Читать книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 3 - Susanna M Lingua - Страница 4

1

Оглавление

Tina Eksteen en Riana Beukes is al vriende sedert hulle in die laerskool was. Maar daardie jare lê ver in die verlede, want hier waar die twee meisies nou deur die hoofingang van die handelskool stap, besef albei dat hulle oor etlike maande die finale eksamen vir matriek sal skryf. Daarna sal hul skooldae vir goed agter die rug wees.

Daar speel ’n gelukkige glimlaggie om Riana se mond toe sy vra: “Hoe voel dit om sewentien te wees, Tina?” Dit is vandag Tina se sewentiende verjaardag.

“H’m, jy behoort te weet, jy was dan self twee maande gelede sewentien,” troef sy Riana. “Het dit vir jou anders gevoel?”

Riana lag saggies.

“Glad nie, en dit voel nou nog nie anders nie,” sê sy. “Ek voel jonk, vry, vol lewenslus en doodverlief op daardie nuwe onnie.” Sy trek ’n pruilmond. “Maar hy sien my nie eens raak nie, die ou sleg.”

“Toemaar, daar lê nog ’n hele semester voor waarin jy hom kan wys dat jy ’n mens is – en ’n mooi meisie daarby,” troos Tina ondeund.

Hulle bereik die staanplek van hul bromponies en toe hulle later gesellig langs mekaar in die rigting van Riana se ouerhuis ry, sê laasgenoemde: “Jou pa gaan natuurlik ’n groot sosiale affêre van jou verjaardag maak.”

Tina skud haar kop. “Hy wou, maar ek het hom gevra om dit liewer nie te doen nie. Ek sien nie kans om die hele aand met daardie aaklige Thys Joubert opgeskeep te sit nie. Ek weet nie waarom dit so is nie, maar ek kan die vent nie veel nie.”

“Ek sal ook nie weet nie, want ons Beukesse beweeg nie in jul uitgelese kringe nie. Ons is maar eenvoudige mense, en al ons vriende ook, behalwe jý natuurlik.” Daar kom ’n trek van diepe bepeinsing op Riana se gelaat toe sy ernstig vervolg: “Weet jy, Tina, ek kan nou nog nie begryp waarom jy destyds verkies het om in ’n handelsrigting te studeer nie. Jou pa is so ’n skatryk man, dit sal tog nooit vir jou nodig wees om te werk nie!”

Tina glimlag geheimsinnig vir die teerpad en die verkeer daar voor hulle terwyl sy sê: “My liewe Riana, ek is nie die sosiale vlinder wat jy dink nie. Dit is nie te sê omdat my pa ’n gesiene figuur in daardie kringe is, moet sy twee dogters dit ook wees nie. Santi het altyd gesê die sosiale lewe is ’n koue lewe, en dit maak alles in ’n mens dood wat mooi en natuurlik is. Jy ken mos vir Santi. Sy is vier jaar gelede met Walter Frone­man getroud. Hy is die bestuurder van Unika-staal­fabriek, daar op Groenbaai. My ma het ook altyd gesê dat pret en ple­sier nie alles in die lewe is nie, maar dat elke mens hom of haar in die een of ander beroep moet bekwaam. Weet jy, dit gee my ’n gevoel van selfstandigheid om te weet dat ek vir myself sal kan sorg as dit moet. Maar vergeet nou hierdie dinge, en vertel my liewer wat ons hierdie vakansie met onsself gaan aanvang.”

“Ek dink ons moet eers hoor wat my twee broers beplan het. As hul planne ons nie geval nie, kan ons twee ons eie planne maak.”

Hulle bereik Riana se ouerhuis, waar Tina reeds van haar laerskooldae af ’n gereelde besoeker is. Sy hou van Riana se ouers, oom Johan en tant Ella, en van haar twee broers, Wessel en Gerrie. Oom Johan Beukes is ’n rekenmeester in ’n bank, en tant Ella hou skool. Gerrie is ’n derdejaarstudent aan die universiteit en Wessel ’n sesdejaarstudent. Dit is sy laaste jaar op universiteit.

Die hele gesin, afgesien van oom Johan, is tuis toe Riana en Tina hul opwagting maak. Hulle hoor Wessel en Gerrie se stemme in die sitkamer, dus stap hulle ook soontoe.

“So, dan het julle twee eindelik besluit om huis toe te kom,” begroet Wessel hulle.

“Wel, ons kan nie vir altyd by die skool bly nie,” terg Riana goedig, “ons moet die een of ander tyd huis toe kom, en soos jy self kan sien, ouboet, ons is hier.”

“Ja, heel en in een stuk,” vul Tina aan. Sy groet tant Ella en Gerrie en skenk weer haar aandag aan Wessel, maar hy is reeds aan die woord.

“Laat my toe om my vriend en medestudent aan julle twee meisies voor te stel,” hoor hulle Wessel sê. “Sy naam is Renier Dreyer.” Hy draai na sy vriend en vervolg: “Die blondekop is my sussie, Riana, en die swartkop is die ryk makelaar Gerhardus Eksteen se dogter. Haar naam is Tina, en sy is al feitlik ’n lid van ons gesin. So, moenie dat haar pa se rykdom en aansien jou afskrik nie, ou maat, sy is maar ’n gewone mens net soos ons. Die verskil is net dit – ek en jy het nie ryk pa’s nie, en sy het. Maar sy is gelukkig nie ’n verwende meisiekind nie, Renier, dit moet ek haar ter ere na gee. Sy en Riana is albei in hul matriekjaar aan die handelskool.”

’n Aangename kennismaking volg, en dan lui die huishulp die etensklokkie. Aangesien die hoofmaal saans opgedien word, nuttig hulle ’n ligte noenmaal bestaande uit eiers en wors.

Na die ete gaan sit die vyf jong mense langs die huis in die flou wintersonnetjie. Dis die Julievakansie. Wessel het Renier genooi om dit by hulle deur te bring, maar nou moet hulle besluit wat hulle alles vir die vakansie beplan.

“Het julle twee meisiekinders al besluit wat julle hierdie vakansie gaan doen?” vra Wessel. Hy kyk na Tina. “Of gaan jy en jou pa met vakansie?”

Tina skud haar swart kop. “My pa sê hy kan my nie hierdie winter met vakansie neem nie, sy aandag word glo dringend op kantoor vereis. So, gaan maar aan met jul planne, ek en Riana luister met aandag.”

“Nee, ek wil eers hoor wat julle twee besluit het,” kom dit van Gerrie. “Toe, praat, laat ons hoor wat julle in gedagte het.”

“Ek stel voor dat ons langs Margate se strand gaan kampeer,” sê Riana.

“Nee, dit sal ’n duur vakansie wees – altans, te duur vir ons,” keer Wessel. “Wat het jy in gedagte, Tina? Onthou, dit moet ’n plek wees waar ons ook kan hengel.”

“Wel, wat van Hartbeespoortdam . . .”

“Te koud,” val Gerrie haar in die rede. “Ons moet na ’n warmer plek toe gaan, anders verkluim julle meisies en dan het ons groot probleme.”

“Ek en Tina is nie so pieperig nie –” begin Riana, maar Gerrie val haar terglustig in die rede.

“Wel, ek het nie juis aan julle twee gedink nie. As dit net jy en Tina was, kon ons selfs by die Suidpool gaan vakansie hou het, maar ek en Wessel neem ons meisies saam. Renier het ongelukkig nie ’n vaste meisie nie, dus moet julle twee maar kyk of julle hom kan vermaak.”

“H’m, ons behoort ons seker gelukkig te ag dat julle darem bereid is om ons saam te neem,” werp Tina snipperig terug.

“Ou sussie, jy het nog nooit so ’n ware woord gespreek nie. Ek dink ek en jy moet liewer op ’n ander plek gaan vakansie hou, en laat hulle na hul peetjie gaan,” stel Riana voor terwyl sy Gerrie met ’n verwytende blik aankyk.

Wessel gooi dadelik wal. “Hoor hier, julle twee moenie nou staan en moeilik wees nie. Ek het reeds vir my meisie se ouers gesê dat my twee susters saamgaan . . .”

“So, en het jy vir jou aanstaande skoonouers gesê hoe oud jou susters is, Wessel?” val Riana haar ouboet terglustig in die rede.

“Wel . . . e . . . ons het nie juis jul ouderdomme bespreek nie,” glimlag hy met ’n skuldige gewete. “Maar dit is nie nou ter sake nie, ons is nou met vakansieplanne besig.” Hy draai na Gerrie. “Wat stel jy voor, Gertman?”

“Man, ouboet, ek hoor die tiervis byt so goed daar waar die Komatirivier . . .”

“Ja, die krokodille byt daar net so goed,” gee Riana antwoord. “Ek sê nou vir julle, daar kry julle my nie met ’n geweer nie. Dink liewer aan ’n ander plek, ouboet.”

“Wel, wat van Magoebaskloof?” spreek Tina weer ’n mening uit.

“So, en watse soort vis vang ’n mens in daardie kloof?” vra Gerrie met ’n spotlaggie. “Seker vierbenige vis wat in die berge en klowe boer.”

“Moenie vir jou stuitig hou nie, Gertman,” bestraf Tina hom. “Het jy nog nooit van Ebenezerdam gehoor nie?”

“Mense, ek dink Tina het die oplossing vir ons vakansieprobleem gevind,” kondig Renier aan. “Ebenezerdam is net die plek waarna ons soek.”

Hierna bespreek hulle die benodigdhede wat saamgeneem moet word, want elkeen moet sy deel bydra.

“En wat van jou en Gerrie se meisies, Wessel? Gaan hulle nie ook hul deel bydra nie?” laat Riana weer van haar hoor.

“Julle twee moet my goed verstaan. Ek gaan dit baie beslis nie duld dat jul meisies op my en Tina se koste vakansie hou nie. Dis nie ons twee op wie hulle verlief is nie . . .”

“Toemaar, Anita en Wilma weet ons drie manne is arm studente,” gooi Wessel weer dadelik wal. “Hulle het lankal aangebied om hul deel by te dra. Maar ek dink ons moet nog ’n man aankeer, dit sal die koste vir almal ligter maak.”

“Wat van Hennie le Roux, ouboet?” stel Gerrie voor.

“En wie is hy?” wil Riana weet.

“Hennie, my sussie, is my kamermaat en medestudent. Jy kan maar vir hom ogies maak, hy het nie ’n vaste meisie nie . . .” Riana keer die stoel om met kleinboet en al. “Rissie,” sê hy terwyl hy sy klere afstof. “Hiervoor gaan ek jou in Ebenezerdam gooi met klere en al.”

“Wel, as daardie kamermaat van jou eerbaar en betroubaar is, Gertman, kan jy hom gerus saamnooi. Hy moet net sorg dat hy hom by die meisiekinders gedra, anders gaan hy met my en Renier te doen kry,” waarsku Wessel ernstig.

“Toemaar, hy is nie daardie soort nie, ouboet.” Gerrie sit die stoel weer op sy pote neer en neem plaas. “Ek sal hom later vanmiddag bel.”

Hierna bespreek hulle die dag van hul vertrek en besluit ook oor die voedselvoorraad wat saamgeneem moet word. Tina en Riana bied aan om die inkope te doen, terwyl die mans vir die voertuie en tente sorg.

Nadat hulle oor alles besluit het, draai Wessel na Tina en vra ernstig: “Is jy seker jou pa sal jou toelaat om saam met ons te gaan kampeer, Tina?”

“Ek glo nie my pa sal beswaar maak as ek sê ek gaan saam met Riana en haar ouers kampeer nie,” terg sy, maar vervolg dan ernstig: “My pa weet dat jy en Riana en Gerrie my vriende is, Wessel. Hy weet ook dat ek sedert Ma se afsterwe meer dikwels hier by jul huis is as wat ek by my eie huis is. Hy het selfs al gesê ek behoort losies te betaal vir my verblyf en etes . . . Nee, ek sal vir hom sê dat ons jongklomp gaan kampeer – altans, julle jongklomp; ek en Riana word maar net saamgepiekel om vir julle kos te maak en skottelgoed te was.”

“Jy begaan ’n fout, Tina. Daardie werk gaan nie net julle twee se verantwoordelikheid wees nie,” keer Renier. “Ek sal persoonlik toesien dat daardie twee se meisies,” knik hy met sy kop in Wessel en Gerrie se rigting, “ook hul deel bydra. Die werk sal gelykop tussen ons almal verdeel word.”

“Dankie, Renier, jy het my en Riana se lewe gered,” terg Tina glimlaggend. “Wessel en Gerrie sal staan en toekyk dat ek en Riana ons oor ’n mik werk en niks daaraan doen nie. Maar ek belowe jou sommer nou, wanneer dit my beurt is om die ete voor te berei, sal ek sorg dat jy van alles die beste porsie kry.”

“Maggies, maar hoe lekker klop my hart nou,” sê Renier vir Wessel, en vryf betekenisvol met sy hand oor die plek waar sy hart moet wees. Hy kyk na Tina en vervolg met ’n glimlaggie: “Ou swartkoppie, iets sê vir my dat ek en jy nog groot vriende gaan word.”

“Pas op vir haar pa, Renier,” spot Gerrie. Riana mik om hom ’n oorveeg te gee, en hy moet net vinnig koes om haar hand te ontduik.

“Nou los jy Tina se pa uit. Sy is ’n mens met eiewaarde, en moet dit nooit vergeet nie,” raas Riana met haar jongste broer.

“Ek het nie bedoel om . . . e . . . snaaks te wees nie, Tinatjie, my ou sussie,” paai Gerrie nou met ’n vroom gesig. “Jy weet mos al dat ek nooit iets sal doen of sê om jou seer te maak nie. Ek wou Renier net ’n bietjie terg.”

“Nou ja, hou op met jou tergery,” waarsku Tina.

Hierna bring die huishulp vir hulle koffie en beskuit, en toe die son later laag in die weste hang, kondig Tina aan dat dit tyd is vir haar om huis toe te gaan.

“Ek sal julle vanaand na die ete bel,” belowe sy. Sy sê tot siens vir die jongklomp, gaan groet tant Ella, wat in die kombuis besig is, en daarna vergesel Riana haar na haar bromponie toe.

“Wat dink jy van die lang, blonde Renier, Tina?” vra Riana toe hulle die bromponie bereik wat voor die motorhuis staan.

“Ek dink hy is die aantreklikste man wat ek nog ooit in my lewe gesien het,” antwoord Tina eerlik en reguit, “maar wat dink jý van hom, Riana?”

Tina is besig om die bromponie aan die gang te kry, en sien dus nie die uitdrukking van verrassing op Riana se gesig nie . . . Vir Riana is dit inderdaad ’n verrassing dat Tina eindelik ’n man ontmoet het wat vir haar aantreklik is, want tot dusver het almal nog oor die een of ander iets beskik waarvan sy nie hou nie. Dit laat Riana ’n oomblik ernstig dink.

Dan onthou sy dat Tina haar ’n vraag gevra het en antwoord met ’n vriendelike glimlaggie: “Snaaks dat jy so vra. Jy weet mos ek hou nie van blonde mans nie, Tina. Dit is bepaald omdat ek self blond is . . . Nee, jong, ek hou van ’n donker man. Maar ek wil darem dit van Renier sê: hy is baie ordentlik opgevoed en het mooi maniere. Ek hou van sy bedagsaamheid en sy sin vir regverdigheid. Jy sal nie ’n fout begaan as jy met hom bevriend raak nie, Tina.”

“Vriendskap moet van twee kante af kom, nie net van een kant af nie,” herinner sy Riana. “Maar, wag, ons twee word nou te slim, laat ek liewer ry . . . Sien jou weer môre!”

Daardie aand aan tafel vertel Tina vir haar pa van hul vakansieplanne. Omdat sy al so lank met die Beukesse bevriend is, gee hy sy toestemming dat sy kan gaan, maar sê darem: “Ek kan werklik nie begryp waarom jy jou nie by jou eie soort bepaal nie, Tina. Om elke dag in die geselskap van sulke mense te verkeer, kan jou tog nie werklik baat nie.”

Tina voel dadelik gesteurd oor haar pa se snobistiese houding, maar kry dit reg om bedaard te sê: “Pappa, Ma het vir my en Santi geleer om nooit ons harte te verloën deur ons te laat wysmaak dat geluk met geld gekoop kan word nie. Ma het heeltemal gelyk gehad, want meneer Beukes is nie ’n ryk man nie, en tog is hy en sy gesin die gelukkigste mense wat ek ken. Vir hulle maak dit nie saak as daar nie elke dag nagereg op die tafel is of as daar net twee soorte groente vir die hoofmaal is nie. Daar is ander dinge wat vergoed vir die gebrek aan sulke stoflike dinge. Hulle is nie minderwaardige mense nie, Pappa. Hulle werk hard om ordentlik te kan lewe. Trouens, ek koester groot respek en agting vir hulle.”

“Jy bewonder daardie mense maar net omdat jy nie in hul posisie verkeer nie. Hul sukkelbestaan lyk miskien vir jou avontuurlik, maar dit is nie so avontuurlik soos wat jy dink nie, Tina,” weerspreek haar pa haar. “Sal dit vir jou nog avontuurlik wees as jy ’n mooi motor, mooi meubels en mooi klere begeer en nie die geld het om dit te koop nie? Dink jy miskien daardie mense begeer nie om ryk te wees nie? Kom, vergeet hierdie onsin en vertel vir my wat jy nodig het vir jul kampeerdery.”

“Ons is agt mense wat gaan, Pappa, en ons het besluit dat elkeen sy deel moet bydra om die koste te dek. Volgens ons berekening sal my sakgeld genoeg wees om my deel te dek –”

“Ek sal na die ete vir jou ’n tjek gee vir warm klere en al die ander benodigdhede,” val hy haar ongeërg in die rede.

Tina wil nog vir haar pa sê dat sy genoeg warm klere het en selfs ook ’n stywe bedraggie gespaar het, maar hy begin reeds oor ander dinge praat. So gaan dit altyd wanneer sy oor haar vriende se lewenswyse wil gesels. Haar pa heg te veel waarde aan geld. Rykdom en aansien is sy alfa en omega, die enigste maat waarmee hy mense meet en hul waarde bepaal. As haar ma nie destyds vir Santi as voorspraak by hul pa gedien het nie, sou hy nooit sy toestemming gegee het dat sy met Walter kon trou nie, want Walter is in sy oë niks meer as ’n kerkmuis nie.

Tina wonder wat haar lot sal wees as sy op ’n man verlief raak wat vir ’n salaris werk. Sal haar lewensgeluk swaarder by haar pa weeg as rykdom en aansien, of sal dit die teenoorgestelde wees? Sy ys wanneer sy daaraan dink dat sy en haar pa dalk eendag sal bots.

Na die ete bel sy vir Riana om te sê dat sy haar pa se toestemming het om saam met hulle te gaan kampeer en dat sy môreoggend om nege-uur by hul huis sal wees.

“Dit is jammer dat jy nie ook vanaand hier kan wees nie,” hoor sy Riana sê. “Anita, Wilma en Hennie lê Roux is ook hier. Terloops, Anita is Wessel se meisie en Wilma is Gerrie s’n. Maar wag, Wessel sê hy wil ook met jou praat.”

“Naandsê, Tina!” hoor sy Wessel se stem in die gehoorbuis sê.

“Hallo, Wessel!” groet sy terug. “Ek het nou net vir Riana gesê dat ek my pa se toestemming het om saam met julle te gaan kampeer en dat ek môreoggend om nege-uur by jul huis sal wees.”

“Ek is bly om dit te hoor, maar kan jy nie ’n plan maak om vanaand ook hier te wees nie?” vra Wessel.

“Hoe dink jy moet ek daar kom? My pa het iets gepraat van ’n vergadering wat hy moet bywoon, en ons motorbestuurder het die aand vry. Ons huishoudster, mevrou Alberts, kan ongelukkig nie ’n motor bestuur nie, en ek het nog nie ’n rybewys nie.”

“Ek kan vir Hennie en Riana vra om jou te kom haal,” stel Wessel voor. “Maar die vraag is, sal jy kan kom?”

“Wessel, jy is ’n doring met planne maak,” lag sy saggies in die gehoorbuis. “Ek gaan net gou iets warms aantrek, dan sal ek gereed wees. Stuur hulle maar, ouboet.”

Hulle sê vir mekaar tot siens en lui af.

Dit neem Tina nie lank om haar in ’n swart langbroek, wit trui en ’n wit skaapveljassie te verklee nie. Sy knap haar grimering op, en gaan lig mevrou Alberts gou in oor haar uitstappie.

Sy is nog besig om met mevrou Alberts te praat, toe die hoofhuishulp vir haar kom sê dat juffrou Riana en meneer Le Roux in die sitkamer vir haar wag.

“Gaan solank sitkamer toe, juffrou Tina,” sê die huishoudster. “Simon sal vir jou die twee koeke na die motor toe neem.”

“Dankie, jy is ’n ou skat, mevrou,” glimlag Tina en stap haastig sitkamer toe.

Hennie le Roux is ’n donker kêrel van gemiddelde lengte, vriendelik en duidelik die soort van wie Tina hou.

“As jy gereed is, kan ons maar gaan, Tina,” sê Riana nadat sy die jong man aan Tina voorgestel het. “Wessel het gesê ons moenie lank draai nie.”

“O, ek is gereed, ek wag net dat Simon die twee koeke moet bring wat ek vir jou ma wil saamneem,” sê Tina.

“Hennie, daar is niemand op aarde wat so lekker kan kook en bak soos Tina-hulle se kok nie,” lag Riana vrolik. “Ek is al skoon watertand as ek net aan daardie koek dink . . .”

Simon verskyn in die sitkamer se deur en sê vir Tina dat hy die twee koeke na die motor toe geneem het.

“Dan kan ons maar gaan,” sê Tina vir haar twee gaste.

Dit is ’n gesellige groep jong mense wat Tina in tant Ella se sitkamer aantref. Wessel stel haar aan Anita en Wilma voor, albei studente aan dieselfde universiteit waar die vier jong mans studeer.

“Kom sit hier by my, Tina,” nooi Renier en maak vir haar plek langs hom op die rusbank.

“Dankie,” sê sy en glimlag vriendelik vir hom. Sy voel baie gelukkig by hierdie jong mense wat nog nie blasé geword het nie, jong mense wat elkeen ’n doel in die lewe nastreef en nie omgee hoe hard hulle moet werk om daardie doel te bereik nie . . . en dan is daar ook nog Renier – die enigste man wat tot dusver haar hart vinniger kon laat klop.

“Ek is bly dat jy gekom het, Tina,” sê Renier weer nadat sy gaan sit het. “Ek het al soos ’n vyfde wiel aan die wa begin voel, want Wessel en Gerrie moet aandag aan die meisies gee en asof dit nie genoeg is nie, kom eis Hennie die liewe Riana vir homself op.”

“Dis jou eie skuld,” help sy hom vriendelik reg. “Jy het genoeg geleentheid gehad om Riana vir jóú op te eis.”

“Miskien wou ek haar nie vir my opeis nie,” glimlag hy. Sy blik gly stadig oor haar hartvormige gesiggie met die fyn gelaatstrekke. “Miskien het ek vir ’n sekere swartkopmeisie gewag, in die hoop dat sy ook van my geselskap sal hou . . . Dink jy sy sal van my geselskap hou?”

“Dit hang af watter soort meisie sy is,” terg Tina. “Miskien is sy nie eens die moeite werd om te ken nie.”

“Nee, ek gaan nie toelaat dat jy haar so verkleineer nie. Sy is alles wat ’n meisie moet wees. Ek weet waarvan ek praat, want ek het vanmiddag al met haar kennis gemaak. Sy is pragtig, klein en fyn, en die grootste wonder van alles is dat haar pa se rykdom haar nie verwen het nie.”

“Dankie vir die kompliment, Renier,” sê sy sag. “Jy sal nooit kan raai wat hierdie mooi woorde van jou vir my beteken nie . . .”

“Tina . . . Renier,” knip Wessel hul gesprek meteens kort, “kan ons ’n rukkie aanspraak maak op jul aandag?”

“Man . . . ja . . . jy is lastig, maar gaan maar voort, ons luister met aandag,” sê Renier met ’n onderdrukte glimlaggie.

“Renier, jou ou doring . . .”

“Laat staan nou maar die doring, Wessel, en sê wat jy aanvanklik wou sê,” keer Tina vinnig, want sy kan sien waarop Wessel afstuur. Trouens, sy ken daardie ondeunde uitdrukking in sy oë.

“Toemaar, ek was nie van plan om jou in die verleentheid te bring nie, Tinatjie,” verseker Wessel haar, ten spyte van die ondeunde laggie om sy mond. “Ek wou maar net sê, dit doen my hart goed om te sien dat my ou maat uiteindelik in ’n meisie belangstel. Maar om terug te keer na die onderwerp wat ek met julle wou bespreek . . .”

“Toemaar, ouboet, dis nie net jóú ou maat wat van sy reg­uit paadjie afgewyk het nie,” lag Riana prettig, “mý ou maat ry in dieselfde bootjie, want ook sy het nog nooit voorheen in ’n man belanggestel nie. Ek dink sy en Renier is voëls van eenderse vere.”

“Nou ja, as julle vir my en Tina klaar bespreek het, sal ons wil hoor wat die onderwerp was wat jy aanvanklik met ons wou bespreek het, Wessel,” laat Renier bedaard hoor.

“Man, ja, ons het gewonder of dit julle twee se goedkeuring sal wegdra as ons oormôre vertrek. Die vier meisies kan môre vir ons ’n klomp blikkieskos en ander kruideniersware gaan koop, terwyl ons vier mans vir die res sorg. Soos ek verneem het, het elkeen ’n slaapsak, maar ek dink dit sal verstandig wees om komberse ook saam te neem.”

“Het ons genoeg voertuie om alles mee te vervoer, Wessel?” wil Tina weet.

“Heeltemal genoeg. Ons gebruik my ma se stasiewa en Hennie se motor,” antwoord Wessel. “As julle ’n gasstofie het, kan jy dit saambring, Tina.”

“Ek sal môreoggend alles hierheen bring,” belowe sy.

Hulle gesels nog ’n rukkie, toe bied Riana en Tina aan om tee te gaan maak, want tant Ella en oom Johan het al ’n uur gelede gaan slaap. Renier kom orent en sê dat hy toesig sal hou oor die meisies se gewerskaf in die kombuis. Hennie sê hy sal ook gaan kyk hoe hulle werk. Hy is mos so geweldig lief vir werk, hy kan ure lank daarna kyk!

Tina trek haar jassie uit, en daarna gaan hulle kombuis toe, waar dit heerlik warm is van die vuur in die steenkoolstoof wat tant Ella gewoonlik net in die winter gebruik.

“Ek en Tina sal ons tee sommer hier in die kombuis voor die stoof drink,” sê Renier toe hy merk dat Riana koppies op die dienwaentjie rangskik. “En moet asseblief nie sê julle wil ook hier kom tee drink nie.”

“Nee, ons gaan ons tee in die sitkamer geniet,” verseker Riana hom. “Trouens, ek gun julle ’n paar minute alleen in mekaar se geselskap, want môre sal daar nie tyd wees vir vertroulike gesprekkies nie.”

“Ons gesprekkies is darem nie so vertroulik dat niemand dit mag hoor nie,” maak Tina blosend beswaar.

Sy plaas die twee borde met koek op die dienwaentjie en hoor Renier fluister: “Jy moenie so bloos nie, ou swartkoppie. Ons lewe in ’n eeu van atoomkrag en ruimtereise, ’n vinnige ou wêreld. As ’n man nie dadelik kan besluit wat hy wil hê nie, raap ’n ander ou dit voor hom weg en het hy op die ou end niks nie.”

“En het jý al besluit wat jy wil hê, Renier?” Haar oë glimlag ondeund in syne.

“Vanmiddag al. Maar laat ons eers ons tee neem en voor die stoof gaan sit. Dit lyk vir my Riana is gereed om die dienwaentjie binnetoe te neem.”

Later, toe hul teekoppies leeg is, stoot Renier sy stoel nader aan Tina s’n. Die hitte van die stoof laat hom heerlik ontspanne voel, en die sagte geur van Tina se parfuum is strelend en aangenaam.

Dit herinner hom aan ’n tuin vol lentebloeisels, wanneer die dou nog koel in die blomkelke nestel. Sy blik streel liefkosend oor haar mooi, stil gelaat, terwyl sy afgetrokke na die gloeiende kole in die stoof staar.

“Ek wonder waarom die noodlot my so vyandiggesind is,” sê hy na ’n rukkie, en vir Tina klink dit al asof daar ’n tikkie moedeloosheid in sy stem is.

Sy draai haar blik in sy rigting en vra belangstellend: “Waarom sê jy so, Renier? Wat laat jou dink dat die noodlot jou vyandiggesind is?”

“Omdat hy my pad met joune laat kruis het,” antwoord hy bedaard.

’n Ligte frons verskyn tussen haar wenkbroue, ’n duidelike teken dat sy effens verward voel.

“Ek kan nog nie insien waarom jy dit as ’n . . . in so ’n ongunstige lig beskou nie,” sê sy, duidelik teleurgesteld. Haar hart het vanmiddag al vir haar gesê dat Renier die enigste man vir haar is, en nou beskou hy hul kennismaking as ’n ramp . . .

Maar dan sê hy weer: “As jou pa nie so ryk was nie, Tina­tjie, sou ek op hierdie oomblik die gelukkigste man gewees het wat leef. Maar met so ’n ryk en gesiene pa . . . Nee, ek vrees ons vriendskap sal nooit dieper as ’n platoniese vlak kan gaan nie. Jy verstaan dit tog, nè?”

“Nee, ek verstaan dit nie,” stribbel sy teë. “Wat het my pa se aardse besittings met jou en my lewe te doen?”

“Alles, my ou Tinatjie. ’n Arm ou soos ek kan jou byvoorbeeld nie die hof maak met die oog op ’n huwelik nie, want dan sal almal sê ek wil met jou trou omdat jy ’n ryk pa het. En wat dink jy sal jou pa sê as ’n arm ou soos ek sy dogter die hof maak?”

“Oom Johan Beukes is nie ryk nie, Renier, en my pa belet my nie om met Riana, Gerrie en Wessel bevriend te wees nie –”

“Om met die Beukes-kinders bevriend te wees, is ’n ander saak,” val hy haar sag in die rede. “Vriendskap en liefde is twee dinge en . . . nou ja, ek kan maar net sowel nóú vir jou sê dat ek jou liefhet . . .”

“Ek glo dit nie. As ’n mens regtig liefhet, sal jy niks in die pad van jou liefde laat staan nie, Renier,” sê sy kalm. “Jy kan dus gerus wees, want die liefde wat jy vir my koester, is nie die regte soort liefde nie – altans, nie die soort liefde wat later tot ’n huwelik lei nie.”

Etlike sekondes lank sê nie een van hulle ’n woord nie. Hulle staar net na die rooi kole wat voor teen die stoof se rooster lê. Op hierdie oomblik dink hulle albei aan die liefde wat so skielik en onverwags van hul harte besit geneem het.

“Jy sal dus nie toelaat dat armoede in die pad van jou liefde staan nie?” sê-vra hy na ’n rukkie sonder om sy blik van die gloeiende kole af weg te neem.

“Nee, ek sal nie,” sê sy. “Ek sal saam met die man wat ek liefhet van onder af begin.”

“Jou pa sal nie toelaat dat jy met ’n arm man trou nie en . . . wel, jy sal oor vier jaar eers mondig wees,” sê hy beslis, asof hy hierdie feit, waaroor sy bepaald nog nie gedink het nie, wil beklemtoon.

Maar Tina verras hom toe sy saggies begin lag en met ’n ondeunde uitdrukking in haar oë sê: “Jy het gelyk, my pa is te veel van ’n snob om ’n arm skoonseun te aanvaar. Rykdom en aansien is die enigste god wat hy aanbid, en dit is ook al wat in sy lewe tel. Maar ek wed jou, ek sal sonder my pa se toestemming trou, al is ek nog nie mondig nie.”

“Jy speel seker.” Hy kyk haar met ’n geamuseerde glimlaggie aan. “Ek dink so iets is . . . e . . . ietwat gewaag.”

Sy skud haar kop. “Nie vir my nie. Ek ken my pa en weet presies wat sy swakheid is. Hy sal eerder selfmoord pleeg as om ’n skandaal te beleef, en as sy dogter reeds ’n paar weke getroud is, sal hy dit nie waag om haar van haar man af weg te neem nie, want die opskudding wat dit in die sosiale kringe sal verwek, sal vir hom gelyk aan ’n skandaal wees.”

“En watter predikant, dink jy, sal ’n minderjarige meisie sonder haar pa se toestemming in die huwelik bevestig, ou kleintjie?” Hy kyk haar met ’n stadige glimlaggie aan wat sy hele gesig ophelder.

Tina verras hom weer eens toe sy met ’n breë glimlag sê: “Nie ’n predikant nie, maar ’n landdros wel, en dan moet dit ook een wees wat my pa nie ken nie.” Sy begin weer saggies lag. “Jy ken nie my oom At nie, Renier. Hy is my pa se ouer broer, en ek kan hom maar net vra om daardie spesiale dag vir ’n rukkie my pa se plek in te neem –”

“Tina, meisietjie, waarvan praat jy tog?” val hy haar geamuseer in die rede. “Besef jy dat so ’n optrede groot moeilikheid kan veroorsaak?”

“As ’n ander persoon die takie sou verrig, sou ek bepaald lugtig voel, Renier, maar nie as daardie persoon my oom At is nie.”

“En wat, as ek mag vra, maak jou oom At immuun teen moeilikheid, ou kleintjie?” Hy kyk haar vraend, belangstellend aan. Sy is inderdaad die oulikste, mooiste en liefste meisie met wie hy nog ooit kennis gemaak het, en sy liefde vir haar is diep en grensloos.

“Ek glo nie my oom At is immuun teen moeilikheid nie, Renier,” sê sy, “maar ek weet dat my pa, om die een of ander rede, dit nooit sal waag om ’n potjie met oom At te loop nie . . .”

Wessel se binnekoms maak meteens ’n einde aan hul gesprek.

“Steur ek julle?” vra hy verontskuldigend.

“Nee, sê maar wat jy wil sê, ons luister,” stel Renier hom gerus.

“Wel, ek kom maar net hoor hoe laat Tina by die huis moet wees.”

Tina kyk op haar polshorlosie, merk dat dit al oor elf is en kom dadelik orent.

“Ek vrees ek sal nou moet gaan,” sê sy. “Dankie dat jy my aan die tyd kom herinner het, Wessel.” Sy begin haar jassie aantrek. “Ek veronderstel dat Hennie en Riana my weer huis toe sal neem, of is Hennie reeds weg?”

“Nee, hy en Riana is daar by ons in die sitkamer, maar hulle gaan jou nie huis toe neem nie, Tina. Hennie het gesê Renier kan sy motor gebruik en jou self huis toe neem.”

“Wel, ek moet sê Hennie het meer verstand as wat ek gedink het,” glimlag Renier.

“Ja, hy het nogal iets hier bo,” beaam Wessel en wys met sy vingers na sy kop. “Hy is natuurlik self verlief, daarom dat hy ’n verliefde man ken as hy een sien.” Die twee jong mans glimlag vir mekaar. Tina bloos vuurwarm.

Die twee mans volg haar toe sy vir die jongklomp in die sitkamer gaan nagsê, en weldra vertrek sy en Renier.

Onderweg na die Eksteens se huis, gesels Tina en Renier oor die vakansie wat voorlê. Hul gesprek van vroeër die aand word nie weer aangeroer nie. Renier voel dat daar etlike dinge is wat hy eers met Wessel moet bespreek, voordat hy ’n ernstige verhouding met Tina kan aangaan. Want as daar werklik ’n moontlikheid bestaan dat hulle eendag met haar oom At se hulp in die huwelik bevestig kan word, sal hy niks in sy pad laat staan om Tina se liefde te wen nie. Sy is die enigste meisie met wie hy graag sy lewe sal wil slyt . . . die enigste meisie wat sy hart in die holte van haar fyn handjie hou.

Toe hulle later voor Tina se ouerhuis stilhou, merk hulle albei dat haar pa al tuis is, dus nooi sy Renier nie binne nie, maar neem sommer daar by die motor van hom afskeid.

Tuis tref Renier almal nog in die sitkamer aan. Daar speel ’n sweem van ’n glimlaggie om Wessel se mond toe hy vra: “Wat dink jy van Tina se ouerhuis, Renier? Lyk dit nie ook vir jou soos ’n kasteeltjie nie?”

“Ek was nie binne nie, maar van buite af lyk die plek indrukwekkend,” antwoord Renier en neem op ’n stoel plaas. “Maar vertel my, hoe ’n soort mens is Tina se pa nou werklik? En wat weet jy van haar oom At af, Wessel?”

“O, oom At is ’n wonderlike man,” gee Riana antwoord. “Hy en Tina se pa lyk byna soos ’n identiese tweeling, maar dit is ook al wat hulle gemeen het. Oom At, dié verseker ek jou, het nie ’n hoogmoedige haar op sy kop nie, Renier. Hy beoordeel ’n mens ook nie volgens die syfers wat jou bankrekening beloop nie, maar volgens meriete. Ag, ons is almal baie lief vir Tina se oom At en sy vrou, tant Louise.”

“Dis waar,” beaam Wessel, “’n mens voel sommer dadelik tuis in oom At en tant Louise se huis. Hulle bewoon nou wel nie so ’n paleis van ’n huis soos sy makelaarbroer nie, en tog . . . Dis of hy oor meer invloed beskik as sy jonger broer.”

“En die jonger broer?” val Renier hom bedaard in die rede.

Wessel antwoord nie dadelik nie, en ook Riana swyg, want hoe moet hulle op hierdie vraag van Renier antwoord? Hulle is almal baie lief vir Tina en wil nie graag verkleinerend van haar pa praat nie . . . en tog, iemand sal Renier se vraag moet beantwoord.

Dit is Gerrie wat antwoord: “Oom At se jonger broer, Renier, is een van daardie soort mense vir wie rykdom, aansien en sosiale status die alfa en omega is. As jy dus nie oor daardie drie dinge beskik nie, is jy nie van sy stand nie. En as jy nie van sy stand is nie, ou broer, is dit ’n probleem. Hy is ’n trotse en hooghartige man, en sover ek weet, is daar net een persoon vir wie hy ontsag het – sy ouer broer, oom At. Hy is ook ’n man wat sy teenstander sal breek sonder om ’n oog te knip. Baie mense sê hy is gewetenloos, ander sê weer hy is gevoelloos.”

“Hy klink glad nie vir my na ’n aangename man nie,” kan Wilma, Gerrie se meisie, nie help om te sê nie.

“En tog staan hy hoog aangeskryf in sosiale kringe,” kom dit van Wessel.

“Dis omdat hy die geld het, Wessel,” glimlag Anita. “Het jy vergeet dat geld wat stom is, regmaak wat krom is?”

“Maar dit is vir my baie eienaardig dat hy Tina toelaat om met ons bevriend te wees,” laat Hennie nou ook van hom hoor.

“Tina se vriendskap met ons dateer van haar laerskooljare, ou vriend,” help Wessel hom reg. “Daardie jare het haar ma nog gelewe, en mevrou Eksteen was ’n minsame en nederige vrou. Maar jy moenie die fout begaan om te dink dat Tina se pa haar sal toelaat om met ’n salaristrekker te trou nie. Só sal hy hom beslis nie laat verneder nie.”

Riana bars heerlik uit van die lag.

“Ek wed julle,” sê sy nadat haar lagbui bedaar het, “dat Tina eendag met die man van haar eie keuse sal trou, maak nie saak of hy ryk of arm is nie.”

“Tina is te sag van geaardheid om teen haar pa in opstand te kom,” meen Gerrie. “Sy sal hom maar gedwee toelaat om haar in ’n huwelik te dwing met ’n man van sy keuse . . .”

“Jy is van jou wysie af, Gerrie,” maak Riana hom vererg stil. “Tina is nie so sonder ruggraat nie. Ek erken, daar sal ’n vrees­like botsing wees, maar Tina sal net met die man van haar eie keuse trou.”

“Dit behoort jou moed te gee, Renier,” glimlag Wessel en knipoog betekenisvol vir sy vriend.

“Ja, dit klink bemoedigend,” stem Renier saam. “In elk geval, ek dink dit is tyd dat ons bed toe gaan, anders kry ons môre niks gedoen nie.”

Die volgende dag is vir die agt jong mense ’n besonder bedrywige dag, want hulle moet alles gereed maak vir hul vertrek. Hulle besluit eenparig om sesuur die volgende oggend te vertrek.

Susanna M Lingua Gunstelinge 3

Подняться наверх