Читать книгу Susanna M Lingua-keur 10 - Susanna M Lingua - Страница 8
5
ОглавлениеNatasha is bleek en geestelik uitgeput toe sy die middag laat tuis kom. Mevrou Hugo, wat haar motor voor die deur sien stilhou, gaan maak self die voordeur vir haar oop.
“Mevrou lyk so … so bleek en moeg. Wat van ’n koppie tee?” vra sy met deernis in haar stem toe sy Natasha byna verwese voor haar sien staan.
“Dit is lief van jou om so begaan oor my te wees, mevrou Hugo,” sê Natasha met ’n glimlaggie waarin al die pyn en weemoed van die wêreld opgesluit lê. “ ’n Koppie tee sal baie welkom wees, dankie. Ek sal dit in die sitkamertjie kom drink.”
Natasha neem haar handsak kamer toe en trek haar jas uit. Hierna stoot sy die kleedkamer se deur oop – volkome oortuig dat die muur waarteen Dewalt se klere hang heeltemal leeg sal wees.
Verligting spoel soos ’n golf oor haar toe sy gewaar dat al Dewalt se klere nog steeds in die kleedkamer hang. Die twee tasse in sy motor het haar inderdaad onder ’n wanindruk gebring.
Sy trek die kleedkamer se deur saggies agter haar toe en wonder wie se tasse sy in Dewalt se motor gesien het en waarheen hy en Esna gery het.
Natasha hoef nie lank te wonder nie. Sy het kwalik gaan sit, toe bedien die ouer vrou haar met tee voordat sy self voor die kaggel gaan sit.
Die meegevoel in mevrou Hugo se stem lê vlak toe sy met deernis na Natasha kyk en duidelik ongemaklik sê: “Daar is iets waarvan mevrou behoort te weet. Ek is bevrees dit is nie iets aangenaams nie, maar ek mag dit nie stilhou nie. Jy behoort te weet wat agter jou rug aangaan … Dit is meneer De Meyer en daardie flerrie van ’n Esna le Clus …”
’n Verwese, hartseer glimlaggie plooi om Natasha se mond toe sy die ouer vrou te hulp snel en haar uit haar verleentheid help. “Ek weet dat sy my man vanoggend gebel het en dat hy haar daarna in Polfyntjies ontmoet het. Trouens, ek het hulle daar in die koffiekroeg raakgeloop, en … wel … Ja, mevrou het gelyk, dit is ’n onsmaaklike besigheid.”
“Ek is bevrees dit is nie al nie, mevrou De Meyer,” laat die ouer vrou ietwat huiwerig hoor. “Ongeveer ’n uur nadat jy vanoggend gery het, was daardie flerrie saam met meneer De Meyer hier in die huis. Sy het vir hom in die sitkamer gewag terwyl hy sy aandpak in die kleedkamer gaan haal het. Ek weet nie waarheen hulle gery het nadat hulle hier weg is nie, maar dit het vir my gelyk of hulle Leliesvlei se pad gevat het.”
“Ja, hulle het seker by Leliesvlei aangedoen om vir daardie meisie aanddrag te gaan haal,” sê Natasha ingedagte, meer aan haarself as aan die huishoudster. “Ek het duskant Pietermaritzburg by hulle verbygery. Agter in meneer De Meyer se motor was twee tasse. Hulle is waarskynlik Durban toe vir die aand.”
“Ja, dit is nooit anders nie,” stem mevrou Hugo saam. “Meneer De Meyer en daardie … e … vroumens was altyd baie lief vir Durban se naglewe. Ek weet nie wat sy hier kom soek het nie, want sy woon in Durban. Sy het ’n woonstel daar.”
“Dit is vir my baie duidelik wat sy hier kom soek het, mevrou,” laat Natasha met gedwonge bedaardheid hoor. “Sy het in die koerante gelees dat meneer De Meyer feitlik oornag in ’n miljoenêr verander het en nou waarskynlik baie ryker is as die man vir wie sy hom destyds gelos het. Ek begryp die situasie baie goed, mevrou Hugo. Esna le Clus het hierheen gekom in die hoop dat hy haar sal terugneem. Ek glo nie sy het geweet dat hy getroud is nie.”
“Mevroutjie, jy het in ’n goeie huis grootgeword en net in die hoogste kringe beweeg. Jy ken nog nie daardie heks se soort nie. ’n Huwelik het geen betekenis vir hulle nie. Sy sou meneer De Meyer nogtans gebel het, selfs al het sy ook geweet dat hy getroud is. En laat ek jou dit vertel: daardie vroumens is vasberade om meneer De Meyer vir haarself in te palm,” laat die ouer vrou moederlik besorg hoor. “Ek weet eerlikwaar nie waarom daar sulke slegte mense op die aarde moet wees nie.”
“Wel, sy kan hom net kry as ek gewillig is om van hom te skei,” meen Natasha.
Daar is duidelik ’n bekommerde trek op mevrou Hugo se gesig. “Mevroutjie, moet asseblief nie dink ek is vermetel of dat ek my neus in jul persoonlike sake wil steek nie. Ek het mevrou voor jul huwelik leer ken en vir jou lief geword asof jy my eie dogter is; daarom kan ek dit nie verdra dat daardie gewetenlose fortuinsoekster jou ongelukkig moet maak nie.”
“Mevrou Hugo!” roep Natasha aangedaan uit, die trane duidelik in haar stem. Die volgende oomblik gaan sit sy voor die ouer vrou op die vloer, met haar kop op haar skoot, en bars in hartverskeurende snikke uit.
Terwyl Natasha huil asof haar hart wil breek, streel mevrou Hugo vertroostend met haar hand oor die jong vrou se blink, swart hare. Woede teenoor Esna, die bron van Natasha se bitter leed en hartseer, vlam soos ’n onblusbare vuur in haar hart op.
“Verbeel jou; vier weke en drie dae getroud, en hy laat hom sowaar verlei deur dieselfde meisie wat hom tien maande gelede so ’n vuil streep getrek het … Lyk my hy sal ook nooit leer nie,” sug mevrou Hugo. “Maar so gaan dit. Sommige mans weet ook nie wanneer hulle ’n goeie vrou het nie. Dit sal net sy verdiende loon wees as daardie Esna-vroumens al sy geld uitmors en hom daarna weer in die pad steek …”
Baie gedagtes maal deur die huishoudster se gemoed terwyl sy aanhoudend oor Natasha se hare streel. Haar hart gaan uit na die jong vrou wat vandag so ’n wrede skok opgedoen het. Vanoggend aan die ontbyttafel was sy en Dewalt nog vol grappies, maar nou flankeer hy in Durban met ’n ander meisie terwyl sy vrou haar hart uithuil.
Toe Natasha se snikke later bedaar, lig sy haar kop en droog haar trane af. Die hartseer lê vlak in haar mooi, sagte oë toe sy met ’n effense hees stem sê: “Jy sal nooit weet wat dit vir my beteken om jou vir ’n vriendin te hê nie, mevrou Hugo. Dankie vir jou liefde en vriendskap. Dit is bemoedigend om te weet dat hier darem iemand in die huis is na wie ek kan gaan wanneer die probleme van die lewe vir my te veel word. Gee my gerus raad as jy voel ek het dit nodig. Ek het geen ondervinding van hierdie soort dinge nie; ek weet glad nie wat om te doen nie.”
Natasha staan van die vloer af op en gaan weer op die stoel voor die kaggel sit. Sy hou haar koue hande na die vuur toe uit. “Vertel my, wat moet ek doen, mevrou? Moet ek my man sy vryheid gee, of moet ek hom liewer teen daardie listige vrou beskerm? Sy kan tog nie met hom trou terwyl hy nog met my getroud is nie.”
“Dis waar,” stem die ouer vrou saam, “maar vir haar soort beteken die huwelik minder as niks. Sy sal in sonde saam met hom lewe sonder om ’n enkele slapelose nag daaroor te hê. Dit hang dus uitsluitlik van meneer De Meyer af of jul huwelik hom teen haar sal kan beskerm. Maar ek sal jou nogtans aanraai om nie haastig te wees met ’n egskeiding nie. Dit is net moontlik dat meneer De Meyer se oë vroegtydig oopgaan.”
Daardie aand, terwyl Natasha alleen in die groot dubbelbed lê, dwaal haar gedagtes knaend na Dewalt wat die naglewe iewers in Durban saam met sy geliefde Esna geniet. Sy wonder of hulle in Durban gaan oornag of nie. Haar gedagtes dwaal terug na haar en mevrou Hugo se gesprek vroeër die aand. Nou wonder sy of Dewalt werklik so roekeloos sy beginsels oorboord sal gooi om in sonde saam met Esna te lewe. Sy kan nie glo dat hy graag in so ’n skandaal betrokke sal wil raak nie.
Natasha lê tot laat daardie nag en dink aan hul huwelik en hul toekoms. Sy het Dewalt met haar hele wese lief en sy sal graag wil sien dat hy gelukkig is. Maar Esna, weet sy, is nie die soort meisie wat hom gelukkig sal kan maak nie. Sy sal moontlik met hom trou en spandabel lewe totdat sy bankrekening uitgeput is. Daarna sal sy hom weer net so in die steek laat, soos verlede keer, en vir haar ’n ryker man gaan soek.
Na ure se getob besluit sy eindelik dat sy nie van Dewalt gaan skei nie. Sy dink aan die vier gelukkige weke wat hulle in Sonskynbaai deurgebring het en aan al haar mooi drome wat sy vir die toekoms gekoester het. Dan begin sy opnuut huil oor die groot ramp wat hulle vandag getref het.
Dit is byna eenuur toe Natasha eindelik aan die slaap raak. Nog steeds is Dewalt nie tuis nie. Sy het die een nagmerrie na die ander.
Die volgende oggend merk sy dat Dewalt se plek langs haar nog steeds leeg is. Dit laat haar opnuut hartseer voel.
Later bring die huishulp vir haar ’n koppie koffie en sy drink dit afgetrokke terwyl sy wonder of Dewalt in Esna se woonstel of in ’n hotel oornag het. Sy weet dat ’n wensdenkery haar niks sal baat nie, maar sy wens nogtans dat Dewalt liewer die nag in ’n hotel deurgebring het. Waarom weet sy self nie, want dit sal tog niks aan die gemors waarin Esna hulle gedompel het, verander nie.
Daar is ’n vreemde traagheid in Natasha se bewegings toe sy later uit die bed opstaan. Sy gaan sit aan vir ontbyt, maar drink net ’n glas lemoensap.
“Mevroutjie, jy moet asseblief nie toelaat dat hierdie onaangename besigheid jou van jou eetlus ontneem nie,” sê mevrou Hugo bekommerd omdat Natasha geen ontbyt eet nie. “Glo my, jy sal al jou kragte nodig hê om hierdie krisis die hoof te bied.”
“Ek glo jou, mevrou Hugo,” laat Natasha met ’n verwese glimlaggie hoor. “Ek sal sorg dat ek ’n goeie middagete eet. Maar sê my, is my man nog nie tuis nie?”
“Hy het ongeveer vieruur vanoggend hier aangekom en sommer in een van die gastekamers gaan slaap. Hy wou jou bepaald nie steur nie,” meen die ouer vrou.
Natasha skud haar kop stadig. “Dit is nie die rede nie, mevrou. Ek vermoed hy sal nou elke aand in een van die gastekamers gaan slaap.”
“Dis waar, daardie flerrie sal hom nou elke aand saam met haar na die jolytplekke toe sleep en hy sal seker nou altyd eers na middernag tuis kom,” laat mevrou Hugo met ’n swaarmoedige sug hoor. Sy weet nie waarom hierdie ding nou juis met die De Meyers moes gebeur het en waarom daar sulke meisies soos Esna moet wees wat nie omgee hoeveel hartseer hulle ander berokken nie.
“Ek vermoed dat Dewalt my vandag om ’n egskeiding sal vra,” meen Natasha. Sy kan nie glo dat hy, nadat sy hom en Esna so intiem saam in die koffiekroeg gesien het, nog ’n dag sal laat verbygaan sonder om haar oor ’n egskeiding te pols nie.
“Wel, neem nou my raad aan en moenie aan sy wens toegee nie, mevrou,” doen die ouer vrou aan die hand. “Hulle kan nie al die geluk aan hul kant hê nie.”
“Ek het reeds besluit om nie in te gee nie, mevrou. My antwoord is en bly nee,” antwoord Natasha ietwat afgetrokke.
Na ete gaan was Natasha haar hare. Terwyl sy hiermee besig is, stap Dewalt die badkamer binne. Aan sy voorkoms is dit duidelik dat hy ’n baie jolige aand in Durban deurgebring het. Sy oë is bloedbelope en hy lyk bleek en moeg.
“O, hier is jy,” sê hy kortaf en ongeduldig. “Ek het al die hele huis deur na jou gesoek. Waar is die hoofpynpille?”
“Ek weet nie. Ek gebruik nooit hoofpynpille nie,” antwoord sy bedaard.
“Nou gee my asseblief enigiets wat jy wel gebruik – voordat my kop oopbars,” kom dit afgemete en duidelik ongeduldig.
Natasha draai ’n handdoek om haar kop, tap ’n glas vol water en gee dit aan Dewalt.
“Ek gebruik gewoonlik hoofpynpoeiers. Dit is in die spieëlkas se laai,” sê sy. “Kom, laat ek vir jou een gee …”
“Nee, gee my sommer ’n paar.”
Sy neem die dosie uit die laai en gee dit vir hom aan.
“Neem maar almal,” sê sy sag. “Ek sukkel nie juis met hoofpyn nie.”
Hy neem die dosie by haar, haal een poeier uit en sluk dit met die water af. Toe, sonder om na haar te kyk, sê hy: “Jy moet asseblief na my studeerkamer toe kom, Natasha. Ek wil met jou praat.”
“Toemaar, Dewalt, ek weet jy wil my om ’n egskeiding vra,” laat sy met ’n vreemde kalmte hoor terwyl sy die spieëlkas se laai toestoot. Sy weet nie waar sy die krag vandaan haal om so kalm met hom te praat terwyl haar hart voel of dit wil breek nie.
Hy kyk haar vlugtig, sydelings aan en sit die leë glas op die bedtafeltjie neer. “Jy het gelyk, dit is presies wat ek met jou wil bespreek,” sê hy gespanne. “En ook –”
“Ek is bevrees daar is niks om te bespreek nie, Dewalt,” val sy hom sag in die rede. “Sedert gisteroggend het ek baie tyd gehad om oor hierdie saak na te dink. Na vele oorwegings het ek eindelik besluit om nie van jou te skei nie.”
’n Dreigende, ergerlike frons verskyn meteens op Dewalt se voorkop. “Wat sê jy? Jy weier om van my te skei?” roep hy bars uit. “Ek sal jou nie aanraai om onredelik te wees nie, noudat Esna gewillig is om met my te trou. Trouens, jy het van die begin af geweet ek het Esna lief –”
“Presies,” val sy hom sag in die rede, “jy het dit ook geweet; maar jy het nogtans besluit om met my te trou. Ons was ook heeltemal gelukkig, totdat jou gewese minnares besluit het dat jou bankrekening nou aantrekliker is as haar verloofde s’n – dié man vir wie sy jou die trekpas gegee het toe sy bankrekening joune ver oortref het.”
Dewalt se staalblou oë is nou so hard soos metaal en so koud soos die Suidpool.
“Moenie dat sy jou bluf nie, Dewalt. Esna het jou nie lief nie. Sy is net lief vir die weelde wat jou geld haar kan bied. Sy sal jou uitroei en jou daarna weer net so laat staan soos verlede keer. Esna het geen man lief nie, Dewalt, sy het net geld –”
“Bly stil!” val hy haar woedend in die rede. “Jy weet nie waarvan jy praat nie! Dit is nie Esna wat met my ter wille van my geld wil trou nie; dit is jý wat met my om daardie rede getrou het.”
“Dit is nie waar nie,” sê sy, magteloos omdat sy hom nie in haar hart kan toelaat nie. Hy mag nooit die ware rede weet waarom sy bereid was om met hom te trou nie. “Jy was ’n doodgewone skrywer toe ek met jou getrou het – nie ’n amper-miljoenêr nie.”
Natasha het sedert gisteroggend soveel skokke en vernederings ervaar dat dit vir haar voel of sy reeds breekpunt bereik het – en nou weer hierdie ongevoelige beskuldiging van Dewalt om haar verder te verkleineer. Sy veg verbete teen die trane wat warm agter haar ooglede brand. Sy mag nie voor Dewalt huil nie.
“Nou waarom het jy met my getrou – as dit dan nie vir my geld was nie?” vra hy smalend.
Sy draai haar rug op hom en verlaat die kamer sonder om op sy vraag te antwoord.
Natasha het skaars in die sitkamertjie gekom, toe hoor sy hoe Dewalt se kragtige motor die bergpad vat.
Hy is seker nou op pad na Esna om haar te vertel dat ek weier om van hom te skei, maal dit deur Natasha se gedagtes terwyl sy na die slaapkamer gaan om haar hare droog te maak.
Toe mevrou Hugo die vertrek na ’n rukkie met Natasha se tee binnekom, nooi sy haar om te sit. Dan vertel sy die ouer vrou van haar en Dewalt se gesprek vroeër die oggend. Sy sê egter niks van Dewalt se beskuldiging dat sy met hom ter wille van sy geld getrou het nie. Net sy en Dewalt weet waarom hulle met mekaar getrou het.
“Ek wonder wat Esna nou gaan maak – noudat sy weet dit is vir haar onmoontlik om met Dewalt te trou,” wonder Natasha hardop.
“Haar soort steur hulle nie aan ’n huwelik nie, mevrou,” sê mevrou Hugo bedaard. “As hy nie wettig met haar kan trou nie, sal sy sommer by hom bly – en hom wegsmyt sodra hy nie meer genoeg geld het om haar met duur pelse en juwele te behang nie.”
Hulle gesels totdat Natasha se hare droog is. Daarna stap die ouer vrou eetkamer toe om te kyk of die huishulp al die tafel vir middagete gedek het.
Na ete neem Natasha haar breiwerk en gaan sit agter die huis in ’n hoekie wat teen die snerpend koue wind beskut is en waar die son mildelik skyn. Sy voel nie juis lus vir brei nie, maar dit is iets waarmee sy haar kan besig hou sodat sy nie te veel aan Dewalt dink nie. Sy geniet egter nie lank die privaatheid en die sonskyn van daardie hoekie nie.
Sy het nog skaars vyf rye gebrei, of mevrou Hugo maak haar verskyning om te sê dat daar ’n besoeker in die sitkamer op haar wag.
“ ’n Dame om my te sien?” vra die jong vrou met ’n ligte frons.
“Nee, nie ’n dame nie, mevrou, sommer net ’n goedkoop fortuinsoekster … Esna le Clus,” sê die ouer vrou met bitterheid in haar stem. “Wil jy met haar gaan praat, of sal ek haar in die pad steek?”
“Nee, wag eers, my liewe beskermengel,” glimlag Natasha verwese, “laat ek liewer gaan hoor wat sy te sê het. Ek dink dit is in verband met die egskeiding wat Dewalt so graag wil hê.”
“Nou goed, as jy haar dan nou móét spreek,” kom dit van die ouer vrou. “Maar onthou, ek sal binne hoorafstand wees. As sy hiernatoe gekom het om jou leed aan te doen …”
“Dankie, dit is lief van jou om so besorg oor my te wees,” laat Natasha dankbaar hoor terwyl sy traag haar breiwerk neersit.
“Jy kan maar vir my tannie Rina sê as jy wil,” stel die ouer vrou vriendelik voor.
“Dis waar, na al jou hulp, raad en besorgdheid hoef ons seker nie meer so formeel te wees nie, tannie Rina,” stem Natasha saam. “Jy kan my gerus ook maar op my naam noem.”
Daar is ’n smalende, meerderwaardige glimlaggie om Esna se rooi mond toe sy Natasha groet.
Natasha bly half in die middel van die vertrek staan terwyl sy kil en uit die hoogte na Esna kyk. Toe vra sy met opgetrekte wenkbroue, sonder om Esna se groet te beantwoord: “Ek weet nie waaraan ek hierdie besoek van jou te danke het nie, juffrou Le Clus, maar wat my betref, het ons niks vir mekaar te sê nie – altans, ek het niks vir jou te sê nie –”
“Jy mag miskien niks vir my te sê hê nie, mevrou De Meyer,” val sy Natasha vinnig in die rede, “maar ek het baie vir jóú te sê.”
“Jammer om jou teleur te stel, maar ek stel hoegenaamd nie belang in wat jy te sê het nie,” sê Natasha koelweg. Maar Esna is vasbeslote om die doel van haar besoek te verduidelik.
“Dit sal jou niks baat om daardie hooghartige houding aan te neem nie. Ek gaan met jou praat,” hou Esna vol. “Ek gaan môre vir twee dae saam met Dewalt Johannesburg toe. En hy het my genooi om die naweek vir hom hier in sy huis te kom kuier. So, jy gaan nie ver kom met jou hardkoppigheid nie. As jy volstrek weier om van Dewalt te skei –”
“Verskoon my, maar ek is nie bereid om ons huwelik met jou te bespreek nie, juffrou Le Clus,” val Natasha haar trots en bedaard in die rede. “Ek sal dit waardeer as jy liewer nou wil gaan. Ek stel hoegenaamd nie in jou bewegings belang nie.”
“Jou trotse hooghartigheid sal Dewalt nie na jou toe laat terugkom nie,” lag Esna spottend terwyl sy met die grasie van ’n jagluiperd orent kom. “Ook die feit dat jy weier om van hom te skei, maak geen verskil aan my nie. Jy sal wel sy van deel, maar dit sal ook al wees. Sy liefde en sy rykdom behoort aan my …”
“Jy moet my asseblief nou verskoon. Ek weier om langer na so ’n onsmaaklike gesprek te luister. Mevrou Hugo sal jou na die voordeur toe neem.”
Dan draai Natasha om en verlaat die sitkamer. Sy wag ook nie om te sien wat tussen Esna en mevrou Hugo gebeur nie. Wat haar betref, kan die huishoudster die vermetele vroumens met plesier by die voordeur uitsmyt.
Toe Natasha na ’n rukkie weer buite in die son sit, kom sy die eerste keer agter dat haar hande liggies van verontwaardiging bewe. Sy kan nie begryp hoe dit moontlik is dat Dewalt verlief kan wees op so ’n onsmaaklike skepsel wat geen trots of selfrespek besit nie.
“Ek het vir jou iets te drink gebring om jou senuwees ’n bietjie reg te ruk, my kind,” sê mevrou Hugo onverwags agter haar. “Ek kan sien dat die ellendige vroumens jou geweldig ontstel het. Jy lyk so bleek.”
“Dankie, tannie Rina,” glimlag Natasha hartseer toe sy die glasie neem. “Sulke vermetele mense slaag gewoonlik daarin om ’n mens te ontstel. Ek hoop sy was nie teenoor jou ook so beledigend nie.”
“Nee, sy was nie,” stel die ouer vrou haar dadelik gerus. “Esna weet jy is te fyn opgevoed om haar aan die nek te vat en by die deur uit te smyt. Daarom was sy so beledigend teenoor jou. En dan hoop sy natuurlik ook dat jy so kwaad sal word dat jy dadelik om ’n egskeiding aansoek sal doen.”
“Wel, ek weet nie wat ek sal doen as hy haar elke naweek hier na die huis toe bring nie,” praat Natasha ietwat afgetrokke terwyl sy aan die ouer vrou beduie om langs haar op die tuinbankie te kom sit. “Sulke tirades en onsmaaklikhede elke naweek sal die lewe vir ’n mens onmoontlik en ondraaglik in die huis maak.”
“Dit is presies wat hulle beoog, kindjie. Maar ek gaan ’n stok in hul wiel steek,” sê mevrou Hugo ernstig en gaan sit met ’n diep sug op die bankie. “Ek sal nie toelaat dat daardie flerrie hier in jou huis kom pronk asof dit haar huis is nie. Ek gaan nie toelaat dat sy jou op so ’n gemene manier verkleineer nie.”
“Wat gaan jy doen, tannie Rina?” vra Natasha met ’n sweem van ’n glimlaggie. Wat sal sy tog aanvang sonder hierdie moederlike vrou wat so ’n getroue vriendin en kampvegter vir haar is!
“Ek weet nog glad nie, my kindjie, maar ek belowe jou dat dit die gewenste uitwerking sal hê,” sê mevrou Hugo verontskuldigend terwyl sy haar kop skud.
“Jy maak my nou regtig nuuskierig, tannie Rina,” sê Natasha en plaas haar een hand liefdevol op die ouer vrou s’n.
Mevrou Hugo sit nog ’n paar minute lank by Natasha en gesels voordat sy weer terugkeer na die werkies waarmee sy in die huis besig was.
Later die middag kom sê mevrou Hugo vir Natasha dat Dewalt haar in sy studeerkamer wil spreek. Die swartkop neem haar breiwerk en stap na die studeerkamer toe. Sy het geen benul waarom hy met haar wil praat nie. Wat haar betref, is daar niks meer wat hulle aan mekaar kan sê nie.
Dewalt staan voor die venster met sy rug na die deur toe Natasha die vertrek binnekom. Eers toe sy die deur op knip stoot, draai hy om en nooi haar om te sit.
Daar is duidelik ’n moeë trek op sy aantreklike gesig toe hy aan die ander kant van die lessenaar gaan sit. Natasha se hart gaan uit na hom, maar sy weet ook dat sy niks tot sy geluk kan bydra solank hy agter Esna aanhardloop nie.
“Ek het vanoggend voorsorg vir jou toekoms getref, want ek weet nie waar ek oor ’n maand of oor ’n jaar sal wees nie,” sê Dewalt. Hy hou ’n inlegstrokie van die bank na haar uit en vervolg saaklik: “Ek het hierdie bedrag in jou rekening betaal. Dit behoort jou in staat te stel om gerieflik te lewe.”
Natasha kyk na die bedrag wat uit ses syfers bestaan en wonder of sy nie maar liewer die geld moet weier nie. Met Esna as minnares sal sy bankrekening nie baie lank gesond bly nie.
“Ek dink jy moet hierdie geld liewer hou, Dewalt,” sê sy bedaard. “Ek het ’n gevoel dat jy dit een van die dae nodig gaan kry –”
“Toemaar, ek weet wat jy bedoel,” val hy haar gesteurd in die rede. “Ek sal jou aanraai om jou sarkasme vir jouself te hou. Ek het glad nie lus om weer daarna te luister nie. Die geld wat ek in jou rekening betaal het, is om die veilige en kommerlose toekoms wat ek jou voor ons huwelik belowe het, te waarborg.” Hy kom regop, kyk haar deurdringend aan en vra met ’n moeë stem: “Is jy nog van plan om nie van my te skei nie, of het jy darem al intussen van besluit verander?”
Natasha staan van die stoel af op. “Ek sal daardie geld veilig belê en net die rente gebruik. Die kapitaal sal onaangeraak bly totdat die dag aanbreek dat jy dit nodig kry,” sê sy bedaard sonder om sy vraag te beantwoord.
Dewalt trek sy oë op skrefies en vra afgemete: “Presies waarom het jy met my getrou, Natasha – as dit dan nie vir my geld was nie?”
Natasha swyg lank en Dewalt dink dat sy hom nie gaan antwoord nie. Toe sê sy eindelik: “Om dieselfde rede waarom jy met Esna wil trou, Dewalt.”
Dewalt verbleek merkbaar. Sy blik versag dadelik en ook sy stem is meer simpatiek toe hy ietwat verward sê: “O, ek begryp. Maar dit was nie in ons ooreenkoms nie.”
“ ’n Egskeiding was ook nie in ons ooreenkoms nie,” sê sy sag. “In elk geval, dit lyk of jy haastig is. Ek sal maar liewer gaan.”
Net toe Natasha omdraai om die vertrek te verlaat, sê Dewalt: “Ek gaan vir twee dae weg en sal nie môreaand tuis wees nie. Maar wanneer ek Vrydagmiddag tuis kom, sal ons orde uit hierdie chaos moet skep en besluit wat elkeen van ons gaan doen.”
“Dit sal nie nodig wees om vir my te wag nie, Dewalt,” sê sy en maak die deur oop. “Jy moet maar besluit wat jy wil doen en dan so maak.”
“Moet nou nie moeilik wees nie, Natasha,” sê hy ergerlik. “Ons was byna vyf weke getroud. Dink jy nie dit gee my die reg om te weet wat jy met jou lewe gaan aanvang nie?”
“Jy bedoel ek kan dalk swanger wees en dan wil jy weet wat ek met jou kind sal doen.”
Dewalt word meteens doodsbleek. “Mag die Vader dit verhoed. Dit sal beslis die kroon oor al die ellende span –” sê hy met ’n stem wat skor is van spanning.
“Toemaar, Dewalt,” val sy hom sag in die rede, “as dit wel die geval is, sal ek sorg dat jy nie daarvan weet nie. Moet dus glad nie eens aan so ’n moontlikheid dink nie.”
Sonder om te hoor wat Dewalt verder te sê het, verlaat Natasha die vertrek en gaan sit weer buite.
Die volgende twee dae dink Natasha baie aan die toekoms. Sy weet dat sy nooit geldprobleme sal hê nie, maar sy weet ook dat geen geld vir haar verlore geluk kan vergoed nie. Al haar toekomsdrome was om Dewalt geweef en hy was die spil waarom haar hele lewe gedraai het. Nou lyk dit of hy uit haar lewe gaan verdwyn.
Donderdagmiddag, terwyl Natasha in die groot sitkamer voor die vuur sit, wonder sy of sy nie haar huweliksprobleme met haar skoonpa moet bespreek nie. Miskien kan hy Dewalt ompraat om van Esna af te sien. Sy wil nie spoke opjaag nie, maar sy het ’n vae vermoede dat sy swanger is.
Nee, ek is bevrees dit is heeltemal onmoontlik, besluit sy by haarself. Voor ons troue kon Dewalt en die oubaas nie stryk nie. Buitendien is oubaas Lafras vir my nog te vreemd. Ek sal tog nie met hom oor Dewalt en Esna kan gesels nie.
Natasha sit ’n lang ruk en peins. Dan besluit sy om maar te wag en kyk wat Dewalt wil maak. Die gelui van die telefoon dring vaagweg tot haar deur, maar sy steur haar nie daaraan nie. Mevrou Hugo sal wel antwoord.
Toe Natasha net weer haar gedagtes vrye teuels gegee het, verskyn mevrou Hugo in die deur en sê dat die oproep vir haar is. Sy bedank die ouer vrou en stap dan haastig na die studeerkamer toe. Tot haar verbasing is dit haar skoonpa wat praat.
“Natasha, my kind,” sê oubaas Lafras, “wat gaan in jul huis aan dat Dewalt nou hier in Johannesburg met daardie Le Clus-vroumens rondflenter? Weet jy dat hulle saam hier is?”
Natasha voel hoe haar wange van verleentheid brand, maar sy sê moedig: “Ja, Pappa, ek weet hulle is Johannesburg toe.”
“En jy laat hulle maar gaan?” roep die oubaas ontsteld uit.
“Jy verstaan nie, Pappa …”
“Jy het gelyk, ek verstaan nie watse soort vrou jy is om toe te laat dat jou man met ’n ander vrou rondrits nie. Ek sal dit waardeer as jy hierdie dinge aan my wil verduidelik.”
“Eintlik is daar nie veel om te verduidelik nie, Pappa,” sê Natasha moeg. “Ons was skaars tuis van Sonskynbaai af, toe bel Esna le Clus vir Dewalt. Pas na die oproep het hy haar in die koffiekroeg op Leliesvlei gaan ontmoet. Dieselfde aand het hy saam met haar in Durban gaan jolyt hou. Nou ja, die volgende oggend het hy my om ’n egskeiding gevra.”
Die oubaas swyg etlike oomblikke en vra dan met ’n stem wat styf en gespanne klink: “Gaan jy van hom skei, Natasha?”
’n Sug van moedeloosheid ontsnap uit haar bors, ’n sug wat selfs oubaas Lafras se oor nie ontgaan nie. Tog slaag sy daarin om haar stem kalm en bedaard te hou. “Ek het vir hom gesê ek weier om van hom te skei, Pappa. Ek het aan hom probeer verduidelik waarom daardie Le Clus-meisie hom nou ewe skielik terug wil hê, dat sy hom maar weer sal laat staan sodra die syfers van sy bankrekening nie meer na haar sin is nie, maar hy is siende blind en horende doof.”
Die oubaas bly weer ’n lang ruk stil. Dan sê hy met ’n klank van besliste finaliteit in sy stem: “Ek sal met Dewalt gaan praat, my ou dogter, maar ek kan nie belowe dat hy na my sal luister nie.”
Sonder om vir Natasha te sê dat mevrou Hugo hom die oggend gebel en alles van Dewalt en sy minnares vertel het, groet die oubaas en plaas die gehoorbuis ingedagte terug op die mikkie.
Na haar gesprek met die oubaas voel Natasha vreemd verlig. Sy weet dat Dewalt nie na sy pa sal luister nie, maar sy koester nogtans die hoop dat die oubaas hom tot ander insigte sal bring.
Terwyl Natasha daardie aand in die bed lê, wonder sy of Dewalt en Esna al as man en vrou in een van Johannesburg se hotelle bly. Hierdie gedagte bring so baie pyn mee dat sy dit haastig op die agtergrond skuif en liewer dink aan die naweek wat voorlê. Maar ook die naweek, besef sy, hou vir haar geen aangename vooruitsigte in nie, want Esna gaan glo ’n naweekgas op Die Arendsnes wees.
Verbeel jou, sy vrou én sy minnares onder een dak! sug sy. Is dit nou hul manier om ’n egskeiding van my af te dwing? Natasha lê nog lank hieroor en tob voordat sy eindelik van skone uitputting aan die slaap raak.
Saterdag is dit bitter koud. Dit het die vorige dag op die hoogste pieke van die berg gesneeu en daar waai ’n ysige wind skuins teen die berg af. Die drywende wolke skuif elke nou en dan voor die son in en waar Natasha deur haar kamervenster na die koue wêreld staan en kyk, wonder sy wat ’n mens op so ’n onplesierige dag kan doen.
Sy besluit egter dat ’n mens op só ’n dag maar net voor die kaggel kan sit – wat sy dan ook na ontbyt doen. Dewalt het die vorige aand lank na middernag eers van Johannesburg af hier aangekom, maar het weer vanoggend vroeg gery terwyl sy haar aangetrek het. Sy het hom nog nie met ’n oog sedert sy tuiskoms gesien nie.
Sy laat sak die tydskrif waarin sy doelloos gesit en blaai het. Daar is ’n eindelose verlatenheid in haar mooi, donker oë wat nou in die hartjie van die gloeiende vuur staar. Haar hart huil in stilte saam met die bergwind oor al haar mooi drome van gister, drome wat Esna so doelbewus kom vernietig het.
Mevrou Hugo het pas vir haar ’n koppie tee na die sitkamertjie toe gebring toe twee motors voor die deur stilhou. Sy gaan kyk gou wie by die voordeur is. Na ’n rukkie keer sy terug en sê bitter verontwaardig: “Meneer De Meyer is tuis en hy het my aangesê om twee kamers vir sy gaste gereed te maak.”
“Gaste?” Natasha kyk haar vraend aan.
“Ja, kindjie, drie gaste – Esna en twee mans. Aan hul praat klink dit of die twee mans ervare bergklimmers is. Hulle gaan glo netnou begin om die berg uit te klim. Ek het gehoor hulle sê so aan meneer De Meyer.”
“Dewalt het die twee bergklimmers bepaald vir die skyn saamgebring,” meen Natasha. “Trouens, ek het gewonder of hy Esna sommer so openlik vir die naweek huis toe sou bring. Jy weet mos kwansuis nie van sy ontrouheid nie.”
“In elk geval, ek wou jou maar net kom sê wat alles in die groot sitkamer aangaan, my kind. Dan wil ek ook weet of jy middagete saam met jou man en daardie vroumens wil kom eet. Die twee bergklimmers sal glo eers na sononder tuis wees,” verduidelik mevrou Hugo.
“Moet my asseblief nie in die eetkamer verwag nie, tannie Rina,” sê ’n bleek en gespanne Natasha. “Ek meng my nie graag met Esna le Clus se soort nie. Ek sal liewer al my maaltye hier in die sitkamertjie eet – solank Esna le Clus ’n gas in hierdie huis is.”
“Ek sal natuurlik aan tafel moet eet om te sorg dat almal bedien word. Maar glo my, ek gaan elke oomblik daarvan haat om in daardie blondekop se geselskap te verkeer. Maar wat moet ek vir meneer De Meyer sê as hy wil weet waarom jy nie aan tafel is nie?”
“Hy is te behep met sy minnares om my afwesigheid op te merk, tannie Rina,” glimlag Natasha hartseer. “As iemand wil weet waarom ek nie aan tafel is nie, moet jy maar sê ek voel nie lekker nie.”
Mevrou Hugo keer terug na die kombuis en Natasha maak die deur toe om Dewalt en Esna se stemme vanuit die groot sitkamer uit te sluit. Om heeldag na hul stemme te luister, sal vir haar net te veel wees.
Soos afgespreek, eet Natasha in die sitkamertjie. Niemand kom verneem egter waarom sy nie lekker voel nie. Sy verwag nie dat Dewalt in haar gesondheid sal belangstel nie, maar sy voel dit sou darem net ordentlik en menslik wees om persoonlik te kom hoor hoe dit met haar gaan.
Na ete blaai sy maar weer deur die tydskrif. Luide musiek kom nou vanuit die groot sitkamer waar Dewalt en Esna hulle bevind. Natasha wil net opstaan om die halfoop deur weer toe te trek, maar dan hoor sy ’n motor voor die deur stilhou. Sy staan traag op en kyk deur die venster – net betyds om oubaas Lafras en Irene uit die voertuig te sien klim.