Читать книгу Die Jongste Meisie in Maasdorpskool - Stella Blakemore - Страница 7
4
Оглавление_____________
Breggie kry ’n maat
Breggie sit aan die etenstafel. Haar hele gesiggie getuig van afkeer. Al het sy nog nie heeltemal hoop opgegee nie, lyk dit tog nie asof sy by Hannie sal kan slaap nie. Daar was ’n kalme beslistheid in Matrone se optrede wat die nuwe leerder ’n bietjie onrustig laat voel het. Haar klere is alles in haar kas in die graadvyfs se slaapkamer weggepak. Al mag sy nou aan Hannie se tafel sit, is dit net vir vandag. Van môre af moet sy by die jonger kinders gaan eet. Sy vind die groot meisies se geklets baie vervelig.
“Hier is ons almal weer!” sê Tokkie. “Ek wonder wat gaan hierdie kwartaal oplewer. Kan julle julle indink hoe dit in graad tien gaan wees?”
“Nee, al wat ek weet, is dat ons ver agter is,” sê Hannie. “Ons sal seker baie ekstra klasse kry en ek moet erken ek is nie juis lus daarvoor nie. Ons het verlede kwartaal genoeg gehad.” Terrie lag skalks.
“Ek het ’n lekker stukkie nuus vir julle,” sê sy. “Wie dink julle gaan julle onderwyseres wees?”
“Juffrou Cillié, natuurlik,” antwoord Kobie. “Sy is mos die graadtiens se onderwyseres.”
“Dit dink jy maar. Sy gaan nou graad elf oorneem.”
“Ag, loop!” sê Tokkie. “Hoekom sal hulle ná die eerste kwartaal ’n verandering maak?”
“Omdat die graadtiens so swak doen. Wessie dink ’n strenger juffrou sal meer met julle kan uitrig.”
“Hoe weet jy dit?” vra Tienkie.
“Wessie het seker in die vakansie geskryf om jou advies te vra,” sê Bettie effens katterig.
“Nee, sy het nie.” Terrie is goedmoedig. “Maar sy het my niggie Adele by Muizenberg ontmoet en met haar oor die skool gesels. Adele was vantevore ook hier en sy was baie gek na Wessie.”
“En wie kry ons dan miskien?” vra Kobie.
“Yskis!”
Terrie wys ’n ondeunde glimlag.
Die sewe meisies wat na graad tien oorgeplaas is, kan dit nie glo nie. Hul gesigte is die ene verbasing en misnoeë. “Wat!” kry Kobie eindelik uit.
Net Elsabe lyk hoog in haar skik.
“Ek is bly!” sê sy.
“Is jy van jou verstand af?” vra Kobie. “Net omdat jy met Yskis dweep, wil jy hê ons moet almal psalms van geluk sing noudat sy ons in die hande het? Dit kan tog nie waar wees nie!”
“Dit is waar,” sê Elsabe ’n bietjie sku. “Sy het dit vir my in die vakansie geskryf.”
“Wie het?”
“Juffrou Muller.”
Die brood val uit ’n hele paar hande.
“Mag!” kry Tokkie eindelik uit.
“Wil jy vir my sê dat Yskis vir jou geskryf het?” vra Kobie.
Elsabe word ’n bietjie rooi. “Ja.”
“Maar hoekom?”
“Omdat ek vir haar geskryf het. Sy het net geantwoord.”
“Jy is ’n wonderlike mens!” sê Hannie. “Hoe het jy Yskis so mak gekry?”
Elsabe vererg haar.
“Julle is verspot. Waar kom julle almal aan die idee dat juffrou Muller so kwaai is? Kobie, jy het tog self gesê sy was baie aangenaam daardie dag toe sy jou met haar motor na die orkesoefening geneem het.”
“Ja, ek het, en ek trek dit nie terug nie, maar Yskis buitekant die skool en Yskis in die klas is twee verskillende mense! Dit was erg genoeg toe ons haar net vir wiskunde gehad het. Ek kan my nie indink hoe die lewe nou sal wees nie.”
“Toe ek vanmiddag gekom het, het ek haar hier voor raakgeloop,” sê Tokkie. “Noudat ek terugdink, kan ek onthou daar was so ’n besonderse lig in haar oë.”
“Ag, onsin!” sê Elsabe. “Julle maak julle verniet bang. Ek het nog nooit met juffrou Muller moeilikheid gehad nie.”
“Nou ja, ek het!” sê Terrie nadruklik. “Eenkeer het my suster vir my ’n soort salf gegee om hierdie aaklige sproete mee weg te neem. Die eerste maal wat ek dit gebruik het, het my gesig vel-af gegaan en toe Yskis daarvan hoor, het sy die salf gevat en ek het dit nooit weer gesien nie.”
“Jy behoort bly te wees!” sê Elsabe. “Jy kon tog nie aanhou om die vel van jou gesig af te brand nie!”
“Wat ek graag wil weet, is wat het van daardie buisie salf geword, dis al!” sê Terrie op ’n suggestiewe toon. “Sy’t g’n reg gehad om dit te hou nie. Sy het dan nie eens sproete nie.”
“Ja-nee,” sê Kobie. “’n Sproet sou nooit op haar kon bestaan nie. Die arme dingetjie sou doodgaan van skrik.” Breggie stoot aan Hannie se arm.
“Het jy klaar geëet?” vra sy. “Ek het. Kom ons loop.”
“Sjuut!” sê Hannie.
“Ja, maar hoekom moet ons hier bly sit as ons klaar geëet het?”
“Bly tog stil! Wat makeer jou vandag? By die huis staan jy nie sommer op as jy klaar is nie. Hoekom wil jy dit hier doen?”
“Ek ken nie een van hierdie meisies nie en hulle praat bog. Ek kan nie sien hoekom ek na hulle gebabbel moet sit en luister nie.”
Hannie kyk op om te sien of die ander gehoor het, maar gelukkig is hulle te besig om juffrou Muller te bespreek.
“Jy kan nie sommer maak soos jy wil nie,” sê sy vir Breggie. “Na die ete moet jy altyd wag tot Vera gedank het.”
Breggie skuif haar stoel.
“Ek dink die skool is ’n vreeslike nare plek!” sê sy bitter. “Ek wens ek het nooit hierheen gekom nie. Wat gaan ons nou doen?”
“As ons klaar uitgepak het, kan ons doen wat ons wil.”
“Dan kan ek en jy lekker gaan speel.”
“Nee, jy moet liewer die ander kleintjies leer ken. Ek sal jou speelkamer toe vat.”
“Nee, ek wil hulle nie ken nie.”
“Maar jy moet, anders sal jy niemand hê om mee te speel nie.”
“Ek gaan met jou speel.”
“Ja, maar jy kan nie altyd by my bly nie. Die ander kinders in my klas sal nie daarvan hou nie. Jy is nog te jonk.”
“Dis niks!” sê Breggie. “Noudat ek hier is, sal jy jou tog nie oor hulle bekommer nie.”
Hannie sug.
“Moenie so kinderagtig wees nie! Jy kan mos nie verwag dat ek al my maats moet prysgee nie. Jy moet jou eie maats maak.”
Breggie se onderlip bewe.
“Mag ek dan nooit met jou praat nie?”
Gelukkig lui die klokkie en nadat Vera gedank het, stap almal uit.
Kobie en haar maats loop en gesels.
“Waarheen gaan ons?” wil Tokkie weet.
“Noudat julle in graad tien is, mag julle na die groot meisies se sitkamer gaan,” sê Terrie.
“Nee dankie!” antwoord Kobie vinnig. “Ek gaan nie daarheen sodat die prefekte hulle neuse vir my kan optrek nie. Hulle dink mos die skool is spesiaal vir hulle gebou. Ruth word elke dag ’n bietjie erger, al is sy my suster. Verbeel julle, dis sy wat gister die telefoon beantwoord het toe daardie vroumens gebel het om my by Ma te verklik. In plaas van om stil te bly, gaan roep sy mooi my ma!”
“Foei, dis gemeen!” sê Terrie. “Hoekom het sy so iets gedoen?”
Kobie se gesig trek op ’n plooi toe sy haar ouer suster namaak.
“Sy sê sy gaan my nie meer beskerm nie. Sy sê ek moet nou regtig leer om my nie langer soos ’n laerskoolkind te gedra nie.”
“Maggies!” sê Tokkie. “Sy klink kompleet soos ’n onderwyseres!”
“Ek dink prefekte is maar naar,” sê Terrie. “So gou as wat meisies in matriek kom, verbeel hulle hulle is watwonders.”
Terrie kry ’n onplesierige gedagte.
“Eendag sal ons ook in matriek wees!” sê sy treurig. “Kyk, ek is byna vyftien. Nie te lank meer nie, dan loop ek soos ’n kalkoenwyfie rond en noem ander kinders babatjies.”
“Wat maak julle hier, meisies?”
“A, dis Matrone,” sê Kobie. “Ons staan sommer ’n bietjie en gesels.”
“Maar julle weet goed julle mag nie in die gange rondstaan nie,” kla Matrone. “Gaan na julle klaskamer. En toe, Breggie, wat maak jy hier onder die grotes?”
’n Ander kind sou stom en verleë gestaan het, maar nie Breggie nie.
“Ek wag tot Hannie klaar gepraat het sodat sy met my kan kom speel,” sê sy met ’n vriendelike glimlaggie.
Matrone se oë skitter, maar sy hou haar gesig ewe ernstig. “Nee, Hannie kan nie met jou speel nie. Jy mag nie die hele tyd by die groot meisies wees nie. Kom, ek sal jou na die speelkamer neem waar jy die ander kleintjies kan ontmoet.”
“Dankie …” begin Breggie, maar Matrone vat haar hand en loop met haar weg.
“Asseblief,” sê Breggie. “Mag ek dan liewers alleen bly as ek nie met Hannie mag praat nie? Ek wil nie die ander kleintjies ontmoet nie.”
“Hoekom nie?”
Breggie se oë is soos twee viooltjies.
“Ek is bang!”
Matrone lag.
“Skaam jou! So ’n groot meisie!”
Breggie bly staan, diep ontevrede.
“Ek is nie so baie groot nie,” sê sy. “Ek is maar nege jaar oud en Mammie wil liewer hê ek moet by Hannie slaap, en ek wil ook liewer. Ek hou so ’n bietjie van die meisies in haar kamer.”
“So,” sê Matrone, wat nou nie meer haar lag kan hou nie. “Ek kan jou wed dit sal jou niks goeds in die sak bring as jy van hulle hou nie. Hier is ons nou by die speelkamer.”
Dis ’n mooi groot vertrek met stoele en tafels en rakke vir boeke en speelgoed. Die kleintjies is almal besig om te speel of om van die vakansie te vertel.
“Heloise Malan!” roep Matrone. “Kom hier!”
Een van die kleinste meisies kom vorentoe.
“Heloise, dis Breggie Landsberg. Ek wil hê jy moet haar oppas en haar alles van die skool vertel. Sy is in jou klas en natuurlik ook in jou kamer. Laat haar by die aandete langs jou sit.”
“Goed, Matrone,” sê Heloise.
Matrone stap weg terwyl die twee mekaar staan en aankyk. Heloise wonder of iemand so mooi soos Breggie ’n bietjie lewe in haar kan hê. Sy twyfel sterk daaraan. Breggie, aan die ander kant, is nogal beïndruk deur Heloise. Al is sy soos Kobie klein vir haar ouderdom, lyk sy baie sterk. Gedurende die vakansie het sy haar hare soos ’n seun s’n laat sny, met net een groot krul op die voorkop.
“Hoe oud is jy?” vra Heloise.
“Nege en ’n kwart,” antwoord Breggie.
“Ek is tien,” sê Heloise. “Wens jy nie jy was so oud soos ek nie? Nege is nog vreeslik jonk.”
“Wat help dit om tien te wees as jy so klein is dat dit lyk asof jy maar agt is?” vra Breggie minagtend.
“As jy dit weer sê, trek ek jou hare!”
“Jy lyk net agt,” sê Breggie beslis. “En as jy my hare trek, sal ek joune ook trek.”
“Ek wil graag sien dat jy dit probeer.”
“Trek jy eers my hare, dan sal jy my sien probeer.”
“Ag!” sê Heloise. “Ek is baie sterker as jy. Ek kan met my broer boks, en hy is twaalf.”
“Ag,” sê Breggie op haar beurt, “my broer is al twintig en ek boks hom.”
’n Glimlag breek oor Heloise se gesig. Sy vat Breggie se hand en sê: “Kom ons gaan speel.”