Читать книгу Kopskoot - Rudie van Rensburg - Страница 9
7
ОглавлениеKassie grawe naarstig in sy klerekas op soek na sy dasse. Ná ’n gevroetel tussen ou onderbroeke, frokkies en ’n verflenterde ferweelbroek kom hy op die bondel dasse af. Hy onthou nou hy het dit ’n paar jaar gelede daar weggepak, ná speurders nie meer verplig was om dasse te dra nie.
Hy gooi die dasse op sy bed neer. Een gly af en hy tel dit steunend op. Dis sy eerste das wat hy net ná skool gekoop het. Daar is olievlekke op die materiaal, ’n nalatenskap van die Vespa se alewige lekkasies. Merkwaardig dat ’n mens die vuil merke steeds so duidelik kan sien, dink hy. Hy slinger die das terug in die kas. Ook al amper twee en dertig jaar gelede wat hy daardie martellappie om sy nek gedra het. Hy is bly hulle dra nie meer dasse nie. Dit was net ’n nekbehangsel wat die bloedsomloop na jou kop belemmer het. En in Suid-Afrika se somers so onvanpas soos rissies in babakos. Deesdae dra hy net ’n das wanneer hy in die hof moet gaan getuig, en hy gebruik ook net die rooie wat vir dié doel agter die badkamerdeur hang. Dit pas by sy windjekker.
Hy gaan sit op die bed en hou ’n dun bruin dassie tussen sy duim en wysvinger vas. In ’n stadium was dit sy gunstelingdas. Sy oë flits oor die hoop dasse. Hy tel die roomkleurige das op wat hy op sy troudag gedra het. Marietjie se ma het dit nog vir hom uitgesoek. Wat sou van Marietjie geword het? Vandat hulle amper drie en twintig jaar gelede geskei is, het hy heeltemal kontak met haar verloor. Die troudas herinner hom aan ’n borslap, ’n breë stuk materiaal wat in daardie dae bespotlik kort geknoop is. Gelukkig het die mode mettertyd verander. Nie dat dit juis deesdae ’n verskil maak nie. Al minder mense van sy ouderdom loop met dasse rond. Nie eers meer in die kerk nie. Hoe hou dasvervaardigers nog kop bo water? Al mense wat nog geld uit dasse maak, is oudrugbyspelers wat hul Springbokdasse opveil vir ’n ekstra pensioengeldjie.
Hy kry die das waarna hy soek diep onder in die bondel. Dis erg gekreukel. Hy probeer dit op die bed platstryk met sy hande. Dit help nie, hy sal dit maar so moet dra. Dis ’n das van die Wes-Kaapse Filatelievereniging, die maroen een wat in die 1990’s gemaak is, net voor die huidige bloue. Hy het sy bloue iewers verlê by ’n filateliekongres in Johannesburg. Hoekom hulle by die Wes-Kaap se algemene jaarvergadering altyd meer formeel moet aantrek as by die ander vergaderings, weet hy nie. Maar as voorsitter sal hy seker die voorbeeld moet stel en ’n das dra.
Sy selfoon begin lui. Hy sien op die skermpie dis kolonel Daniels. Hy sug. Dit kan nie goeie nuus wees nie.
“Kassie, ek’t jou nodig,” knetter Daniels se stem soos ’n masjiengeweer in sy oor. “’n Moord hier naby die polisiestasie. Skaars ’n uur gelede. ’n Prokureur is in die kop geskiet. Morsfokkendood.” Hy gee die adres. “Ek sien jou binne ’n halfuur daar. Laat weet jy ook sommer vir Els.”
Terwyl Kassie by die twee stelle trappe van die woonstelblok afhardloop, bel hy die ondervoorsitter van die filatelievereniging. Hy verduidelik die omstandighede, sê hy sal heel moontlik nie die vergadering kan bywoon nie. Hulle moet maar sonder hom voortgaan. ’n Polisieman het nie ’n lewe nie, wil hy byvoeg, maar bedink hom. Die Diens betaal immers sy salaris. Dan bel hy vir Els.
Toe hy voor die prokureurskantore stilhou, is dit twintig oor ses. Twee polisievoertuie, Daniels se motor, ’n ou Passat en twee BMW’s staan in die parkeerterrein.
Die voordeur van die gebou staan oop. Hy hoor gedempte stemme in ’n kantoor diep in die gang af. Toe hy daar instap, staan drie uniforms saam met Daniels, Da Silva van forensies, die polisiefotograaf Erasmus en ’n lang vreemdeling om die bebloede lyk. ’n Vrou sit in die hoek van die vertrek op die mat en snik. Sylvia Abrahams, een van die konstabels, onttrek haar uit die kring, stap na die vrou en sit haar hand vertroostend op haar skouer.
“Kassie,” sê Daniels toe hy hom sien, “staan nader.” Hy wys na die lyk op die mat. “Twee kopskote.”
Daniels stel Kassie voor aan die lang man. “Dis meneer Van den Heever, een van die vennote by die firma. Hy het ons gebel.” Hy beduie na die snikkende vrou. “Sy het op meneer Mostert afgekom en toe vir meneer Van den Heever gebel.”
Kassie knik. Rooi Els het pas ingekom. Hy wink hom en die paar konstabels nader en sê sag: “Kyk julle solank waar die skieter in die gebou ingekom het.”
“Ons het klaar buite rondgekyk,” sê een van die konstabels. “Geen vensters is gebreek nie. Daar’s buitendien diefwering.”
“Reg, maar kyk ook binne, in elke kantoor. Kyk of daar oop kaste of laaie is, of die ou gekom het om te steel. En wees versigtig dat julle nie forensiese leidrade opdonner nie.”
Kassie sluit weer by die kring aan. Daniels draai na Van den Heever. “Dalk moet jy en juffrou Brink solank in ’n ander kantoor gaan sit. Kaptein Kasselman sal netnou met julle praat.”
Van den Heever, wasbleek, knik net en draai om na die vrou in die hoek.
“Ek … ek sou eerder wou begin om met hulle te praat voor ek hier rondkyk,” sê Kassie.
Daniels knik. “Jy’s die speurder, maak soos jy goed dink.”
Toe Kassie agter die ander twee aan uit die kantoor stap, skud Daniels sy kop. Kaptein Kassie Kasselman doen dinge op die Kassie-manier, soos hulle altyd by die stasie onderlangs spot. Daar is die regte manier en dan is daar die Kassie-manier. Daniels moet toegee albei benaderings is seker doeltreffend, gegewe Kassie se uitstekende rekord as speurder.
“Hy’t skaars na die lyk gekyk,” sê Da Silva verontwaardig van waar hy op sy knieë op die tapyt rondkruip op soek na leidrade.
“Dis maar die Kassie-manier,” sê Daniels laggend.
Da Silva grinnik. “Ja, die Kassie-manier.”
Wim van den Heever se lang gesig laat Kassie aan ’n perd dink. ’n Bleekgeskrikte perd. Martie Brink is mollig en snotterig. Sy huil nou weer onbedaarlik. Die sneesdoekiehouer op die lessenaar is leeg. Kassie bied sy sakdoek vir haar aan, wat sy dankbaar aanvaar.
Van den Heever sit sy hand op haar skouer. “Martie, jy moet nou helder dink oor wat die kaptein jou vra. Dis baie belangrik vir hul ondersoek,” sê hy vaderlik.
Sy kyk met betraande oë na Kassie. “Jammer oor my … my toestand, maar dit was ’n groot skok.”
“Ek verstaan, ek verstaan,” sê Kassie. “As jy daarvoor kans sien, kan jy my vertel hoe jy afgekom het op meneer Meyer?”
“Mostert,” korrigeer Van den Heever hom.
“Mostert … Mostert,” sê Kassie.
Martie snuit haar neus in Kassie se sakdoek uit. Dan vertel sy hoe sy net voor vyf by die gebou uit is. Sy was haastig, want sy en ’n vriendin sou vanaand ’n toneelstuk by die Kunstekaap gaan kyk het; sy het nog oor middagete die kaartjies by Computicket gaan koop. Net toe sy by haar woonstel kom, besef sy sy het die kaartjies op haar lessenaar vergeet.
Sy het teruggery kantoor toe, opgemerk Mostert se motor staan nog daar. Dit was normaal, want hy werk altyd op Dinsdagmiddae ’n uur of wat later. Sy het die voordeur met haar sleutel oopgesluit en na haar kantoor gestap om die kaartjies te kry. Sy het verby Mostert se oop kantoordeur gestap, maar hom nie agter sy lessenaar sien sit nie. Op pad terug het sy by sy kantoor ingeloer en sy bebloede liggaam op die tapyt gesien. Sy het Van den Heever onmiddellik op sy selfoon gebel. Hy het die polisie gebel en saam met die eerste patrollievoertuig hier aangekom.
Sy vee haar oë droog en snuit weer haar neus. Van den Heever tik haar onbeholpe op die skouer. “Sterk wees,” fluister hy.
“Hoe laat het jy hier aangekom?” vra Kassie.
“Seker so twintig oor vyf,” sê sy, en weer loop die trane.
“Jy’t nie dalk iemand verdag hier in die omgewing gesien nie?”
Sy dink ’n oomblik. “Ja, toe ek om die hoek kom, het ek ’n man uit die rigting van die parkeerterrein sien stap – ’n wit man. Hy het ’n knipbord onder sy arm gehad. Ek dink hy was op pad na ’n bakkie wat verder af in die straat geparkeer was.”
“Was hy haastig?”
Sy knik. “Redelik.”
“Hoe het hy gelyk? Kan jy hom beskryf?”
Sy slaan haar oë vir ’n oomblik op na die plafon asof sy die ondervraging ondraaglik vind, kyk dan weer af. “Ja, ek dink hy’t ’n blou oorpak aangehad en ’n pet. Ek verbeel my hy het ’n donkerbril opgehad.”
“Jy doen goed, hoor … baie goed,” bemoedig Kassie. “Enigiets anders? Vet, maer, lank, kort?”
Sy skud haar kop. “Ek het net vlugtig na hom gekyk. Ek weet nie eintlik nie. Normale lengte sou ek sê. Niks buitengewoon nie.” Haar gesig verhelder. “Hy’t wit tekkies gedra.”
“Mooi,” sê Kassie, “alle inligting help. En die bakkie? Kleur?”
Sy aarsel ’n oomblik. “Ek dink amper dit was donkergroen.”
“Was daar ’n naam van ’n onderneming op die bakkie?”
“Nee … ek dink nie so nie.”
“Niks anders wat jy opgemerk het nie?”
“Nee, ek was haastig. Ek het nie só goed gekyk nie.”
“Ek verstaan … ek verstaan,” paai Kassie. “Was hier nog iemand anders buiten meneer Mey- … Mostert toe jy vanmiddag gery het?”
“Ja, ek het net ’n paar minute ná haar gery,” sê Van den Heever voor sy kan antwoord. Hy hou sy selfoon op. “Ek het presies om drie minute voor vyf ’n oproep van my vrou gekry. Ek was toe op pad uit.”
“En die ander vennoot, is hy al ingelig?”
Van den Heever knik. “Neels Wolmarans. Ja, ek het hom gebel. Hy bly in Simonstad. Hy is eers na mevrou Mostert toe. Sy weet nog nie hoe ernstig die situasie hier is nie. Die kolonel het gesê hy sal later saam met my na haar huis gaan.”
“Reg so,” sê Kassie. “Ek sal môre weer met almal hier kom gesels.”
Hy aarsel. In Mostert se kantoor het dit nie gelyk of die moordenaar belanggestel het om iets te steel nie. Daar is nie in die laaie gekrap nie. Die Rolex aan Mostert se arm is net so gelos.
“Dalk kan jy my met nog een vragie help,” sê hy vir Van den Heever. “Meneer Mostert … het hy enige vyande gehad? ’n Prokureur kom mos maar … hoe sal ek dit stel, met allerhande vreemde elemente in aanraking. Dalk was ’n kliënt kwaad oor die manier wat hy hom in die hof verdedig het … of ’n egskeidingsaak waar een van die partye dalk ’n wrok teen hom kon koester?”
Van den Heever skud sy kop. “Dit was beslis nie ’n kliënt nie. Riaan is … was ons akteprokureur. Hy het gespesialiseer in eiendomsoordragte. Hy het nooit met kriminele elemente in aanraking gekom nie. Ook nie met verontregtes in skeisake nie.”
Kassie kom orent uit sy stoel. “Dankie, julle het beslis gehelp.” Hy leun oor na Martie. “En drink maar ’n ou slaappilletjie vanaand.” Hy beduie na die deur. “Laat ek weer na die moordtoneel gaan,” sê hy verskonend.
In Mostert se kantoor is Da Silva besig om met ’n poeierkwassie vir vingerafdrukke te soek. Daniels sit agter Mostert se lessenaar op sy selfoon en praat. Die fotograaf neem nabyfoto’s van die vermoorde se gesig. Die videospan wat intussen opgedaag het, staan geduldig en wag.
Els en die konstabels kom dadelik nader toe hulle Kassie sien.
“Hy moes toegang deur die voordeur gekry het,” sê Els. “Daar’s nêrens binne ’n teken van iemand wat ingebreek het nie. Dit lyk ook nie of iets gesteel is nie, geen oop laaie nie. In die konferensiekamer lê tot ’n iPhone.” Hy wys na die lyk. “En die man se Rolex is nog aan sy arm.”
“Ek het twee patroondoppies gekry,” sê Da Silva. “.45.”
Kassie knik. “Goed so … goed so. Lyk nie of ons met ’n rower te doen het nie.”
Hy stap nader aan die lyk en beskou die kopwonde vlugtig. “Hy’t geskiet om dood te skiet.”
Hy is opgewonde oor die beskrywing wat Martie Brink gegee het. Hy is amper seker dit klop met die beskrywing van ’n moord waarvan hy verlede week gelees het in ’n misdaadverslag van die noordelike voorstede. As hy reg onthou, het daardie moord plaasgevind in Kraaifontein en is daar verwys na ’n verdagte met ’n pet, donkerbril en blou oorpak. Hulle het ook twee patroondoppies op die toneel gekry. Hy kan sweer dit was .45, maar hy is nie doodseker nie.
Daniels is nog ernstig aan die praat op sy selfoon. Kassie draai na Els. “Ek kom later weer. Ek gaan gou stasie toe. Ek wil net gaan seker maak van iets.”
Hy wag nie op ’n reaksie nie, stap net haastig uit.
Da Silva kyk verbaas na Els. “Kan jy dit fokken glo! Hy’s die hoofondersoekbeampte en hy loop net!”
Els lag. “Relax! Jy vergeet dis onse Kassie. Hy sal sy redes hê, glo my.”