Читать книгу Kopskoot - Rudie van Rensburg - Страница 5

3

Оглавление

Kaptein Kassie Kasselman klim die trappies met gekromde skouers. Hy sluit die deur oop. Selfs die gerusstellende reuke van sy woonstel besweer nie sy donker gemoedstoestand nie. Kassie sug. Dit was nie ’n goeie dag vir hom nie. Hy kom van dokter Leo Moerdyk se spreekkamer af nadat kolonel Daniels daarop aangedring het dat hy gaan.

Hy is veronderstel om elke jaar ’n dokter te besoek, maar hy het dit telkens vermy. Daniels was ontsteld toe hy op Kassie se personeelrekord sien sy laaste doktersbesoek was ses jaar gelede.

“Fok, Kassie, die brigadier is deesdae juis so knaend oor die gereelde mediese ondersoeke. Hy’t ’n bleddie obsessie daaroor. Jy’s boonop nege en veertig. Jy behoort elke ses maande by ’n kwak uit te kom,” is hy berispe.

As Kassie eerlik met homself moet wees, het dit óók die afgelope ses jaar aan sy gewete geknaag. Maar sy vrees vir die ergste het hom weggehou. Hy het voor sy geestesoog gesien hoe die dokter sy hande in die lug gooi, vir hom sê hy het ’n terminale siekte en sy dae op aarde is getel. Kassie verkies om sulke nuus nie voortydig te kry nie.

Dan was daar natuurlik die verdomde prostaatondersoek. Net die gedagte aan die prosedure het hom die nag voor die ondersoek ure lank laat rondrol in sy bed. Tot sy verligting het die dokter eergister gesê deesdae kan prostaatprobleme opgespoor word deur ’n bloedtoets. Maar tot Kassie se ontsteltenis het hy vinnig bygevoeg hy doen ook maar altyd die vingertoets, net om doodseker te maak.

Gelukkig is sy prostaat nog gesond, maar vir Kassie voel dit asof dit ál rat is wat nog geolied draai in sy afgeleefde rammelkas. Hy lewe nog net deur die genade. Tydens die ondersoek het dokter Leo sy groot beerkop bekommerd geskud oor sy hoë bloeddruk. En vandag moes hy hoor sy bloedtoetse wys sy cholesterol is ook hemelhoog.

“Moenie dink jy kan nie ’n hartaanval kry omdat jy net vel en been is nie,” het die dokter met ’n swaaiende voorvinger gemaan. “Baie mans wat skraal is, kap om van hulle hart.”

Hy het vir Kassie ’n lys kositems gegee wat hy ten alle koste moet vermy. ’n Vlugtige blik daarna het Kassie laat besef sy dieet van vleispasteie, hamburgers, pizzas en geblikte frikkadelle is iets van die verlede. Hy gaan voortaan soos ’n bok blare moet vreet. En hy sal ook minder moet rook.

Kassie het vir die dokter gelieg toe dié hom vra of hy rook. “’n Tyd gelede opgehou.” Hy het nie kans gesien vir nóg ’n lesing nie.

Maar wat hom vandag veral in ’n put van neerslagtigheid gedompel het, was die testosteroonbevinding.

“Jou testosteroontelling is hopeloos te laag,” het die dokter gesê. “Ons sal jou elke drie maande moet inspuit om dit te verbeter. Ons noem dit testosteroonvervanging.”

G’n man wil geëtiketteer word met ’n te lae testosteroontelling nie. Beslis nie ’n speurder in die SAPD nie. As Daniels dit op die doktersverslag sien en dié skande onder sy kollegas versprei, gaan Kassie nie die einde daarvan hoor nie.

Hy het verleë verduidelik hy is al meer as twintig jaar geskei en daar was nie intussen vroue in sy kooi nie.

Dokter Leo het bulderend gelag. “Dit het niks daarmee te doen nie, Kassie. Dit gebeur maar soms met mans van jou ouderdom. Wat belangrik is, is dat ons dit regstel. Die lae telling kan ook nadelig wees vir jou hart.”

Sy hart dra ’n swaar las, dink Kassie. En sy pa is juis op die vroeë ouderdom van vyf en vyftig graf toe. Hy wonder of hy nie een van die SAPD se traumaberaders moet gaan sien nie, maar skud dan sy kop. Dit sal darem ietwat van ’n oorreaksie wees.

Toe die telefoon in die studeerkamer skril lui, weet Kassie wie dit is. Hy oorweeg eers om dit nie te beantwoord nie, maar stap nogtans soontoe en tel die gehoorstuk op. Dit help nie om die onvermydelike uit te stel nie.

“Hallo, Seunie,” kom sy ma se stem krakerig oor die foon.

“Haai, Ma,” sê hy terwyl hy ’n Lucky Strike aansteek en die rook in ’n dun straal voor hom uitblaas.

“Rook jy?” vra sy ontsteld.

“Nee … nee, Ma, ek sug sommer,” sê hy vinnig.

“Sug?”

“Ja, dis ’n sug van verligting. Die dokter sê ek’s springlewendig en daar is hoegenaamd niks verkeerd met my nie.”

“Ai, Seunie, ek’s só dankbaar,” sê sy ma met ’n aangedane stem. “Jy weet, met jou pa wat ons so vroeg gegroet het, bly ek maar bekommerd oor jou gesondheid. Ek gaan nie nóg ’n begrafnis oorleef nie. Veral nie van my enigste kind nie. Moet nou nie weer ses jaar wag voor jy dokter toe gaan nie. En jy’t nog nie weer begin rook nie, nè?”

“Nee, Ma.”

Toe hulle klaar gepraat het, staan Kassie nog lank met die gehoorbuis in sy hand, sigaret in die mond. Hy voel skuldig, maar hy móés ’n noodleuentjie vertel. Sy ma is tagtig, hy wil haar nie ontstel nie. Hy sal sy las alleen dra … en binnekort ophou rook.

Hy maak koffie en gooi vier opgehoopte lepels suiker in. Die dokter het aanbeveel hy moet voortaan rooibos drink, verkieslik bitter. Hy stap met die beker koffie sitkamer toe en gaan sit in sy leunstoel, tuur peinsend na die losgetorringde punte van sy skaapvelpantoffels. Dit herinner hom aan afgesuigde mangopitte.

Hy sug. En nou is Rooi ook moontlik vort. Sersant Rooi Els, sy skaduwee van die afgelope amper drie jaar en die man wat sy lewe die keer met die wapensmokkelaars gered het. Hy gaan Rooi mis. Hy het vir kolonel Daniels gesê hy wil nie weer ’n handlanger hê nie. Hy wil voortaan weer op sy eie werk. Sonder Rooi daar verkies hy dit so.

“Ons is tans dun aan mannekrag, Kassie,” was die kolonel se reaksie. “So ja, jy sal jou sake alleen hanteer, maar dit gaan net tydelik wees. Jy sal binnekort weer iemand onder jou vlerk moet neem. Jy weet goed dis maar die gebruik hier … en buitendien is dit jou plig as ou hand om die youngsters touwys te maak.”

Kassie snork. Dit het nie veel tot die SAPD se opleidingsplan bygedra dat hy Rooi die fynere aspekte van die speurkuns geleer het nie. Daar foeter hy nou heel moontlik na ’n groot maatskappy se sekerheidsafdeling toe.

“Hoof van security, Kassie,” het Els hom trots ingelig. “En met ’n pay wat my salarissie by die Diens na kleingeld sal laat lyk.”

Geld, altyd geld, dink Kassie. Dis die grootste rede waarom die SAPD hul belowende mense verloor. Vandag se jonges jaag net geld. Dit gaan nie meer vir hulle oor die saak nie … soos sy geslag polisiemanne altyd hulle broodkrummels probeer regverdig.

Hy blaas eers lank in die beker voordat hy ’n slukkie koffie neem. Hy is verlig sy belangrikste dossiere is afgehandel. Dit gee hom tyd om voor te berei vir die jaarlikse seëlfees. Hy het reeds sy verlofvorm ingevul, Daniels moet dit nog net teken. Buitendien hoor hy allerlei gerugte oor die seëlfees. Hy gaan vanjaar skynbaar ’n groot rol daar speel. Die organiseerders is nog geheimsinnig daaroor, maar hy het ’n vermoede wat hulle vir hom beplan.

Hy glimlag. Dit gaan groot uitdagings aan hom stel. En natuurlik ook help om sy gedagtes af te lei van sy kritieke gesondheidstoestand.

’n Ligte klop aan die voordeur laat hom met ’n frons opkyk. Wie sal nou laatmiddag so lastig wees?

Rooi Els staan rooi, kort en breed in die deur.

“Dog jy’s vir jou laaste onderhoud by daai ouens wat jou ’n miljoenêr gaan maak?” sê Kassie verbaas.

Els glimlag. “Ek’t besluit om te bly.”

“Te bly?”

“By die Diens, Kassie. Ek het daai ouens vandag gesê … dat ek mooi oor als gedink het. Ek wil ’n poeliesman bly.”

Kassie klap Els hard teen die arm. “Bliksem, Rooi, ek’s lus en soen jou!”

Els se sproetgesig is een breë glimlag. “Ek’t die afgelope tyd nie geslaap oor die werkstorie nie. Die geld is goed, maar dié tipe werk sou my knak. Dis eintlik net hope admin, ’n bietjie kantoordiefstal en sekerheidswerk by die ingange. Jy hoef nie speuropleiding te hê om dit te doen nie.”

“Beste besluit wat jy nog geneem het, Rooi. Kom ons gaan sit en vier dit. Kan ek vir jou iets skink?”

“Ja, dit sal lekker wees,” sê Els met opgetrekte wenkbroue, “maar van wanneer af hou jy dop in jou woonstel aan?”

Kassie lag verleë. “Wat van ’n yskoue Creme Soda?”

Kopskoot

Подняться наверх