Читать книгу Die Jongste Meisie in Maasdorpskool - Stella Blakemore - Страница 6
3
Оглавление_____________
Die graadneges se slaapkamer
Die meisies in graad nege steur hulle nie baie aan dissipline nie. Al is sewe van hulle ook nou oorgeplaas na graad tien, maak dit nog geen verskil aan hulle doen en late nie. Hulle is nog net so uitbundig soos altyd. Toe Hannie dus die deur oopmaak, kry sy twee opgerolde kouse vol in die gesig. Hoor en sien vergaan in die groot blou-en-wit kamer.
“Haai!” roep Hannie verskrik uit.
Die ander dertig meisies wil hulle doodlag.
“Mooi skoot!” skree een met ’n koddige gesiggie vol sproete. “Ek het dit eintlik vir Bettie bedoel, maar ek is seker sy gun dit vir jou.”
Hannie gooi die kouse blitsvinnig terug en lag.
“Julle is ’n wilde spul in graad nege. Dis darem jammer ons slimmes kan nie in ons eie kamer bly nie.”
“Toe maar! Die graadtiens sal julle laat deurloop. Dit sal g’n week wees nie, dan soebat julle om na ons terug te kom.”
“Waar is Kobie?”
Die gordyne van een van die afskortings gaan oop en Kobie se nors gesiggie loer daaruit. Haar goue krulle staan penorent en sy lyk baie klein in ’n wit onderrokkie.
“Hallo!” sê sy terneergedruk.
“Wat makeer dan?”
Hannie is verstom om die lewendige Kobie so te sien.
“Alles makeer!”
“Ja, vra haar maar!” sê Terrie. “Sy begin die kwartaal goed. Wil met niemand ’n woord praat nie! Seker te trots omdat sy nou in graad tien is.”
Elsabe, wat besig was om uit te pak, kom haar maat te hulp.
“Dis nie waar nie. Sy het genoeg om oor siek te lyk. Ek ook. Ons moet hierdie kwartaal so te sê sonder sakgeld klaarkom.”
Die ander meisies kom belangstellend nader.
“Hoekom dan so?” wil Tienkie weet wat nog haar oë afvee.
Sy verlang altyd huis toe, maar as Kobie ongelukkig is, moet ’n mens jou eie verdriet vergeet.
’n Bos rooi hare verraai Tokkie se teenwoordigheid.
“Sy het gister in die Kaap ’n vreeslike stel afgetrap,” sê sy skelm. “Ek sal nie verbaas wees as sy dalk pak gekry het nie.”
“Moenie verspot wees nie!” sê Kobie verontwaardig. “Dis gemeen van jou om vir my te lag. Dis alles jou skuld. As dit nie vir jou neef was nie, dan was ons nie in die moeilikheid nie.”
“Wat het dan gebeur?” vra Hannie. “Hoekom het julle nie gister kom kuier nie?”
Tokkie vertel die episode van die vorige dag met kleur en geur.
“Het jou ma jou toe pak gegee?” vra die besproete Terrie.
“Nee, ek wens sy het,” antwoord Kobie. “Sy het al my sakgeld teruggehou. Ruth mag vir my geld gee vir die allernoodsaaklikste goed.”
“En ek het gesê as Kobie gestraf word, dan ek ook,” sê Elsabe. “Ek het al my geld aan my pa teruggestuur en net ’n paar rand gehou.”
“Jy was verspot!” sê Tokkie. “Hoekom het jy so ’n lawwe ding gedoen? As jy dit gehou het, kon jy vir Kobie daarvan gegee het.”
“Maggies! Dis waar!” Kobie klink spyt. “Jy was ’n aap, Elsabe. Ek weet regtig nie hoe ons deur hierdie kwartaal gaan kom nie.” Nou sien sy Breggie vir die eerste maal raak. “Wie is dit?”
Tokkie begin al in die rondte dans.
“’n Kind!” roep sy uit. “’n Lekker vet kind! Maak ons van haar sop? Of eet ons haar met melk en suiker?”
Breggie kyk haar aan sonder vrees en sê: “Ek is nie vet nie.”
“Bly stil!” betig Hannie haar sussie skerp.
Die jonger kinders by Maasdorp moet hulle plek ken. Sy wil nie hê Breggie moet sommer van die begin af ongewild wees nie. Maar die ander lag oor Breggie se ouderwetse manier.
“Hierjy! Moenie so parmantig wees nie!” sê Tokkie. “Dit lyk my jy soek ’n pak!”
“Gee maar liewer vir Hannie pak,” sê Kobie. “Dis haar skuld dat haar sussie so bederf is.”
“Nou toe kom!” daag Hannie haar uit. “Jy sal moet sterk wees as jy my wil pak gee.”
Kobie het al haar sorge vergeet. Sy gryp ’n pantoffel en stamp ’n stoel uit haar pad.
Al laggende spring Hannie weg en daar volg ’n gejaag en rumoer wat die dak laat skud.
“Keer voor daar!” roep Kobie vir Terrie. “Vang haar!”
“Vang haar self!” lag Terrie.
“Toe, gou, Hannie!” Dis Tokkie se stem. “O … sy het jou! Spring oor die bed!”
Die deur bars oop en Vera kom haastig binne. Sy is slaapkamerprefek vir graad nege. Dis nie ’n maklike taak om die klomp in toom te hou nie.
Kobie staan bo-op ’n bed met ’n pantoffel in haar hand, terwyl Hannie plat op die vloer lê. Die ander meisies skater soos hulle lag.
“Wat beteken dit?” vra Vera streng.
Niemand antwoord nie.
“Kobie, wat maak jy daar?”
“Ek, Vera?”
“Ja, natuurlik. Klim dadelik van die bed af. En jy, Hannie? Leer jy op die vloer swem?”
Die ander sondebokke giggel, want Hannie is een van die beste swemmers in die skool. Sy staan op en stof haar klere af. Vera kyk die twee meisies streng aan.
“En julle twee is nou in graad tien! Kobie, ek weet nie wat nog met jou gaan gebeur nie. Jy begin elke kwartaal so! Julle voel seker nou baie trots, nê?”
Kobie se bruin oë vonkel.
“Ekskuus dat ek so ’n bietjie uitgelate was, Vera,” sê sy ewe gedweë. “Ek is so bly om weer by die skool te wees. Tuis verstaan niemand my nie. Daar is ek doodongelukkig!”
Vera kan nie help om effens te glimlag nie.
“Ek dink hulle verstaan jou heeltemal goed! Hannie, dis g’n plek vir jou sussie nie. Neem haar na Matrone toe en kom dan terug en pak uit.”
“Goed, Vera.”
“Dis almal groot meisies,” sê Breggie buite in die gang.
“Ja.”
“En moet ek luister na alles wat hulle vir my sê?”
Hannie lyk onrustig.
“Nee … nie eintlik nie. Jy moet maar liewer by die jonger kinders bly.”
“Maar daardie meisies is die enigste mense in hierdie plek van wie ek hou,” sê Breggie.
“Dis nie vir jou om te sê van wie jy hou of nie hou nie!” maan Hannie. “Julle kleintjies is veronderstel om julle monde te hou.”
Matrone ken kinders deur en deur. Mens kan sommer dadelik sien jy durf nie met haar speel nie.
“Kom,” sê sy toe Hannie haar sussie voorgestel het, “ons gaan na jou kamer toe sodat ons jou goed kan uitpak.”
“Dankie,” antwoord Breggie beleef. “Maar dis nie nodig om my na ’n ander kamer te neem nie. Ek gaan by Hannie slaap.” Matrone lag.
“Nee, nee! Jy gaan in ’n pragtige kamer slaap saam met baie ander meisietjies van jou ouderdom. Jy weet nie hoe lekker dit gaan wees nie.”
“Ek dink nie dit sal baie lekker wees nie,” sê die nuwe leerder, nog beleef, maar nou ’n bietjie meer beslis. “Dit sal vir my lekkerder wees om by Hannie te slaap, dankie.”
Matrone kyk haar stip aan. Die donkerblou oë is sag en onskuldig, maar Breggie se kennetjie getuig van vasberadenheid.
“Kom!” sê Matrone. “Hier kies ons nie ons eie kamers nie. Elkeen moet vat wat sy kry. Toe nou, Hannie! Ek en Breggie sal alleen regkom.”
Breggie se oë volg haar suster die kamer uit. Dan kyk sy op na Matrone.
“Mammie sal baie ontevrede wees as sy weet dat Hannie my alleen laat staan het!”
Matrone begin nou sien hoe die saak staan.
“Kyk!” sê sy. “Hou jy nou op om stout te wees. Hannie het haar eie maats en jy jou eie. Die eerste ding wat jy sal moet leer, is om gehoorsaam te wees. Ek ken die regte medisyne vir stout kinders.”
“Wat?” vra Breggie benoud.
“Dit sal jy nog sien. Daar is baie dinge … soos droë brood eet en in die hoek staan.”
Breggie swyg ’n oomblik.
“Ek is gewoond om in die hoek te staan,” sê sy eindelik. “Maar ek hou nie van droë brood nie.”
Matrone kry swaar om nie te lag nie.
“Dan sal ek weet wat om te doen. Kom nou. Ons gaan kamer toe.”
Breggie loop met woede in haar hartjie agterna. Die skool se kanse om eendag van haar ’n gekleurde venster te kry, is maar skraal.
Hannie stap onvergenoeg terug na haar eie kamer.
Ek het nie gedink Breggie gaan so lastig wees nie! dink sy. Nou ja, as sy haar nie hier kan aanpas nie, sal Mammie haar aan die end van die kwartaal wegneem.
Sy maak die kamerdeur oop en staan verstom. Net waar sy kyk, sien sy laggende gesigte. Die trane stroom van haar maats se wange af.
“Wat gaan nou aan?” vra Hannie.
Terrie kom eerste tot verhaal.
“O, ek weet nie wat ons sonder Kobie sou doen nie!” steun sy terwyl sy haar oë afvee. “Die skool sou ’n ware woestyn gewees het!”
Tokkie lig haar rooi kop van die kussing op.
“Ek weet nie hoe dit moontlik is nie, maar waar Kobie is, gebeur daar altyd iets!”
“Wat het dan nou weer gebeur?”
“Kobie het by die deur wag gehou om jou met die pantoffel by te dam. Ons het gedink jy sou gou terugkom. Toe die deur oopgaan, spring sy vorentoe en sonder om te kyk, begin sy links en regs slaan. Ten minste, sy het gedink dit was jy.”
“En wie was dit?” vra Hannie, baie in haar skik.
“Ek weet nie. Ons het haar nog nooit vantevore gesien nie. Moontlik is dit ’n nuwe juffrou. Sy lyk maar hulpeloos en dra ’n groot bril.”
Hannie skater soos sy lag.
“O aarde! En wat dink sy van ’n skool waar die meisies ’n onderwyseres pak gee?”
Tokkie giggel.
“Sy het seker gedink ons is mal, want ons ander was almal besig om hardop verskillende liedjies te sing.”
“En wat het Kobie gemaak toe sy sien dis nie ek nie?”
“Onder ’n bed ingekruip. Die juffrou het net een maal wild omgekyk en toe gevlug.”
’n Goue krulkop kom versigtig onder ’n bed uit.
“Is sy weg?” vra Kobie. “Watter soort mens is sy? Ek kon haar nie goed beskou nie.”
“Eenvoudig,” sê Tienkie. “Glad nie soos ons ander juffrouens nie. Sy lyk vir my so bang en onseker.”
“Arme ding! Sy sal swaarkry!” is Kobie se mening. “Ek onthou nou ek het iets gehoor van ’n nuwe onderwyseres vir graad vyf. En jy sê sy lyk eenvoudig? Hoe jammer dat ons nie in haar klas is nie!”
“Ja,” sê Bettie Botes, “ons sou so goed met haar kon gewerk het!”
Kobie se oë glinster. Elkeen wat haar ken, kan sommer sien daar is al weer ’n plan aan die uitbroei.
“Kom ons gaan na haar klas toe!” sê sy vrolik.
“Ja, toe!” lag Hilda Meintjies. “Ons sal Wessie vra om die grade te verander.”
“Nee, ek bedoel dit regtig!” Kobie spring op een van die tafels, die rooi pantoffel nog in haar hand. Haar wange is soos twee rooi rose. “Natuurlik nie die hele klas nie. Net twee van ons wat klein genoeg is.”
“Moenie so ’n malkop wees nie,” soebat Marie Dempers, wat tot die einde van verlede kwartaal klaskaptein was. “Jy moet ophou om sulke vreeslike dinge te doen.”
“Toe, jy!” sê Kobie. “Jy is nie meer klaskaptein nie. Jy is in elk geval te lank om in graad vyf te wees. Elsabe ook, ongelukkig. Maar almal sê altyd ek is te klein vir my ouderdom. Dis die eerste maal dat ek daaroor bly is.”
Terrie begin van die plan hou.
“Dit sal pret wees! Die nuwe juffrou ken mos nog nie haar klas nie. Kobie, toe jy verlede kwartaal saam met die orkes gespeel het, het almal gesê jy lyk soos twaalf. As jy jou rok baie kort maak en by Heloise ’n paar sokkies leen, kan jy maklik vir tien deurgaan.”
“Ja,” sê Tokkie. “Dis byna jammer jy kan dit nie doen nie.”
“Wie sê ek kan nie? Maar iemand moet saamkom. Wie is die kleinste van julle? Alma Geerling! Kom ’n bietjie hier.” Alma, wat verlede kwartaal eers Maasdorp toe gekom het, skud haar kop.
“Nee wat!” soebat sy. “Ek sal dit nooit kan doen nie. Ek is te bang.”
“Jy moet!” sê Kobie. “Niemand anders is klein genoeg nie. Of is jy, Hannie? Nee wat! Jy’s ’n hele vyf sentimeter langer. Jy moet dit doen, Alma.”
“Ek sal nie!” protesteer die armsalige Alma. “Ons sal weer in ’n vreeslike moeilikheid kom.”
“Dan sal jy seep moet eet!” dreig Kobie. “Dis jou straf as jy nie doen wat ons sê nie.”
“Maar jy’s nie meer in ons klas nie!” Alma wil byna huil.
“Dit sal jou nie help nie. Ek kan jou nog laat seep eet. Môreoggend gaan ek en jy, in my sussie se sokkies en met ’n groot lint in die hare, graad vyf toe.”
“Maar wat moet ons vir juffrou Cillié sê as jy nie in die klas is nie?” vra Marie Dempers vererg. “Jy dink ook altyd aan die uitheemsste dinge!”
“Nee, ek weet nie. Sy is in elk geval ’n skat. As dit uitkom, sal sy net lag. En Alma is nog in die dierbare Hattie se klas. Met haar sal ook niks gebeur nie.”
“Dis ’n piekfyn idee!” lag Hannie. “Ek dink ons moet almal deur die venster kyk.”
“Dis ’n verspotte idee!” sê Marie. “Ek dink julle is mal. Het ons nie verlede kwartaal genoeg straf gekry nie? Jy is net soos ’n kind van vyf, Kobie!”
“Nou ja, Ouma, dan is dit beter dat ek na graad vyf gaan in plaas van graad tien waar die werk vir my te moeilik is,” antwoord Kobie sarkasties.
Sy is nooit sonder ’n antwoord nie.