. Ek dink hulle het saamgesmelt met ’n groter firma.”

Toe Kassie in die druk vieruurverkeer terugry polisiestasie toe, bly sy gedagtes draai om Riaan Mostert se nagmerries. Hy sal uitvind met watter firma Van der Post en Vennote saamgesmelt het. Dalk is daar nog iemand wat Mostert destyds geken het.

Hy weet net nie waar Giel Lourens in die prentjie pas nie. Sy aanvanklike afleiding was dat daar ’n verband tussen Lourens en Mostert moes wees. Die moordenaar kon wraak geneem het oor iets wat hulle saam aan hom gedoen het. Nou begin hy twyfel. Dit kan wees dat die moordenaar afsonderlike bloutjies met die twee slagoffers geloop het. In die bakleier Lourens se geval klink dit moontlik, maar Mostert het blykbaar nooit sulke vyande gehad nie. Hoewel die nagmerries waaroor hy geswyg het effe verdag voorkom.

Die laaste moontlikheid wat oorweeg moet word wanneer ’n moordenaar meer as een lewe neem, is ’n onheilspellende een. Dit kan die begin wees van ’n reeksmoordenaar se dade. Kassie voel ongemaklik oor dié moontlikheid. Hy het nog nooit met ’n reeksmoordenaar te doen gehad nie, dis onbekende terrein vir hom. Tog sê sy instink vir hom dis onwaarskynlik. Hy weet nie of reeksmoordenaars helder oordag na mense se huise of kantore gaan om hulle dood te maak nie. Kies hulle nie makliker maniere en veiliger plekke om hul slagoffers om die lewe te bring nie? Hierdie skieter wou spesifiek van Lourens en Mostert ontslae raak, en hy was bereid om berekende kanse te waag. Maar Kassie kan nie bekostig om die reeksmoordenaar-moontlikheid uit te sluit nie. Hy en Els sal Bossie móét gaan sien.

Hy parkeer by die polisiestasie op ’n besoekersplek omdat daar nie parkeerruimte by die poelmotors is nie. Daniels sal ’n koronêr skiet as hy dit moet sien, maar Kassie het nie nou lus om ’n ander parkeerplek te soek nie.

Net voor hy by die stasie instap, lui sy selfoon. Dis Els.

“Kassie, ek’t nou net klaar met Lourens se suster gesels. Boggherol opgelewer. Sy’t haar eie broer maar bra vrot geken. En sy’s amper stokdoof. My keel is skoon hees geskree.”

Toe hy aflui, knik Kassie. Net soos hy vermoed het.

In die gang op pad na sy werkstasie keer Daniels hom voor. “En toe, Kassie, enige warm leidrade?”

“Nagmerries,” sê Kassie en stap verby sonder om verder te verduidelik.

“Kassie!” roep Daniels agter hom aan. Hy kyk om.

“Onthou jou verslag,” sê Daniels. Hy lag en beduie na Kassie se mond. “Kry jy koud? Waarom is jou lippe so blou?”

Kassie hoor hoe Willa du Preez giggel toe hy verby haar na die manstoilette stap. In die spieël beskou hy sy mond. Die ink van die balpuntpen op die sigaretfilters het op sy lippe afgegee.

Kopskoot

Подняться наверх