Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 10 - Sarah du Pisanie - Страница 9
6
Оглавление“Toe, Sarie, man. Wat sê jy?”
“Ek kan nie, Anton. Ek moet vir meneer Kritzinger-hulle kos kook en teen die tyd dat hulle klaar geëet het, is dit te laat.”
“Jy los die kos in die louoond en hulle kan hulle sommer self bedien.”
“Maar wat van die kinders?”
“Paul kan ’n slag na sy eie kinders kyk.”
“Ek wil nie graag vir meneer Kritzinger verlof vra nie. Hy sal my weer middeldeur kyk.” Sarie vee die hare van haar wang weg.
“Ek sal hom vra.”
“Ag, Anton, eet nou maar hier. Jy eet tog die afgelope week al elke aand saam met ons.”
“Ek weet, Sarie, maar ek wil jou ’n keer uitneem. Jy werk jou kapot – jy het nie nodig om dit te doen nie.”
Sarie sug. “Anton, jy ken nie ons Suidwesters nie.
Ons is anders as julle …”
“Mooier, ja.”
“Ag, jy is verspot. Meneer Kritzinger het my nodig gehad, en ek het gekom. Dit is al! Ek gaan nie nou, omdat ek weet hy is verleë oor iemand om na die kinders te kyk en kos te kook, allerhande eise aan hom stel nie. Wat word dan van die kinders?”
“Al wat ek vra, Sarie-lief, is een aand in jou geselskap, een aand om jou net vir myself te hê. Ek moet oor twee dae teruggaan Johannesburg toe en ek sien nie kans om jou hier te los nie. Hierdie twee groot lummels sal jou onder hul voete vertrap.”
“Dit is nie waar nie, Anton, en jy weet dit. Paul is baie dankbaar vir alles wat ek vir die kinders doen.”
“Paul, ja! Maar jou dierbare meneer Kritzinger dink hy het jou gekoop – kaart en transport, die lot!”
“Ou Antontjie, laat ek jou ’n geheim vertel: dit is baie lekkerder om kos te kook en met die kinders op hierdie groot grasperk te speel as wat dit is om agter ’n tikmasjien te sit en swoeg.”
Anton lag en Sarie verwonder haar weer eens aan sy pragtige, spierwit tande wat so helder afsteek teen sy songebrande vel.
“Ek het juis gisteraand gehoor toe Hugo vir Paul vertel hoe hy met sy nuwe sekretaresse sukkel. Hy het haar glo al gegooi met ’n brief wat sowaar drié tikfoute in gehad het.”
“Arme sekretaresse …” Sarie frons bekommerd. Sy wonder of hy baie sukkel. Die arme man! Al die teëspoed tref hom nou ook tegelyk. Dit is seker ook die rede waarom hy so nors en onvriendelik is.
“Tannie Sarie!” Karltjie loer om die agterdeur. “Kom sit buite by ons in die sonnetjie, dan speel jy vir ons op jou kitaar, toe!”
“Goed, ek is nou-nou klaar. Ek maak net gou vir ons tee, dan kan ons dit sommer daar buite drink.”
Anton slenter na buite en gaan sit solank by die kinders terwyl sy tee maak.
’n Sagte glimlaggie huiwer om haar mond toe sy daaraan dink dat Hugo toe sy woord gestand gedoen het en die vorige middag vroeg huis toe gekom het. Hy het haar en die kinders in sy groot motor gelaai en eers by haar woonstel stilgehou sodat sy gou die kitaar kon kry. Daarna het hy aangekondig dat hulle vir tannie Visser in die hospitaal moet gaan kuier.
Tannie Visser is ’n dierbare, moederlike vroutjie wat Sarie se hand in hare vasgegryp het en toe die hele middag vasgehou het.
Die kinders was bly om haar te sien, maar net nadat hulle klaar gegroet het, het hulle styf teen Sarie gaan sit. Annemie het later op haar skoot geklim en haar koppie rustig en tevrede teen haar skouer genestel.
Hierdie gebaartjie van die kinders het tannie Visser meer gerusgestel as al die woorde en goeie wense.
“Ek is so dankbaar dat die Hemelvader jou op meneer Kritzinger se pad gestuur het, Sarie, anders weet ek nie wat van die arme bloedjies sou geword het nie …”
Sarie gaan haal eers haar kitaar en dra dan die tee na buite.
Die kinders gun haar nie tyd om haar koppie leeg te drink nie. Sy tel dus maar die kitaar op en tokkel liggies op die snare.
Sy sing vir hulle op Karl se versoek van Sannie wat sewe sakke sout sleep, en Karl kraai van die lag.
Anton se blik rus hunkerend op haar. Vandat hy haar die eerste oggend gesien het, het die pragtige mensie met die groot blou oë baie diep in sy hart gekruip. Daar is ’n rustigheid en vrede in haar wat ’n mens net by iemand met ’n skoon en ongebonde innerlike sal kry.
Sarie sit ’n oomblikkie doodstil, die kitaar vergete in haar hande. Sy kyk dromerig na die geel voëltjie wat astrant op die gras kom sit en krummels oppik.
Asof vanself, tokkel haar vingers ’n wysie en sy sing sag en met oorgawe van haar geliefde Suidwes. “Hard soos kameeldoringhout is onse land …”Anton se oë is smagtend gerig op die skoon gesiggie en die bruin haartjies wat deur die wind losgeruk is en nou veersag oor haar wange streel.
Haar stem is soet en teer wanneer sy van haar land sing – van die droë riviere en die son wat die gras en klippe verbrand; van die liefde wat haar ewig aan dié land bind.
Hugo staan stil in die kombuisdeur na die pragtige prentjie en kyk: die kinders wat in ademlose bewondering vasgevang is en Anton wat met sy hart in sy oë na die meisie met die kitaar sit en kyk.
Hy het vandag spesiaal vroeg huis toe gekom om te hoor of hulle nie vir Cynthia kan gaan kuier nie, al kan hulle net vir haar die kinders deur die glasvenster wys. Daarna kan hulle na ’n pretpark of na die dieretuin gaan.
Sarie herhaal die koor op Duits en met die akkoorde van die laaste reël – “Ich liebe Südwest!” – kyk sy op, vas in Hugo se peinsende oë.
Sy speel die laaste note ongeërg klaar en sit dan die kitaar langs haar op die gras neer. “Goeiemiddag, meneer Kritzinger. U is vroeg vandag.”
“Ja. Ek … e … ek het iets by die huis vergeet.”
Sarie staan vinnig op en stap kombuis toe, terwyl Anton ongeërg agternaslenter.
“Wil u nie dalk gou ’n koppie koffie drink voordat u teruggaan nie?”
Anton druk by Sarie verby en gaan staan reg voor Hugo. “Hugo, ek wil jou ’n guns vra. Ek en Sarie wil vanaand gaa uiteet. Kan sy maar jul kos in die louoond laat? Paul sal mos by die huis wees om na sy eie kinders te kyk vir ’n verandering.”
Hugo frons en kyk na Sarie, wat openlik vererg haar kop vir Anton skud. Stil draai Hugo om en gaan sit eenkant by die tafel. “ ’n Koppie koffie sal lekker smaak, dankie … e … Sarie.”
Die ongemaklike rooi blos vlam oor haar wange en sy draai vinnig om om vir hom koffie te skink. Net om haar besig te hou totdat sy haarself onder beheer het, haal sy ’n paar beskuite uit ’n blik en sit dit in ’n bakkie.
Hugo vat een van die beskuite en Sarie sien die flikkering van ’n glimlag in sy oë.
“Van ons liewe moeder Saartjie s’n?”
Sarie lag ongemaklik. Wat wil hy nou hier voor Anton voorgee? Dat hulle op ’n baie intieme, vriendskaplike voet verkeer?
“Ja, ek het nou die dag ’n blik vol saamgebring, maar die Kaapse weer is nie baie bevorderlik vir beskuit nie – dit word klam as dit te lank staan.”
“Hugo!” Anton is ongeduldig. “Ek het jou ’n vraag gevra.”
“Ek het jou gehoor, Anton. As Sarie voel sy kan die kinders alleen los, kan sy maar gaan.”
“Ek sal nooit daaraan dink om die kinders alleen te laat nie, meneer Kritzinger. Anton, asseblief!” Sarie keer vinnig toe Anton iets wil sê. “Ek wil nie gaan nie.”
“Maar ék wil, en ek wil saam met jóú gaan.” Anton is nou sommer omgekrap. “Ek dink regtig jy behoort vir Sarie ’n bietjie vrye tyd te gun. Sy is darem nie ’n slaaf wat jy gekoop het nie, Hugo. Jy behoort daarop aan te dring … Dit is darem ’n guns wat sy julle bewys, nie haar plig nie.”
Hugo staan vinnig op en sy oë blits. “Is dit hoe jy daaroor voel, juffrou? Ek sal reël dat jy elke week ’n vry dag het. Of wil jy ’n vry naweek hê? Dit … dit is net dat ek in ’n baie ongemaklike posisie verkeer en nou buit jy dit uit.”
“Meneer Kritzinger, ek het geen eise aan enigiemand gestel nie en ek wil geen vry naweke hê nie.”
Hugo is onredelik kwaad, maar hy weet nie vir wie nie. Sarie is nie die een wat eise stel nie, maar hy is sommer vir haar ook kwaad, en van Anton het hy nog nooit veel gehou nie – hy is sommer ’n vrouejagter!
Woedend stap Hugo by die middeldeur uit. Toe sy rug om die deur verdwyn, spring Sarie op en haar oë blits.
“Ek het jou uitdruklik gesê ek wil nie gaan nie, Anton. Kyk nou net wat het jy aangevang!”
“Ag, hy is sommer ’n verstokte oujongkêrel! Hy gun niemand ’n bietjie plesier nie. Ek sê jou, Sarie, hy waardeer niks wat jy hier doen nie. Hy dink hy kan jou ’n ekstra paar rand in die hand stop en dit sal vergoed vir alles wat jy vir hom en die kinders doen.”
“Skaam jou, Anton. Meneer Kritzinger verkeer in ’n ongemaklike posisie. Ek sal nooit daarvan droom om nou verlof te neem nie. Ek sal my morsdood bekommer oor die kinders.”
Sarie se kwaai stemmetjie klink duidelik in Hugo se ore waar hy skaamkwaad in die gang tot stilstand kom. Hy het haar sommer ingeklim, en dit net omdat hy kwaad en teleurgesteld is omdat sy saam met Anton wil uitgaan.
Verbaas skud Hugo sy kop. Nou hoekom sal hy nou teleurgesteld wees? Sy kan mos uitgaan met wie sy wil; dit skeel hóm nie. Vasberade stap hy na sy studeerkamer en skakel die hospitaal se nommer. Hy trommel ongeduldig met sy vingers op die lessenaar terwyl hulle vir Paul gaan roep.
“Paul! Hoe gaan dit daar?”
“Beter, dankie, Hugo. Is alles nog reg daar by die huis? Ek wou vanmiddag ’n bietjie wegsluip, maar Cynthia het so baie pyn gehad.”
“Sal jy vanaand vroeg terug wees?”
“Ek glo nie, Hugo. Ek sal liewer hier bly totdat sy slaap. Dit sal van volgende week af beter gaan, dan kan ek meer tyd aan die kinders bestee. Hoekom vra jy?”
“Nee, ek het gemeen ons behoort darem seker vir Sarie nou en dan ’n aand vry te gee. Maar dit is alles in die haak, ek kan my afspraak vanaand kanselleer en dan self na die kinders kyk.”
“Baie dankie, Hugo.”
“Alles in die haak. Ek sal dinge hier reël.” Hugo sug diep terwyl hy die gehoorbuis op die mikkie neersit. Dan druk hy die klokkie op sy lessenaar en wag ongeduldig totdat Sarie aan die deur klop. “Juffrou Wessels, jy kan vanaand vry kry. Paul kan ongelukkig nie vanaand hier wees nie, maar ek sal na die kinders kyk.”
“Meneer Kritzinger, ek is nie van plan om iewers heen te gaan nie. Baie dankie in elk geval, maar dit sal nie nodig wees nie.”
“Juffrou, ek voel dit is niks minder as regverdig nie. Ek het klaar gereël om vanaand hier te bly, so jy kan met ’n geruste hart uitgaan.”
Hy skuif ingedagte die papiere op sy lessenaar rond.
Sarie besef dat, wat hom aanbetref, hierdie gesprek nou afgehandel is. Kop onderstebo staan sy voor die lessenaar. Sy weet nie wat om te sê nie.
“Dit is al, juffrou.”
“Maar ek wil nie gaan nie, verstaan u dan nie?”
“Ek dink jy wil, maar jy het net nie die moed gehad om self te vra nie; daarom het Anton dit namens jou gedoen.”
Sarie sug en draai om. Sy het lus en gaan huil saggies in haar kamer omdat hy so onbeholpe en verlore lyk. In haar hart verwens sy vir Anton. Sy wil regtig nie vanaand uitgaan nie. Dit is baie geselliger hier … hier saam met hom en Paul voor die kaggelvuur, al gesels hy nooit direk met haar nie.
“Iets verkeerd, Sarie?” Anton trek haar aan haar arm by die eetkamer in.
“Nee, daar skort niks nie –”
“Ek sal hom trompop die waarheid vertel as hy jou beledig het. Wat het hy nou weer gesê?”
“Ag, Anton, hy het niks gesê nie. Hy het net voorgestel dat ek vanaand uitgaan. Hy … hy het sy afspraak afgestel.”
Sy kyk verbaas op toe Anton haar skielik uitgelate aan die arms gryp en in die rondte draai.
“Wel, nou aanvaar ek nie weer nee vir ’n antwoord nie. Jy trek jou mooiste rokkie aan en vanaand neem ons die Kaap op horings.” Vinnig druk hy ’n soen op haar verbaasde lippe.
Hugo merk die beweging uit die hoek van sy oog toe hy by die studeerkamer uitkom. Is dit al so ver? Die mannetjie druk en soen nou al, en dit hier in sy huis. Vererg klap hy die voordeur agter hom toe en kort daarna hoor hulle sy kragtige motor brul.
Sarie voel leeg en moedeloos. Sy weet nie wat haar vandag makeer nie. Sy het ook nie nou meer lus om die stryd met Anton van voor af aan te knoop nie. Miskien sal dit haar goed doen om so ’n bietjie uit te kom.
Sy doen spesiale moeite met die kos sodat dit buitengewoon lekker kan wees en bad die kinders vroeër as gewoonlik sodat alles gedoen en rustig kan wees voordat sy uitgaan.
Die moegheid het die afgelope week stadig maar seker in haar ledemate kom kruip. Dit is vreemd om soggens so vroeg op te staan en heeldag aan die gang te wees.
Sy maak gewoonlik soggens vir Hugo ontbyt voordat hy werk toe gaan en as gevolg daarvan staan sy ’n goeie uur vroeër as gewoonlik op. Sy sien darem nie kans daarvoor dat hy op ’n leë maag gaan werk nie. Die nuwe sekretaresse sal mos nie daaraan dink om vir hom koffie en beskuit te gee nie!
Die kinders is vanaand besonder moeilik. Hulle is huilerig en baklei kort-kort.
Sarie druk vir Annemie styf teen haar vas. Die armpies knel om haar nek en die kleintjie klou soos ’n bobbejaantjie aan Sarie vas.
“Wat is dit vanaand, liefding? Hoekom is jy so huilerig? Is tannie se poplappie dan siek?”
Haar koppie voel nie warm nie en Sarie kyk met onbegrip na die klein mensie wat so angstig aan haar vasklou. Die kinders kan aanvoel dat sy vanaand wil uitgaan.
“Kom, tannie gaan gee vir julle kos en dan kom sing ek vir julle ’n mooi slaapliedjie.”
Dit stel hulle tevrede en ewe soet en gedwee eet hulle hul aandete.
“Julle kan solank ’n bietjie op my bed sit en speel. Ek gaan net gou bad en my aantrek en dan kom sing ek vir julle ’n liedjie.”
Sarie trek ’n wit wolrok aan en drapeer ’n helderrooi serp om haar nek wat dadelik kleur aan die wit uitrusting verleen en haar gesig sag en geheimsinnig laat lyk. Haar hare kam sy in ’n Franse rol agter haar kop. Sy beskou haarself van alle kante, maar dit laat haar styf en onvroulik lyk. Vinnig trek sy die haarnaalde uit en borsel haar hare uit sodat dit sag en los op haar skouers hang.
“Tannie lyk mooi.” Karltjie beskou haar aandagtig.
Annemie begin huil en Sarie tel haar op. Die ou stemmetjie is so klein en verlore dat Sarie baie lus het om die wit rok uit te trek en net hier te bly.
“Kom, ek gaan sing gou vir julle twee liedjies. Een van die muis en een van die …” Sarie dink kastig diep.
“Die trein! Die trein!”
“Ai, Karltjie, ’n mens kan mos nie aan die slaap raak van die treinliedjie nie. Ek sal vir julle van die lammetjie sing.”
Sarie sit die kinders in die bed nadat hulle hul gebedjies opgesê het en druk die komberse styf om hulle vas. Met die kitaar in haar hande kom sit sy op Annemie se bedjie en saggies sing sy vir hulle die liedjie van die muis wat vir niks bang is nie.
Annemie loer met groot ogies onder die komberse uit, maar Sarie kan sien dat sy hulle behoorlik moet rek om hulle oop te hou.
Haar stem raak sagter en sy sing die een wiegeliedjie ná die ander.
Hugo staan stil voor die kamerdeur, vasgevang in die sagte melodie van haar mooi, soet stem. Dan draai hy die deur baie saggies oop en loer in. Die kinders is vas aan die slaap en Sarie beduie met haar vinger dat hy moet stilbly.
Haar stem word nog sagter, maar sy hou nie op met sing nie. Die kitaar hang slap in haar hande toe sy versigtig opstaan en voetjie vir voetjie uitsluip terwyl sy nog steeds baie saggies sing.
Sy skakel die lig al singend af en sluip dan met haar kaal voete na die deur. Hugo staan opsy sodat sy verby kan kom en sy druk die deur wyer oop toe hulle albei uit is.
“Ons moet liewer die deur oop los. Ek is bang u hoor hulle dalk nie as hulle roep nie.”
Hugo kyk af in die blosende, onskuldige gesiggie en sê: “Ek sal nie gaan slaap voordat jy tuis is nie, ek slaap te vas.”
“Dankie, meneer Kritzinger, ek sal nie laat wees nie.” Verleë draai sy by haar kamerdeur in. “Ek moet net gou my skoene gaan aantrek en my jas kry.”
Toe sy uitkom, staan Hugo nog steeds in die gang vir haar en wag.
“Kan ek nie gou vir meneer kos inskep nie? Anton is tog nog nie hier nie.”
“Ek sal regkom, dankie.”
Sarie voel afgehaal en weet nie wat om verder te sê nie.
Die voordeurklokkie skril deur die stil huis en Hugo stap vinnig vooruit om die deur oop te maak.
Anton staan glimlaggend in die voordeur en kyk bewonderend na Sarie, wat ongemaklik langs Hugo kom staan.
“Jy lyk pragtig, Sarie. Kom ons gaan neem die Kaap op horings.”
Hy help haar haar jas aantrek en Sarie draai na Hugo, wat hulle nog steeds opsommend staan en aankyk.
“Sal meneer nou regkom … e … met die kinders?”
“Ek sal regkom. Ek is nie so hulpeloos nie.”
“Tot siens, meneer Kritzinger.”
“Tot siens.”
Die eetplek waarheen Anton haar neem, is intiem en gesellig. Die kos is smaaklik en hulle dans heerlik saam. Sarie is egter die hele aand stil en teruggetrokke. Sy is bekommerd oor die kinders. Hulle was vanaand so huilerig en lastig.
Hugo se ontevrede gesig bly voor haar. Hy het so baie probleme. Sy weet hoe sukkel hy met die nuwe sekretaresse. En dan is Cynthia ook siek, en die kinders …
Anton hou haar styf vas en liggies wieg hulle op die maat van die dromerige wals.
“Sarie, ek wil nie weggaan van jou af nie.”
“Verskuif jou fabriek Kaap toe.”
“Ongevoelige meisiekind!”
Hy trek haar nog stywer in sy arms en fluister sag in haar oor: “Ek gaan weer vir jou kom kuier, sommer gou ook.”
“Ek hoop ek sal dan nog hier wees, Anton. Ek bly net ’n jaar, dan gaan ek terug huis toe.”
“Wag daar iemand vir jou?”
“Nee, net my ma en pa en broers en … en my land!” Sy sug en haar oë raak dromerig. “O, Anton, ek verlang huis toe! Jy moet eendag vir ons kom kuier. My mense is so anders; so … so naby God, so lief vir die dinge wat die Skepper gemaak het.”
“Ek sal my nie twee keer laat nooi nie, Sarie. Jy sien my dalk gouer as wat jy dink.”
“Onthou dit, hoor! Kom haal volgende winter jou biltong.”
“Kan ek nie iets anders kom haal nie? Iets soos die jawoord?”
“Verspotte ding!”
“Nee, ek is nie verspot nie, net verlief.”
“Ag, Anton, jy ken my skaars.”
“ ’n Mens het mos nie nodig om iemand jare te ken om te weet nie. Ek is al ’n man van ses en twintig en jy is die eerste meisie wat my voete skoon onder my lyf kon uitslaan.”
“Jy verbeel jou sommer, Anton.”
“Sarie!” Anton se stem is skielik ongewoon ernstig. “Voel jy nie ook die sterk band tussen ons nie?”
Stil staar sy hom aan en Anton kreun saggies, want wat hy in daardie oë lees, is suiwer vriendskap.
Hulle drink nog koffie, maar dan is Sarie skielik haastig. “Anton, dit was ’n heerlike aand, maar ek is onrustig oor die kinders. Meneer Kritzinger … Hugo is baie onhandig met hulle, en hulle was reeds vanaand so huilerig.”
“Dit is dan nou eers tienuur, meisiekind!”
“Ek is onrustig, Anton.” Sarie tel haar handsakkie beslis op en trek haar jas aan. “Ek sal graag wil gaan. Dit is en bly nog my werk, ek kry ’n salaris daarvoor.”
“Nou goed.”
Anton is stil en dikmond toe hulle terugry. By die huis probeer hy haar soen, maar Sarie ontwyk hom vinnig en glip by die deur in sonder om hom in te nooi.
“Nag, Anton, en baie dankie.”
Die voordeur klik toe en ’n paar sekondes later hoor sy Anton se motor vinnig wegtrek.
Anton het haar vandag in ’n moeilike situasie laat beland en sy is skaam dat sy haar so laat oorrompel het. Sy ken tog Hugo se omstandighede en weet hoe baie werk hy het. Dit moes seker vir hom ’n groot opoffering gewees het om vanaand na die kinders te kyk sodat sy kon uitgaan. Die ergste van alles is dat sy dit nie regtig geniet het nie.
Die sitkamerlig is nog aan, maar daar is niemand nie en Sarie draf vinnig met die trap op. Sy is skaars halfpad toe hoor sy hoe huil albei kinders.
Haar skoene strem haar en sy pluk hulle uit om kaalvoet met die trap op te hardloop. Sy storm deur haar kamer en gooi sommer haar jas en skoene in die verbygaan op haar bed neer, voordat sy deur die middeldeur in die kinders se kamer instorm.
Hugo staan met Annemie, wat vreesbevange aan hom vasklou, in sy een arm, en die ander is beskermend om Karltjie wat bo-op die bed staan en hom vasklem.
“Wat is dit?” Sarie neem vir Annemie by Hugo. Die kleinding rem weg en huil harder, maar toe dit tot haar deurdring dat dit Sarie is, gaan haar armpies styf om haar nek.
“Toemaar, liefie. Hier is ek nou by jou … Kyk, dit is ek, tannie Sarie.” Sy sus die warm lyfie heen en weer en geleidelik bedaar die snikke.
Hugo sak dankbaar op die bed neer en trek vir Karl op sy skoot. Hy druk die kind se donker koppie lomp teen sy bors vas.
Sarie sak met Annemie nog styf in haar arms langs Hugo op die bed neer en vryf liggies oor Karltjie se hare.
“Wat is dit dan, ou grote?”
In die dowwe lig van die bedlampie lyk Hugo so verlore en onbeholpe dat Sarie die drang om sag oor sy wang te streel met mening moet onderdruk.
“Is tannie nie weg nie?” Karltjie se sin eindig in ’n droë, verlate snikkie.
“Natuurlik nie! Hier is ek dan.”
Hugo kyk oor Karl se kop na haar. “Annemie het wakker geword en wou blykbaar by jou gaan lê, maar toe is jy nie daar nie. Haar gehuil het vir Karl wakker gemaak en hulle wou hulle net nie laat troos nie.”
“Sies tog! Ek moes nooit uitgegaan het nie …” Die selfverwyt maak haar oë groot en sy kyk ontsteld na Hugo.
“Kom klim in jul bedjies. Tannie sal julle toemaak en dan gaan julle lekker slaap.”
Sy gee vir elkeen ’n bietjie water en druk die komberse styf om hulle vas. Op Annemie se bedjie sak sy eers weer neer en vryf saggies die blonde haartjies totdat die blou ogies stadig toeval.
Hugo staan met sy hande in sy sakke en sy skouer rus liggies teen die kosyn. Sarie wens dat hy liewer wil loop. Hy ontsenu haar. Sy druk ’n soentjie op Karl se voorkop, wat darem nou flouerig met haar glimlag, en skakel die bedlampie af.
“Tannie gaan net gou vir oom Hugo koffie maak omdat hy so moes sukkel en dan kom ek ook slaap. Jy moenie weer bang wees nie.”
“Nee, as tannie hier is, sal ons nie bang wees nie.”
Hugo wag galant vir haar om eerste uit te gaan en stap dan stil agter haar aan.
“Ek … ek is jammer, meneer Kritzinger. Ek sal nie weer die kinders alleen laat nie.”
Hugo antwoord haar nie. Hy kyk ontevrede op sy horlosie en Sarie sien die trek van verbasing wat oor sy gesig flits toe hy sien dat dit knap ná tienuur is.
“Waar is Anton?”
“Hy het gery. Ek was onrustig oor die kinders en wou nie langer bly nie.”
“Dit was glad nie nodig om soveel opofferinge te maak nie.
Ek sou reggekom het.”
Sarie loer onderlangs na hom. Met ’n pa en vier broers herken sy die tekens. Hy is nou dikmond. In haar hart bedank sy die kinders omdat hulle vanaand moeilik was. Nou kan hy darem sien dat dit nie kinderspeletjies is om na twee woelige, ontwrigte kleutertjies te kyk nie.
“Ek gaan gou ’n bietjie koffie maak. Ek sal dit sitkamer toe bring. Of … of is meneer in die studeerkamer besig?”
“Ek was in die studeerkamer besig, maar die kinders hou my al die afgelope uur aan die gang.”
Hy draai egter nie sitkamer toe nie, maar stap saam met haar kombuis toe, waar hy hom teen die kosyn gemaklik maak en haar fronsend dophou.
Sy skakel die koffiemasjien aan en sit ’n bietjie melk in ’n kastrolletjie op die stoof om te kook.
Verleë staan sy rond terwyl sy donker blik haar deur die vertrek volg.
“Het meneer al geëet?” Sy vra dit sommer net om iets te sê.
“Nee, ek is nie honger nie.”
Verbaas stap Sarie by hom verby tot in die eetkamer. Sy kos staan onaangeraak in die louoond en die tafel is nog steeds netjies gedek.
“Wil meneer nie maar iets gaan eet nie?”
Nors staar hy voor hom uit, sonder om haar te antwoord. Sarie onderdruk die giggeltjie wat binne-in haar kriewel.
Nou gedra hy hom darem net soos ’n stout kind. Sy moes hom nie alleen gelaat het nie. Onwillekeurig raak haar stem net so paaiend soos haar moeder Saartjie s’n wanneer sy haar vyf Wessels-mans ongemerk om haar pinkie draai. ’n Fyn glimlaggie raak-raak aan haar mondhoeke.
“Kom, ek sal daar by meneer kom sit. Ek weet dit is nie lekker om alleen te eet nie.” Sy draai om en trek die kastrolletjie melk van die stoof af voordat sy haar weer tot Hugo wend en liggies aan sy arm trek. “Toe, meneer kan nie heeldag so sonder kos bly nie. Kom eet!”
Sonder teëpraat laat Hugo hom oorreed en stap saam met haar eetkamer toe. Sy skep vir hom kos in en gaan sit dan op haar plek.
Hugo eet smaaklik. Hy kom nou eers agter hoe honger hy regtig is. Wanneer hy ’n keer vinnig opkyk, betrap hy haar blik peinsend op hom. Sy glimlag stadig vir hom, ’n glimlag wat om haar mond begin en stadig opskuif tot in haar oë, en ’n snaakse weekheid kom lê in sy hart.
Wat ’n pragtige, ongekunstelde mensie is sy tog! Sy gee net altyd en verwag so min terug. Kan daar dan nog sulke mense wees, of is dit ’n front wat sy voorhou omdat sy bybedoelings het? Hy skud sy kop effens en verag homself omdat hy haar al weer wantrou.
“Waar bly jou mense, juffrou –?”
“Ag, meneer kan maar vir my Sarie sê. Ek en my ma het dieselfde naam en sy sê altyd dit is omdat ons een ou huishulp ook Saartjie was en sy nog onder die teken van die Waterdraer gebore is dat sy altyd ’n waterdraer en houthakker sal wees.”
’n Breë glimlag trek onverwags om Hugo se mond toe hy na haar vrolike gesiggie kyk. “Sarie pas jou. Dit is so … so huislik.”
Sarie lag ongelowig en skud net haar kop. Sy wonder of hy al ooit aan haar gedink het as mens. Haar naam klink seker vir hom huislik omdat sy kook, was, stryk en kinders oppas …
Sy skep vir hom nagereg in en staan dan op om vir hulle koffie te gaan haal.
“Kom ons gaan drink in die sitkamer koffie.” Hugo keer haar toe sy die koffie wil skink. “Dit is warmer daar.” Hy tel die skinkbord op en stap gemaklik agter haar aan.
Sarie skink vir hom koffie en skuif so na as moontlik aan die vuurtjie. Sy is nog steeds sonder skoene en haar voete kry koud.
“Hoe gaan dit met Paul … met meneer se skoonsuster?”
“Sy het vandag weer baie pyn gehad en Paul sal seker maar vannag by haar bly. Hy het ’n kamer in die hotel naby die hospitaal waar hy kan tuis gaan.”
“Sal sy nog lank so baie pyn hê? Dit is darem al amper tien dae vandat sy geopereer is.”
“Nee, Paul sê dit behoort van volgende week af beter te gaan.”
“Meneer, die kinders … wil sy hulle nie dalk sien nie? Ek … ek kan hulle mos maar neem.”
Hugo vermy effens ongemaklik haar oë. “Ek wou gehad het ons moet vanmiddag gaan, maar …”
“Ag! Meneer moes net gesê het …” Sy bly skielik stil toe sy aan die onaangenaamheid van die middag dink.
“Kan ons môremiddag gaan, of sal meneer dan besig wees?”
Hugo se blik rus geheimsinnig op haar toe hy antwoord: “Ons kan, as jy nie ’n ander afspraak het nie – dit is môre Anton se laaste dag hier; hy gaan oormôre terug.”
“Ek sal graag die kinders na hul ma toe wil neem. Ek dink hulle verlang na haar, hulle praat heeldag van haar.”
Hugo praat nie verder nie, maar verwonder hom weer eens aan die mooi, opregte jong meisie wat altyd háár belange op die agtergrond skuif. Hoeveel van haar soort is daar nog in hierdie wêreld?