Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 10 - Sarah du Pisanie - Страница 10

7

Оглавление

Sarie is aangenaam verras met Cynthia. Sy lê nog vasgegespe op ’n bed en kan haar nie roer nie, maar die dankbaarheid in die mooi bruin oë spreek boekdele.

Die kinders word nog nie by haar toegelaat nie en wuif net vir haar deur die venstertjie. Sarie kan egter ’n paar oomblikke by haar gaan staan.

“Sarie … ek kan jou seker maar so noem? Baie, baie dankie vir alles wat jy vir die kinders doen. Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek hoop net dat ek eendag die voorreg sal hê om vir jou ook iets te doen.”

“Dit is ’n groot plesier, Cynthia. Hulle is twee pragtige kleingoed en jy het hulle baie mooi opgevoed. My ma sê altyd dat ons op hierdie ou aarde is om vir mekaar die pad makliker te maak …”

“Jy is ’n wonderlike mensie. Ek hoop net die twee mans waardeer jou, veral Hugo.”

Sarie buk vooroor sodat sy in Cynthia se oor kan fluister. “Hy betaal my hiervoor. Waardering is nie ter sprake nie.”

Cynthia knik begrypend en knipoog vir haar.

Die kinders is vol vrae toe hulle van die hospitaal af wegry. Sarie probeer almal so goed moontlik beantwoord terwyl Hugo net diep ingedagte voor hom sit en uitstaar.

“Meneer Kritzinger!” Hugo kyk vinnig na haar en lig sy voet effens van die brandstofpedaal om snelheid te verminder. “Sal u asseblief vir my by hierdie boekwinkel stilhou? Ek wil net gou iets kry.”

“Sekerlik!” Hugo soek rond vir ’n parkeerplek en Sarie wip vinnig uit toe hy stilhou.

“Ek sal net ’n paar minute weg wees.”

Sy is werklik net ’n paar minute weg voordat sy met ’n pakkie terugkom en weer haastig in die motor klim.

Die kinders loer nuuskierig oor haar skouer en wonder luidrugtig wat in die pakkie kan wees.

Sarie lag. “Natuurlik kan julle maar sien … twee agies!” Sy maak die pakkie oop en wys na die prentjies op die groot Kinderbybel. “Dit is ’n Kinderbybel. Vanaand gaan tannie vir julle daaruit lees. Tannie kan nie meer al die stories so mooi onthou nie.”

Hugo kyk peinsend na haar. Hy het sowaar nog nooit daar aan gedink om vir die kinders speelgoed en boeke te koop om haar taak ’n bietjie makliker te maak nie. Hulle het mos nie hul eie speelgoed hier nie.

Hugo skakel nie die motor aan nie en Sarie kyk verbaas na hom.

“Kom ons gaan koop vir die kinders nog boeke en speelgoed. Ek het nog nooit daaraan gedink nie.”

Die kinders bondel uit die motor en Sarie sit eers die Bybel terug in die sakkie.

Hugo stap intussen om die motor en kom maak vir haar die deur oop.

“Jy sal moet saamkom, of ek koop vir hulle Shakespeare en André P. Brink.”

Sarie lag heerlik ongebonde toe sy uitklim. “O, asseblief tog nie, netnou moet ek dít ook sing.”

Hugo tel vir Annemie op en Sarie vat Karltjie se hand. Sy sien hul weerkaatsing in een van die winkelvensters en skaam kyk sy weg, want hulle lyk so huislik en gelukkig, net soos ’n getroude paartjie met twee pragtige, woelige kleingoed.

Hugo pak net boeke, blokkies, legkaarte en kryte in, totdat Sarie later laggend keer.

“Aarde, meneer! Dit is seker genoeg, hulle is net twee kinders.”

Annemie kry ’n sagte geel beertjie in die hande en weier om dit neer te sit. “Laat sy dit maar hou, dalk sal sy dan beter slaap en nie meer so baie by jou kom inkruip nie.” Hugo lag saggies.

Sarie bloos liggies. Hoe sal hy nou weet dat klein Annemie omtrent elke nag by haar kom slaap?

Hugo betaal vir die aankope, en met die yslike pak goed en die twee opgewonde kinders stap hulle terug motor toe.

Die middag word ’n heerlike, ontspanne tydjie. Hugo is eers met hulle dieretuin toe en daarna gaan drink hulle koeldrank.

Teen die tyd dat hulle huiswaarts keer, is die kinders moeg en vaak, maar tevrede en gelukkig.

Sarie skuif haar gemaklik teen die sagte bekleedsel van die motor terwyl Annemie styf teen haar bors aanleun.

“Baie dankie, meneer Kritzinger, dit was ’n baie aangename middag. Ek het nog nie ’n dag in die Kaap so geniet soos vandag nie.”

“Dit is ek wat moet dankie sê, Sarie.”

Sarie kyk vinnig na hom. Dit is die eerste keer dat hy haar so spontaan op haar naam noem en sy voel hoe haar wange skielik warmer word.

By die huis gaan bad Sarie dadelik die kinders, want haar hele program is vanaand ’n deurmekaarspul. Al is dit Saterdagaand, verwag Hugo seker ’n ordentlike ete en Paul kom reeds vanaand vroeg huis toe.

Sy sal vanaand sommer steak, aartappelskyfies en ’n lekker slaai maak. Sy prakseer vinnig ’n poeding wat sy in die oond kan steek om gaar te word terwyl sy met die kinders besig is.

Die klokkie lui skril in die kombuis en Sarie stap vinnig sitkamer toe. In die deur kom sy verbaas tot stilstand. Hugo staan glimlaggend voor die drankkabinet en in een van die gemakstoele sit die befaamde blonde meisie in die gondel sowaar met haar lang bene netjies voor haar uitgestrek.

“Sarie, kan ons asseblief nog ’n bietjie ys kry?” Hugo hou die ysbak na haar toe uit.

Sy kyk na die lang donkerkop, maar toe Hugo geen aanstaltes maak om hulle aan mekaar voor te stel nie, neem sy net die bak by hom en stap kombuis toe.

Vererg gooi sy die ys in die bak. Sy het nogal vanmiddag gedink hy ontdooi so ’n bietjie, maar nou is hier mos weer gesofistikeerde gaste, en is sy weer Sarie van die kombuis, Sarie wat nie goed genoeg is om aan die gaste voorgestel te word nie.

“Ongeskikte buffel!” Sy sis die woorde hardop uit.

“Tannie Sarie, sal jy vir ons die liedjie van die buffel sing?”

Sarie vergeet haar gramskap en lag skaterend. “Ek sal, Karltjie, ek sal. Ek moet net nog vir hierdie liedjie woorde maak.” Vinnig stap sy terug sitkamer toe, die ene gedienstigheid, en Hugo loer half ongemaklik na haar kant toe. Hy weet regtig nie hoe om hierdie situasie te hanteer nie. Alice sal dink hy is van sy wysie af as hy een van sy werknemers aan haar voorstel en dan vir ’n drankie ook nog nooi.

Die kinders kom holderstebolder by die sitkamer ingehardloop. Karl jaag vir Annemie en hulle gil dit uit van plesier.

Sarie sien hoe Alice haar wenkbroue liggies optrek en sy kry lekker tot in haar tone. Sy wens die kinders raas haar heeltemal deurmekaar. Sy skaam haar vir haar onvleiende gedagtes, maar die skraal vrou straal soveel openlike antagonisme uit dat sy dit met al die wilskrag in die wêreld nie kan onderdruk nie.

Die kinders verstar toe hulle in die ontevrede oë van die swartkopvrou kyk en kom klou aan Sarie vas.

“Is dit Paul se kinders?”

“Ja. Karl, Annemie! Kom groet vir tannie Alice. Sy het gehoor dat Mamma in die hospitaal is en was so vriendelik om hiernatoe te kom om ’n bietjie na julle te kom kyk.”

Die kinders maak asof hulle hom nie hoor nie en klou net stywer aan Sarie vas. Sy probeer hul handjies loskry sodat sy kan ontsnap.

“Gaan groet die tannie. Ek moet nou eers kombuis toe gaan.” Sy fluister vir Karl, maar hy skud net baie beslis sy kop. Dan maak sy Karl se handjies beslis los en tel vir Annemie op. “Verskoon my, asseblief.”

Karl hardloop vinnig agter haar aan kombuis toe en maak asof Alice glad nie bestaan nie.

“Tannie Sarie, gaan jy dan weg?” Karl se swart ogies is vol trane. “Ek gaan nie by daardie kwaai tannie bly nie. Sy … lyk soos die geel heks.”

“Karltjie! Jy moenie sulke dinge sê nie. Die tannie is baie mooi en haar geel rok is baie deftig.”

“Is nie! Jy is baie mooier. Sy het sulke lelike, swart hare soos die geel heks wat altyd vir Liewe Heksie wil vang.”

Die kinders is nou omgekrap en bang dat sy dalk weggaan en Sarie besef dat sy haar hande gaan vol hê om hulle tot bedaring te bring.

Sy wonder skielik of die geel heks ook vanaand hier eet, en sy bid woordeloos vir krag.

“Kom sit julle tweetjies hier by die tafel, dan vertel ek vir julle ’n storie terwyl ek gou vir ons kos maak.”

“Nee! Sing liewer vir ons.”

“Karltjie, moenie nou verspot wees nie. Ek kan mos nie hier staan en sing wanneer daar mense in die sitkamer is nie! Oom Hugo sal my nek omdraai. Ons mag nie so raas nie.”

“Oom Hugo sal mos nie haar nek omdraai nie, nè, oom Hugo?”

Sarie spring verskrik om, net om Hugo lewensgroot in die deur te sien staan, sy wenkbroue geamuseer gelig.

“Alice eet vanaand hier, juffrou … e … Sarie. Sal dit in die haak wees?”

“Ja … ja, sekerlik!”

Hy draai ongemaklik rond en Karl spring op en gaan staan styf teen sy been.

“Gaan tannie Sarie dan weg? Ek … ek gaan nie by die geel heks bly nie!” Groot trane dam in die bruin ogies op en laat die seuntjie verlore en eensaam lyk.

Sarie is verleë en weet nie waar om te kyk nie. Maar diep in haar hart neem sy haar voor om nie hierdie kinders in die steek te laat nie, al moet sy hulle ook na haar woonstel neem en daar vir hulle sorg.

Hugo sien die kenmerkende wip van haar ken en hy verkneukel hom daarin, want hy het ’n baie goeie idee waaraan dié bruinkop nou dink.

“As tannie Sarie hier wil bly, sal ons baie bly wees. Tannie Alice sal nie sulke lekker kos kan kook soos sy nie.”

“Jippie!” Karl los Hugo se been en storm op Sarie af.

“Sarie, Alice het ’n paar dae lank kom kuier. Sy was onder die indruk dat sy dalk van hulp kan wees met die kinders. Sy weet egter nog nie van mevrou Visser nie. Ek …” Hugo lag verleë. “Ek is bevrees sy sal nie van veel hulp in die kombuis óf met die kinders kan wees nie. Sy is nie gewoond aan sulke werk nie …”

“Dit is alles in die haak, meneer. Ons is nie almal houthakkers en waterdraers nie. Dít is net bedoel vir die Saries van hierdie lewe.”

“Moet ek nie vir jou nog hulp kry nie? Sal jy regkom? Ek … ek is jammer vir die ekstra werk, maar ek sal jou vergoed …” Hugo kan aan die flits in Sarie se oë sien dat hy nou die verkeerde ding gesê het en ongemaklik bly hy stil.

“Ekstra hulp is nie nodig nie, meneer Kritzinger. Dit is nie moeite om een persoon meer te voed nie.” Sy draai vererg haar rug op hom en buk by die kas om ’n bak uit te haal. Sonder om weer in sy rigting te kyk, praat sy verder: “Hoe laat wil u eet?”

“So halfnege.”

“Die ete sal gereed wees.” Sarie gooi die beslag in die bak en skraap die skotteltjie skoon terwyl Hugo haar dophou. Sy ignoreer hom egter en steek die poeding in die oond voordat sy na die kinders draai.

“Kom, julle twee moet gaan slaap. Dit was ’n lang dag.”

Sonder om Hugo in die oë te kyk, praat sy weer met hom: “Is dit hul pa wat nou gekom het?”

“Ja.”

“Gaan sê dan net eers gou vir Pappa nag en kom dan dat ek julle in die bed gaan sit. Ek gaan solank jul bedjies regmaak en vanaand lees ons uit die nuwe Bybel.”

Die kinders hardloop laggend met die gang af en Sarie druk by Hugo verby, maar hy vang haar aan die arm en trek haar terug. Sy oë wat hare gevange hou, is onverwags ernstig en verleë.

“Sarie, ek … ek is …”

“Ja, meneer Kritzinger?”

“Niks nie.” Hugo skud sy kop half verdwaas en los haar arm. Hy kom nie verder nie en Sarie draai om en stap na die voet van die trap, waar die kinders reeds vir haar wag.

Paul sit gemaklik agteroor en luister na wat Alice gesels, maar Hugo kan sien dat sy gedagtes nie is by wat Alice te vertel het nie.

“Cynthia lyk goed, Paul.”

“Ja, sy het die operasie regtig goed deurstaan. Die ergste pyn is darem verby en dit sal nou net beter gaan.”

“Ek is baie bly om dit te hoor. Hoe lank moet sy nog so vasgegespe lê?”

“So twee weke, miskien nog minder. Dan moet sy ook maar baie stil gehou word, sodat die werwels weer sterk kan word. Dit sal ’n goeie twee maande wees voordat sy weer normaal sal kan beweeg.”

Paul draai skielik na Hugo en verander die gesprek heeltemal. “Hugo, ek het nog nooit vir jou gesê hoe baie ek jou hulp waardeer nie. Dit is wonderlik om so ’n broer te hê, veral nadat mevrou Visser ook nog siek geword het. Al die geskarrel en ontwrigting het jou nie een keer laat kop verloor nie. Toe ek maar weer sien, was alles gereël.”

“Is mevrou Visser dan siek?” Alice klink opreg verbaas.

“Ja. Sy het siek geword die dag toe Cynthia geopereer is. Arme Hugo het omtrent ’n deurmekaar tyd agter die rug.”

“Gelukkig kon jy darem dadelik iemand in haar plek kry.” Alice pruil in Hugo se rigting.

“Hy kon nie. Hy het al die werkverskaffers gebel en op die ou end het sy sekretaresse ingewillig om te help.”

“Die een met die deurmekaar haartjies wat netnou hier was?”

Hugo frons en kyk afgetrokke na Alice. Hy het nie opgemerk dat Sarie se hare deurmekaar was nie. Sy lyk maar altyd so … so natuurlik!

“Ag, wel,” Alice hou haar glas na Hugo uit, “aan hulle maak die tipe werk nie saak nie, solank hulle net daarvoor vergoed word!”

Hugo frons. Nie so lank gelede nie was dit sy standpunt ook en nou krap dit skielik aan hom. Hy is seker daarvan dat Sarie dit nie net doen vir die geld nie – dan sou die tiksterspos ’n baie beter proposisie gewees het. Daar het sy darem net tot vyfuur gewerk en het sy Saterdae en Sondae vir haarself gehad; nou is sy vier en twintig uur aan diens, Saterdae en Sondae ingesluit.

Ingedagte speel hy met sy glas. Die lig weerkaats in die goudkleurige sjerrie en dit laat hom aan Sarie dink, aan die vrolike lig in haar oë. Om te dink sy offer alles op vir hom en hy is skaam om haar vir ’n drankie te nooi, skaam oor wat hierdie hoogmoedige mens sal sê!

Hugo luister nie na wat Alice sê nie. Hy draai sy rug op haar en staan ’n paar oomblikke verdwaas met die glas in sy hand.

Hy het gehoor hoe Sarie vir Karltjie vermaan omdat hy gesê het Alice lyk soos ’n heks …

Hugo skink vir Alice nog ’n drankie in en toe hy omdraai, kan hy haar nie in die oë kyk nie. Karl se woorde bly in sy gedagtes maal en hy moet sukkel om sy lag te hou.

“Hugo!” Paul lag sag. “En as jy nou so droomverlore na Alice staar? Jy hoor nie eens wat ek sê nie.”

“Ekskuus, Paul, wat het jy gesê?”

“Ek moet die volgende maand of so ’n paar lesings hier by die universiteit gee. Een van hul ginekoloë het skielik siek geword en hulle het gevra of ek nie wil uithelp nie, aangesien ek tog die hele dag daar is. Dan is ek sommer ook naby Cynthia.”

“Dit is wonderlik, Paul! Dit sal jou die wêreld se goed doen om besig te bly, veral nou.”

“Dit sal, Hugo, maar ek is so bekommerd oor die kinders. Dink jy Sarie sal inwillig om nog ’n maand hier te bly? Het jy haar nie nodig in die kantoor nie?”

“In die kantoor sal ek regkom. Ek draf natuurlik deur sekretaresses – ek het al glad twee op een dag gehad – maar my eie sekretaresse behoort binne die volgende veertien dae terug te wees. Ek glo nie Sarie sal weier nie, maar jy moet haar liewer self vra.”

“Ek kan ook help, Paul.” Paul kyk na die lang, slanke meisie en byt ingedagte aan sy lip. Sy sal nie een dag met die kinders uithou nie, daarvoor sal hy sy splinternuwe motor verwed.

“Die kinders is nou al gewoond aan Sarie en hulle is baie lief vir haar. Sy het ’n slag met die kleingoed. Ek sal hulle nie graag nou weer wil ontwrig nie. Maar baie dankie, Alice.”

Alice plooi haar mond koeëlrond terwyl sy onderlangs na Hugo loer. “Ek is bevrees as enigste kind is ek ook nie gewoond aan ander kinders nie. Ek sal dalk nie dieselfde slag hê nie. Sarie is blykbaar gewoond aan kinders. Dié tipe mense het mos altyd ’n swetterjoel kinders en die oudstes maak gewoonlik die jongeres groot.”

Hugo en Paul staar in stilte na Alice en skielik is haar woorde vir Hugo net so hard en ongenaakbaar soos haar hele houding en siening van die lewe. Verbaas wonder hy wanneer hy dan sý siening verander het.

Sarie mag dalk ’n klompie jonger broers en susters hê, maar sy het ook ouers wat nog lief vir mekaar en vir hul kinders is en na wie sy verlang. Sy het so ’n ander siening van die lewe. Kyk net hoe het sy hom nou die aand gepaai en gepamperlang om te kom eet.

’n Sagte glimlag huiwer om sy mond en Alice lees dit heeltemal verkeerd. “Jy sal net ’n bietjie streng met haar moet wees, Hugo-lief! Jy weet daardie tipe kruip baie maklik in waar hulle nie welkom is nie. Sy mag van jou verleentheid gebruik maak om haar aan jou op te dring wanneer sy weer in die kantoor is. Voordat jy jou kom kry, noem sy jou op jou naam.”

Sarie se ore brand waar sy voor die sitkamerdeur met die southappies tot stilstand kom en sy sluk hard om die trane te keer. Sy lig egter haar kop en stap by die deur in. Die knop in haar keel weier steeds om afgesluk te word. Vinnig sit sy die happies op die tafeltjie neer en stap by die deur uit.

“Sarie!”

Sy kom traag tot stilstand en draai na Paul.

“Kom drink iets saam met ons, toe, asseblief!” Paul kan aan die groot, té blink oë sien dat sy gehoor het wat die katterige vroumens nou net kwytgeraak het.

“Nee wat, dankie, meneer Kritzinger. Ek … ek moet na die kos gaan kyk.” Sy draai vinnig om en stap uit sodat hulle nie die blink trane in haar oë kan sien nie.

Hugo kyk verbaas na Paul, wat hom vererg aanstaar.

Sarie druk die kombuisdeur toe en staan ’n oomblik met haar rug daarteen terwyl sy swaar aan die trane sluk.

So ’n nare ou heks met haar gekleurde hare! Sy snik die woorde wurgend in haar gedagtes uit. Maar diep binne-in haar weet sy dat dit nie Alice se woorde is wat die seerste gemaak het nie, maar die feit dat Hugo daar gestaan en glimlag het asof hy saam met haar stem.

Sarie vee die trane met die agterkant van haar hand weg terwyl sy met haar wraakgedagtes worstel. Staak dit nou dadelik, Sarie! Jy gaan sowaar nie nog trane ook stort oor ou Blouwildebees nie. Laat hom met die model trou, sy sal tog nie eens kan kos kook nie.

Sarie haal al haar drif op die kos uit en maak ’n watertandsous by die nagereg en ’n heerlike, dik sampioensous by die steak. Die slaaie kry ekstra aandag en Sarie gaan die gedekte tafel weer na om seker te maak dat alles in orde is.

Sy bekyk die drie plekke ingedagte en staan ’n oomblik besluiteloos voor die kas, maar dan besluit sy daarteen en gaan terug kombuis toe. Sy sal hulle nie in die verleentheid stel deur saam met hulle te eet nie.

Dit is nou eers halfagt en Sarie stap na haar kamer, waar sy op haar bed gaan lê en haar oë ’n paar oomblikke sluit.

Sy staan later op om te gaan bad en haar netjies aan te trek, dalk voel sy dan beter. Vinnig bad sy in die stomende water en trek ’n ligblou rok aan wat wyd en sag om haar bene klok. Die sagte materiaal vou styf om haar dun middeltjie en laat haar jonk en baie weerloos lyk.

Sy kam haar hare in ’n los bollatjie bo-op haar kop sodat sy ouer en meer gesofistikeerd lyk. Vies kyk sy na haarself in die spieël. Sy moes sommer ’n sweetpak aangetrek het, net om vir Alice te wys dat sy nie veel van haar teenwoordigheid dink nie. Liggies vee sy lipstiffie oor haar bleek lippe en wonder vaagweg of Anton nie vanmiddag hier was terwyl hulle by die hospitaal was nie. Sy vliegtuig vertrek môreoggend en hy het dalk kom groet.

Op haar tone stap sy na die kinders se kamer en trek die komberse stywer om hulle voordat sy hulle liggies op die slapende ogies soen.

Sies tog! Hulle verlang seker vreeslik baie na hul ma. Cynthia is ’n dierbare mens en Sarie wens dat sy die voorreg kon hê om haar beter te leer ken.

Traag stap sy kombuis toe. Die helderheid het uit die dag verdwyn. Sy voel seergemaak en onbeholpe. Maar dan is dit asof sy moeder Saartjie hoor sê dat sy mos ’n Suidwester is, en onbewus lig sy haar kop en begin sag ’n deuntjie neurie. Die wysie klink flou en hartseer in haar eie ore, maar sy hou moedig aan en dit laat haar tog beter voel.

Stiptelik halfnege lui sy die etensklokkie. Die mans en Alice kom al geselsend die eetkamer binne. Sy wag totdat hulle sit voordat sy die kos tafel toe bring en dan gaan staan sy eenkant en wag om vir hulle in te skep.

“En jy dan, Sarie?” Paul kyk fronsend na die tafel waar net drie plekke gedek is.

“Ek wil nie eet nie, dankie, meneer Kritzinger.”

“Ag nee, Sarie, hoekom is ek nou ewe skielik ‘meneer Kritzinger’? Ek is dan nog altyd Paul vir jou. Kom sit en eet saam met ons, toe, asseblief!” Paul trek liggies aan haar arm, maar Sarie maak asof sy hom nie voel nie en skep ongeërg vir Hugo, wat haar fronsend aankyk, kos in. Sy beweeg om die tafel en hou die bak effe skuins sodat Alice kan sien.

“Kan ek maar vir jou inskep?” vra Sarie beleef.

Alice knik styf en hervat haar gesprek met Hugo. Sarie is baie lus en skep die wit sampioensous bo-op haar kop sodat dit soos ’n nes in haar hoë kapsel kan lê.

Paul lyk ongemaklik en ongelukkig, maar dring nie verder by Sarie aan om saam te eet nie. Die geslote uitdrukking op haar skraal gesig ontneem hom dié vrymoedigheid.

Sy loop kombuis toe en gaan staan voor die kombuisvenster en wag dat hulle moet klaar eet, sodat sy vir hulle nagereg kan neem.

Die maanlig baai die groot grasperk in silwergrys en Sarie wens vuriglik dat sy haar jas kon aantrek en in die betowerende maanlig gaan stap. Sy moet hierdie saak wat so swaar op haar hart druk, gaan uitspook. Hier binnekant haar is ’n groot skroef los en sy het nog nie tyd gehad om dit uit te pluis nie. Sy moet gaan dink.

Dit is tyd dat sy Torrabaai toe gaan. Torrabaai! ’n Flou glimlaggie kom steek om haar lippe vas en verlange kom lê naak in haar oë.

Dit is ’n ou gesegde wat al jare in hul gesin kom nesskop het. ’n Vriend van die gesin het altyd, wanneer die lewe vir hom te veel geraak het, Torrabaai toe vertrek – ’n onherbergsame, onbewoonde stukkie kus waar hy dan gaan dink het. Só het hulle met hul probleme ook maar altyd Torrabaai toe gegaan – behalwe dat Torrabaai vir hulle enige plek was waar ’n mens alleen kon wees om ’n saak met jouself uit te maak.

Sy stap eetkamer toe en toe niemand meer steak of groente wil hê nie, bedien sy hulle met die heerlike gemmernagereg.

Sy hoor hulle ná ’n rukkie opstaan en sitkamer toe gaan, waar sy reeds die skinkbord met koffie neergesit het. Alice kan hulle verder bedien, sy sien nie kans om nog vyf minute in hul teenwoordigheid te wees nie.

Vinnig dek sy die tafel af en pak die eetgerei in die skottelgoedwasser. Sy dek vir haar ’n plekkie by die kombuistafel en gaan sit gemaklik met haar bord kos wat nog heerlik warm is.

Verskrik kyk sy op, die stukkie steak halfpad tussen haar mond en die bord, toe Hugo inkom en die deur sag agter hom toedruk.

“Hoekom wou jy nie saam met ons eet nie?”

Sy skud haar kop en kyk op haar bord. Hy trek vir hom ’n stoel uit en kom sit rustig langs die tafel.

“Ek sal maar by jou kom sit. Dit is mos nie lekker om alleen te eet nie.”

“Asseblief, meneer Kritzinger … gaan asseblief na u gaste toe. Netnou … netnou is daar onaangenaamheid.”

“Jy het by my kom sit toe ek nie alleen wou eet nie.”

“Maar ek gee nie om om alleen te eet nie, regtig nie!” Sarie is baie na aan trane en sit vinnig haar mes en vurk neer.

“Eet klaar, dan kom drink jy saam met ons koffie, asseblief!”

“Ek wil nie!” Sy kyk op haar bord, maar Hugo sien die blink traan stadig oor haar wang rol en stukkend spat tussen die ertjies.

“Sarie!”

“Meneer Kritzinger, ek … ek wil regtig nie, asseblief. Ek … ek sal nooit van u verleentheid gebruik maak om opdringerig te raak nie. Ek hoort nie daar nie …”

“Dan het jy gehoor? Ek het so gedink.”

Sy kyk nie op nie, wag net angstig dat hy moet opstaan en loop.

“Eet jou kos, toe!” Sy stem is so sag en vriendelik, so teer dat Sarie al haar wilskrag nodig het om nie in trane uit te bars nie.

Hy stoot ’n groot wit sakdoek stil oor die tafel na haar toe. Sy vat blindelings daarna en haar vingers raak aan syne, wat dan warm om haar skraal hand sluit.

“Vee af jou trane. Ons is dit nie werd nie, nie een van ons nie.

Ek gaan hier by jou sit totdat jy klaar geëet het.”

Sarie vee haar trane af en tel dan soos ’n soet kind haar mes en vurk op. Sy eet gedwee nog ’n paar happies, maar stoot dan beslis haar bord agtertoe.

Hugo vat haar stewig en baie beslis aan haar arm toe sy opstaan en stap saam met haar sitkamer toe. In die deur steek hy vas en kyk direk na Alice.

“Alice, ek was vanmiddag baie ongeskik en het jou nie aan Sarie Wessels voorgestel nie. Sy het ons uit ’n vreeslike verknorsing kom red. Ons is haar baie, baie dank verskuldig.”

Alice knik styf in haar rigting en nog voordat Hugo haar aan Sarie kan voorstel, begin sy ’n nuwe gesprek met Paul.

Paul tik uitnodigend langs hom op die bank en maak vir Sarie daar ’n plekkie. Dan steek hy sy hand uit en trek haar langs hom neer.

Sarah du Pisanie Omnibus 10

Подняться наверх