Читать книгу Susanna M Lingua-keur 10 - Susanna M Lingua - Страница 6
3
ОглавлениеNa Rita en Irene se besoek is dit of Dewalt meer in homself gekeer is. Natasha weet nie of sy haar dit verbeel nie, maar dit lyk vir haar al of haar teenwoordigheid hom irriteer. Dit voel ook of hy meer met haar werk foutvind as wat voorheen die geval was.
Dit is reeds ’n maand na Irene-hulle se besoek, en nog steeds het Dewalt se houding nie verander nie. Natasha voel al skoon moedeloos, want dit is vir haar uiters onaangenaam om in so ’n atmosfeer te werk. Sy weet eerlikwaar nie hoe hy dit regkry om ’n verhaal in so ’n gemoedstemming te skryf nie. Die man moet inderdaad ’n genie wees, of anders is hy hopeloos temperamenteel.
Sy skuif al die getikte velle papier op die lessenaar versigtig in ’n netjiese hopie. Vandag moes sy ekstra hard werk, of so voel dit vir haar. Sy kan nie wag om ’n bietjie op die bed te gaan lê en ontspan met ’n boek nie.
“Maak asseblief die band vir my skoon voordat jy loop, juffrou,” sê Dewalt onverwags vlak agter haar. Hy neem die getikte velle, kyk hulle vlugtig deur en vervolg: “Ek hoop jy het vandag minder tik- en spelfoute gemaak as gister en die dae voor gister. Ek moet jou reguit sê: as dinge so aangaan, kan jy gerus maar jou skoolgeld terugvra.”
“Jy praat asof my werk wemel van die foute, meneer De Meyer,” sê sy effens opstandig terwyl sy die bandopnemer nader trek en die band begin skoonmaak. “Ek het gister ’n paar velle deurgelees en nooit meer as twee foute op ’n vel gevind nie.”
“Daar behoort geen foute te wees nie,” sê hy ergerlik. “Iemand wat haar sout werd en goed opgelei is, maak nie foute nie.”
Hierop antwoord Natasha nie, maar in haar kook dit van verontwaardiging oor sy onregverdige aantyging. Sy kan nie dink waarom hy so beledigend teenoor haar is nie. Sy het hom tog geen leed aangedoen nie!
Sy is bly toe sy eindelik kan loop.
Daardie aand, terwyl sy en mevrou Hugo voor die kaggel ontspan, bekla sy haar nood by die middeljarige weduwee. “Ek weet nie wat hy teen my het of wat ek aan hom gedoen het nie, maar hy behandel my soos ’n indringer, soos iemand wat haarself op hom afdwing. Ek het hierheen gekom om hom te help met die tikwerk aan sy manuskrip, nie om deur hom beledig te word nie … Nee, regtig, ek weet nie of ek nog lank vir hom gaan werk nie, mevrou. Ek dink dit sal beter wees as ek liewer die einde van die maand bedank,” sluit sy moedeloos af.
“Ek glo nie jy moet te haastig wees om te bedank nie, juffrou Zeltmann,” keer die ouer vrou vriendelik. Natasha is die beste en innemendste assistente wat haar werkgewer nog ooit in diens geneem het, wat haar betref. “Meneer De Meyer gaan deur diep waters – eers was dit sy liefdesteleurstelling met juffrou Le Clus, en nou is dit weer hierdie manuskrip waaraan hy werk. Hy is eintlik baie gespanne, en dit is hoekom hy so kort van draad is. Besef jy wat dit vir hom sal beteken as ’n Amerikaanse rolprentmaatskappy sy draaiboek verfilm? Jy sal hom ’n onreg aandoen as jy hom nou in die steek laat.”
“Ek glo dit glad nie, mevrou,” weerspreek Natasha die ouer vrou. “As meneer De Meyer my hulp werklik nodig het, sal hy my werk waardeer en nie so beledigend wees nie.”
“Dit is daardie Le Clus-vroumens wat hom so beledigend gemaak het teenoor ander meisies, juffrou. Hy was nie voorheen so nie,” probeer sy vir haar werkgewer opkom.
Maar Natasha wil niks weet nie. “Wel, ek is jammer, maar ek het nie hier kom werk sodat hy sy humeur op my kan uithaal nie. Hy kan maan toe vlieg. Ek gaan vir my ander werk soek,” laat sy ontstoke hoor.
Mevrou Hugo probeer weer eens om Natasha tot ander insigte te bring, maar ook hierdie poging van haar is vrugteloos. Dit lyk of die meisie finaal besluit het om weg te gaan.
Natasha het nog altyd probeer om vriendelik met Dewalt te wees, maar nou gaan sy haar nie meer langer moeg maak om sy guns te probeer wen nie. Laat hom maar oor sy Esna treur en die wêreld vir homself suur en moeilik maak. Sy getreur oor haar sal haar nie vir hom teruggee nie.
Later die aand, toe sy in die bed lê en na die geloei van die wind luister, voel sy vreemd hartseer om daaraan te dink dat sy Dewalt, met al sy foute en gebreke, een van die dae glad nie meer sal sien nie. Sy kan haar eie hart ook nie aldag peil nie. Soms voel dit vir haar of sy Dewalt met haar hele wese haat, maar dan kom daar weer tye dat sy vir hom verskonings soek. Dit is dan dat sy voel hoe haar liefde vir hom in haar hart blom.
Sy sug hartseer, en sê dan ernstig vir haarself: Luister, Natasha, meisiekind, jy moenie nou begin hoop op iets wat nooit ’n werklikheid sal word nie. Jy gaan die lewe vir jouself net moeilik maak. Dewalt sal jou liefde nooit beantwoord nie. Esna is nog steeds die middelpunt van sy lewe. Jy weet self dat hy jou nog nooit beskou het as ’n vrou wat ook kan liefhê nie. Vir hom is jy net iemand wat sy manuskripte vir hom tik, en op wie hy sy humeur kan afkoel. So, vergeet van jou gevoel vir hom en bedank die einde van die maand.
Sy lê tot laat daardie aand oor haar toekoms en wonder. Eers kort voor middernag raak sy aan die slaap.
Die volgende dag is Natasha stil en afgetrokke. Sy probeer ook nie om vriendelik met Dewalt te wees nie. As hy hierdie verandering in haar opmerk, laat hy egter niks blyk nie.
Só verloop drie weke.
Dit is die einde van die maand. Natasha is diep ingedagte, hier waar sy met nikssiende oë na die weste staar. Die son is lankal onder en slegs ’n kleurryke nagloed van geel en karmosyn hang in die lug as teken dat nog ’n dag verby is.
Sy dink aan die briefie waarin sy bedank, wat op die spieëltafel lê, en kan nie juis besluit of sy dit nou vir Dewalt moet gee, of liewer tot môre wag nie.
Dit sal my hoegenaamd niks baat om my bedanking uit te stel nie, besluit sy met ’n ongelukkige trek in haar oë. Pappie het altyd gesê: van uitstel kom afstel … Nee, ek moet die sakie liewer vanaand afhandel. Daarna sal ek weer gemoedsrus hê.
Sy neem die verseëlde koevert van die spieëltafel af op en stap na Dewalt se studeerkamer waar hy elke aand die dag se werk nasien.
Sy klop saggies aan en hoor sy mooi, diep stem sê: “Kom binne.”
Sy stap die vertrek binne en maak die deur saggies agter haar toe. “Kan ek jou asseblief ’n oomblik spreek, meneer De Meyer?” vra sy versigtig.
“Ek het ’n besige dag agter die rug, juffrou,” sê hy met ’n harde, ongenaakbare klank in sy stem. “Jy moet my asseblief verskoon, maar ek is nie vanaand in die luim vir ’n bespreking nie. Is jou probleem regtig van so ’n aard dat dit nie kan wag tot môre nie?”
“Ek het geen probleem nie, meneer De Meyer,” antwoord sy sag. “Ek wil bloot my bedanking indien.”
Sy sit die brief op Dewalt se lessenaar neer, maar hy neem dit met ’n ongeduldige gebaar en gooi dit in die snippermandjie.
“Onsin, ek aanvaar nie jou bedanking nie. Gaan slaap of doen iets, juffrou,” praat hy kortaf. Dan ignoreer hy haar.
Sy kyk ’n oomblik stil en opstandig na hom, maar ruk dan van skrik toe hy meteens sê: “Maak asseblief die deur agter jou toe, juffrou.”
Natasha wil eers vir hom sê dat hy vermetel is, dat sy wens iets vreesliks tref hom … maar Dewalt is al weer druk besig. Sy weet uit ondervinding dat hy haar glad nie sal hoor nie.
Haar donker oë smeul opstandig toe sy omdraai, die vertrek haastig verlaat en die deur hard agter haar toeklap. Sy het egter skaars drie tree gevorder, of die studeerkamer se deur vlieg weer oop.
“Kan jy nie ’n deur sag toemaak nie?” vra Dewalt bars vanuit die oop deur.
“Nee, ek kan nie!” antwoord sy vererg oor haar skouer. Dan stap sy haastig van hom af weg voordat hy weer iets kan sê.
Daardie nag slaap Natasha baie min en die volgende oggend is sy humeurig. Sy praat nie ’n woord aan die ontbyttafel nie en antwoord net wanneer mevrou Hugo met haar praat. Dewalt kyk haar een keer ondersoekend aan en gaan toe weer aan met eet.
Dit is vir hom baie duidelik dat Natasha iets op die hart het en hy dink daaraan dat sy gisteraand wou bedank, maar dat hy haar bedanking in die snippermandjie gegooi het.
Dit is bepaald die rede waarom sy so omgekrap is, dink hy. Ek sal beslis na ete moet hoor wat in haar gevaar het om nou te wil bedank!
Natasha het net begin tik toe ’n lang arm oor haar skouer verskyn. Die volgende oomblik skakel Dewalt die bandopnemer af en neem sonder meer op die punt van die lessenaar plaas.
“So, nou kan jy asseblief vir my vertel waarom jy nie meer langer vir my wil werk nie, juffrou Zeltmann.”
“Kyk, meneer De Meyer,” vaar sy teen hom uit, “toe jou suster my gevra het om vir jou te kom werk, het sy vir my gesê jy is op die oomblik nie die maklikste mens om mee oor die weg te kom nie, juis omdat jy nou ’n baie ongelukkige mens is … Maar wat Irene vergeet het om vir my te sê, is dat jy ook die befoeterdste mens is wat leef. Ja, meneer De Meyer, jy kry verniet so ’n trek op jou gesig, dis die waarheid. Maar dit is nie al nie: ek het nie vir jou kom werk om van die môre tot die aand deur jou beledig te word nie –”
“Ek het nie bedoel om jou te beledig nie. Ek het maar net probeer om jou op jou tone te hou,” val hy haar doodluiters in die rede.
Natasha kyk hom skerp aan. Sy kan sweer daar was iets soos ’n onderdrukte laggie in sy stem, al lyk sy gesig nou so vroom asof hy in die kerk sit.
“Wel, ek hou niks van die manier wat jy gebruik om mense op hul tone te hou nie,” slinger sy hom kwaai toe. “Ek het ook nie jou beledigings nodig om op my tone te bly nie. Ek het nog elke dag die hoeveelheid werk gelewer wat jy van my verwag het; en ek glo glad nie dat my werk so swak is dat ek my skoolgeld moet terugvra nie. Maar ek gee nie ’n flenter om wat jy van my dink nie, meneer De Meyer. Ek gee ook nie om of jy my bedanking aanvaar of in die snippermandjie gooi nie. Ek weet dat ek bedank het en vir my is dit heeltemal voldoende.”
Hy kyk haar etlike oomblikke stil aan. “Is dit regtig so moeilik om met my oor die weg te kom?” vra hy met ’n sweem van ’n glimlaggie. “Is ek regtig so ’n onaangename skepsel, juf- … e … Wat is jou naam nou weer? Natasha, nè? Nou toe, ek het jou ’n vraag gevra. Antwoord my asseblief nou eerlik, Natasha.”
“Ek het niks oordryf nie, meneer De Meyer. En ek herhaal: jy maak dit vir my absoluut onmoontlik om langer vir jou te werk,” sê sy sag. Haar wrewel is uitgewoed en daar is ’n klank van hartseer in haar stem.
“Julle vroumense, Natasha, is absoluut onvoorspelbaar,” sê hy.
“Ons is glad nie so onvoorspelbaar soos jy dink nie, meneer De Meyer,” sê sy haastig. “Altans, ek is nie onvoorspelbaar nie. As mense my net vriendelik en eerlik behandel, sal ek die laaste een wees wat ooit sal kla. Maar ek wil nie langer met jou redekawel nie. Jy sal nog my werkgewer wees tot die einde van die maand …”
“Nie net tot die einde van die maand nie, Natasha, altyd,” sê hy bedaard. “Ek gee nie om wat jy sê nie, maar ek weier om jou die einde van die maand te laat gaan. Jy kan my maar uitskel en beledig as jy dink dit sal die lug tussen ons suiwer … Jy kyk my verniet so moedeloos aan. Ek sal enigiets doen om jou te behou. Van al die meisies wat al vir my gewerk het, is jy die beste en ook die betroubaarste.”
“Nou verstaan ek jou glad nie,” sê sy. “Net nou die ander dag nog het jy gesê my tikwerk is so swak dat ek my skoolgeld maar kan terugvra, maar nou maak jy of ek onmisbaar is.”
“Maar ek sê mos, Natasha, ek het dit net gesê om jou op jou tone te hou,” help hy haar geduldig reg. “As ek jou werk geprys het, sou jy net grootkop geraak het en later heeltemal hand uitgeruk het. Ek weet waarvan ek praat, want ek het reeds so ’n ondervinding gehad.”
“Wel, ek weet nie of ek hier moet aanbly nie. Ek dink dit sal beter wees as ek liewer die einde van die maand teruggaan Pretoria toe,” hou sy vol.
Dewalt kyk haar etlike oomblikke stil en ondersoekend aan – asof dit die eerste keer is dat hy haar werklik sien. Daar is ’n glimlaggie om sy mond toe hy ietwat geheimsinnig sê: “Ons sal sien of jy die einde van die maand teruggaan Pretoria toe, Natasha.”
Hy verlaat die vertrek sonder meer.
Noudat Natasha alles vir Dewalt gesê het wat sy vir hom wou sê, voel dit vreemd stil en leeg in haar. Dit voel meteens ook vir haar of haar lewe skielik sinloos geword het – sonder doel of rigting. Sy het nie net haar werk laat vaar nie, maar ook haar eerste en enigste liefde.
Sy sug, trek dan die tikmasjien nader en skakel weer die bandopnemer aan. Die volgende oomblik is net die geklik van die toetse hoorbaar.
Natasha sien Dewalt die hele dag nie met ’n oog nie. Van mevrou Hugo hoor sy dat hy vir sake na Leliesvlei toe moes gaan en eers die middag tuis sal wees.
Natasha mis hom aan tafel tydens middagete. Sy besef nou eers hoe baie sy hom gaan mis wanneer sy weer terug is in Pretoria. Sy het nooit kon droom dat die liefde ’n mens so drasties kan verander, jou so rigtingloos kan laat voel nie …
Na ete skuif Natasha alle gedagtes aan Dewalt opsy. Sy werk die hele middag en is vroeër as ander dae klaar. Sy is egter net besig om die nuwe hoofstuk vir foute deur te gaan, toe Dewalt die vertrek binnekom.
“Hm, dit lyk of jy vandag vroeg klaar is,” sê hy. ’n Sweem van ’n glimlaggie raak aan die hoek van sy mond en hy vervolg tergerig: “Ek hoop daar is vandag minder spelfoute as gister, Natasha.”
Sy kyk hom skeef aan en frons gevaarlik. “Dit lyk vir my jy skep groot behae daarin om my uit te tart, meneer De Meyer,” sê sy en frons nog gevaarliker.
“Ek het eenkeer iemand hoor sê dat so ’n gefrons ’n mens plooie voor jou tyd gee,” sê hy kortaf asof hy haar nie hoor praat het nie.
“Ek praat nie van plooie en ’n gefrons nie –”
“Ek weet, maar ek praat daarvan,” knip hy haar beswaar terglustig kort. “In die ou dae –”
“Ons lewe in die verligte eeu, nie in die ou dae nie, meneer De Meyer,” maak sy hom op haar beurt stil. Maar Dewalt laat hom nie so maklik van stryk bring nie.
“Ek herhaal: in die ou dae het die vroue soveel agting vir ’n man gehad dat hulle selfs hul eie mans as ‘my heer’ aangespreek het. Om te frons as ’n man met hulle praat, sou ’n onvergeeflike gebaar gewees het.”
Natasha maak ’n onelegante geluid deur haar neus en sê minagtend: “My heer se voet. Dis dié dat die mans in die ou dae so vermetel en aanmatigend was. Hulle het gedink hulle is die spil waarom die wêreld draai. As hulle nie daar was nie, sou die wêreld kwansuis dadelik opgehou het met draai …”
Dewalt se lagbui maak ’n einde aan hul gesprek. Hy kyk na sy horlosie en sê bedaard: “Jy is vroeg genoeg klaar om ’n rukkie te ontspan voordat die etensklokkie lui.”
“Ek was van plan om die hoofstuk na te sien,” sê sy.
“Nee, toemaar, ek sal dit doen. Jy kan ’n entjie gaan stap. Die berglug sal jou goed doen,” bied hy aan.
Die volgende vier weke is Dewalt soms vriendelik, soms sarkasties en ongeduldig. Natasha het haar nie juis veel aan sy giere gesteur nie – totdat hy haar twee dae voor die einde van die maand in ’n onweersluim in die sitkamertjie opsoek.
Sy binnekoms, sonder om te klop, laat albei vroue vlugtig opkyk. Sy gesig is so dreigend soos ’n onweerswolk en sy blou oë lyk stormagtig. Hy kom voor Natasha staan en sê kwaai: “Ek wil jou asseblief in my studeerkamer spreek, Natasha. Kom!”
Natasha kom traag regop. Dewalt neem haar aan die arm, met die doel om haar vinniger aan te help, maar sy skud sy hand half vererg af. “Ek kan self loop, dankie. Ek het nie jou hulp nodig nie, of dink jy miskien ek is ’n invalide?”
“O, nou goed; maar roer jou, ek kan nie die hele aand op jou wag nie,” sê hy ongeduldig.
Natasha kyk hom skeef en vieserig aan en wou net vra wie miskien vir wie wil sien. Sy is seker dat sy hom nie wil sien nie – altans, nie in so ’n dwars luim nie. Hy kan wag totdat sy beskikbaar is. Maar sy sê dit nie, ruk net haar kop in die lug en stap vinnig by hom verby.
Die uitdrukking op Dewalt se gesig vertel duidelik dat die vrouegeslag vir hom ondeurdringbaar en hopeloos onpeilbaar is. As die hele spul soos sy is, wonder hy of ’n man hulle ooit in ’n leeftyd sal kan verstaan.
Dewalt maak die studeerkamer se deur versigtig agter hom toe en nooi Natasha kortaf om te sit. Hy wag totdat sy op die stoel langs die lessenaar sit en maak homself dan tuis op die een punt van die lessenaar. Hy kyk grimmig na haar.
“Waarom het jy vir Rita geskryf dat jy bedank het, Natasha?” vra hy onthuts.
“Ek het nie geweet dat ek dit geheim moet hou nie,” antwoord sy nou self met ’n ondertoon van sarkasme in haar stem. “Ek kan ook nie sien wat dit met jou te doen het nie, meneer De Meyer.”
“Dit het baie met my te doen,” sê hy streng. “Jou vriendin Rita het bepaald vir my pa vertel dat jy nou ook wil padgee en dat ek van oormôre af weer sonder ’n assistente sal wees –”
“Maar dit is mos nie iets om ’n kabaal oor op te skop nie!” val sy hom ergerlik in die rede. “Baie mense bedank en baie mense sit soms sonder hulp vir hul werk!’’
Dewalt slaan sy oë op na die hemel toe en Natasha sien hoe sy lippe roer. Wat sy nie weet nie, is dat die man ’n haastige gebedjie opstuur om krag en sterkte.
“Ja, ek weet baie mense bedank en al daardie dinge,” praat hy ongeduldig. “Jy het egter nie bedank nie …”
“Natuurlik het ek bedank!”
“Ek weet jy wou bedank, maar ek het vir jou gesê ek aanvaar nie jou bedanking nie. Trouens, ek het jou bedanking onoopgemaak in die snippermandjie gegooi,” sê hy onomwonde.
Natasha kyk hom skerp aan, tel tot by tien en sê bedaard: “So, dan het ek geen sê in my eie bedanking nie. Jy kan my bedankings maar links en regs vernietig en dan met die verskoning kom dat jy dit in die snippermandjie gegooi het. Moet ek daarmee tevrede wees?”
“Maar ons het mos saam besluit dat jy nie meer gaan bedank nie –” begin hy.
Natasha gee hom nie kans om meer te sê nie. “Nie ons nie, meneer De Meyer, jý het besluit,” sê sy nadruklik. “En as ek mag vra, wat het jou pa met my bedanking te doen? Ek glo nie my doen en late gaan hom aan nie.”
“Heeltemal reg, dit gaan hom nie in die minste aan nie,” stem hy heelhartig saam, “maar my pa verkeer onder die indruk dat ek ’n soort monster is met wie g’n vroumens oor die weg kan kom nie … Watse onsin het jy vir Rita geskryf?”
Natasha ruk haarself dadelik regop en kyk hom uitdagend aan.
“Verskoon my,” sê sy uit die hoogte, “maar as ek ’n brief skryf, skryf ek ’n ordentlike brief en nie onsin nie.”
“Wel, jy moet vir Rita ’n klomp onsin geskryf het, anders kan ek nie begryp waarom my pa nou skielik bel – en dan ook net uitsluitlik om my uit te trap omdat ek kwansuis die lewe vir jou so moeilik maak dat jy nie anders kan as om oormôre van Die Arendsnes af pad te gee nie,” beskuldig hy haar.
Natasha glimlag meteens stralend en sê ingenome: “Nou toe nou, ek het nie geweet jou pa dra my welsyn so op die hart nie. Hy moet inderdaad ’n baie vriendelike oubaas –”
“Vriendelik?” val hy haar in die rede en daar is iets soos minagting in sy stem. “Moenie dat ek lag nie. Jy weet nog net nie hoe diplomaties my pa kan wees nie. As jy weet wat hy alles vir my oor die telefoon gesê het, sal jy nie so grinnik soos ’n kat wat ’n piering room geëet het nie.”
“Wat sê jy? Grinnik ek soos ’n kat?” vaar sy nou weer skerp teen hom uit.
“Wel, ek het dit nou nie so letterlik bedoel nie,” paai hy haastig, want hy kan sien dat sy haar weer bloedig vir hom vererg. “Jy moet liewer vra wat my pa alles oor die telefoon te sê gehad het.”
“Verskoon my, maar jou pa se telefoongesprekke gaan my hoegenaamd nie aan nie.”
“Dis wat jy dink,” help hy haar ernstig reg. “My pa se hele gesprek het feitlik net oor jou gegaan. Besef jy dat hy meen ek is van lotjie getik omdat ek nog nie met jou getroud is nie? Het jy vir Rita geskryf dat jy met my wil trou?”
“Jou pa het gelyk, jy is skoon van jou wysie af,” snou sy hom onthuts toe. “Ek kan aan geen rede dink waarom ek met jou sal wil trou nie, meneer De Meyer. Jy is sarkasties en beledigend en –”
“Ja, toemaar, jy het my hierdie dinge al voorheen vertel,” keer hy voordat sy meer kan sê. “Maar as jy dan nie so iets aan Rita genoem het nie, waar kom my pa aan die gedagte?”
“Hoe sal ek weet? Ek is nie jou pa se vertroueling nie, meneer De Meyer. Moontlik dink hy jy het ’n verstandige vrou nodig!”
“Hoe sal my pa weet of jy verstandig is of nie? Hy ken jou dan nie!” maak Dewalt dadelik beswaar.
“Dis wat jý dink,” troef sy hom. “Die dag toe ek Irene in verband met hierdie betrekking van jou gaan spreek het, het jou pa vir my gesê dat ek in een van sy kantore kan kom werk as ek nie met jou oor die weg kan kom nie.”
“So ’n ou skelm,” sê Dewalt met ’n gevaarlike frons. “Dan het hy jou probeer afrokkel voordat jy nog vir my begin werk het!” Hy kyk Natasha ’n oomblik berekenend aan. Dan helder sy gesig meteens op. Daar is selfs ’n sweem van ’n glimlaggie om sy mond toe hy vervolg: “Ek dink ek moet nou eens en vir altyd ’n einde maak aan my pa se inmenging in my lewe en met my werknemers … Sal jy met my trou, Natasha?”
Sy kyk hom ’n oomblik verward aan. “Het ek jou reg verstaan? Het jy my gevra om met jou te trou, meneer De Meyer?” vra sy geskok.
“Jy het my heeltemal reg verstaan, Natasha-kind,” glimlag hy geamuseer. “En jy sal ook nou moet end kry met die alewige meneer De Meyer. My naam is Dewalt.”
“Nou goed, ek sal jou op jou voornaam noem,” sê sy, “maar om terug te keer tot jou huweliksaansoek … Dink jy ek is mal om met so ’n sarkastiese vent soos jy te trou?”
“Wag, moet nou nie beledigend wees nie,” keer hy. “Ek stel voor dat jy my huweliksaansoek eers deeglik oorweeg voordat jy my ’n antwoord gee. Jy kan my Saterdag sê wat jy besluit het.”
“Ek kan jou sommer nou ’n antwoord gee, Dewalt, want –” begin sy met ’n besliste trek om haar mooi, sagte mond.
Maar Dewalt keer haastig. “Nee, dink eers goed na oor my vraag,” stel hy voor. “Ek glo nie aan oorhaastige besluite nie. Veral nie wanneer dit so ’n gewigtige besluit is nie.”
“Nou goed dan,” stem sy na ’n rukkie in, “maar sê my net dit: gaan dit ’n huwelik net in naam wees?”
Hy oorweeg haar vraag ernstig en antwoord na ’n rukkie baie beslis: “As jy inwillig om met my te trou, Natasha, verkies ek dat dit ’n normale huwelik moet wees. Ek sien geen sin in ’n huwelik wat net in naam bestaan nie.”
“Nou goed, ek sal daaroor dink en jou oormôre my antwoord gee. Ek kan jou egter nie belowe dat dit ja sal wees nie,” waarsku sy.
“Ek sal wag tot Saterdag om te hoor wat jy besluit het, swartkop, en ek hoop die antwoord sal gunstig wees.” Hy kyk na sy horlosie en vervolg saaklik: “Ek dink mevrou Hugo wag al op ons om die skinkbord met tee in te bring.”
Hulle verlaat die studeerkamer saam, maar toe Natasha by die sitkamertjie wil instap, neem Dewalt haar arm en sê bedaard: “Daar is vanaand ’n goeie rolprent op televisie – as jy dalk daarna wil kyk.”
“Dankie, dit klink nogal na lekker ontspanning,” sê sy en vergesel hom dan na die groot, weelderige sitkamer. Hy lei haar na ’n ewe weelderige rusbank en nooi haar om te sit.
“As jy my ’n oomblik sal verskoon,” sê hy, “sal ek vir mevrou Hugo gaan vra om ons tee hier in die sitkamer te kom neersit.”
Mevrou Hugo lyk glad nie verbaas om Natasha in haar werkgewer se sitkamer aan te tref nie. Sy het begin lief word vir die innemende meisie wat feitlik nooit oor haarself praat nie. Sy is ook bly dat hul werkgewer haar geselskap begin opsoek. Sy het geweet dat hy die een of ander tyd sal besef Natasha is anders as die vorige meisies wat vir hom gewerk het.
Sy is inderdaad bly om te sien dat Dewalt en Natasha darem nog op vriendskaplike voet met mekaar verkeer, want vroeër vanaand het hy so woedend gelyk dat sy enige oomblik verwag het om Natasha die huis sak en pak te sien verlaat.
Maar dit lyk vir haar asof daar ’n nuwe verstandhouding tussen die twee jong mense ontwikkel het, want sy hoor dat hulle mekaar nou op die naam noem – iets wat Dewalt nog nooit voorheen gedoen het nie. Sy werknemers het hy nog altyd formeel aangespreek en hy het beslis ook nog nooit voorheen langs een van hulle op ’n rusbank gesit nie.
Daar speel ’n glimlaggie van tevredenheid om die huishoudster se mond toe sy haar in ’n stoel voor die kaggel gemaklik maak. Sy neem haar breiwerk op en saam met die geklik van haar breipenne neem ook haar gedagtes wye vlugte.
In stilte kyk die twee na die drama op die skerm. Na die nuus skakel Dewalt die televisie af en bied Natasha ’n ligte drankie aan.
“As hierdie draaiboek van jou ’n sukses is, sal jy natuurlik vir televisie ook skryf?” sê-vra Natasha terwyl sy fyntjies aan die sjerrie in haar glas proe.
“Heel moontlik!” Hy trek sy skouers liggies op. “Ek wil nog nie nou daaraan dink nie, want na hierdie draaiboek moet ek twee radioverhale skryf voordat ek enigiets anders kan oorweeg …”
Dit is byna twaalfuur toe Natasha eindelik in die bed klim en die leeslamp op die kassie langs haar bed afskakel.
Dit is verbasend hoe gou die tyd verbyvlieg wanneer ’n mens lekker gesels, dink sy half aan die slaap. Ek het nooit kon droom dat Dewalt my ooit sou raaksien nie. Vanaand het hy my meer as raakgesien, hy het my sowaar gevra om met hom te trou. Maar wat sou sy ware rede wees? Daar kan tog seker nie sprake van liefde wees nie Of dalk …
Hierdie laaste gedagte ruk haar meteens nugter wakker, maar dan besef sy dat dit al byna middernag is, dat sy môre moet werk en dat sy nie nou oor sy vreemde huweliksaanbod kan bespiegel nie.
Hierna skuif sy Dewalt heeltemal uit haar gedagtes en begin denkbeeldige skape tel totdat alles uit haar gedagtes vervaag en sy haar in droomland bevind.
Natasha is verbaas toe sy die volgende oggend betyds wakker word en gereed is vir ontbyt. Sy wonder wat Dewalt sou sê as sy laat was vir ontbyt – hy wat so gesteld daarop is dat die huismense altyd betyds vir maaltye moet wees!
Sy kry egter nie kans om lank oor Dewalt se moontlike reaksie te wonder nie, want hulle stap die eetkamer byna gelyktydig binne.
“Wel, ek moet sê dit lyk glad nie of jy twaalfuur gaan slaap het nie, Natasha,” sê Dewalt later aan tafel.
“Is dit nou ’n kompliment?”
“Nee, nie ’n kompliment nie, net die waarheid,” help hy haar vriendelik reg.
“Hm, gedink dit is te goed om waar te wees,” mompel sy onderlangs en laat haar tande behaaglik wegsink in ’n stukkie roosterbrood.
“Het jy iets gesê?” vra Dewalt belangstellend.
Natasha skud haar kop stadig. “Nee, ek het niks gesê nie, Dewalt,” jok sy sonder om te bloos.
Mevrou Hugo glimlag onderlangs, want sy het duidelik gehoor wat Natasha gesê het.
Daardie dag kry Natasha geen tyd om oor Dewalt se huweliksaansoek te dink nie, want sy bly heeldag besig. Na aandete nooi hy haar weer om na ’n spesiale program op televisie saam met hom te kyk. Die vorige aand herhaal homself.
Ek sal môre oor sy huweliksaansoek nadink, besluit sy toe sy die lig twaalfuur afskakel. Gelukkig hoef sy nie Saterdae te werk nie … Saterdag! Sy vlieg uit die bed uit asof ’n veer onder haar losgeruk het en gaan staan wawyd wakker voor die venster waardeur die maan nou helder skyn.
Terwyl haar blik op die maanverligte berge en klowe rus, byt sy haar onderlip gespanne tussen haar tande vas. Sy besef dat sy vannag nog tot ’n besluit sal moet kom. Dewalt verlang môre ’n antwoord van haar – en hy verwag ’n gunstige antwoord.
Natasha staan ’n lang ruk voor die venster en peins. Sy weet dat daar hoegenaamd niks is wat in Dewalt se guns tel nie. Ja, daar is inderdaad niks wat as aanbeveling kan dien nie. Hy is prikkelbaar, ongeduldig en soms pynlik sarkasties en beledigend. Sy kan haarself ook nie eens vlei met die gedagte dat hy haar liefhet nie, want sy weet van beter … Ja-nee, hy sal beslis nie ’n goeie huweliksmaat wees nie.
Natasha besef meteens dat net haar liefde vir hom op die weegskaal lê, en nou wonder sy of dit alleen genoeg sal wees om haar van ’n gelukkige huwelik te verseker. Sy weet 1 Korintiërs 13 sê die liefde is lankmoedig, bedek alles, glo alles, hoop alles en verdra alles. Maar sy wonder of die skrywer nog so mooi van die liefde sou gepraat het as hy vir Dewalt geken het … Sal haar liefde vir hom alles kan bedek en alles kan verdra?
Natasha gaap lank en hartlik en besluit dan om maar liewer te gaan slaap. Sy sal môre besluit of haar liefde lankmoedig genoeg is om al Dewalt se gebreke te bedek en te verdra.
Natasha kry die volgende dag egter nie kans om haar liefde onder die vergrootglas te plaas nie, want na ontbyt neem Dewalt haar arm en lei haar sonder seremonie na sy studeerkamer toe.
Waar sy nou op die stoel langs die lessenaar sit, wag sy gespanne dat hy daardie groot vraag moet herhaal.
Dewalt neem langs haar op die punt van die lessenaar plaas. Dan kyk hy haar ondersoekend aan en vra bedaard: “Wat is jou antwoord op my huweliksaansoek, Natasha?”
“Waarom wil jy met my trou, Dewalt?” Hy is seker die mees onromantiese man wat leef, dink sy.
Hy kyk haar ’n oomblik stil aan. “Kyk, Natasha, ek gaan jou nie beledig deur vir jou te lieg en te sê dat ek jou liefhet nie,” sê hy dan ernstig. “Jy weet self dat ek jou nog nie lank genoeg ken om so ’n intieme gevoel vir jou te koester nie. Wat ek wel vir jou voel, is agting en respek. Ek voel dat ons ’n suksesvolle huwelik op so ’n fondament kan bou. Jy het bepaald al gehoor dat ek onlangs ’n liefdesteleurstelling gehad het. My familie, en veral my pa, was bitter teen Esna gekant. Dus kan jy begryp hoe groot hul blydskap was toe hulle hoor dat Esna my vir ’n ander man gelos het. Sedertdien torring my pa tot vervelens toe aan my dat ek vir my ’n ordentlike vrou moet soek en trou.”
Natasha kyk hom met ’n onpeilbare uitdrukking in haar sagte oë aan. Hoe kan ’n mens ’n suksesvolle huwelik op so ’n wankelrige fondament bou? Sy weet nie of sy met hom kan saamstem nie.
“Ek het my natuurlik nie aan my pa gesteur nie, en sy gemor het al minder geword totdat jy met jou bedankingstorie begin het. Nou is hy weer die ene vuur en vlam dat ek moet trou, en ek sê jou reguit: ek is moeg vir die oukêrel se gelol. Daarom het ek besluit om sy raad te volg en te trou.”
“Ek verstaan,” sê sy versigtig. “Jy wil dus met my trou om jou pa tevrede te stel?”
“Nee, nie om my pa tevrede te stel nie,” help hy haar geduldig reg, “maar omdat jy, afgesien van Esna, die enigste meisie is met wie ek kans sien om intiem saam te lewe.”
“Nou goed, gestel ek trou met jou. Jy kry ’n heeltydse assistente en die vrou wat jy verkies, en later miskien kinders ook. Maar wat kry ek uit die transaksie?’’ wil sy eerlik en reguit weet.
“Jy kry ’n man wat vir jou al die weelde kan gee waaraan jy in jou ouerhuis gewoond was en ook ’n veilige en kommerlose toekoms,” verseker hy haar.
“Ek weet nie, ek sal eers daaroor moet nadink. Miskien moet –”
“Nee, ek wil nou ’n antwoord hê, nie môre of oormôre nie,” keer hy haastig.
Natasha kyk afgetrokke deur die venster na die grys wolke wat in die suide saampak. Dewalt se voorstel is vir haar ’n klap in die gesig – ’n belediging vir haar vroulikheid, haar beginsels en alles wat ’n huwelik ’n heilige instelling maak. Maar sy het hom lief en sy wil hom graag teen homself en teen vroue soos Esna le Clus beskerm.
“Nou goed, Dewalt, ek sal met jou trou, maar ek weet nie of dit sal uitwerk nie,” stel sy hom met ’n toonlose stem in kennis. “Ek glo nie dat so … so ’n huwelik kan slaag nie.”
Dewalt staan vinnig van die lessenaar af op en gaan voor Natasha staan. Hy glimlag selfvoldaan – soos enige man sal glimlag wanneer hy glo dat sy kennis van die vrouegeslag onbeperk is, en dat net ’n onnosele vroumens die veilige en kommerlose toekoms wat hy haar aanbied, sal versmaai. Wat sy kennis van vroue betref: hul liefde vir kosbare juwele, pelse en geld is die enigste liefde wat hulle ken.
“Dankie dat jy ingestem het om met my te trou, Natasha,” sê hy met vreemde erns. “As ek my bes doen om vir jou ’n goeie man te wees, moet ons huwelik slaag … jy sal sien. Maar sê my eers, wil jy ’n deftige huwelik met ’n groot onthaal hê, of sal ons sommer voor Leliesvlei se landdros trou?”
“Ek dink ’n stil troue sal in ons geval verkiesliker wees,” meen Natasha.
“Gaaf, dan trou ons sodra die draaiboek voltooi is,” stel hy voor. “Dit sal seker oor twee weke wees.”
Natasha knik instemmend – ’n knik wat haar toekoms nou finaal in ’n onbekende rigting stuur.