Читать книгу Kopskoot - Rudie van Rensburg - Страница 3
1
ОглавлениеHy gryp die stuurwiel vas, sy hande klam van die sweet. Hy haal diep asem om sy hamerende hart te kalmeer.
Dis moeilik om nou helder te dink, hy het nog tyd nodig om ontslae te raak van die spanning in sy lyf. Die lang wag het hom roekeloos gemaak. Die drang om sy prooi nóú te vernietig, moet hy eers opsy skuif. Hy sal moet ontspan om sy taak uit te voer. Sonder emosie, gevoelloos en koud soos hy dit soveel keer gevisualiseer het gedurende sy voorbereiding. Só sal hy foute beperk, sy spore ná die tyd ordelik en klinies kan doodvee.
Hy haal ’n pakkie sigarette uit die bosak van die blou oorpak, skud ’n sigaret uit en steek dit aan. Sy vingers bewe liggies. Die rook is soet in sy mond, sy longe verwelkom die nikotien. Die aroma van die Gauloises vul die binneruim van die bakkie.
Daar is nie ’n siel in sig in die straat nie; dit is Sondagmiddagstil. ’n Roesbruin kat met ’n stomp stert draf skugter oor die pad en verdwyn agter ’n laventelbos. Twee duiwe dans ’n liefdesriel op ’n ligblou heining.
Die groot dag het aangebreek.
Hy kan dit beswaarlik glo. Hoe lank het hy nie hieraan beplan nie? Hoeveel keer het hy dit nie oorgespeel in sy gedagtes nie? Die maande van navorsing was net die voorspel. Nou is dit tyd vir die daad. Giel Lourens.
Dis net gepas dat Giel eerste aan die beurt kom, al is die ander net so skuldig.
Vir die soveelste keer moet hy diep asemhaal om die stramheid uit sy lyf te verdryf. Hy is soos ’n renperd in die wegspringhok, hy wéét hy kan nie langer wag nie. Hy slaan die oorpak se kraag hoog op, trek die pet laer af oor sy gesig en sit die donkerbril op. Toe hy uit die bakkie klim, is sy bene styf van die lang sit. Hy trap die sigaretstompie dood tussen die onkruid op die sypaadjie. Sy hand gly vanself na die kolf van die .45-Heckler & Koch in die holster onder sy oorpak.
Dan stap hy doelgerig na die huis, kalm en gereed.
Die voorhekkie hang skuins aan ’n enkele skarnier, die tuintjie is dor. ’n Deurgeroeste geut lê op die gekraakte sementvoetpad. Die huis se afgedopte mure wys verskillende kleure verf. Vaalgeskroeide en uitgedorde vensterrame laat die plek nog meer vervalle lyk. Musiek dawer iewers diep in die huis.
Onder die koperplaatjie van die voordeurklokkie is ’n stukkie karton geplak waarop “stukkend” geskryf is. Hy klop hard aan die deur en luister aandagtig. Kurt Darren sing voort, die ritme polsend. Hy klop weer, dié keer dringender. Hy wag nog ’n minuut, maar hoor geen voetstappe aankom nie.
Hy loop gebukkend om die huis. ’n Bakkie is geparkeer voor die enkelmotorhuis. Op die kant van die verweerde bakwerk staan Giel’s Garden Services in groen. Dis nie professioneel gedoen nie, die letters wisselend in grootte en die spasiëring oneweredig.
Op die agterste lappie gras kartel ’n pluimpie na-rook van ’n braaivleisvuur nog die lug in. Hy staan stil en tel agt leë bierbottels, gestrooi om twee verbleikte kampstoele. Die rooster lê oop op ’n draadtafeltjie. Vlieë draai rond om ’n stukkie wors en ’n halfgeëte tjop.
Hy vind sy pad geluidloos deur ’n hoop rommel na die oop skuifdeur. ’n Staanwaaier is van buite sigbaar. Kliphard span Kurt Darren die seile daar binne. Hy loer versigtig in. Giel lê op die rusbank.
Hy gaan in, die pistool in sy hand. Die vertrek ruik suur en muf – na drank, rook en sweet. Sy blik flits oor die ruimte. Vuil glase, borde en messegoed lê bo-op en langs ’n ou TV-stel, onder ’n skryftafel, langs die twee leunstoele en bank. ’n Sokkie is oor ’n bierbeker gedrapeer. ’n Pers hemp hang aan ’n lampskerm, ’n paar tekkies en ’n onderbroek is ingedruk in ’n lendelam boekrakkie. Sigaretstompies peul oor die rande van twee asbakkies.
Giel se mond is oop, ’n kwylstreep blink langs sy ongeskeerde ken af, sy grys hare is sweetgekoek en dof. ’n Harige maag beur onder ’n te kort T-hemp uit, forse voorarms oor sy bors gevou. Die rooigebrande bene is komieklik dun in verhouding met die buik, die toonnaels lank en onversorg.
Hy druk liggies met die punt van die knaldemper teen die slapende man se wang. Giel se oë knipper oop. Hy kom vervaard orent, sy kykers wyd gesper. Daar is vrees in sy oë, sy mond gaan oop om iets te sê.
Voordat Giel ’n geluid kan uiter, trek hy die sneller. Die Heckler & Koch blaf gedemp. Die koeël se loodpunt breek die vel tussen Giel se wenkbroue, deurklief die skedelbeen met ’n dowwe kraakgeluid. Sy kop ruk agteroor, die bloedsproei maak ’n rooi spikkelpatroon teen die wit muur. Giel tuimel met ’n dawerende slag van die bank af. ’n Bord breek onder die gewig van sy groot liggaam.
Hy staar nog ’n paar oomblikke na die lewelose man terwyl sy hande effens bewe. Kurt hou op sing. Dan hoor hy die geluid agter hom. Hy swaai om.
In die binnedeur staan ’n vrou. Haar hare hang in olierige slierte langs haar gesig. Sy gaap hom aan, die skewe voortande ontbloot in geskokte afgryse. ’n Sigaret hang tussen haar nikotiengevlekte vingers. Sy’s geset, twee vlesige borste bult oneweredig by ’n geblomde rok uit.
“Wie … wat …” stamel sy.
Hy lig die pistool wild in haar rigting. Sy swaai met ’n gil om, maar is te stadig om weg te kom. Die koeël tref haar in die regterblad en slinger haar teen die oorkantste gangmuur vas. Sy gly teen die muur af en plof op die blokkiesvloer neer, haar regterarm onnatuurlik ingebuig agter haar rug. Sy bly kreunend lê.
Hy staan besluiteloos. Dan beweeg hy. Dit voel of hy in stadige aksie na die oop skuifdeur hardloop. Dis nie hoe hy dit beplan het nie, kolk dit briesend deur sy gedagtes toe hy blindelings uithardloop en oor ’n geroeste uitlaatpyp struikel. Hy herwin sy balans net-net en storm na die voorhekkie. In die hardloop steek hy die pistool terug in die holster.
Hy dwing homself met moeite om stadig weg te trek. Hy ry deur die buurt, sy blik gedurig op die truspieëltjie. Geen agtervolgers nie. Op die N1 trap hy die versneller diep in. Met die kom hierheen het hy nie verkeerspolisie gewaar nie. Hy ry asof in ’n droom. Alles voel onwerklik, sy lyf krom van die ingehoue spanning.
Die berg staan hoekig afgeëts teen die blou lug, net ’n paar yl wolkies hang om Duiwelspiek. Die verkeer op die Sondagmiddag is ongewoon stil. Toe hy op die M5 afdraai, is hy seker niemand is op sy spoor nie.
Hy swets hardop. Waar kom die verdomde vrou vandaan? Hy het Giel se bewegings die afgelope twee weke fyn dopgehou. Daar was nooit ’n vrou by die huis nie. Giel was geskei, en sover hy kon vasstel al die afgelope vier jaar ’n alleenloper. Die vroumens was op die verkeerde tyd op die verkeerde plek. Hy kon nie bekostig dat sy alarm maak nie. Sy saak is belangriker as haar lewe.
Dalk is sy nie dood nie? Hy word koud by die gedagte. Sy het hom gesien. Sy pet en donkerbril sal ’n ordentlike beskrywing van hom moeilik maak, maar hy kan nie daarop reken nie. Hy moes seker gemaak het sy is dood. Hy skud sy kop. Daar is niks wat hy nou daaraan kan doen nie.
Hy parkeer die bakkie agter die huis onder die bloekomboom en trek dit sorgvuldig met ’n seil toe.
Toe hy in die slaapkamer kom, stroop hy die oorpak af. Onder die stort spoel die warm water die spanning uit sy lyf. Hy vou die oorpak op, neem die pistool en stap na die studeerkamer. Daar bêre hy dit in die kluis en haal die lêer uit.
Met ’n sug sak hy in die leunstoel neer. Die kat kom streel sy wollerige lyf teen sy been, maar hy slaan nie daarop ag nie. Sy aandag is vasgenael op die foto van Giel Lourens. Hy tuur lank daarna. Dan skeur hy dit in flentertjies op en gooi dit in ’n swart koevert.
Hy neem ’n ander foto, kyk met afkeer na die glimlaggende oë agter die dik brillense, die bolwange, die breë voorkop.
“Jy’s volgende,” prewel hy.