Читать книгу Die Jongste Meisie in Maasdorpskool - Stella Blakemore - Страница 4
1
Оглавление_____________
In die knyp
Kobie gooi die komberse af, steek haar vingers deur haar goue krulle en gaap. Al is dit nege-uur in die môre is die gordyne nog toegetrek, en in die bed oorkant hare is niks van die slaper te sien nie, behalwe ’n klein bondeltjie. Maar Kobie is wakker, en sy kan nie insien hoekom ander mense nog wil slaap nie.
“Haai!” roep sy.
Die bondel in die ander bed kreun effens en rol om.
“Haai is in die see!” sê Elsabe ontevrede. “Is dit dan al dag?”
“Natuurlik! Jy dink seker ek het jou die laaste paar dae van die vakansie huis toe gebring sodat jy kan lê en slaap. Haikona, ek soek geselskap!”
Elsabe gaap.
“Dit lyk vir my julle mense slaap nooit nie. Ons het gisteraand twaalfuur eers kom slaap en my oë voel behoorlik asof hulle vol sand is. Maar die opvoering was darem pragtig. Ek het so iets nog nooit gesien nie.”
“Dis lekker om soos jy te wees,” sê Kobie. “Jy is ’n hele veertien jaar oud en tog is daar so baie dinge wat jy nog nooit gesien het nie. Ek wens ek het my lewe op ’n eensame plaas deurgebring.”
“Dit dink jy maar!” sê Elsabe. “Kyk hoe swaar het ek verlede kwartaal gekry toe ek skool toe gekom het. Maar dis iets van die verlede. Nou dink ek Maasdorp is die wonderlikste skool op die aarde. O, goeiemôre, mevrou Malan.”
Mevrou Malan kom die kamer binne en trek die gordyne weg sodat die son kan inskyn. Sy kyk ontevrede na Kobie terwyl sy Elsabe sonder ’n glimlag antwoord.
“Goeiemôre! Gaan julle meisies nie vanoggend opstaan nie, Jacoba?”
“Ja, Mammie,” antwoord Kobie ewe beleef. Haar ma is die enigste mens vir wie sy regtig bang is. “Ons het nou net wakker geword.”
“Dit kon ek verwag het! Ek hou niks daarvan dat kinders van julle ouderdom saans uitgaan en dan eers twaalfuur huis toe kom nie. Jou pa bederf jou gans te veel. Dis ’n goeie ding jy en Elsabe gaan môre terug skool toe. Soos dit vir my lyk, is Elsabe al klaar net so stout soos jy. Staan nou gou op. Ek wil julle winkel toe stuur.”
“Ja, Mammie.”
Toe mevrou Malan uit is, slaak Kobie ’n sug.
“In my ma se oë doen ek alles verkeerd, selfs al slaap ek. Kom, ons moet opstaan. Hoe lyk dit met ’n mooi rok? Van môre af dra ons net weer skooldrag.”
Dis vir Kobie tog te lekker om inkopies te gaan doen. Na ’n vinnige ontbyt laat spat hulle stad toe. Hulle verkyk hulle aan al die mooi goed in die winkels. Toe hulle klaar is met hulle inkopies vra Kobie: “Wat gaan ons nou doen?” Sy het glad nie lus om nou al huis toe te gaan nie.
“Ek dink ons moet huis toe gaan. Jou ma het tog gesê ons moenie in die stad rondloop nie,” antwoord Elsabe.
“Maar dis nog twee ure voordat ons eet. Wat gaan ons by die huis doen?”
“Ons kan solank inpak. As ons vanmiddag by Hannie gaan kuier, sal ons nie veel tyd hê om alles vir môre klaar te kry nie.”
“Ag, dis niks! Daar is nog baie tyd. Kom ons gaan koop vir ons sjokolade by Cartwright en dan gaan loop ons in die Tuine rond. Terloops, hoeveel geld het jy?”
“Al my sakgeld vir die kwartaal, maar dis by jou ma. Sy sê dis te veel om mee rond te loop.”
“Het jy darem ’n paar rand? Dit sal genoeg wees vir lekkers,” sê Kobie.
Hulle is skaars in die winkel toe hulle ’n vriendelike stem hoor.
“Kobie! Hallo, Elsabe!”
Kobie se gesiggie straal van plesier. “Dis Tokkie! Maggies! Jou hare het nog rooier geword!”
“Los my hare uit!” lag Tokkie. “Wag maar dat ons môre by die skool kom, dan sal ek jou leer hoe jy met ’n ouer mens moet praat.”
“Jy lyk ouer!” spot Kobie. “Jy verjaar net vyf maande voor my.”
“Dan is ek byna ’n halwe jaar ouer as jy. O, ek het vergeet! Dis my neef hierdie.”
Kobie kyk na die seun.
“So?” sê sy. “Wat is jou naam?”
“Tom Meyer,” antwoord Tokkie se neef. Hy lyk half geamuseerd oor Kobie se reguit vraag. Sy is minstens twee jaar jonger as hy en boonop nog vreeslik klein vir haar ouderdom. “Ek ken jou goed. Ek het jou in Maasdorp hoor klavier speel.”
“En dis Elsabe van den Heever,” stel Tokkie haar maat voor. “Sy is vreeslik slim. Sy was verlede kwartaal eerste in die klas.”
“Dit lyk my julle is almal so briljant,” sê Tom so ’n bietjie uit die hoogte. “is dit dan nie julle klomp wat sommer na die eerste kwartaal na graad tien oorgeplaas is nie?”
“Ja!” sê Kobie.
“Dis ’n skande! Julle behoort nog in graad drie te wees. Ek kry die onderwyseresse jammer wat vir julle somme moet leer.” Kobie trek haar neusie op so ver as dit wil gaan.
“Jou nefie het slegte maniere,” sê sy vir Tokkie. “Dit het hy seker by sy skool geleer.”
“Dit spyt my dat jy nie van my hou nie,” sê Tom. “Ek wou julle nog vra om saam met my roomys te gaan eet.”
“Gaan jy dit nie meer doen nie?” vra Kobie teleurgesteld.
“Nie as jy aanhou om te sê dat ek slegte maniere het nie.”
“Nou ja, miskien lyk dit maar net so. Ons sal jou eers beter moet leer ken.”
Tom is hiermee tevrede. Dis vir hom alte lekker om grootman te speel. Ewe trots stap hy saam met die meisies koffiekamer toe.
Onder gelag en rumoer loop die kinders die pragtige koffiekamer binne. Die mense kyk die vier kinders verwonderd aan. Elsabe lyk ontsteld.
“Ek is seker ons doen die verkeerde ding,” fluister sy vir Kobie. “Jou ma het gesê ons moenie laat huis toe kom nie.”
“Bly tog stil,” sê Kobie. “Ons spaar mos die geld wat ons op sjokolade wou uitgee! Ons sal net ’n halfuur bly.”
“Maar ek dink nog dis nie reg nie. Ons kan nie dat hy so baie geld spandeer nie.”
“Ag, hou op met kerm!!” kla Kobie. “Ek weet van Tom se mense. Hulle is ryk. Hulle het ’n plaas by Maasdorp, omtrent tien kilometer van die dorp af. Dit sal hom nie arm maak om vir ons roomys te betaal nie.”
“Wat fluister julle twee?” vra Tokkie.
“Dis Elsabe. Sy is bang jou neef sal bankrot raak as hy vir ons elkeen ’n roomys koop.”
Tom lag.
“Moenie jou daaroor bekommer nie! Vandag is ek skatryk. Ek het ’n hele sak vol geld.”
“Sien jy?” sê Kobie vir Elsabe. “Seuns het altyd meer geld as meisies!”
“Dit hang af,” sê Tokkie. “Kinders is maar so ryk of so arm soos hulle ouers wil hê. Kyk vir arme ou Terrie. Al is haar mense so ryk, gee haar pa haar byna niks sakgeld nie. Hy sê dit verlei haar of so iets.”
“Wat kan ek vir julle bestel?” vra Tom toe die kelnerin opdaag.
“Ag, net ’n roomys,” sê Kobie.
Sy verwag niks meer van Tom se beursie nie.
“Niks van dié aard nie! Ons begin met ’n vrugteroomys.”
“Dit lyk my jy’t geld geërf,” sê Kobie. “Weet jy dat een van daardie goed nogal duur is?”
“So? Dis vandag my pa se verjaarsdag, en hy het vir my hope geld gegee.”
“Omdat dit sy verjaarsdag is?” vra Elsabe. “Dis ongewoon. Jy behoort hom mos eintlik ’n geskenk te gee.”
“Dan sou ons nie nou so lekker kon eet nie,” sê Kobie.
Toe die groot bakke roomys met sjokolade en kersies eindelik kom, praat nie een ’n woord verder nie. Die vier maats eet asof hulle vandag nog nie kos gesien het nie. Tom geniet dit so om te sien hoe die meisiekinders weglê dat hy op die plek sommer vir elkeen nog ’n pynappelparfait bestel.
“Dis regtig baie duur, as jy miskien nie weet nie,” kom dit weer van Kobie. “Ai, dis darem gaaf dat jou pa verjaar, Tom! My pa sou my nooit meer as een laat eet het nie.”
Vir elkeen ouer as veertien mag dit wel ongelooflik klink, maar die parfaits word deur koffie en roomkoek gevolg.
“Dit was te heerlik!” sê Kobie toe die laaste krummeltjie koek opgeëet is. “Dis die eerste maal in my lewe dat ek regtig genoeg van so iets gekry het.”
“Baie dankie,” sê Elsabe. “Maar moet ons nie nou liewer gaan nie, Kobie? Jy weet jou ma sal kwaad wees as ons so laat terugkom.”
“Ja,” sug Kobie.
“Nou goed,” sê Tom, “maar is julle seker julle wil niks meer eet nie?”
“Ons het regtig nie nou tyd nie,” antwoord Kobie.
Tom knik vriendelik vir die kelnerin.
“Die rekening, asseblief.”
Sy oorhandig die rekening.
“Dis vreeslik!” sê Kobie, maar sy lyk nie juis jammer daaroor nie.
“Ag, dit kan maar elke dag gebeur!” lag Tom.
Hy steek sy hand in sy sak om die geld uit te haal, maar o, wêreld hy kry niks. Die glimlag verdwyn van sy gesig. Hy soek in al sy sakke, maar kry nie ’n sent nie. Sy gesig word beurtelings rooi en wit van verleentheid.
“Betaal, asseblief,” sê die kelnerin streng.
“Ja … ja!” sê Tom. “Maar ek kry nie my geld nie. Dis vreemd!”
“Baie vreemd!” Die kelnerin klink sarkasties.
“Wat het jy dan daarmee gemaak?” vra Tokkie bang.
“Ek moes dit in my ander klere laat bly het. Na die ontbyt het ek hierdie klere aangetrek en ek het seker vergeet om die geld uit te haal.”
“Ons sal maar soveel betaal as wat ons kan,” sê Kobie. “Ek het ’n bietjie geld, en jy, Elsabe?”
“Nie veel nie.”
“Tokkie?”
“Ook nie.”
“Sal jy maar vat wat ons het?” vra Kobie met ’n pragtige glimlag. “Dan sal Tom vanmiddag die ander kom betaal.”
“Betaal, asseblief!” sê die kelnerin sonder medelye.
Sy is moeg van die hele oggend se staan en sien Kobie se kuiltjies nie eens raak nie. “Mens moet eers kyk wat jy in jou sak het voor jy bestel. As ek nie nou dadelik die geld kry nie, sal ek die bestuurder moet roep.”
Tom word nou regtig bleek.
“Maar dis onmoontlik! Ons is nie diewe nie!”
Die kelnerin kyk hom stip aan.
“Julle is skoolkinders wat meer as gewoonlik bestel het en nou kan julle nie daarvoor betaal nie. Ek gaan die bestuurder roep.”
Tom spring op.
“Jy mag dit nie doen nie. Dis nie die meisies se skuld nie. Ek sal saam na die bestuurder toe gaan.”
“Goed!” sê sy.
Kobie staan ook op.
“Nee, wag! Ons het saam geëet! Jy kan nie alleen gaan nie. Ons kom ook.”
Dis vier verleë mense wat die kelnerin volg. Om darem so voor al die mense in die koffiekamer na die bestuurder se kantoor te loop, is geen grap nie. En op die koop toe hoor Kobie ’n dame sê: “Ag, dis mos die Malan-meisietjie wat so wonderlik klavier speel!” Sy voel of sy in die aarde kan wegsink.
Kobie se vader is ’n bekende parlementslid en haar moeder dien op al wat komitee is. Kobie het self ’n paar weke gelede saam met die orkes in Maasdorp opgetree en dit is dus geen wonder dat iemand haar sou herken nie.
“O, maggies! Dis mevrou Cronje. Sy soek mos witvoetjie by my ma. Dit sal nie lank wees nie dan weet my ma dat ek kantoor toe gesleep is.”
Kobie wil sommer huil.
Elsabe kyk om.
“Kom ons hardloop!” sê sy.
“Hardloop?”
“Ja. Hier is die groot deur. Hulle sal ons nooit vang nie. Dan gaan vra ons gou vir jou pa die geld en bring dit.”
“Vir ’n mens wat net aan die plaaslewe gewoond is, is jy heeltemal dapper!” sê Kobie tussen huil en lag. “As ons probeer weghardloop, sal hulle ons vang en die polisie roep. Ek sal veel eerder die polisie wil teëkom as my ma!”
Op daardie oomblik praat iemand agter hulle.
“Ekskuus!”
Almal, ook die kelnerin, draai om. Die meisies is verras toe hulle sien wie dit is. Hy is groot en sterk, met pikswart hare waarin een silwer streep wys asof ’n gepoeierde vinger daaroor gevee het. Sy oë is donker en sonder vreugde.
“Wat is die probleem?”
Die kelnerin antwoord: “Hulle kan nie hulle rekening betaal nie.”
Kobie verduidelik gou.
“Tom het sy geld in sy ander klere vergeet en nou kan hy nie die rekening betaal nie.”
“Ek sal dit vir julle betaal.”
“O, maar dis te goed van u,” sê Tom verbaas. “Hoekom wil u so iets vir vreemdelinge doen?”
“Hy is nie ’n vreemdeling nie,” sê Kobie vrolik. “Ons ken hom goed, maar miskien ken Meneer ons nie persoonlik nie. Ons is in Maasdorp op skool.”
Dit lyk nie juis asof hy hom aan die inligting steur nie. Hy betaal die rekening en loop sonder ’n woord weg. Die kinders probeer ook so gou as moontlik onder die ander mense se oë uitkom. Hulle haal skaars asem totdat hulle weer in die straat is.
“Haai, dis ’n snaakse man, al het hy ons lewens gered,” sê Tom.
“Ken julle hom regtig? Wat is sy adres sodat ek die geld vir hom kan terugstuur?”
“Dis meneer Van Velde,” antwoord Tokkie. “Hy is baie ryk. Daardie wonderlike huis en tuin langs die skool behoort aan hom, maar hy’s vreeslik nors – net soos jy hom vandag gesien het. Hy haat die Maasdorpmeisies en is net tevrede as hy die skool kwaad kan aandoen. Ek was verstom toe ek sien hy betaal die rekening.”
“Dit spyt my regtig dat ek julle so lelik in die steek gelaat het,” maak Tom verskoning. “Ek weet nie hoe ek so ’n gek kon wees nie!”
“Ag nee wat!” lag Elsabe vriendelik. “Jy kon dit tog nie help nie. Ons sal later nog almal daaroor lag.”
Kobie is woedend.
“O, so! As jy dink my ma sal hieroor lag, maak jy ’n fout. Dit kom daarvan as mens jou ophou met klein seuntjies wat nog nie droog agter die ore is nie!”
Sy stap so vinnig weg dat Elsabe moet hardloop om haar in te haal.
“My tyd!” sê Tom na ’n oomblik van stilte. “Sy is darem kwaai!”