Читать книгу Kopskoot - Rudie van Rensburg - Страница 14
12
ОглавлениеGloria Nolte is al die afgelope dertien jaar die persoonlike assistent van Mike Duvenhage. En sy haat hom.
Haar man wil heeltyd by haar weet hoekom sy nie vra om oorgeplaas te word na iemand anders nie. Maar Willie weet nie hoe die korporatiewe omgewing werk nie. ’n Mens doen dit eenvoudig nie. Behalwe as jy jou werk wil verloor. Buitendien kan hulle dit nie bekostig dat sy na ’n laer posgraad met ’n kleiner salaris geskuif word nie, en daar is nie ’n ander posisie op die negende verdieping beskikbaar nie.
En natuurlik bespiegel almal daaroor dat Mike die nuwe besturende direkteur gaan word, wat ook ’n groot status- en salarisverhoging vir haar sal beteken. Sy sal maar net moet vasbyt ter wille van Willie en die kinders.
Sy kan nou nie glo sy was eens op ’n tyd verlief op Mike nie. Toe sy dertien jaar gelede in haar pos begin het, was dié lang, aantreklike man ’n god vir haar. En toe hy haar ses maande later een aand in sy kantoor soen, het sy op die wolke gesweef. Sy was nog nie getroud nie en Mike het heeltyd gekla sy vrou verstaan en waardeer hom nie. Selfs sy vreemde versoeke aan haar om net gemasturbeer te word, was in daardie begintye vir haar opwindend. Hoewel sy nie kon verstaan hoekom hy nooit op seks aangedring het nie. Sy was gereed om haarself vir hom te gee. Op die naïewe ouderdom van twee en twintig het sy gedink hy het te veel respek vir haar.
’n Jaar later het Mike sy eerste groot bevordering gekry. Hy is as uitvoerende hoof van makelaarsdienste aangestel. Sy dink hy het toe besef hy kan wel die hoogste sport by die maatskappy bereik.
Sy houding teenoor haar het oornag verander. Hy het haar na sy kantoor geroep, gesê hy is jammer as hy haar onder die indruk gebring het dat hy gevoelens vir haar het, maar eintlik is hy lief vir sy vrou. Hulle moet vergeet wat tussen hulle gebeur het, en as sy ooit ’n woord daaroor sou rep, sou hy dit ontken. En sorg dat sy nooit weer haar voete by Finco sit nie. Sy moes hom voortaan aanspreek as “meneer”, aangesien “ons nou bloot ’n werksverhouding gaan hê”.
Sy was verpletter. Vir weke aaneen het sy haar saans aan die slaap gehuil. Maar mettertyd het sy Mike beter leer ken. Sy het agtergekom daar steek nie ’n greintjie opregtheid in hom nie. Hy het mense vertrap en hulle soos vloerlappe behandel wanneer hulle nie meer vir hom van waarde was nie. Toe hy een van sy beste en lojaalste vriende wat jare lank sy regterhand by Finco was kil en klinies afdank omdat hy glo ’n sekere opdrag verbrou het, het haar oë finaal oopgegaan.
Mike Duvenhage is ’n koue, selfsugtige man wat ander ’n rat voor die oë draai met sy buitengewone breinkrag. Min mense by Finco besef daar skuil eintlik ’n duiwel agter sy sjarmante glimlag.
Mike glimlag toe hy sien hoe haar wange in ’n ligte blos uitslaan. Die hoof van bemarking is ’n onaansienlike oujongnooi van oor die veertig, maar hy maak altyd ’n punt daarvan om haar te komplimenteer met haar smaakvolle kleredrag. Al lyk sy op haar beste maar vaal.
“Dis eintlik ’n uitverkopingpakkie,” lag Brumilda Williams verleë terwyl sy haar romp selfbewus regstryk met haar hande.
“Wel, mens sal dit nie sê nie. Dit lyk of dit vir jou ontwerp is!”
Mike trek galant vir haar ’n stoel by die tafel uit. Hy het haar goedgesindheid vandag nodig. Sy doen ’n voorlegging oor ’n nuwe korporatiewe advertensieveldtog vir Finco. Die ou man, wat normaalweg eers alleen na die voorlegging sou luister, het Mike en Frank Anderson uitgenooi om vandag in te sit. Mike weet die ou man gaan nie veel praat nie, maar hy gaan van hom en Frank verwag om kommentaar te lewer – net nog ’n manier om hulle twee teen mekaar op te weeg. En hy weet goed dat die ou man Brumilda se kundigheid oor haar vakgebied hoog ag.
Hy weet ook hy sal mooi moet besin oor die kommentaar wat hy lewer. Hy het al in die verlede gesien hoe Brumilda die vloer vee met haar seniors as hulle nie die implikasies van haar strategie snap nie. Sy mag vaal voorkom, maar sy het ’n skerp bemarkingsbrein en ’n ewe skerp tong.
En omdat hy en Frank albei aktuarisse is, gaan dit vir hulle moeilik wees. Aktuarisse hou van konkrete konsepte waar hul wiskundige breine in staat is om te dissekteer, te verreken en te vergelyk. Die regterbrein-wollerigheid van ’n advertensieveldtog is nie iets waarmee hulle baie gemaklik is nie.
Die ou man en Frank kom saam die lokaal binne. Nols groet Mike vriendelik, terwyl Frank net in sy rigting knik. Mike kan sien sy teenstander is ook gespanne. Frank se kake is opmekaar geklem en sy hande in vuiste gebal toe hy agter die tafel inskuif.
Brumilda se hande stryk ’n laaste keer oor haar uitverkopingpakkie. Toe sy begin praat, luister die drie mans om die tafel aandagtig na haar.
“Soos julle weet, doen ons jaarliks uitvoerige navorsing onder ons kliënte en voornemende kliënte, oor onsself sowel as oor ons twee grootste mededingers in die bedryf. Vanjaar het die navorsingsmaatskappy met meer as tweeduisend mense onderhoude gevoer, wat dit die grootste navorsingsprojek maak wat ons tot op datum aangepak het. Ons diens word as goed beskou, ons produkte is kompeterend en ons beleggingsopbrengste aanvaarbaar. Ons weet self wat ons kernbesigheid betref, is daar min te kies tussen ons en ons vernaamste mededingers. Dit word ook só in ons navorsing weerspieël. Ons produkadvertensies op TV en in die pers vergelyk goed met dié van ons mededingers, maar word nie as uitsonderlik bestempel nie. Die reklameboodskappe van alle maatskappye in ons bedryf is maar duplikate van mekaar: ‘Beste diens, opbrengste en produkte’. Mense grond deesdae eerder hul mening van ’n maatskappy op hul persoonlike ervaring van daardie maatskappy.”
Sy kug en neem ’n sluk water. “My opdrag aan ons advertensiemaatskappy was om te kyk hoe ons onsself via ’n nuwe korporatiewe reklameveldtog uniek kan posisioneer. En ek hou van hul denkrigting. In die navorsing is dit duidelik Finco het op een gebied ’n agterstand, en dis ons algemene beeld onder die publiek. Ja, ons word beskou as innoverend en dinamies, maar ons skep nie dieselfde mate van vertroue as ons twee ouer en meer gevestigde mededingers nie. Die warm gevoel van ’n ou, bekende staatmaker ontbreek by ons. Trouens, ons word gesien as koud en klinies en ingestel op winsbejag. Ons menslikheid word nie hoog aangeslaan nie.
“Daarom stel ons nou ’n veldtog voor wat afwyk van ons kernbesigheid. Dit gaan eerder fokus op ons sosiale verantwoordelikheid en wat ons op dié gebied doen. Die idee is om die hart van die maatskappy aan die publiek te ontbloot. Ons gaan in die TV-advertensie se sestig sekondes ons reuse-bydraes beklemtoon tot natuurbewaring, onderwys, gesondheid en sport. In die pers en oor die radio sal ons die spesifieke projekte beter belig sodat ons vleis kan gee aan die TV-skelet. Die agentskap werk al aan die skeppende konsep vir die advertensies en ek sal dit in ’n later stadium voorlê. Maar vandag moet ons eers die groen lig by julle kry om met die veldtog voort te gaan.”
Daar heers ’n ongemaklike stilte in die lokaal. Dis duidelik die ou man gaan nie sy mening eerste gee nie.
Net toe Mike wil praat, spring Frank hom voor.
“Brumilda, jou motivering vir so ’n veldtog klink geldig, maar my bekommernis is oor die impak daarvan. Gaan ’n maatskappy wat verkondig dat hy ’n goeie korporatiewe burger is werklik mense beïnvloed om eerder by hom sake te doen? Só ’n veldtog gaan miljoene der miljoene kos. Regverdig jou strategie werklik dié soort geld?” Hy skud sy kop. “Ek is nie so seker daarvan nie.”
Voor Brumilda kan antwoord, praat Mike. Hy het toevallig ’n week gelede op die internet ’n New York Times-artikel oor presies dié vraagstuk gelees.
“Frank, ek stem nie saam met jou nie. In Amerika is bevind dat tot dertig persent van mense hul koopbesluite in die finansiëledienstebedryf juis maak op grond van wat die maatskappy vir hulle sosiale omgewing beteken en doen.”
Daar is ’n siniese uitdrukking op Frank se gesig. “Dis in Amerika, Mike. Maar dieselfde kan tog nie geld vir ’n derdewêreldland soos Suid-Afrika nie.”
Mike glimlag. “Tagtig persent van ons kliënte en toekomstige kliënte verteenwoordig die middel- en hoë-inkomstegroepe. Hulle verskil nie veel van die gemiddelde Amerikaner nie. Buitendien is natuurbewaring, gesondheid, onderwys en sport emosionele en relevante kwessies in ons land. Dit sal nie ’n fout wees om ons bydraes op dié gebiede aan die groot klok te hang nie, want dit raak álmal.”
Frank skud sy kop. “Ons mededingers doen presies dieselfde op die gebied van sosiale verantwoordelikheid. Dis nie uniek aan ons nie.”
Brumilda kom tot Mike se redding, wat vir ’n oomblik nie die regte antwoord gereed het nie.
“Maar hulle adverteer dit nie, Frank. Hulle pomp miljoene in die projekte, selfs meer as ons, maar hulle vertel dit nie vir die volk nie. Ons navorsing wys die publiek is nie werklik ingelig oor een van die groot maatskappe se sosialebetrokkenheidsprogramme nie. En as ons eerste met só ’n veldtog kom, kan hulle ons dit beswaarlik nadoen. Dit gee ons die kompeterende voordeel.”
Almal kyk na die ou man toe hy uit sy stoel orent kom. “Ek stem saam met Mike en Brumilda. Ek dink ons kan voortgaan met die veldtog, solank ons binne ons begroting bly. Goeie dinkwerk van jou mense, Brumilda.”
Hy draai om en stap sonder verwyl uit die vertrek.
Tipies van Nols Wyngaardt, dink Mike. ’n Man van min woorde, maar iemand wat nie skroom om vinnig besluite te neem nie.
Frank mompel hy is laat vir ’n vergadering en verskoon homself. Sy fronsende gesig verraai sy gemoedstoestand.
“Dankie, Mike,” sê Brumilda. “Jy het dit vandag baie maklik gemaak vir my!”
“Die plesier is myne,” sê hy ingenome.