Читать книгу Die Jongste Meisie in Maasdorpskool - Stella Blakemore - Страница 5
2
Оглавление_____________
Breggie gaan skool toe
“Ag, hou tog op, Breggie!” soebat Hannie vir die soveelste maal. “Ek sal nooit klaar ingepak kry nie!”
“Ek wil maar net kyk!”
“Hoekom? Dis my gimnastiekrokkie daardie. Jy ken dit goed genoeg en van môre af sal jy om elke hoek en draai een sien.”
“Ja, en ek is bly!” roep Breggie uit. “Dis wonderlik om te dink dat ek regtig alles gaan sien waarvan jy my vertel het. Ai, ek is so bly ek hoef nie tot volgende jaar te wag nie.”
“Ek wonder of jy oor ’n week nog so sal praat!”
Hannie is onrustig oor Breggie. Sy is maar net nege jaar oud en baie bederf. Hul vader is siek en ter wille van sy gesondheid is hy en haar moeder na Matjiesfontein sodat hy daar kan aansterk. Nou moet Breggie saam met Hannie Maasdorp toe gaan. Nie dat Breggie omgee nie. Nee, sy is baie opgewonde oor die vooruitsig.
“Sal ek die jongste in die skool wees?”
“Ja. Hulle neem nie kinders onder tien nie, maar juffrou Van der Westhuizen maak met jou ’n uitsondering om Mammie se ontwil.”
“Wie is in my klas?”
“Daar is Heloise Malan. Sy is Kobie se sussie en ’n regte klein skelm. Jy weet mos Kobie kom vanmiddag hiernatoe.”
“Ja. Watter soort mens is haar sussie?”
“Dit sal jy nog sien. Dan is daar Martha Human en Lina Weber en Naatjie Nel. Haar suster Tokkie is een van my maats. Ag, moet asseblief nie die goed uit daardie sak haal nie! Ek het dit nou net ingepak.”
Breggie maak ’n dik mond.
“Jy praat glad nie mooi met my nie! As jy altyd so naar gaan wees, gaan ek die skool haat.”
“Ag, maar ek het jou al honderd maal gevra om nie aan my goed te vat nie. Op Maasdorp sal jy die ouer meisies gehoorsaam moet wees.”
“Hoekom? Hulle is mos nie juffrouens nie.”
As daar een ding is wat Breggie goed kan doen, dan is dit teëpraat. Sy is nie juis daaraan gewoond dat iemand haar teëgaan nie.
“Jy moet gehoorsaam wees!” sê Hannie. “Jy sal swaar leef as die ander meisies agterkom hoe parmantig jy is. Hulle sal jou gou op jou plek sit.”
“Dit durf hulle nie doen nie! Jy het Mammie dan belowe om my op te pas!”
“Dit sal ek doen, ja, maar jy moet ook leer om jouself op te pas. Jy moenie altyd kom stories aandra nie. Jou maats sal dink dis gemeen.”
Breggie kyk met verskrikte donkerblou oë op.
“Moet ek dan glad nie vir jou kom sê as iemand my seergemaak het nie?”
“Natuurlik, as iets regtig verkeerd is, maar nie vir elke klein dingetjie nie.”
Breggie se lippe bewe.
“Ek sien al klaar hoe dit sal gaan!” kla sy. “Jy is glad nie van plan om vir my goed te wees nie! Jy is spyt dat ek saam met jou skool toe gaan!”
“Ag, moenie laf wees nie!” Hannie raak ongeduldig.
Sy sou miskien nog meer gesê het as haar ma nie op daardie oomblik die kamer binnegekom het nie.
“En toe, liefling! Hoe gaan dit met die inpak?”
“Goed dankie, Mammie. Ek is byna klaar en sal vanaand vir Mammie met Breggie se klere help.”
“Dis gaaf!”
Mevrou Landsberg streel albei donker koppe.
“Ek het slegte nuus vir julle. Jou maats sal nie vanmiddag kan kom nie, Hannie.”
“Ag, dis jammer! Ek wou so graag hê Mammie moes hulle ontmoet. Kobie is die mooiste meisie in die skool. Het hulle gebel?”
“Ja, mevrou Malan het met my gepraat. Sy is baie kwaad vir hulle. Hulle was vanoggend ongehoorsaam en as straf hou sy hulle vanmiddag tuis. Sy sê haar dogter is baie stout. Ek hoop tog nie sy leer jou ook verkeerde dinge nie, Hannie.” Hannie antwoord nie. As Kobie sê iets moet gedoen word, dan doen mens dit; so was dit nog altyd, van graad vyf se dae af.
“Ek is bly hulle kom nie,” sê Breggie. “Nou kan Mammie sommer dadelik my goed begin inpak! O, ek is so bly … bly … bly! Ek gaan môre skool toe!”
Maar die volgende oggend is dit ’n ander storie. Toe sy haar ma op die stasie groet, is daar van Breggie se opgewondenheid geen teken nie. Hoe verder hulle ry, hoe meer huil sy, tot Hannie naderhand nie meer raad weet nie.
“Wat makeer jou?” vra sy ongeduldig toe die gehuil al ’n goeie halfuur aanhou. “Jy was dan so bly om skool toe te gaan!”
“Ek wil Mammie hê!” skree Breggie.
“Ek wens jy wil nie net aan jouself dink nie! Jy is seker baie trots op jouself omdat jy Mammie so ongelukkig gemaak het, ná alles wat sy reeds met Pappie se siekte deurgemaak het! Jy kon gerus jou trane ’n bietjie ingehou het!”
Breggie vererg haar.
“Hoe kan ek my trane keer as ek hartseer is?” vra sy. “Jy gaan my sleg behandel! Ek wil huis toe gaan!”
Sy val op die bank neer en huil so hard dat Hannie se asem byna wegslaan.
“Bly nou dadelik stil! As jy so aangaan, sal die mense dink ek vermoor jou. Ek hoop nie jy dink jy kan op Maasdorp so maak nie. Die mense sal dink jy’s nie reg wys nie.”
Breggie se verwoede gesiggie is besmeer van die trane en stof van die bank.
“Jy baklei met my! Ek wil nie na jou ou skool gaan nie. As die ander meisies soos jy is, sal ek nooit ophou huil nie!”
Die geskree begin weer en Hannie, verskrik oor wat die ander mense sal dink, laat Breggie maar begaan. Sy vat haar boek en probeer om te vergeet dat sy vir haar verwende sussie verantwoordelik is. Toe Breggie sien Hannie neem nie notisie van haar gehuil nie, hou sy op en slaap! Kort voor Maasdorp skud Hannie haar wakker.
“Is ons amper daar?” vra Breggie opgewek, asof niks gebeur het nie. “Wie kom ons ontmoet? Waar is ons groot trommels?”
“Een van die onderwyseresse kom ons ontmoet en ons swaar goed word later gebring.”
Breggie trek haar skouers op en af.
“Ek voel snaaks!” sê sy. “Dink jy ek gaan siek word?”
“Natuurlik nie! Mens se maag kriewel maar so as jy senuweeagtig is. Kom, ek wil jou gesig afvee. Dis vuil.”
Die trein trek die stasie binne. Hannie kyk deur die venster.
“Daar is juffrou Cillié!” roep sy bly uit. “Ek is bly dis sy wat ons kom haal het. Sy’s baie gaaf.”
Hannie gee een van die tasse vir Breggie.
“Pas nou op as jy uitklim. Dis hoog!”
Juffrou Cillié gee Hannie ’n hartlike handdruk.
“Hoe gaan dit, Hannie? Is dit jou sussie? Sy’s nog maar jonk! Wat is jou naam?”
“Ek is Breggie.”
Breggie, met haar soet stemmetjie en groot donkerblou oë, steel dadelik juffrou Cillié se hart.
“Ek is bly om jou te sien. Jy is nou ons skool se baba.” Hulle klim in die motor en ry weg. “Nou moet julle eers vir juffrou Van der Westhuizen gaan groet, dan kan Hannie jou kamer vir jou wys. Matrone sal jou met die uitpak help, terwyl Hannie na haar eie kamer gaan.”
Breggie se oë rek groot.
“Gaan ek nie by Hannie slaap nie?”
Juffrou Cillié lag.
“Natuurlik nie! Hannie is mos al groot. Sy gaan eers negeuur bed toe en sy sal jou dalk pla. Jy sal baie gelukkig wees tussen die ander kleintjies. Lina Weber is in dieselfde kamer as jy. Sy was verlede kwartaal die skool se baba.”
Breggie is te vererg om na juffrou Cillié se praatjies te luister.
“Dankie,” sê sy in ’n sagte maar besliste stem. “Maar ek wil liewer by Hannie slaap.”
“Moenie verspot wees nie!” soebat Hannie.
Sy vrees haar sussie gaan haar nog baie in die skande steek. “Ag, sy is nog ’n bietjie vreemd,” paai juffrou Cillié. “Later as sy eers die kleintjies leer ken het, sal dit beter gaan.”
Maar juffrou Cillié sou nog besef dat mens Breggie nie so gou van haar standpunt kan laat afsien nie.
“Ek dink Mammie wil hê ek moet by Hannie slaap,” hou die helder stemmetjie aan.
Die gesprek word nou onderbreek, want hulle hou voor die groot skooldeur stil.
“Los maar julle tasse hier in die voorportaal,” sê juffrou Cillié. “En kom groet juffrou Van der Westhuizen. Sy is in die kantoor.”
Breggie kyk belangstellend rond. In die groot voorportaal staan ’n mooi rangskikking. Langs die wye trap wat na die tweede verdieping lei, is ’n pragtige gekleurde venster. Breggie kyk op na juffrou Cillié.
“Dis ’n mooi venster,” sê sy.
“Ja, dis ’n geskenk van een van die meisies wat jare gelede hier was. Sy is ryk en sy wou graag vir die skool iets gee omdat sy sulke gelukkige dae hier deurgebring het.”
Breggie dink ’n bietjie oor die saak na, terwyl sy en Hannie voor die kantoor staan en wag. Sy wonder of sy ooit so lief sal word vir die skool dat sy ’n gekleurde venster daarvoor sal wil gee. Omstandighede sal nog baie moet verander voor sy sover kom. Verbeel jou om saam met ’n klomp vreemde kinders te slaap! Nee wat, aan so ’n skool sal sy beslis nie ’n stukkie glas gee nie.
’n Meisie van omtrent sewentien kom met die trap af.
“En toe, Hannie,” sê sy vriendelik. “Hoe gaan dit met jou?”
“Goed, dankie, Vera.”
“Is dit jou sussie?”
“Ja.”
“Sy is beslis ’n aanwins vir die skool, met daardie groot blou oë.”
Vera loop haastig die gang af asof sy baie te doen het. “Wie is dit?” wil Breggie weet.
“Dis Vera de Korte. Sy is ons hoofmeisie.”
“Ek wonder of ek van haar gaan hou,” sê Breggie.
Juffrou Cillié, wat net toe uit die kantoor kom, hoor haar laaste woorde en lag.
“Dit maak eintlik meer saak of Vera van jou hou of nie.” Breggie kyk die onderwyseres vyandig aan en stap die kantoor binne.
Juffrou Van der Westhuizen kyk vriendelik op van haar skryftafel toe die twee meisies binnestap.
“Dag, Hannie. En is dit jou sussie? Breggie, ek hoop jy gaan gelukkig wees hier by ons. Was sy al in haar kamer?”
“Nee,” antwoord juffrou Cillié. “Ek het hulle maar eers hiernatoe gebring.”
“Dan kan jy haar nou soontoe neem, Hannie.”
“Goed, Juffrou.”
“Ek het met Matrone gepraat,” sê die hoof. “Al is julle sewe oorgesit na graad tien, bly julle maar in julle ou kamer. Daar is nie plek in die graadtiens se kamer nie.”
Hannie is hoog in haar skik met dié mededeling.
“Is dít juffrou Van der Westhuizen?” vra Breggie toe hulle weer buitekant is. “Ek hou glad nie van haar nie.”
“Jy moet versigtig wees wat jy sê!” soebat Hannie. “Jy is nog skaars tien minute in die skool!”
“Ek kan dit nie help nie. Ek weet net ek gaan nie van haar hou nie.”
“Jy is verspot!” sê Hannie ongeduldig. “Hier is my kamer. Onthou nou net, die meisies is almal ouer as jy. Moenie so baie praat nie!”