Читать книгу Die Jongste Meisie in Maasdorpskool - Stella Blakemore - Страница 8
5
Оглавление_____________
Breggie vind haar Moses!
Hannie voel verlig. Sy het Breggie tot die aandete nie weer gesien nie en toe het sy heeltemal gelukkig tussen haar nuwe maats gelyk. Die ander hou blykbaar van haar, want hulle luister gretig na wat sy sê. Na die ete het Hannie haar buite in die tuin hoor lag.
Maar om halfnege toe die graadneges in een van die klaskamers besig is om hulle boeke uit te pak, laat Breggie weer van haar hoor.
Hannie is net besig om Kobie ’n nuwe danspassie te leer, toe Hester, een van die huishulpe, haastig binnekom.
“Asseblief, Hannie, juffrou Van der Westhuizen wil hê jy moet gou-gou na jou sussie kom. Sy huil vreeslik!”
Hannie is onrustig.
“O, ek het nog nie vir haar nag gesê nie. Huil sy daaroor?”
“Ek dink nie so nie. Juffrou Cillié en juffrou Van der Westhuizen probeer al meer as ’n halfuur lank om haar stil te kry.”
“Is sy siek?”
“Sy sal siek word as sy so aanhou met huil.”
“Weet jy dan nie wat makeer nie?” vra sy terwyl hulle vinnig die gang afloop.
“Ek dink sy hou nie van die kamer nie. Sy voel glo nie tuis nie.”
Voor Hannie op die tweede verdieping is, hoor sy reeds Breggie se geskree. Sy is verstom. So iets gebeur net nie in Maasdorp nie. As mens wil huil, steek jy jou kop onder die kussing in sodat niemand jou kan hoor nie. Hester maak die deur oop. Juffrou Cillié sit op Breggie se bed en probeer om haar te troos, terwyl Breggie met rooi gesig en hare wat deurmekaar is een skree na die ander laat hoor. Die ander kleintjies kyk haar verskrik aan. Juffrou Van der Westhuizen staan by die voet van die bed en lyk sonder raad.
“Stil tog, liefling!” soebat juffrou Cillié. “Kyk, hier is Hannie. Hannie, probeer jy tog om haar te laat ophou. Ons is bang sy sal siek word van hierdie gehuil.”
Dis net wat Breggie wil hê. Sy skep weer asem en begin jammerlik steun.
“Breggie, wat is dit dan?” vra Hannie.
“O, Hannie, moenie weggaan nie! Ek is so ongelukkig!”
“Maar wat makeer? Is jy siek?”
“Ja. Ek het ’n pyn in my sy, en kopseer en … o, dis vreeslik!”
“Ek het nooit geweet ’n kind kan so aanhou nie!” sê juffrou Cillié.
“Nege jaar is tog ’n bietjie te oud daarvoor!” sê die hoof. “Gedra sy haar by die huis ook so?”
“Ja, Juffrou,” sê Hannie ongelukkig.
“So! Ek wens ek het daarvan geweet voor ek haar ingeneem het! Sy sê sy gaan so aan omdat sy in jou kamer wil slaap.”
“Ag, Breggie!” sê Hannie. “Hoekom is jy so stout? Wat sal Mammie sê?”
“Ek wil Mammie hê! Ek wil my mammie hê!” is die antwoord.
Hannie lyk verleë. Die hoof dink seker haar ma is nie streng genoeg nie.
“Sy gaan gewis nie hier so maak nie!” sê die hoof beslis. “Luister na my, Breggie. As jy nie dadelik ophou nie, sal ek môre aan jou ma skryf en haar vra om jou weg te neem. Sal dit nie ’n skande wees nie?”
“Nee,” steun Breggie. “Ek wil Mammie hê! As Juffrou gou-gou vir haar skryf, kan ek nog saam met haar en Pappie Matjiesfontein toe gaan.”
“Breggie!” sê Hannie.
Sy is verstom oor sulke stoutigheid.
Die gehuil en gesnik word al hoe harder.
“Ons moet iets doen!” sê juffrou Cillié. “Sy kan nie so aangaan nie. Sy sal siek word en die ander kinders moet slaap. Daar moet ’n manier wees om haar stil te kry.”
Breggie het ’n plan …
“Ek sal gelukkiger wees – of ten minste nie so baie ongelukkig nie – as ek in Hannie se kamer kan slaap.”
Sy loer onderlangs na die twee onderwyseresse om te sien hoe hulle reageer. Juffrou Van der Westhuizen lag byna. Sy kyk juffrou Cillié hulpeloos aan.
“Het jy ooit geweet ’n kind kan so aanhou?”
“Nooit nie. Ek weet nie wat ons moet doen nie. Dit sal sleg wees vir die dissipline om toe te gee.”
Hester, wat by die deur staan, kom nou vorentoe.
“Moet ek nie vir Matrone gaan roep nie? Sy is onder in die kombuis.”
“Uitstekend,” sê juffrou Van der Westhuizen. “Dis ’n goeie idee.”
Hester loop gou kombuis toe.
“Hoekom kan jy nie jou sussie laat ophou huil nie?” vra die hoof ongeduldig vir Hannie.
Dit, dink Hannie, is baie onregverdig. As sy en juffrou Cillié wat al honderde meisies deur hul hande gehad het, niks met Breggie kan uitrig nie, hoe kan hulle dit van haar verwag?
Maar die een mens wat kan help, is nou op pad van die kombuis af. Terwyl Matrone haastig die trap opkom, vertel Hester haar die storie.
“Dis Hannie se sussie, Matrone. Sy het aangehou met huil van aandete af, en die twee juffrouens en Hannie kan haar glad nie laat ophou nie.”
“Wat makeer sy?”
“Sy wil in Hannie se kamer slaap.”
“O so!” sê Matrone.
Sy maak die kamerdeur agter haar toe en kyk Breggie streng aan.
“Wat makeer jou?” vra sy skerp.
“Ek wil by Hannie slaap,” kom die antwoord deur ’n hewige gesnik.
“Nou, jy gaan nie. Verstaan jy?”
’n Hartverskeurende gesteun is die enigste antwoord.
“Gaan jy nou dadelik ophou met huil? Want ek gaan nie toelaat dat jy die ander wakker hou nie. As jy nie dadelik ophou nie, gaan ek jou na die siekekamer neem en jou daar in die bed sit. Dis ver weg van die ander kamers en ek gaan jou daar opsluit sonder ’n lig en jy kan tot môreoggend skree, want niemand sal jou hoor nie. Gaan jy nou stilbly?”
Breggie bly ’n oomblik stil, dan begin sy weer, dié keer nog harder.
Matrone tel haar op en loop met haar by die kamer uit. Na die geraas is dit baie stil.
“Lê nou dadelik en maak julle oë toe,” beveel juffrou Van der Westhuizen die ander kleintjies. “Dadelik, Heloise, of jy gaan ook siekekamer toe.”
Die twee onderwyseresse en Hannie is verbaas toe Matrone ’n paar minute later met Breggie terugkom. Breggie is nou heeltemal rustig en tevrede. Daar is nog traanmerke op haar gesiggie, maar sy lyk wonderlik kalm as ’n mens dink hoe sy net ’n tydjie gelede gehuil het.
“Dadelik in die bed!” sê Matrone streng. “Ek wil nie ’n woord verder hoor nie, of jy gaan terug siekekamer toe. Wil jy graag gaan?”
“Nee,” sê Breggie. Sy trek haar laken op. “Dis te donker. Ek sal nie omgee om daar te slaap nie as ek net eers die kamer in die dag gesien het, maar dis nie lekker om nie te weet wat rondom jou in ’n vreemde plek is nie.”
Matrone byt haar lip.
“Gedra jou dan maar.” Sy gee vir Breggie ’n glas water. “Hoe voel jy nou?”
“Goed, dankie,” sê Breggie vriendelik. “Ek voel altyd lekker as ek goed gehuil het.”
Sy gaan lê en maak haar kop toe met die deken. Dan sit sy weer penorent.
“Ek wonder …” sê sy.
“Wat?” vra Matrone.
“Sal dit nie snaaks wees as ek weer in my slaap begin huil nie?”
Matrone stik van die lag.
“Pas op dat dit nie gebeur nie!” is haar advies.
“Hoe het jy haar stilgekry?” vra juffrou Van der Westhuizen buite in die gang.
Sy kyk Matrone aan met die grootste agting.
“Ek het haar ’n paar minute in die donker siekekamer laat staan. Toe het ek die deur oopgemaak en gevra of sy die hele nag daar wil bly. Sy het gesê nee.”
“Hoe het jy aan die plan gekom?”
“Liewe tyd! Ek het mos my eie twee grootgemaak!”